
Vir die Langenhoven Gedenkfonds,* en vir almal wat Sagmoedige Neelsie onthou, was 2023 ’n groot jaar. Ons het die 150ste herdinking van Langenhoven se geboorte gevier én die feit dat Loeloeraai, algemeen aanvaar as die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans, ’n eeu tevore verskyn het.
Ons is dankbaar dat LitNet ingestem het om die jaar af te sluit met hierdie kompetisie wat deur die Langenhoven Gedenkfonds geborg is.
Die inskrywings was van ’n baie hoë gehalte. Hoewel LitNet die reg voorbehou het om verhale nie te plaas nie, is sestien van die agtien verhale wat ontvang is, wel geplaas. Lees gerus almal van hulle hier.
Hoe wys ’n mens ’n wenner aan uit sulke goeie inskrywings?
Didi Potgieter het ’n kortlys van ses verhale saamgestel.
Koos Kombuis en Jennifer Pape het toe die ses verhale gelees en onafhanklik hulle top vier aangewys.
Koos Kombuis sê:
Die meeste van die ses verhale is uiters oorspronklik, en in die meeste gevalle goed geskryf en baie leesbaar. Daar is duidelik heelwat talent hier en dit was moeilik om die bestes te kies.
Izak de Vries het Kombuis en Pape se bevindinge ontvang en volgens hom was dit toe maklik om die top drie, in volgorde, aan te wys, want hulle lysies was konsekwent in die volgorde van die drie verhale wat uitgestaan het.
*
So, watter drie verhale het die top ses gehaal, maar is nie aangewys as wenners nie?
“Die swart gat” deur Annerle Barnard
Izak het laat weet dat die verrassende einde, so totaal onverwags, dié een in die top ses laat beland het.
Jennifer Pape sê egter:
“Swart gat” het potensiaal, maar nie genoeg om die lyf nie en die einde het niks met wetenskapfiksie te doen nie. Dit kan as ’n cyberpunk-storie gekategoriseer word, maar draai dan te ver na ’n gewone politieke intrige toe. Kan dalk werk as dit uitgebrei word na ’n novelle of boek, maar het te min hier vertel.
Koos Kombuis het oor hierdie verhaal geskryf:
As geheel is hierdie verhaal baie ongebalanseerd en onafgerond, selfs meer so as die twee verhale wat nie volgens my die top vier gehaal het nie. Die hoofintrige is soveel swakker as party van die subintriges, wat frustrerend is. Die rede hoekom ek die storie in die top vier insluit, is dat die skrywer slegs ervaring kort. Aan rou talent skiet hier niks te kort nie. Soos baie beginnerskrywers, is haar tydsberekening foutief en verduidelik sy te veel. Tog: Daar is soveel werklik oorspronklike idees wat sommer so terloops genoem word dat ek baie graag in die toekoms meer van haar sal wil lees. Met die regte leiding kan Barnard dalk eendag ontwikkel in ’n baie suksesvolle skrywer of draaiboekskrywer, veral spesifiek in die veld van wetenskapfiksie.
“’n Ander land” deur Sidney Gilroy
Izak wys daarop dat Gilroy se verhaal bewustelik intertekste met postapokaliptiese verhale van Hannes Barnard en wetenskapfiksietekste van Carien Smith aktiveer. Dit word vermeng met idees uit Amerikaanse reekse soos Under the dome. Tog maak Gilroy die verhaal volledig sy eie. Dan kom die slim einde: Hierdie verhaal word dan ’n verrassende herbesinning van ’n baie ou legende.
Jennifer sê:
Die storie boei ’n mens van die begin af en is goed geskryf. Die tog van die man en sy hond deur die ongenaakbare postapokaliptiese landskap, wat vir die hoofkarakter bekend maar terselfdertyd ook onbekend is, word interessant uitgebeeld.
Die einde is dalk net effens teleurstellend, want as ’n postapokaliptiese storie sou dit goed gewerk het, maar is nou met ’n tydreis (time travelling) gemeng. Nadat Rip vir 4 000 jaar geslaap het, sou mens ook tog ’n verandering in die natuur gesien het toe hy wakker word ná daardie lang slaap in die grot?
Ten spyte daarvan vind ek dat dit wel die storie is met die mees realistiese omgewing en hoofkarakter, asook met goeie taalgebruik. Ek sou graag meer wou weet wat die toekoms vir Rip inhou.
“Omega” deur Nini Bennett
Izak sê dat hierdie verhaal, soos Gilroy s’n, uiters intelligent omgaan met intertekste. Nie net word die Noag-mite as die oerweergawe van wetenskapfiksie opgeroep nie, die verhaal toon ook ’n baie grondige kennis van talle moderne wetenskapfiksieskrywers se idees. Soos Gilroy s’n, is dit ’n intellektuele verhaal.
Jennifer sê egter:
“Omega” is nie ’n wetenskapfiksieverhaal nie, maar net ’n oorvertelling van die Christelike Noag-storie in die styl van ’n moderne fabel. Geen karakter-interaksie of ontwikkeling nie, met ’n onsubtiele boodskap wat poog om vir mens ’n les te leer asof ons kinders is.
Daarmee dan die drie verhale wat nie gewen het nie.
