Sensuur en die volk se sedes

  • 2

Brandfort, Sondag 9 Desember 1975. Die toneel is die NG Kerk-pastorie-erf. Bolle rook rank na bowe. Stemme wat “Straf tog nie in ongenade” sing, klink op. In die vlamme, waarom Sondagskoolkinders, kerkraadslede, huisvrouens en grysaards vergader is, verswart ’n groot aantal fotoverhaalboekies, tydskrifte, boeke en talle foto’s van naakte meisies. Selfs ’n foto van ’n stuitige Liz Taylor in n swemkostuum brand lustig saam. Die verbranding van hierdie “pornografie” dien “om die verterende vuur van die illuminati en die bose te blus”. Vuur word met vuur geblus.

“Pornografie” was in die apartheidsjare in Suid-Afrika ’n swaar emosioneel-gelaaide woord. ’n Woord wat nie maklik in die openbaar hardop gesê is nie. ’n Begrip wat nie voor kinders en beïnvloedbare jongmense bespreek is nie. Dit het destyds gegaan om boosheid wat liefs vermy moes word.

 

Pornografie

Die woord pornografie is saamgestel uit die Griekse woorde pornē, wat “straatvrou” beteken, en graphein, wat beteken “om te skryf. Oorspronklik beteken die woord die beskrywing van die maniere, lewe en gewoontes van prostitute en hulle kliënte. Deur die jare het die begrip ’n aansienlike betekenisuitbreiding ondergaan en vandag vind ons die volgende omskrywing in die HAT: “Literatuur wat hom daarop toelê om die seksualiteit van lesers te prikkel deur keuse van stof en deur die wyse van behandeling, onwelvoeglike, onsedelike boeke, plate, ens; prikkellektuur”.

 

Wetgewing

Die Romeins-Hollandse gemene reg het nie veel trek gehad vir beperkings op pornografiese geskrifte nie. In ’n reeks beslissings het die howe uit passasies van die ou gemeenregtelike skrywers wel die misdaad openbare onsedelikheid gekonstrueer. Daar is swaar gesteun op die regsfilosoof Voet, wat sekere gedraginge soos die versteuring van ’n ander se huwelik (deur die aantasting van die kuisheid van sy vrou) en die pleeg van onkuise dade as voorbeelde van openbare onsedelikheid genoem. Engelsregtelike beïnvloeding het op hierdie gebied ’n belangrike rol gespeel en dit is vandag juis om te sê dat ons destydse misdaad openbare onsedelikheid uit die Engelse reg ontleen is.

Hierdie misdaad is deur die Natalse Hooggeregshof in 1905 uitgebrei, of liewer gerek, om die publikasie van obsene literatuur in te sluit. In R vs Hardy is die beskuldigde, ene George Webb Hardy, die redakteur cum uitgewer van ’n koerant, The Prince, skuldig bevind en tot gevangenisstraf van twee maande gevonnis op aanklag dat hy ’n sekere “indecent, lewd, scandalous and offensive article or writing entitled ‘The Black Peril’” in sy koerant gepubliseer het en hierdie koerant in die openbaar vertoon het. Verder word beweer dat hierdie artikel “was productive of and to the public mischief and tending to the deprivation of the morals of the people of Durban”. In die artikel waarteen die inwoners van Durban op so ’n mooi manier beskerm word, beskryf Hardy handelinge van seksuele verkeer tussen swart mans en wit vroue.

Die ou Kaapkolonie was die eerste wat gekom het met wetgewing om die invoer, pos en verspreiding van ongewenste lektuur te verbied. Die Customs Act van 1872 het onder ander bepaal dat geen

indecent or obscene prints, paintings, photographs, books, cards, lithographic or other engraving, or any other indecent or obscene articles, shall be imported or brought into this Colony ...

Publikasies of enige van die ander voorwerpe wat onder hierdie opreg naïewe Victoriaanse omskrywing tuisgebring kon word, was onderhewig aan verbeurdverklaring. Eienaardig genoeg vir daardie tyd is geen voorsiening in hierdie wet gemaak vir die oplegging van straf nie, tot in 1906, toe die wetgewer deur die Customs Amendment and Tariff Act die aangehaalde bepalings so gewysig het dat iemand wat sulke publikasies invoer of poog om hulle in te voer, skuldig is aan ’n misdryf en by skuldigbevinding strafbaar is met ’n boete van £50 en/of gevangenisstraf van drie maande.

Besonder oorspronklik was die Kaapse wetgewer nie, want die 1872-wet was niks anders as ’n woordelikse oorskrywing van die destydse Britse Customs Consolidation Act nie.

