Boere, hoere en Tommies

  • 6

Nagenoeg 450 000 Britse soldate (Tommies) was betrokke by die Suid-Afrikaanse Oorlog (Anglo-Boereoorlog). Meer as die helfte van hulle het ten tye van oorlog op een of ander stadium ’n geslagsoordraagbare siekte opgedoen, aldus die gesaghebbende Genitourin Medical Journal.1

Charles van Onselen skryf in sy boek The Fox and the Flies:2

[W]hen Bloemfontein fell to Lord Roberts in March 1900, Rhodes arranged for liquor to be transported by rail to the city (Bloemfontein) while De Beers recruited a flotilla of prostitutes who were sent across the veld by horse and cart to join the wild celebrations of the British troops.

In die argief van die Suid-Afrikaanse Oorlog se museum in Bloemfontein is daar enkele dokumente wat wel melding maak van die voorkoms van prostitusie in die konsentrasiekampe. In ’n navorsingstuk deur Henry Trotter van die Universiteit van Yale3 vertel hy die verhaal van Hester Johanna Maria Uys (noemnaam Joey). Joey en haar suster was weeskinders wat deur hul oom en tannie, Magiel en Lettie Roux van Bethulie, aangeneem is. Sy, haar suster en tant Lettie is deur die Engelse op hulle plaas naby Bethulie gevang en na die Bloemfonteinse konsentrasiekamp gestuur. Joey vertel van die ellende, swaarkry en voortdurende dood wat sy as kind in die Bloemfonteinse konsentrasiekamp ervaar het. In haar vertelling oor die lewe van die Bloemfonteinse konsentrasiekamp vertel sy: “Theft was rife. There were fights between women. Prostitutes carried on with Tommies and Boers in the camp. Most of the Boers were elderly.” En dan vertel sy later hoe haar tannie (Lettie Roux) self ook die roete van prostitusie en diefstal sou volg om sodoende vir hulle ’n beter lewe in die konsentrasiekamp te probeer beding:

My aunt became friendly with one of the Tommies. She stole someone else’s skirt and walked with him … Tan Lettie’s Tommy pulled strings for our transfer. We went from Bloemfontein to a camp at Kubusie river near Stutterheim in the Eastern Cape, a world away from the horrors of the dumping ground at Bloemfontein.

Die voorkoms van prostitusie het nie skielik met die koms van die oorlog na vore getree nie; inteendeel, dit was lank voor die oorlog al ’n wesenlike probleem in die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR). Van Onselen vertel dat daar in 1895 reeds meer as 20 aktiewe bordele in Johannesburg was. Dit het president Paul Kruger in die ZAR Volksraad genoop om in 1897 die Ontucht Wet (Wet 2 van 1897) te aanvaar.4 Hierdie wet het egter geen impak gehad op die aktiewe prostitusiebedryf van Johannesburg nie, omdat die destydse prokureur-generaal van die ZAR, regter FET Krause, van oordeel was dat prostitusie ’n nodige euwel is en het hy hom gevolglik blind gehou vir Johannesburg se prostitusiebedryf. Dit was eers toe Jan Smuts die prokureur-generaal geword het dat daar met erns begin is om van hierdie bordeel-euwel ontslae te raak.

Die bordeel-euwel het na afloop van die oorlog blitsvinnig oorgespoel na verskeie ander stede en dorpe in Suid-Afrika. In 1902 was die Kaapse Wetgewer verplig om die Betting Houses, Gambling Houses and Brothels Suppression Act van 1902 te aanvaar. Onder andere het hierdie wet bepaal dat “[i]t became an offence for a white prostitute to take a black man as a client, with sentences of up to five years imprisonment and twenty-five lashes for anyone promoting such illicit sexual intercourse.”5

Dorpe soos Potchefstroom, Port Elizabeth, Kimberley en Bloemfontein was skielik almal gekonfronteer met die daaglikse bedrywighede van prostitute en “pimps” (koppelaars).

Karel Schoeman skryf in sy boek Bloemfontein, die ontstaan van ’n stad dat die sedebewakers van Bloemfontein in 1904 erg besorg was oor die voorkoms van prostitusie.6 Die aanwesigheid van die groot kontingent Britse soldate het volgens hom daartoe bygedra, asook allerlei twyfelagtige karakters wat hul na afloop van die oorlog in Bloemfontein kom tuismaak het. Hy noem die name van Annie Friedberg alias Velaski, Fleiski en Friedenthal, ’n ongeletterde vrou van Johannesburg, wat in 1906 uit die Kaapkolonie verban was. Ander ongure karakters was Joseph Lis alias Silver, Annie Vygenbaum alias Bloom en Sarah Rosenblatt.

