Tien vrae: Jan van der Merwe oor Noord-Kaapse Dorpe

  • 10

Skrywers oor hul nuwe boeke: Jan van der Merwe oor Noord-Kaapse Dorpe

Waarom het jy Noord-Kaapse Dorpe geskryf?

Na die sukses van Vrystaatse Dorpe het ek besluit om die Noord-Kaap te doen. Die uitgestrektheid en betreklike onbekendheid van die Noord-Kaap het my gefassineer. Ek was van die staanspoor af geïnteresseerd oor die Noord-Kaap se geskiedenis. Die streke (Karoo, Namakwaland, Gordonia, Boesmanland, Ghaapse plato en die ou Bophuthatswana) se geskiedenisse is almal divers en uniek. En grootliks ook onbekend. Geskiedenis en stories (narratiewe) inspireer my. As ek op ’n interessante feit (geskiedkundig) afkom, wil ek altyd meer daaroor weet, en is ek dan ook geïnspireer om dit dan te wil oorvertel.

Wat was die moeilikste aspek van die skryfproses van hierdie boek, en hoekom?

Die heel moeilikste gedeelte van die skryf van die boek is die navorsing. Dit verg ure en ure se oplees in argiewe. En alhoewel dit die moeilikste gedeelte is, is dit ook vir my die lekkerste gedeelte. ’n Mens ontdek rare verhale in argiewe. Suid-Afrikaanse argiewe en Africana-biblioteke besit ’n skatkis vol wonderlike verhale. Die ander moeilike aspek van die skryf van die Noord-Kaapse Dorpe boek was die besluit om te kies wat in die boek opgeneem gaan word en wat weggelaat gaan word. Ek het letterlik genoeg stories en geskiedkundige materiaal om nog drie boeke oor die Noord-Kaap uit te gee.

Het jy op enige plek in die manuskrip ’n dooie punt bereik en indien wel, wat het veroorsaak dat jy dit kon oorkom?

Die naaste wat ek aan ’n dooie punt gekom het, was om die geskiedenis van al die klein swart dorpies in die ou Bophuthatswana-gebiede op te spoor. Dit het ure se speurwerk geverg. Munisipaliteite is traag om navorsers by te staan met navorsing oor dorpies en plekke binne hulle hul munisipale grense en ’n mens is soms verplig om alternatiewe bronne te gaan soek. En dit is hierdie alternatiewe bronne wat tyd, geduld en nogmaals geduld van ’n skrywer en navorser vereis. As navorser het ek geleer om nooit moed op te gee nie.

Wat was vir jou die belangrikste?

In my boek bly tema die kernaspek. Ek fokus op die naam- en ontstaangeskiedenis van elke dorp of plek. Daarna sal ek ook fokus op ’n interessante narratief. ’n Insiggewende storie of karakter wat vanaf daardie besonderse dorp of plek af kom. Wat egter vir my van kardinale belang is, is dat my feite ’n 100% korrek moet wees. Ek doen nogal moeite om my feite sover doenlik te staaf. Dit is ook van belang om daarop te let dat ek soms ruimskoots gebruik maak van bestaande historiese bronne. In daardie geval is ek nie die skrywer van die stuk nie, maar bloot die samesteller en/of redigeerder. Ek gebruik ander historici se werke met hulle toestemming, en gee ook dan uit die aard van die saak aan hulle volle erkenning in die boek.

Het jy, nadat die manuskrip aanvaar is, in alle opsigte na jou redigeerder geluister? (Of: het jy ’n redigeerder gehad?)

Ek skryf, stel saam en redigeer self my boeke. Ek maak wel van eksterne proeflesers gebuik. Ek probeer sover moontlik my boek tot 600 bladsye beperk. In die Noord-Kaap was dit egter ’n saak van onmoontlikheid en is die boek 760 bladsye. ’n Ander aspek wat van belang is, is dat ek geen dorp of plek moes oorslaan nie, en ek twyfel of ek, met die 235 wat ek dek, een dorp of plek gemis het. Altans ek hoop nie so nie. Dit is vir my belangrik dat die boek allesomvattend moet wees.

Skrywers het nie ’n pensioen nie, boeke maak meestal nie ryk nie. Waarom skryf jy?

Ek werk gelukkig voltyds by die Mangaung Metro Munisipaliteit, as ’n navorser. So ek is nie finansieel afhanklik van my boeke nie. Ek beskou myself nie as ’n uitstaande skrywer nie; ek skryf wel omdat dit vir my lekker is. Ek beskou myself veel eerder as ’n navorser. Ek geniet dit om navorsing te doen. Ek kan ure en ure in argiewe en biblioteke verwyl. Ek hou daarvan om ou rare geskiedenis en verhale uit te snuffel en dit weer opnuut aan mense te vertel. Ek twyfel of ek enige wins maak uit die skryf en/of uitgee van my boeke. Die skryf, samestel en uitgee van my dorpeboeke is vir my net een groot stuk lekkerte; as dit om geld gegaan het, is ek bevrees sou ek nooit ’n boek gepubliseer het nie. Ek beskou die skryf, saamstel en uitgee van my boeke as ’n stokperdjie. Iets wat aan my vele plesier verskaf.