In 1902 het die Transvaal sy suidelike buurman se voorbeeld gevolg en die bepalings van die Doeanewet van 1872 bykans verbatim oorgeneem in die Customs Management Ordinance. Geen voorsiening is egter vir ’n strafsanksie gemaak nie. Dieselfde bepalings, hoewel in ietwat gewysigde vorm, word ook aangetref in die Natalse Customs Consolidation and Shipping Act van 1899. Hierdie wet het van die begin af voorsiening gemaak vir kriminele sanksie teen oortreders. Eienaardig genoeg is geen dergelike wetgewing in die Oranje-Vrystaat aangetref nie. Moontlik het die afstande vanaf die verskillende hawens iets hiermee te doen, of dalk het die ou Vrystaters net nie veel waarde aan invoer of pornografie geheg nie.

Na die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910 het hierdie wette vir ’n geruime tyd onveranderd bly voortbestaan. Die eerste veranderinge het gekom met die aanneem van die nuwe Doeanewet van 1913. Hierdie whet die posisie in al vier provinsies gelykgestel. Die kern van die wet was weer eens gebaseer op die ou Kaapse statuut.

Die Wet op die Beheer van die Doeane is in 1934 deur die Doeanetarief Wysigingswet gewysig. Die bepalings van eersgenoemde wet rakende die invoer van ongewenste publikasies is sodanig gewysig dat die verwysing na afdrukke, skilderye, boeke, ens vervang is met eenvoudige verwysing na “goedere” en nie langer in die besonder na die gespesifiseerde items verwys word nie.

In Commissioner of Customs and Excise vs Watch-Tower Bible and Tract Society is daar beslis dat alhoewel die wet lees “the decision of the Minister shall be final”, die audi et alteram partem-reël nie uitgesluit is nie en dat die Minister dus aan die invoerder die geleentheid moet gee om aan te toon dat bepaalde materiaal nie onwelvoeglik of aanstootlik is nie.

In 1931 word die Sensuurwet op die wetboeke geplaas. Hierdie wet het ’n eenvormige reëling vir al die provinsies gebring. Sensuur in Suid-Afrika is deur middel van hierdie wet opgedra aan ’n onafhanklike administratiewe orgaan en is nie ingeskakel by enige bestaande afdeling van die staatsdiens nie. Verfynings het later met elke nuwe wet ingetree.

Die Sensuurwet het die eerste van hierdie administratiewe organe in die lewe geroep, ’n Raad van Sensors, en bepaal dat die liggaam se goedkeuring noodsaaklik is vir die vertoning van enige rolprent of dele van rolprente. Verder is gereël dat die minister van binnelandse sake enige publikasie van ’n prent, foto, skildery of tekening of enige openbare vermaaklikheid mag verbied, behalwe in gevalle waar die Raad van Sensors oortuig en tevrede is dat dit nie sal indruis teen die godsdienstige opvattings van ons bevolking nie of enige bevolkingsgroep in onguns stel of teenstrydig is met die openbare belang en goeie morele beginsels. Appèl kon in alle gevalle by die minister aangeteken word.

Hierna, op 21 Augustus 1939, is die eerste lys van publikasies wat ongewens bevind is, in die Staatskoerant gepubliseer. Dit was die eerste van ’n lang lys waartoe daar weekliks nuwe werke en titels toegevoeg is. Die doel van die lys was om boekhandelaars en bibliotekarisse te help, want dit was destyds ’n misdaad om ’n verbode boek te vertoon, verkoop of versprei.

Aanvanklik het hierdie nuwe beheermaatreëls skynbaar bevredigend gewerk. Vroeg in 1952 het die Transvaalse Hooggeregshof egter ’n bom laat bars oor die aard van publikasies wat in Afrikaans uitgegee word. In die saak Goeie Hoop Uitgewers vs Central News Agency het die applikant aangedring daarop dat hy kopiereg verkry het in ’n “literary work entitled Trade Routes of Shame” wat in Afrikaans vertaal en gepubliseer is in die tydskrif Fyn Goud. Die tydskrif wat hierdie artikel bevat het, is in alle dele van Suid-Afrika versprei en verkoop. Op 29 Januarie 1953 het dit onder die applikant se aandag gekom dat ’n aansienlike gedeelte van die artikel deur ’n teenstander, Keur, gepubliseer is. Gevolglik word aansoek gedoen om ’n interdik ten einde die verspreiding en verkoop van hierdie tydskrif te verbied omdat dit die applikant se kopiereg skend.