Die aanwesigheid van prostitute en bordele in Bloemfontein kom veral duidelik uit die koerantverslae van hofsake van daardie tyd sterk na vore. Schoeman skryf:

Blanke mans het gereeld Waaihoek besoek en Monumentweg-uitbreiding en veral die Spoorwegkamp het ’n ongure reputasie begin verkry (drie vroue het tente in Glenweg as bordele gebruik), maar daar is ook verwysings na ’n skynbare berugte ‘green house’ in Fichardtstraat, ’n ‘disorderly house’ in St Georgestraat en die aanwesigheid van prostitute in die ‘Western Extension’.7

Van Onselen8 vertel van die opspraakwekkende hofsaak in Bloemfontein toe Joe Silver daarvan aangekla is dat hy van ’n prostituut se inkomste lewe. Hy maak ook melding van die hoë voorkoms van sifilis onder hierdie prostitute. Daar word ’n nogal fassinerende Bloemfonteinse onderwêreld in 1904–1906 van verdagte kafees, losieshuise en skietgalerye, hoofsaaklik in die omgewing van die stasie, deur destydse hofverslae onthul en ons verneem hoe huurkoetse belaai met jolige Britse soldate saans deur die stowwerige strate van Bloemfontein beweeg het om hulle in die privaat kroeë van die hotels te gaan vermaak.

Ook in hierdie tyd het armblankes hulle toenemend meer in die ouer dele van Elizabethstraat, St. Johnstraat (nou Andries Pretoriusstraat) en Zastronstraat begin vestig. Buite-egtelike kinders onder armblankes het skynbaar vinnig begin toeneem. Volgens ’n verslag van die destydse gesondheidsbeampte van die munisipaliteit was die opsit-gewoonte en prostitusie as alternatiewe bron van inkomste die hoofoorsaak vir hierdie drastiese toename in buite-egtelike geboortes onder blanke Afrikaners.9

In 1908 maak die burgemeester van Bloemfontein se jaarverslag melding van ongeveer 40 Afrikaanse prostitute in die stad en onder die vroue wat in verband hiermee in die hof moes verskyn, kom Afrikaanse vanne ook gereeld voor. As oplossing vir hierdie komplekse probleme het die gesondheidsbeampte, skynbaar in volle erns, segregasie en sterilisasie voorgestel.10

Die prostitusie was in daardie jare nie net beperk tot die blanke gemeenskap nie. In die algemeen is ook die swart inwoners van Bloemfontein tydens die Suid-Afrikaanse Oorlog swaar getref deur ontoereikende rantsoene en siekte. Schoeman11 vertel dat prostitusie in hierdie tye gou onder swart vroue begin posvat het. Blanke mans het alte graag van hierdie swart vroue se dienste gebruik gemaak. Die destydse gesondheidsbeampte van die munisipaliteit noem dit “promiscuous sexual intercourse on the part of those who know no colour line in the gratification of the desires of the lower animal nature”.12

Meestal het hierdie swart vroue die blanke stadsgedeelte besoek om kliënte te vind, maar daar was ook ’n gereelde verkeer van blanke besoekers aan Waaihoek. In 1903 skryf ’n swart man onder die skuilnaam SML ’n brief wat in The Friend gepubliseer is, waarin hy verwys na “depraved white men, who, I am sorry to say, have hitherto made it their rule to nocturnally visit our native locations actuated by immoral motives, and thereby consciously lowering us as a race, by attempting, and in fact in many cases succeeding, in the demoralization of our sisters and daughters”.13

Schoeman vertel ook hoe enkele blanke prostitute na afloop van die oorlog uiteindelik in Waaihoek beland het en later met swart mans getrou het.14 Dit was vroue wat na afloop van die oorlog geen heenkome of bron van inkomste gehad het nie en genoop was om hulself deur middel van prostitusie aan die lewe te hou. Hierdie wit prostitute is egter nooit in die destydse eng Calvinistiese blanke gemeenskap van Bloemfontein aanvaar nie en het as uitskot van die wit gemeenskap hulle heil by swart mans in Waaihoek gevind.

Dit is nou meer as ’n 100 jaar later en die euwel van prostitusie, bordele, koppelaars en hoere is steeds deel van die Suid-Afrikaanse samelewing. Of dit ‘n nalatenskap van die Suid-Afrikaanse Oorlog is, is egter te betwyfel – die professie kom immers al vanaf die Bybel se tyd af.

 

Eindnotas

1 PG Masterton en PW Stricke. 1988. Sexually transmitted diseases in a British Military Force in peacetime Europe. Genitourin Medical Journal, 64:54–8.

