Jan van der Merwe weens COVID-19 oorlede

  • 1

Jan van der Merwe, Literatuurfees 10–14 Julie 2018. ATKV-Boeke-oase, Vrystaat Kunstefees (Foto: Annelien Diedericks | NALN)

Jan van der Merwe, antropoloog, kultuurhistorikus, skrywer en fotograaf, is op 4 Januarie 2021 weens COVID-19 oorlede. Ons dink met liefde aan sy gesin. Hy laat sy vrou Dalena en hul twee kinders, Jan-Petrus en Culien, na.

Van der Merwe was ’n ywerige navorser en wou graag met sy dorpeboeke, Vrystaatse dorpe en Noord-Kaapse dorpe (saam met Philippe Burger), by mense opnuut ’n waardering vir hulle eie dorpe en plekke skep. Vrystaatse dorpe is in 2015 bekroon met die Ashwin Desai History Award.

Jan van der Merwe is op 1 Februarie 1963 op Thabazimbi gebore. Hy het in 1981 op die Hoërskool Rodeon (Swartruggens) gematrikuleer en al sy graadstudies aan die RAU voltooi. Hy het ’n doktorsgraad in antropologie gehad wat hy in 2010 aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf het met die proefskrif “Afrikaner values in post-apartheid South Africa: An anthropological perspective”.

Jan was van 2011 tot  2017 die voorsitter van die Raad van die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en van 2011 tot 2020 ’n raadslid. Hy was voltyds werksaam as navorser en ANC-ampsdraer in die Mangaung Metro-munisipaliteit in Bloemfontein, waar hy hom aan die bevordering van verhoudinge toegewy het. Hy was voorheen ’n bekende lid van die destydse Nasionale Party (NP) en vanaf 2007 tot 2009 ’n direksielid van die Afrikaner-Broederbond.

Vrystaatse dorpe deur Jan van der Merwe is, in een woord, ’n pragpublikasie,” skryf Darryl David in sy resensie. Die boek bevat pragtige historiese foto's van al 80 dorpe, maar dit bevat nie bloot feite nie. Daar is aangrypende staaltjies oor feitlik elke dorp en sy mense.

Van der Merwe vertel dat die literêre geskiedenis van die Vrystaatse dorpe “iets [was] om my in te verlustig. Gaan lees oor die verbintenisse van Patrick Mynhardt, die ‘Boy from Bethulie’; Laurens van der Post en Philippolis; Karel Schoeman en Trompsburg; Etienne Leroux van Koffiefontein en vele, vele meer. En moenie die pragtige foto van ’n baba-AP Brink met sy pa misloop nie. En ek het nooit geweet dat Ellen Kuzwayo, skrywer van die ikoniese Suid-Afrikaanse roman Call me woman, ’n boorling van Thaba ’nchu was nie.”

“Ek geniet dit om navorsing te doen,” het Van der Merwe aan Naomi Meyer vertel. “Ek kan ure en ure in argiewe en biblioteke verwyl. Ek hou daarvan om ou rare geskiedenis en verhale uit te snuffel en dit weer opnuut aan mense te vertel. [...]

“Ek is ’n groot aanhanger van wyle André P Brink. Ander Suid-Afrikaanse skrywers wie se werke ek graag lees, is Karel Schoeman, Dalene Matthee, Jeanne Goosen en Dan Sleigh se werke. Ek verkies egter om outobiografiese en geskiedkundige werke te lees." (Lees meer hier.)

Die dorpeboeke is moontlik by boekhandelaars beskikbaar:

  • Vrystaatse dorpe deur Jan van der Merwe, Kraal Uitgewers. ISBN: 9780620545709
  • Noord-Kaapse dorpe deur Jan van der Merwe. Uitgewer: J van der Merwe, 2012. ISBN 0620643498, 9780620643498.

Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): [email protected] (kurator: Wyno Simes) vir meer inligting.

Lees ook:

Noord-Kaapse spookdorpe: Foto's

Sensuur en die volk se sedes

Afrikaans raak rof en onbeskof

Philippolis deur Jens Friis: ’n resensie

Die “Havenga-verslag” oor verkragtings en die mites daaromheen

Boere, hoere en Tommies

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe
    Barend van der Merwe

    Wat 'n verlies! Altyd vriendelik gewees met almal en baie mense se lewens aangeraak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top