In sy uitspraak het regter Price hom as volg oor die inhoud van die artikel uitgelaat:

Prostitution is described in language which would make any inexperienced and youthful readers think of it as a kind of game which may be legitimately played. The method of making appointments with a particular female is described; the number of callers she receives per day is mentioned; the earnings of this prostitute are given and contrasted with the income made by her when she carried on a respectable occupation, in such a way as to indicate that a lot more money is to be made by practising the vice of prostitution than by undertaking ordinary respectable work.

Regter Price, in navolging van die Engelse reg, beslis dat daar geen kopiereg berus in skandalige materiaal nie en dat hierdie artikel obseen is en waarskynlik die moraliteit van jong lesers sou aantas. Simplisties gestel, kom dit daarop neer dat die pornograaf geen beskerming teen plagiaat geniet nie. Die aansoek is derhalwe van die hand gewys.

Hierdie uitspraak het ’n golf van bittere morele verontwaardiging oor die sensasionalisme van die Afrikaanse tydskrifwese deur die land gestuur. Die golf het in die parlement gebreek, waar JH Abraham met groot entoesiasme losgebars het:

Daar (het) die goedkoop soort ontspanningsleesstof sy verskyning gemaak, wat daarop uit was om nie slegs die mens goedkoop en onskadelike ontspanning te verskaf nie, maar wat daarop voorbedag bereken was om die mense se laagste instinkte te prikkel, daardie sensasionele prikkellektuur wat daarop ingestel is om die geslagsdrang van die mens tot so ’n mate te prikkel dat dit tot noodlottige gevolge vir volkere en nasies kan lei.

 

Die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede (1963)

’n Publikasie kon kragtens art 5(2) van die bogemelde wet as ongewens verdoem word as dit (of deel daarvan) onbetaamlik (indecent) of onwelvoeglik (obscene) of aanstootlik (offensive) of skadelik (harmful) vir die openbare sedes is, godslasterlik is of vir die godsdienstige oortuigings of gevoelens van enige bevolkingsdeel van die Republiek aanstootlik is, enige bevolkingsdeel van die Republiek belaglik of veragtelik maak.

In art 6(1) en (2) trag die wetgewer om die bykans onmoontlike te doen. Hy waag ’n omskrywing van die begrippe onbetaamlik en onwelvoeglik.

Bykans die hele spektrum van menslike gedraginge is vervat in hierdie monumentale poging van die wetgewer om ten ene male die onduidelikheid oor wat nou eintlik onbetaamlik is, uit die weg te ruim. Hierdie “long, dismal list of topics”, soos regter Rumpff dit noem, of in die woorde van MJ Strydom, “indrukwekkende katalogus van vuilhede”, is tereg deur die Kruger-kommissie as “juridies onelegant” beskryf.

 

When the lion feeds

Op 1 April 1964 het Wilbur A Smith se debuutwerk, When the lion feeds, op die rakke van boekhandelaars verskyn. Die werk, wat 459 bladsye beslaan, het in Suid-Afrika vir R3,20 en in Engeland vir 30 sjielings verkoop. Die boek het reeds op 16 Maart 1964 in Londen verskyn en dadelik geblyk ’n blitsverkoper te wees.

When the lion feeds is ’n kragdadige boek wat nie vir jeugdiges of preutse mense geskryf is nie. Die boek bestaan uit drie dele. Die eerste deel behandel die kinderjare en pyne van grootword vir ’n tweeling – broers wat heeltemal van mekaar verskil. Hulle word groot op ’n beesplaas in Natal. Sean is die sterkste van die twee en meer meedoënloos. In hierdie deel word die Zoeloe-oorloë en die bloedbad by Isandlwana verhaal. In hoofstuk 1 beeld die skrywer kortliks die oorgang van die twee broers van kinderjare na volwassenheid uit. Hy verklaar: “It was riding a strong current being swept with speed along the river of life.” Die hoofstuk is ingedeel in paragrawe van verskeie lengtes, elk met ’n ondertitel. Een van hierdie ondertitels is “In the river there were whirlpools”. Onder hierdie ondertitel beeld die skrywer uit hoe Sean deur die vurige plaasmeisie Anna verlei word nadat sy naak geswem het. Sy neem sy hemp en droog haar gesig daaraan af, “standing naked and unashamed – she had too many brothers for modesty”. Hierna volg die nog vele passievolle oomblikke.

Op 10 Julie 1964 verskyn Goewermentskennisgewing no 1024 waarin When the lion feeds ingevolge ’n beslissing van die Publikasieraad verbied word. Die publikasie is verbied ingevolge art 21 van die Doeanewet wat voorsiening maak vir die verbod op invoer van goedere wat onwelvoeglik of obseen is of op welke grond ook al aanstootlik is.

