Resensie: Vrystaatse Dorpe deur Jan van der Merwe

  • 7

 

Titel: Vrystaatse Dorpe
Skrywer: Jan Van Der Merwe
Uitgewer: Kraal Uitgewers
ISBN: 9780620545709

Koop Vrystaatse Dorpe by kalahari.com

Vrystaatse Dorpe deur Jan van der Merwe is, in een woord, 'n pragpublikasie.

Dit is definitief die swaarste boek wat ek nog in my lewe opgetel het. Met niks minder as ’n allemintige 608 bladsye nie is dit heeltemal te begrype. Die boek handel oor elkeen van die 80 dorpe van die Vrystaat en is opgedra aan die drie Afrikaanse susterkerke in Suid-Afrika, want byna 75 van die Vrystaatse dorpe het hulle ontstaan te danke aan gemeentestigting.

Vrystaatse Dorpe bevat pragtige historiese foto's van al 80 dorpe. Die boek gee ’n goeie oorsig van bekende Vrystaters se rol teen apartheid, met heelwat kort insetsels oor onder andere Bram Fischer, Winnie Mandela, Stompie Seipei, Sol Plaatje. Daarteenoor is daar ook die geskiedenis van politieke figure uit die apartheidsjare. Met dorpsname soos Reitz, Steynrus en Hertzogville is dit onvermydelik. Maar dit word nooit ’n droewe geskiedenis van die Vrystaat nie. Die foto’s van Jan van der Merwe maak seker daarvan en gee vir ons ’n beeld van die Vrystaat soos dit vandag lyk. Warts and all! Hierdie skrywer se foto's het atmosfeer. Veral sy foto's van gewone mense van die Vrystaatse platteland. En gaan kyk na sy foto van Swinburne. Pragtig!

"Oranje blanje blou" deur Jan van der Merwe geneem in Ithumuleng by Jagersfontein.

 

Maar die boek bevat nie bloot feite nie. Daar is aangrypende staaltjies oor feitlik elke dorp en sy mense.

Maar vir my was die literêre geskiedenis iets om my in te verlustig. Gaan lees oor die verbintenisse van Patrick Mynhardt, die "Boy from Bethulie"; Laurens van der Post en Philippolis; Karel Schoeman en Trompsburg; Etienne Leroux van Koffiefontein en vele, vele meer. En moenie die pragtige foto van ’n baba-AP Brink met sy pa misloop nie. En ek het nooit geweet dat Ellen Kuzwayo, skrywer van die ikoniese Suid-Afrikaanse roman Call me Woman, ’n boorling van Thaba ’Nchu was nie.

Foto: Philippe Burger

 

Nee wat, hierdie boek het ’n ietsie vir enige leser. Selfs humor! Gaan lees byvoorbeeld David Kramer se liedjie oor Bloemfontein.

Teen byna enige boek gaan daar kritiek wees. In Vrystaatse Dorpe ontbreek byvoorbeeld opskrifte by ’n hele paar belangrike foto’s. ’n Mens voel ook die boek kort ’n slot. Na so ’n reis moet die skrywer vaarwel aan sy medereisigers sê. En daardie pragtige foto op die inhoudsopgawe-bladsy word deur die inhoudsopgawe bederf! ’n Meer ikoniese foto van die Vrystaatse landskap sal jy sukkel om te vind.

Foto: Philippe Burger (links) en Jan van der Merwe

 

Maar met liriese, raaiselagtige name soos Sanniespos, Botshabelo en Verkykerskop is hierdie klein stukkie kritiek gou vergete. En ek is dankbaar dat ek uiteindelik weet wat Phuthaditjhaba beteken – nou moet ek nog net leer hoe dit uitgespreek word.

Na die lees van hierdie boek sing my hart “VRYSTAAT” – want dis ’n lofsang deur Jan van der Merwe aan ’n vergete provinsie.

  • 7

Kommentaar

  • Avatar
    Jan van der Merwe

    Baie dankie Darryl vir hierdie besonderse resensie oor my Vrystaatsed orpe se boek. Ek beskou dit as 'n groot kompliment.

     Ek hoop dat my Noord-Kaapse dorpe se boek ook so goed ontvang sal word.

     Vriendelike groete

    Jan van der Merwe

  • Ek stem saam met Darryl se resensie.

    Ons kan nou iets nalaat vir ons kinders. Daar is dorpe wat ek nog nie eers van gehoor het nie, maar met 'n merkwaardige geskiedenis.

    Welgedaan, dit is voorwaar 'n boek vir my koffietafel.

     Sien uit na die Noord-Kaapse boeke boek.  Dink dit gaan net van so 'n goeie gehalte wees.

     Mooi dag
    Retha

  • Avatar
    Jean Oosthuizen

    'n Lekker resensie oor 'n boek van 'n skrywer wat sy storie en sy geskiedenis ken. Jan van der Merwe is groot gees wat met gesag kan gesels oor enige denkbare onderwerp van godsdiens tot politiek en selfs die Broederbond. Knap gedaan Jan.

  • Avatar
    Caria Vermaak

    Dis met 'n lekker gevoel in my dat ek kan sê ek het ook darem so klein aandeel in die boek, al was dit net die uitleg daarvan, ek onthou ek het my verkyk aan al die mooi foto's en dorpies wat ek nie eers van bewus was nie, MAAR julle kan beslis solank julle geldjies bymekaar maak vir die Noord-Kaapse Dorpe boek, dit staan verseker nie terug vir die Vrystaatse Dorpe boek nie. 

    • LitNet-lesers wat met hierdie navraag kan help, word uitgenooi om te reageer, asseblief. Groete, Naomi Meyer, inhoudsbestuurder

  • Avatar
    Jan van der Merwe

    Dagse Naomi & Petro.

    Ek het nog 5 kopieë oor van die Vrystaatse Dorpe-boeke. Petro kan my kontak by Jan.vanderMerwe@mangaung.co.za of by 082 828 7956. Die boek kos R800.00.

    Ek lewer gratis af in Bloemfontein, anders is die koerierkoste ’n addisionele R200.

    Vriendelike groete

    Jan van der Merwe

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top