Werk jy reeds weer aan ’n volgende manuskrip?

Ek sit nog en wroeg oor watter provinsie ek volgende wil doen. Ek is egter besig met ’n roman wat so 70% klaar geskryf is, wat ek graag eers sal wil voltooi voordat ek my volgende Dorpe-boek gaan aanpak. Wat my skryfvermoëns betref, dink ek dat dit beslis beperk is, en dat ek nou nie juis in die annale onthou gaan word vir my letterkundige werke nie. Ek skryf omrede ek ’n lekker storie het om te vertel.

Wie is jou skryfhelde (plaaslik en Afrikaans, maar ook internasionaal)?

Ek is ’n groot aanhanger van wyle André P Brink. Ander Suid-Afrikaanse skrywers wie se werke ek graag lees, is Karel Schoeman, Daleen Matthee, Jeanne Goosen en Dan Sleigh se werke. Ek verkies egter om outobiografiese en geskiedkundige werke te lees.

Wat dink jy van die Afrikaanse letterkunde op die oomblik – die boeke wat verskyn (en dalk ook in die onlangse verlede verskyn het)?

Ek is nie ’n taalpuris of ghoeroe wat die letterkunde betref nie. Ek hou van skrywers soos Deon Meyer wat ’n storie kort en bondig kan vertel. Ek vind dat sommige Afrikaanse skrywers deesdae poog om elke roman tot ’n poëtiese meesterstuk te omskep. Ek vind dit irriterend as skrywers te lank draal op hulle kreatiewe vermoëns en ’n storie van ’n storie probeer maak. ’n Skrywer soos Dana Snyman is ’n meester om ’n verhaal kreatief te vertel sonder om meegevoer te raak oor sy eie kreatiewe vermoëns, maar ek is bevrees daar is ’n paar ander wat dalk veel eerder moet fokus op hulle storielyn as op hul poëtiese instinkte.

En wat is jou gedagtes oor die toekoms van die Afrikaanse boek (of dalk oor wat uitgewers behoort uit te gee)?

Solank daar goeie stories is, sal die Afrikaanse boek oorleef. Skrywers moet dalk meer begin fokus op die breër leespubliek en minder op literêre pryse. Afrikaanse boeke moet meer toeganklik gemaak word vir die breër publiek. My enigste ander besorgdheid wat Afrikaans betref, is dat ouers (Afrikaans en Engels) deesdae nie genoegsame moeite doen om die wonder van boeklees aan hulle kinders te openbaar nie. Verder is ’n biblioteek ’n duisend keer lekkerder ervaring om te ontdek as wat Google kan droom om te wees. Ouers behoort hulle kinders lief te maak vir boeke en biblioteke.

Wat uitgewers betref: ek droom nog daarvan om eendag ook ’n uitgewer te kry wat bereid sal wees om my dorpeboeke te uitgee. Die uitgee van ’n boek soos Noord-Kaapse Dorpe is ’n baie duur proses wat ’n geweldig hoë finansiële las op my eie begroting plaas. Nie elke skrywer het die vermoë om sy eie boek met sukses te uitgee nie. Die uitgee van boeke is duur en dit bly ’n riskante besigheid.

Vertel ons nog omtrent Noord-Kaapse Dorpe?

Noord-Kaapse Dorpe is in wese ’n stuk eietydse geskiedenis. Dit is ’n boek wat die stories van elke dorp en plek in die Noord-Kaap vertel. Elke dorp en plek is uniek en het ’n eie besonderse geskiedenis. In hierdie boek vertel ek die verhale van al die rolspelers in die Noord-Kaap en die boek is nie net gefokus op die “blanke” geskiedenis van die Noord-Kaap nie. So vertel ek byvoorbeeld by Dikgatlhong (naby Delportshoop) die storie van Lukas Jantje Mothibe en sy Batlhapinstam wat brutaal van hulle grond beroof is. Dit is ’n hartseer narratief wat ek met deernis aan die lesers vertel. Daar is ook verhale oor karakters soos Andries Waterboer, Klaas Pofadder, Barend Barendse en vele ander. Noord-Kaapse Dorpe vertel geskiedkundige verhale waarvan min mense kennis dra, bloot omdat dit nooit deur ons voorvaders aan die groot klok gehang is nie.