Die ontstoke skrywer sowel as die uitgewers het onmiddellik besluit om appèl aan te teken teen hierdie beslissing. ’n Versoek om redes vir die stap is aan die Raad van Beheer oor Publikasies gerig. In sy antwoord verklaar die Raad dat alhoewel hulle nie verplig kan word om redes vir ’n besluit te verstrek nie, hulle wel bereid is om dit te doen. Die “redes” was niks meer as ’n opsomming van sekere gedeeltes van art 6(1) (a) tot (c) van die Publikasiewet, 1963 nie.

(i) The book has the tendency to deprave or corrupt the minds of persons who are likely to be exposed to the effect or influence thereof. (ii) It is offensive or harmful to public morals. (iii) It is likely to be outrageous or disgusting to persons who are likely to read it. (iv) It deals in an improper manner with promiscuity, passionate love scenes, lust, sexual intercourse, obscene language, blasphemous language, sadism and cruelty.

Die appèl is aanvanklik deur regters Beyers en Diemont in die Kaapse Hooggeregshof aangehoor. Ses beëdigde verklarings deur bekende letterkundiges (Ernst Lindenberg, WA de Klerk, mev Bradlow, Jan Rabie, AHG Wentzel en Arthur Bagnall) is ter ondersteuning van die appellant se saak aan die hof voorgelê. In hierdie verklarings word uitlatings gemaak oor die betekenis van obseniteit, die aanvaarbare grense vir die hantering van die seksuele in moderne letterkundige werke en parallelle met ander boeke en geskrifte getrek. So stel Lindenberg dit as sy standpunt dat die leserspubliek van daardie tyd eerlike en openhartige beskrywings van seksuele verhoudings as deel van die normale patroon van die tegniek van die fiksieskrywer aanvaar. As sodanige beskrywings deel vorm van ’n samehangende verhaal kan dit nie langer as onbetaamlik of onwelvoeglik beskou word bloot omdat dit met seks handel nie. Hierdie neiging kom voor in beide die Engelse en moderne Afrikaanse letterkunde. As voorbeeld noem hy Etienne Leroux se Sewe dae by die Silbersteins en Lobola vir die lewe en Die ambassadeur van André P Brink.

Op aansoek van die Publikasieraad het die regters eenparig besluit dat hierdie verklarings nie oorweeg moet word nie. As rede hiervoor voer regter Diemont aan dat artikel 6 van die wet die hof se mening deurslaggewend maak en die hof het nie nodig of kan nie verplig word om die leiding van deskundige getuienis te soek nie. Oor die vraag of die appèl behoort te slaag al dan nie kon die twee regters geen eenstemmigheid bereik nie. Die hof word gevolglik hersaamgestel en regter Van Zyl word bygevoeg.

Die Kaapse hof het met ’n meerderheid van twee (regters Van Zyl en Beyers) teen een (regter Diemont) die appèl gehandhaaf. Die Publikasieraad berus nie by hierdie beslissing nie en beroep hom op die appèlhof in Bloemfontein. Die beslissing word deur die appèlhof omvergewerp en die Publikasieraad in die gelyk gestel. Drie appèlregters (Steyn, Holmes en Potgieter) beslis in hierdie geval ten gunste van die Raad en twee (Rumpff en Williamson) verwerp die appèl.

In sy beslissing het die appèlhof die besluit van die Sensuurraad op 26 Augustus in ere herstel. When the lion feeds sou verbied bly.

Die laaste hoofstuk oor die verhaal van die boek en die Suid-Afrikaanse sensuurliggaam moes nog geskryf word. Op 30 Januarie 1976 verskyn Kennisgewing 149 in die Staatskoerant. Hierin word verklaar dat ’n komitee soos bedoel in artikel 4 van die Wet op Publikasies, 1974, kragtens art 15(2) van daardie wet op hersiening beslis het dat When the lion feeds nie ongewens is nie.

 

Kennis van die aand

Vroeg in 1974 verskyn ’n nuwe roman van André P Brink in die boekwinkels. Sy uitgewer is die redelik klein en onbekende Kaapse firma Buren. Verkope het aanvanklik stadig gevorder, maar skielik het verandering gekom. Hennie Terblanche, voorsitter van die Genootskap vir die Handhawing van Afrikaans, lê ’n klag teen die boek by die Veiligheidspolisie en beweer dat dit ’n misdaad teen Suid-Afrikaners is. Sy optrede word met basuingeskal deur die pers aangekondig. Bespiegelinge oor ’n verbod deur die Publikasieraad snel dol deur die land en oornag skiet Kennis van die aand se verkope die hoogte in.

Waaroor handel Kennis van die aand? Dit is die verhaal van Josef Malan, ’n bruin man wat op ’n plaas grootgeword het en deur die toedoen van die “baas” skoolgaan.