*
Dit beteken ons kan nou die wenners aanwys.
Die derde plek en R1 000 gaan aan “Die laaste diamant” deur Madelein Venter
Koos sê:
Soos “Die geheim van Caban” deur Troula Goosen is hierdie storie goed geskryf en die karakters is driedimensioneel. Die plot is ook beter as Goosen se verhaal. Ongelukkig is die einde onbevredigend. Hoewel die intrige pragtig afgerond is en die laaste wending van die storie as ’n verrassing kom, verwag mens, prosagewys, iets meer in die laaste paragraaf; die storie is net eenvoudig te stomp. Met ’n bietjie aandik aan die einde kan dit ’n uiters goeie verhaal word, of selfs ontwikkel tot ’n roman.
Jennifer sê:
“Die laaste diamant” is ook ’n KI- en postapokaliptiese verhaal soos “Haar naam is Uluthando”. Ek hou van die Karoo se dorre landskap waarin die karakters hulle bevind en die Plasmatios is meer geloofwaardig of menslik as die robotte in “Uluthando”. Die argeologiese opgrawings by Kleinzee is boeiend en ek sou meer daaroor wou weet as dit wat ons vertel word.
Dit het egter ’n bietjie min inkleuring; die omgewing en die karakters word nie beskryf nie. Die superwesens sal ook onmiddellik die virus in die kodering raaksien wat deur ’n mens geskryf is. Hulle is immers “superwesens” – dis die hele punt!
Die tweede plek en R2 000 gaan aan “Die geheim van Caban” deur Troula Goosen
Jennifer sê:
“Die geheim van Caban” is die enigste verhaal tussen die ses top keuses wat in die ruimte afspeel, in ’n ruimtetuig, en ook op ’n ander planeet. Daar is te min hiervan in Afrikaans en indien dit wel gebeur, val dit onder kinderstories (7–12-jariges).
Daar is ’n afwagting van wat hulle gaan vind op hierdie onbekende planeet, en daar is die moontlikheid van gevaar. Dit is ’n jeugverhaal (jong volwassenes) met mooi jongmense wat verlief is op mekaar en gedwing word om dapper te wees en hul/haar vrees te oorkom.
Net jammer dat die planeet nie beskryf word met ruimtewesens of vreemde plantegroei nie – daar is selfs varings en gras! My verwagting van ’n nuwe planeet is om juis die “ander” te ontdek, vreemde wesens en plantegroei, verrassende landskappe en eienskappe, ens. En die ruimtewese is ’n mite/fabel van ’n engel en ’n deurskynende draak (wat niks doen nie en nie bydra tot die storie nie). So ai, geen werklike aliens nie.
Koos sê:
Aan die een kant is die plot van hierdie verhaal nie absoluut nuut nie – heelwat wetenskapfiksieverhale bevat ietwat didaktiese materiaal soos hierdie. Wat die storie vir my laat uitstaan, is nie soseer die inhoud nie, maar die prikkelende skryfstyl en ook die geloofwaardigheid van die karakters. Dis moeilik om op te hou as mens eers begin lees het. Die skrywer moet beslis aanhou skryf, en benewens wetenskapfiksie dalk ook oorweeg om gewone jeugverhale vir die tienermark te skryf.
Die wenverhaal, wat R3 000 sal ontvang, is “Haar naam is Uluthando” deur Hendie Grobbelaar
Koos sê:
Hierdie verhaal getuig van puik afronding, woordbehendigheid, fantastiese tydsberekening en hoogs innoverende denke. Die slotparagraaf tref die leser soos ’n bom. Die tema is iets wat juis vandag van groot belang is, veral met die huidige KI-debat. Dit is in my oë beslis die wenner. Ek het gehou van hoe die skrywer aandag gee aan die fynste detail en so die storie laag vir laag opbou tot by die eenvoudige en verrassende einde. Elke element van die verhaal is gemotiveerd en pas in by die sentrale idee. As ek ’n editor vir ’n uitgewer was en hierdie verhaal word gepubliseer in boekvorm, sou ek baie min daaraan verander.
Jennifer sê:
Hierdie verhaal val in die kategorie KI, maar is ook tot ’n mate postapokalipties. Die omgewing waarin die robotte hul bevind, word kleurvol beskryf. Dit skep onmiddellik ’n gevoel van welige natuur en gou besef ons dat die wêreld besig is om te herstel ná ’n verwoesting in die verlede wat deur die mens veroorsaak is. Die mens is dus die vyand.
Die einde van die verhaal is die beste van die groepie stories. Die KI-robot beleef ’n groei of verandering in gewaarwording en ondervind ’n moederlikheid teenoor die menslike baba.
Klein teenstrydighede is byvoorbeeld die opleidingsaal vir die robotte – robotte sal nie “opgelei” word nie, hulle sal nie video’s kyk om geskiedenis te leer nie. Hulle sal geprogrammeer word om reeds alle geskiedenis te weet en indien daar nuwe inligting is, sal dit slegs opgelaai word na hul databasisse.
* Eureka Barnard is die voorsitter van die Langenhoven Gedenkfonds.
Lees ook:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds se wetenskapfiksiekompetisie
Loeloeraai as steampunk? Oor die uitbeelding van die wetenskappe 100 jaar gelede