2 Charles van Onselen. 2007. The fox and the flies. Jonathan Cape Publishers, Londen, bl  184.

3 Henry Trotter. 2008. Dockside Prostitution in the South African Ports. Journal of Yale University.

4 Van Onselen, bl 153.

5 Van Onselen, bl 194.

6 Karel Schoeman. 1980. Bloemfontein, die ontstaan van ’n stad, 1846-1946. Human & Rousseau, Kaapstad, ble 201–2.

7 Schoeman, bl 201.

8 Van Onselen, ble 230–5.

9 Vrystaat Argiefstuk A227: Annual Report of the Medical Officer of Health 1904–1910.

10 Vrystaat Argiefstuk A159/?: The Bloemfontein Post 1900–1914. Sien ook Schoeman, bl 208.

11 Schoeman, bl 219.

12 Vrystaatse Argiefstuk A45: Bloemfontein Mayor’s minute and corporation year book: 1885–1946.

13 Vrystaatse Argiefstuk A159/4/3: The Friend, Mei 1903.

14 Schoeman, bl 219. Sien ook Vrystaatse Argiefstuk A159/2/4: Bloemfontein: Nie-Blankes.


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


  • 6

Kommentaar

  • Baie dankie dat die studie geplaas is. Dit is interessant. Wys jou nou maar net, die mens bly maar snaakse wese. Deur al die swaarkry is daar altyd uitkoms, al sal dit die wenkbroue lig. Deesdae kom dit seker ook voor dat gewapende magte hul aan die skoner geslag vergryp. Daar is mos nie reëls in oorlog nie. "All is fair in love and war". Ek is net vies dat die Ingelse ons dames kom molesteer het, kon hulle nie hul eie vroumense saamgebring het nie? Was die 2010 wêreld sokker beker toernooi nie ook 'n voorbeeld daarvan dat die buitelanders ons "dames" kom uitbuit het nie? Wys jou maar net, mens is maar mens. 

  •  Jan! Baie geluk met hierdie onverbloemde onpartydige artikel. Soos die spreekwoord lui! SLAAN DIE SPYKER OP SY KOP! jy het die gespyker aan die deure van die geskiedenisgalery soos 'n ware Martin Luther vasgespyker!

    Jy moet net vir ons in 'n opvolgartikel die oorsprong van "the desires of the lower animal nature" geleë is waar die verwysing na hoerery oor die kleurlyn verwys, ontbloot. OF is daar 'n kondoom oorgetrek?
    • Die stelling dui op onkunde oor die gedrag van alle organismes.
      Die drang om seks te wil hê is universeel, dit hang net af van omstandighede en moraliteit.
      Diere paar net as die vroulikes in estrus is, maar die mens, chimps en dolfyne beoefen seks as deel van normale interaksie.

      So, as die geleentheid hom voordoen en die prys is reg, sal sekere mense hulle wend tot prostitusie, dis nie net vir "lower animals" nie.

  • Avatar
    CorneliusHenn

    Net nog 'n klomp stront onder 'n dekmantel van "akademia" ... prostitusie is ook 'n ALGEMENE soort skande in enige samelewing op aarde - waarom die Boere daarvoor teiken? ... natuurlik,  die geldmag en Ingelse kruipers ken groot punte aan sulke siek propaganda toe! .. maak 'n paar somme met die syfers hierbo, dan raak dit eers lagwekkend ... byvoorbeeld, die Britse kwien het 'n oormag van byna 400 000 troepe gestuur om een derde - net minder as 30 000 van die Boere se weerlose vroue en kinders  - te kom vermoor in konsentrasiekampe ... byna helfte van die Ingelse het glo seksuele oordraagbare siektes opgedoen - dus, ongeveer 200 000 Britse troepe het seks gehad met 40? prostitute in Bloemfontein en met hoeveel ookal van die  10 000 of wat weerlose vroue in die konsentrasiekampe ... bereken self die persentasie van 40? prostitute teen die 10 000 plus vroue wat in konsentrasiekampe vermoor is - of selfs teen AL die Boerevroue in daardie hartseer era ... derhalwe, 1908 was ook jare na die einde van die oorlog ... eers aan die einde van die spul twak hierbo kom  Jan JP van der Merwe tot die punt - maar, hy't klaar sy teiken getref in sy gewaande opskrif ... daar is menige vervalle wese wat behae daarin het om ander se moraal te bevleken te ontsier - die swak bydrae hierbo dien as voorbeeld daarvan ... Boergroete, Cornelius Henn

  • Avatar
    Johann de Lange

    Nou kort mens net 'n artikel oor homoseksualiteit vir dieselfde periode, getiteld "Tommies en Tjommies". Mens kan verstaan dat die bewyse daarvoor skraps sal wees, maar afwesigheid van bewyse beteken nie bewys van afwesigheid nie. Enigiemand wat van bronne weet waar mens daaroor kan nalees?

  • Johann de Lange

    Cecil Rhodes die Britse imperialis;  Leander Starr Jameson van die "Jameson Raid" en Lord Kitchener, die veroweraar van die Boere Republieke was gay.  Jy kan jou verseker al drie was fynproewers van de lange jong Boereworsies van  die tyd. Google, en jy kan meer oor hulle oplees.

    Soos niks nuuts onder die son is nie, kan jy verseker wees daar was ook die "rents" (manlike prostitute) om die gay Tommies se geldsakkies te skud, en soos vandag, sou hulle merendeels "straight" gewees het.

    'n Uitmuntende boek, nie oor gay gevalle nie, wel oor hoere en verkragtings gedurende die Engelse Oorlog, nl. "Rags Of Glory" deur Stuart Cloete het ek jare gelede terdeë geniet.  Indien dit nog beskikbaar is, sal jy dit verseker geniet.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top