Josef behaal ’n dramagraad en word akteur. Na agt jaar in Londen keer hy terug na Suid-Afrika. Hier kom hy onmiddellik in opstand teen die manier waarop die bruin mense as ondergeskiktes van die wit mense behandel word. Hy gebruik sy reisende toneelgroep om ’n boodskap van verset oor te dra en raak verlief op ’n wit meisie, by wie hy ook slaap.

Nadat hy haar doodgemaak het, word hy eers lank deur die Veiligheidspolisie gemartel om meer te vertel van wat hy weet, maar hy weet niks van enige komplot tot geweld nie. Hy beland uiteindelik in die hof.

Dit is ’n eensydige verhaal waarin alle wit mense sleg is – met die uitsondering aanvanklik van Jessica, die minnares – en waarin die polisie as wreedaards uitgebeeld word. Daar is nie uitermate geweld in die boek nie, maar die klem val soms sterk op die seksuele. Volgens Terblanche word die seksdaad vyftig keer beskryf.

Die kritici het die boek met gemengde gevoelens ontvang.

Om uit te vind of sy boek verbied gaan word, het Brink, volgens ’n persverklaring, die voorsitter van die Publikasieraad geskakel. Mnr Kruger het hom meegedeel dat die enigste manier waarop hy kan uitvind, is om self ’n beswaar teen sy eie boek aan te teken. Dit het niks met hom te doen of die boek verban is al dan nie.

Op 1 Februarie is Brink se boek in Staatskoerant 161 verbied as synde ongewens. Die tydperk van stilte was oor.

Dit is miskien nodig om stil te staan by van die ander partye in hierdie verhaal wat baie komies sou gewees het as dit nie so tragies was nie.

’n NG Kerk-predikant van Parow, JJ Swart, het die eerste klagte teen Kennis gelê. In ’n onderhoud met Die Volksblad het hy laat blyk dat dit die heel eerste keer was dat hy een van André Brink se boeke gelees het. Volgens hom kan ’n volk nie versigtig genoeg wees wanneer dit kom by dit wat hy sy kinders gee om te lees nie. “Ons kan die invloed van leesstof nooit onderskat nie.” Swart het die beswaar ingedien namens die kommissie van sedelikheid van die Ring van Parow en gesê dat hy nie skaam is vir die standpunt wat hulle ingeneem het nie. Daar is diep en grondliggende beginsels waarvolgens hulle opgetree het. Dit is ’n sterk volk wat bereid is om in te gryp en op te tree, maar dit is ’n fatalistiese volk wat toelaat dat hy oorstroom word deur aftakelende gedagtes en leesstof. Ons kan nie toelaat dat die gevoelens en oortuigings van Christene en gelowiges in hierdie land onder die voete vertrap word nie.

Die Kaap was die Transvaal met ’n kortkop voor met hulle klagte. In die Transvaal is die klagte ingedien deur mev ds AA (Christine) van Wyk wat namens die NG Vrouehulpdiens aan die Publikasieraad geskryf het.

Die verbod is regdeur die land met verontwaardiging en verbasing ontvang. ’n Skrywersfonds is in die lewe geroep deur die sterkste georganiseerde Afrikaanse Skrywerskring om te help om fondse vir ’n moontlike hofsaak bymekaar te maak. Die Skrywersfonds het geressorteer onder beskerming van die voorsitter van die Afrikaanse Skrywerskring, John Miles, dosent in die Departement Afrikaans-Nederlands aan die Universiteit van die Witwatersrand, en die ondervoorsitter, Chris Barnard, lid van die redaksie van Die Huisgenoot.

Rykie van Reenen berig in Rapport van 27 Januarie 1974 dat ’n opvallende feit in verband met die literêre woelings is dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, wat tot in die middel van 1973 (toe die nuwe raad verkies is) sterk standpunt ingeneem het ten opsigte van sensuur, nou in alle tale swyg oor ’n saak wat die hele Afrikaanse letterkunde ten nouste raak.

Die Afrikaanse Skrywerskring vra ook dat die twee letterkundiges wat lede van die letterkundekommissie van die Akademie is, Alwyn Grové en Theuns Cloete, asook die sekundus, Merwe Scholtz, uit die Publikasieraad moet bedank. Hulle voel klaarblyklik dat ’n verbod soos dié op Kennis van die aand nie rym met die bevordering van die Afrikaanse letterkunde waartoe die Akademie en met name sy letterkundige kommissie verbind is nie.

