Philippolis deur Jens Friis: ’n resensie

  • 0

Wanneer ’n ervare en deurwinterde joernalis ’n boek oor sy geboortedorp skryf, is dit altyd iets om na uit te sien.

Philippolis is ’n Vrystaatse dorp met ’n lang en ryk geskiedenis. Anders as wat dikwels gemeen word, het die dorp nie sy ontstaan aan Griekwas te danke nie, maar wel aan Boesmans.

In 1823 is ‘n sendingstasie ter opheffing van die Boesmans deur kaptein Stockenström en dominee Faure noord van die Oranjerivier in die teenswoordige Suid-Vrystaat gestig. Faure het ter ere van dr Philip, die superintendent van die Londense Sendinggenootskap in Suid-Afrika, die naam Philippolis aan die nuwe sendingstasie gegee. Philip self het die Uithaalder-Boesmans van Tooverberg, in die distrik Colesberg, daarheen geneem om onder die bearbeiding van die sendeling James Clarke te staan. 

Reeds in 1825 het hierdie bearbeiding van die Boesmans min vrug getoon, want in dié jaar toe Philip tydens ‘n reis Philippolis besoek het, het hy sake nie na wense gevind nie. Die ingebore swerwersdrang en rusteloosheid van die Boesmans het die onderneming tot mislukking gedoem en al Stockenström se pogings om met die opheffingswerk te volhard was tevergeefs.

Destyds was daar aan die oewers van die Modder- en Rietriviere ‘n groep Griekwas, bekend as die Bergenaars, wat saam met hulle hoof, Adam Kok, in die wêreld rondgeswerf het. Hierdie Bergenaars het van die hoofgroep van die Griekwas te Griekwastad en Campbell weggebreek as gevolg van wrywing oor die hoofmanskap. Adam Kok het toe sy oog op Philippolis as sy hoofkwartier gehad.  In Augustus 1825 ontmoet hy Philip tussen die Riet- en Modderriviere en versoek die superintendent van die Londense Sendinggenootskap om hom toe te laat om met sy volgelinge te Philippolis te gaan woon. Philip het nie onmiddellik sy toestemming verleen nie, maar het ‘n rukkie later eerwaarde Wright as sendeling onder die Bergenaars aangestel. Hy moes probeer om hulle te oorreed om na Griekwastad terug te keer, maar indien hulle weier, het dit hom vrygestaan om vir hulle ‘n sendingstasie te Philippolis te stig.  Adam Kok het Philippolis verkies en voor die einde van die jaar (1825) het hy en sy volgelinge daarheen verhuis. Op 10 Januarie 1826 is hy deur die toenmalige goewerneur van die Kaapkolonie, Richard Bourke, as hoof van die Philippolis-Griekwas erken. Op 22 Julie 1826 het Clarke die sendingstasie en die grond wat daartoe behoort het, skriftelik aan die Griekwas oorgedra. In 1861 verkoop die Griekwas Philippolis en die gebied suid van die Rietrivier aan die destydse Republiek van die Oranje-Vrystaat en trek toe na wat vandag bekend is as Kokstad in KwaZulu-Natal.

Dit is in kort die ontstaangeskiedenis van Philippolis. Jens se boek fokus hoofsaaklik op die 20ste-eeuse geskiedenis van hierdie prag-Vrystaatse dorp. Die taalgebruik en tegniese afwerking van die boek getuig van keurigheid en deeglikheid. Die foto’s en kaarte in die boek bied aan die leser ’n omvattende visuele toer deur Philippolis se ryk dorpsgeskiedenis. Die boek (hardeband) vertoon duursaam en is pragtig. Dit beslaan 250 bladsye en soos die dramaturg Pieter Fourie (’n boorling van Philippolis) tereg opmerk: “Hy (Jens Friss) gee ’n helder beeld van Philippolis met deernis, agting en prikkelende inligting. Dit is ’n moet vir die boekrak.” Die boek sal beslis eindelose plesier verskaf aan enige boorling van Philippolis.

Die boek het ongelukkig ook enkele tekortkominge. Die volgende tydsvakke in Philippolis se geskiedenis word nie na wense in die boek bespreek nie:

  • Philippolis se ontstaan en naamgeskiedenis.
  • Philippolis se Griekwa-geskiedenis.
  • Philippolis se inlywing by die Republiek van die Oranje-Vrystaat.
  • Philippolis se Anglo-Boereoorlog-geskiedenis.
  • Philippolis se ryk fossielvondste. (Dr Patrick Bender van die Raad vir Geowetenskappe se museum (nou Ditsong-museum) in Pretoria het een van die visse (fossiele) wat in die Philippolis-distrik ontdek is, na Philippolis vernoem. Die fossiel staan vandag bekend as Philippolicthyes loockie.
  • Die swart woonbuurt (Poding-Tse-Rolo) en die bruin woonbuurt (Bergmanshoogte) se ontstaan- en naamsgeskiedenis, asook Waterkloof (wat so vyf kilometer uit Philippolis geleë is) se geskiedenis. Die plaas Waterkloof het vroeër aan ene Strauss behoort totdat die Grobbelaar-broers die 4 000 morg in 1869 vir £2 384 (R4 768) aangeskaf en aan die kerk geskenk het. Die kerk moes net die hereregte van £97 (R194) betaal, maar dié het toe ‘n brief aan die regering geskryf en het toe ook nie nodig gehad om dié bedrag te betaal nie. In 1917 is Waterkloof as ‘n dorp geproklameer en belangstellendes kon toe erwe koop. In 1924 het die kerk die grond oorgegee aan die dorpsraad van Waterkloof, wat dit tot in die jare 90 beheer het.

Nieteenstaande die bogemelde tekortkominge bly Jens Friis se boek ’n besonderse leeservaring. Jy sal beslis van die boek hou as jy van die platteland en/of die Vrystaat hou.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top