Hoe verskil Noord-Kaapse Dorpe van Vrystaatse Dorpe?

78 van die 86 dorpe in die Vrystaat is deur óf die NG Kerk óf die Dopperkerk begin. Die res van die Vrystaatse dorpe het basies ontstaan as gevolg van goud (Welkom en omtrekke), apartheid (Botshabelo en Phuthaditjhaba) en/of industrieë (Sasolburg). Die Vrystaatse dorpsgeskiedenis was dus basies kerkgeskiedenis. Verder moes jy net ’n bewese kennis hê van die ou Vrystaatse republiek, die Basoeto-oorloë en die Suid-Afrikaanse Oorlog.

Die Noord-Kaap, daarenteen, het ’n velerlei dimensies en geskiedenisse. Daar is die ontdekkingsreisigers, die drosters en die vlugtelinge, die sendelinge en die delwers. Daar is verhale van fortuinsoekers en veroweraars. Om die Noord-Kaap te verstaan moes ek die geskiedenis gaan oplees van die Boesmans, die Basters, die Korannas, die Griekwas, die Trekboere, die Batlhapinstam en so meer. Die omvangrykheid van die Noord-Kaap se geskiedenis was enorm in vergelyking met dié van die Vrystaat, en tog is elkeen van hierdie provinsies uniek en besonders. My oogmerk met my dorpeboeke is om by mense opnuut ’n waardering te skep vir hulle eie dorpe en plekke. Jy kan slegs van iemand of ’n plek hou as jy so ’n persoon of plek ken. My dorpeboeke is nie toerismehandboeke nie, maar tog hoop ek dat hulle soveel nuuskierigheid by mense sal prikkel dat hulle inderdaad moeite sal doen om al hierdie piepklein plekkies te gaan wil besoek. Elkeen van hierdie dorpe en plekke het hulle eie bekoring en is voorwaar ’n besoek werd. As ’n reisiger moeite doen, en genoegsame tyd in hierdie plekkies vertoef, ontdek jy wonderlik gasvrye mense wat elkeen ’n wandelende biblioteek is, vol bekoorlike stories en lewensverhale.

Jan van der Merwe en die boekbekendstelling van Noord-Kaapse Dorpe is by die US Woordfees 2015.

Noord-Kaapse Dorpe
Putsonderwater, Lekkersing en Middelpos is piepklein plekkies – maar hul geskiedenis is omvangryk en vol intrige. Noord-Kaapse Dorpe is ’n opvolg op die pragboek Vrystaatse Dorpe, en bespreek 250 dorpe en interessante plekke. Dr Jan van der Merwe en prof Phillipe Burger gesels met Adriaan van Niekerk en wys foto’s uit die boek.
9 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Klik hier vir die volledige program.

  • 10

Kommentaar

    • Avatar
      George Stewart

      Dagsê. Ek bly in Upington ek wil graag waar kan ek hierdie boek koop en wat is die prys. Kan jy help asb?

      Groete

  • Geagte  Jan

     
    Ek sal graag die boek wil aankoop. Kan jy asseblief vir my besonderhede stuur?
     
    Dankie
     
    Jaco Martins
  • Baie geïnteresseerd in die Noord-kaapse dorpe se verhaal.

    Ek is 'n medeies ongeskik verklaarde argitek, wat na 3 breinopperasies myself besig hou met die verhale van die Karoo-dorpe se ontstaan en sal graag met u wou kontak maak. Na bykans 350 sketse van verskeie dorpe se argitektuur/landskappe en tydlyn -- beskrywing het ek besef dat die verhaal in 'n koffietafel-boek 'n bydra kan lewer in ons land se verhaal.

  • Is the book published in English?
    Would like to obtain a copy, preferably in English but happy to purchase Afrikaans copy.

  • Avatar
    Godfried Fritz

    Enigiets oor Richmond? Ons het onlangs hierheen verhuis. Dalk kan jy ander artikels voorstel.

  • Avatar
    Sanet van Sittert

    Goeiedag Jan

    Ek wil graag die Boek Noord-Kaapse dorpe aankoop. Kan jy asseblief help?

    Dankie.

  • Avatar
    Lidia Moolman

    Goeie more.

    Ons kuier by River View Lodge waar jy jou boek gelaunch het en is absoluut mal daar oor. Ek is Lidia, Martie van River View Lodge se enigste oorlewende tannie nog. Ek en my man is nou op toere, soos ons ’n geldjie het, en ken nie een van die plekke nie. Gehoor miskien.

    So ek wil graag weet wat is jou prys van die boek en sal wil een kry, maar sal eers moet hoor en dan geldjie wegsit. Want hierdie boek is baie geld werd. Baie dankie en doen so voort. Ons het mense soos julle nodig in die land.

    Mooi dag

    Lidia

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top