Brink se boek is, sover vasgestel kan word, die tweede Afrikaanse boek in die geskiedenis wat verbied is. Sy voorganger was Helkampe deur Ewald Steenkamp. Die boek is in die jare veertig klaarblyklik om politieke redes verbied. Dit het gehandel oor die konsentrasiekampe in die Anglo-Boereoorlog.

Soos te verwagte appelleer Brink en sy uitgewer teen die verbod en op 5 Augustus 1974 begin die saak in die Kaapse Provinsiale Afdeling van die Hooggeregshof met regter-president Van Wyk en regters Diemont en Steyn op die bank. Adv EM Grosskopf (bygestaan deur HC Nel) verskyn namens André Brink en sy uitgewer, terwyl adv W Viviers (bygestaan deur WG Burger) die Publikasieraad verteenwoordig. Uitspraak word op 1 Oktober 1974 gelewer. Die Appèlhof het die gronde waarop die Publikasieraad Kennis van die aand verbied het, ondersteun.

Die slotopmerking van regter Steyn bring mens onder die indruk daarvan dat Kennis van die aand nie die regbank koud gelaat het nie en onderstreep die byna tragiese in hierdie hofproses:

Om hierdie redes het ek tot die gevolgtrekking geraak dat respondent (die Publikasieraad) uit hoofde van die bepalings van die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede, 26 van 1963, reg was om die boek Kennis van die Aand ongewens te verklaar. Dit is ’n besluit wat ek teësinnig geneem het om verskeie redes: veral egter, eerstens, vanweë die behoefte aan ’n viriele letterkunde in die Afrikaanse taal wat dan ook onbevreesd oor die aktualiteite van die Suid-Afrikaanse situasie sal skryf. Tweedens, omdat ek nou ’n besef het van die ontoereikendheid van my eie Afrikaans; die lees van hierdie boek met sy ryk taal het dit so helder aan my tuisgebring. Die skrywer se moedswilligheid het in die lig van die wetsbepalings my egter geen ander keuse gelaat nie.

Kennis van die aand het eers in 1982 die totale aanslag van die vrome vaders van die Publikasieraad oorleef. Dit nadat die boek internasionaal ’n topverkoper was.

 

Die NG Kerk lug ook ’n amptelike opinie oor die Afrikaanse letterkunde

Koot Vorster, destydse moderator van die NG Kerk, en voorbanker van die Afrikanerbond (AB) het seker gemaak dat die NG Kerk ook n eiertjie te lê het oor die verval van die Afrikaanse letterkunde.

Die liberalisme spits hom, volgens Vorster, hoofsaaklik toe op die kultuur van die Afrikaner deur ’n “vloedgolf van sekularisasie” (Treurnicht 1975). In ooreenstemming met hierdie denke van Treurnicht het Vorster die kultuurstrewe van die Afrikaner tipeer as “die vryheid van die volk, gebondenheid aan die volk en diens aan die volk”.

As voorsitter van die NG Kerk Uitgewers was Vorster bekommerd oor “liberale” skrywers wat hy tipeer as “geestelike terroriste van die volk”. Vir hom is ’n volk se letterkunde ’n weerspieëling van sy beskawingspeil, maar sekere skrywers “misbruik en prostitueer die woordkuns”. Die Calvinistiese sy van Vorster se denke kom na vore as hy pleit dat die letterkunde “heilig” moet wees deur te voldoen aan die standaarde van die Woord.

Reeds aan die begin van die jare sewentig was dit vir Koot Vorster duidelik dat die Afrikaner se kritieklose aanvaarding van die “permissiewe” letterkunde en “septiese kuns” ’n duidelike teken was dat “ons toeskouers geword het, kopskuddende défaitiste en kritici”.

Die toekenning van die Hertzogprys in 1979 aan Etienne Leroux se verbode boek Magersfontein, o Magersfontein het daartoe gelei dat Vorster sterk standpunt ingeneem het teen skrywers met “stink gedagtes”. In die debat het hy telkemale te kenne gegee dat hy hom kwel dat die NG Kerk nie net die Afrikaner gefaal het nie, maar veral ook Afrikaanse skrywers deur nie konsekwente Bybelse leiding te gee oor kuns en letterkunde nie. Dit was vir hom die taak van die “boerekerk” om die Afrikaner op die kultuurfront wakker te maak deur die kommuniste se “boodskap van die aarde” met die kerk se “boodskap van die hemel” te oorwin.

Dit was vir Vorster hartseer dat die Akademie die NG Kerk “uittart” deur ’n “gesogte prys toe te ken aan die septiese kuns van skrywers met stink gedagtes”. Hy het afgesien van sy aanvanklike plan om die Publikasieraad deur “petisies en woorde te vernietig”. Hy wou eerder ’n “bielie” van ’n prys daarstel vir “skoon en edel anti-septiese literatuur” wat nie sou afsteek teen die Hertzogprys nie. Langenhoven was vir hom die ideaal van ’n Afrikaanse volkskrywer wat bewys het dat dit nie nodig is om “af te daal in dieptes van morsigheid en leef en skryf asof die mens net seksorgane het nie”.

Die idee van so ’n “bielie van ’n prys” het André P Brink genoop om hom in 1979 teen Koot Vorster uit te spreek. Sy mening was dat elke skrywe te sondig sou wees vir “goue Koot” en dat die kerk nie maklik ’n borg gaan kry noudat Eschel Rhoodie nie meer daar is nie. Ook die bekende oudminister van vervoer, Ben Schoeman, het met Vorster verskil oor sy siening dat die sensuurstelsel ’n middel tot die “suiwering van die volk” is. Vorster het getuig van “eerbied” vir “oom Ben”, maar sy liefde vir die Woord en eerbied vir die heiligheid van God is groter. Hy het ’n beroep op Schoeman, as voorsitter van Nasionale Pers, gedoen om “sy magtige persorganisasie” te gebruik om te verhoed dat die volk nie in die “moeras van immorele” versink nie. Schoeman het egter nie die saak met Vorster verder gevoer nie.

 

Is naaktheid onwelvoeglik?

Veel hoop is destyds gevestig op die 1974-Appèlraad oor Publikasies. Hier was vir die eerste keer ’n gespesialiseerde administratiewe liggaam wat regsekerheid en realisme op die gebied van beheer oor publikasies en vermaaklikhede kon bewerkstellig. Hier was ’n uitmuntende geleentheid om die kleed van wantroue wat in die verlede rondom dié gebied gehang is, af te skud en opnuut die probleem wetenskaplik te benader. As na die beslissings van die Raad oor die eerste jaar gekyk word, word dit al hoe duideliker dat hierdie hoop so ver nie in vervulling gegaan het nie.

Die Brandwag was die eerste plaaslike publikasie wat hom die wrewel van die nuwe beheerorgane op die hals gehaal het. ’n Verbod op hierdie publikasie is op 14 April 1975 deur die voorsitter van die Appèlraad, regter JH Snyman, bekragtig. Hy het bevind dat Die Brandwag van 11 April weens die godslasterlikheid van ’n sekere artikel daarin nie verkoop mag word nie. Die betrokke artikel – van drie bladsye – handel oor “Die wêreld van die geeste” en is onder die opskrif “Die dood en daarna ...” gepubliseer. ’n Brit, Alan Hull Walton, is die skrywer van die artikelreeks en dit is deur Die Brandwag self vertaal.

Hierna word ook die uitgawes van Die Brandwag van 18 April, 25 April en 14 Maart ongewens verklaar. Ook Living and Loving, ’n sustertydskrif van Scope, word verband. Die rede hiervoor is skynbaar ’n reeks foto’s van ’n jong moeder wat eiehandig haar baba in die lewe help. ’n Ander foto wat moontlik tot die reaksie aanleiding kon gegee het, was van ’n moeder wat haar baba aan die bors voed. In ’n onderhoud met The Daily News bevestig die Direktoraat dat hierdie foto’s tot die aksie aanleiding gegee het.

Scope het nie lank uit die prentjie gebly met sy uitgawe waarin wit modelle se kaal borste rondborstig ontbloot is nie. ’n Eienaardige eierdans is uitgevoer rondom die uitgawe van 18 April 1975 van hierdie tydskrif. Op 3 Mei 1975 berig Die Transvaler dat die betrokke uitgawe van Scope verbied is. Die volgende dag verskyn egter ’n berig in Rapport waarvolgens die Direktoraat ontken dat Scope verbied is. ’n Komitee het bevind dat die uitgawe nie ongewens is nie, maar die Direktoraat het teen hierdie beslissing geappelleer. Op 9 Mei 1975 word Scope van 18 April kragtens ’n staatskoerantkennisgewing as ongewens verklaar.

Die ironie van die hele saak is dat die hele oplaag van die tydskrif – 180 000 kopieë – reeds teen 3 Mei 1975 uitverkoop was.

 

Die einde in sig

Die eerste Westerse land wat ’n einde gemaak het aan die absurdhede van sensuur was Denemarke. In 1969 is alle beperkings op pornografie in Denemarke opgehef. Suid-Afrika sou eers 25 jaar later hierdie stadium van wasdom bereik. Vandag, danksy die nuwe Suid-Afrikaanse Grondwet, kan Suid-Afrikaners nou na hartelus die mees vulgêre goed kwytraak, vrylik na pornografie (maar nie kinderpornografie nie) kyk en selfs hulle ketoolse fantasieë in Afrikaans verwoord op die LitNet-argief se hygliteratuur-afdeling.

 

Bronne

Koerante

Daily Dispatch, 4 Junie 1975.

Die Volksblad, 15 April 1975.

Goewermentskennisgewing 765, Staatskoerant 466 van 11 April 1975.

Goewermentskennisgewing 829, Staatskoerant 4680 van 18 April 1975.

Goewermentskennisgewing 849, Staatskoerant 4681 van 25 April 1975.

Goewermentskennisgewing 957, Staatskoerant 4704 van 9 Mei 1975.

Goewermentskennisgewing 957, Staatskoerant 4704 van 9 Mei 1975.

The Daily News, 5 Junie 1975.

The Daily News, 6 Mei 1975.

The Eastern Province Herald, 3 Mei 1975.

Ander bronne

Bekker, Johan, Oor pornografie en sensuur, in Sestiger, Februarie 1965.

Brink, André P, Kennis van die aand. Buren Uitgewers, Kaapstad, 1974.

Brink, André P, Literature and Offence, in Philosophical Papers, Mei 1976, bl 53.

Burns, A., To Deparave and Corrupt, Davis-Poynter, Londen, 1972.

Clor, HM, Obscenity and public morality, University of Chicago Press, Chicago, 1970.

Cotham, Perry C, Obscenity, pornography and censorship, Baker Book House, Michigan, 1973.

Daniels, Walter M, The censorships of books, HW Wilson, VSA, 1954.

Smith, Wilbur A, When the lion feeds, Londen, 1964.

Snyman, JH, Die Wet op Publikasies 42 van 1974, in Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1976, 2, bl. 190.

Steyl, SC, Regters aan die woord, Tafelberg, Kaapstad, 1971.

Strauss, DFM, Koningsmense en beskawingsongelykes: ’n herwaardering van menseregte, in Tydskrif vir Regswetenskap, Oktober 1976.

Strauss, DFM, Kuns en pornografie, in Bulletin van die Suid-Afrikaanse Verenging vir Christelike Wetenskap, Desember 1966, bl 182.

Strauss, SA, JC van der Walt en MJ Strydom, Die Suid-Afrikaanse persreg, 2de uitgawe, JL van Schaik Bpk, Pretoria, 1968.

Street, Harry, Freedom, the individual and the law, Penguin Books, Middlesex, Engeland, 1972.

Strydom, MJ, Aantekeninge oor die Wet op Publikasies en Vermaaklikhede 1963, in THRHR, 1963, bl 206.

Stumpf, Samuel Enoch, Morality and the law, Van der Bilt University Press, Nashville, Tennessee, 1966.

Treurnicht, A, Credo van ’n Afrikaner, Tafelberg, Kaapstad. 1975.

Vorster, JD, Kommunisme, die vuurrooi draak, Baanbreker Uitgewers, Roodepoort, 1974.

Vorster, JD, Humanisme in Koers in die krisis. Deel I, Pro Ecclesia Drukkery, Stellenbosch, 1935.

  • 2

Kommentaar

  • Die boek So het hulle gesterf oor die Kaapse rebelle wat tereggestel is tydens die Engelse oorlog is ook verban.

  • En is dit nou beter of slegter? Slegter as 'n mens in ag neem dat volgens https://www.cosmopolitan.co.za/real-talk/must-read-south-africas-abortion-crisis/
    dit beraam word dat tot 260 000 aborsies (wettig en onwettig) jaarliks in Suid-Afrika plaasvind.
    Daar moet 'n enorme koste aan verbonde wees. Indien elke aborsie tussen R800 en R1500 kos en tussen 52% en 58 % onwettig is, dan wissel onwettige aborsies tussen 135 200 en 150 800 en beloop die onwettige inkomste teen R800 'n astronomiese bedrag van R 108 160 000 en teen R1500, R202 800 000.
    Veronderstel dit kos die Staat dieselfde ,dan plaas dit 'n enorme las op die staatskas wat voorkom kon gewees het as die morele standaarde op 'n veel hoër vlak was as wat dit vandag is.
    Geen wonder baie jong mans gebruik nie kondome nie, want soos sommige sê, wie eet nou “sweets” met 'n papiertjie om. My antwoord daarop sou egter wees, hoekom moet die swaar belaste belastingbetaler vir jou plesiertjie betaal, omdat jy reken die vroulike liggaam is daar vir jou om jou sperm sorgeloos in te stort.
    Moet die “polluter pays” beginsel nie hier geld nie?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top