Omega | Wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

Omega

“The time has come / To leave again / Activate / The Noah plan” – Peter Schilling, 1982

Die toekoms het die verlede ingehaal, en wetenskapfiksie soos ons dit geken het, het uitgedien, geskiedenis geword. Die hede en die toekoms het ineengevloei, rondgeskommel op ’n anachronistiese tydlyn, en die “fiksie” in “wetenskapfiksie” het verdwyn; die mens was uitgelewer aan die perpetuele gang van tegnologiese regenerasie. Ook was die aarde vol geweld en ongeregtigheid en klimaatsverandering het toegeneem. En El het berou gehad dat Hy die mens op aarde gemaak het, en Hy het gesê: “Ek sal die mens wat ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens, sowel as die vee en kruipende diere en voëls van die hemel.” Maar Noag het genade gevind in die oë van El. Noag was ’n regverdige man onder sy tydgenote en hy het sy androïede goed behandel. Noag het drie seuns gehad, Sammy, Gamat en Jafel wat op ’n groot kleinhoewe iewers in Afrika gewoon het, waar hulle ’n vreedsame bestaan gevoer het. En El het aan Noag verskyn en gesê: “Die einde van alle vlees het volgens my besluit gekom. Maar jy en jou gesin, jou drie seuns en hulle vroue, moet die aarde verlaat en na die konstellasie Odusseia gaan, want Ek gaan alle vlees met lewensasem in laat wegsterwe op die planeet, maar Ek gaan julle begenadig en uitspaar. Bou ’n vuurpyl volgens my voorskrifte: Ek sal my sagtewareprogram, Omega, aktiveer en jou van alle inligting voorsien. Die kodenaam is #PeterSchilling. Die vuurpyl moet jy in vier dele maak: ’n neuskeël, vinne, die romp en die enjin. In die neuskeël sal die navigasiestelsel wees wat die vuurpyl vir 40 dae en 40 nagte lank na Odusseia moet rig. Want kyk, Ek gaan die aarde teen ’n reuse asteroïed laat bots; die groot waters van die oseane sal die land oorstroom en dít wat nie deur die vloede verswelg word nie, sal in vlamme vergaan.”

Noag was sprakeloos. El was steeds aan die woord: “Ek het my profete gestuur om die mens te waarsku oor klimaatsverandering; Orwell, Wells en Schilling het ek gestuur; selfs in die nederige gedaante van ’n kind het ek vir Thunberg gestuur, maar julle het haar nie erken nie. Die mens het voortgegaan met sy Brave New World van distopiese heerskappy en onversadigbare industrialisasie. Die mens het geen respek vir die planeet wat Ek aan hom gegee het nie ... Die groot waters het bly styg en die son het giftig op die aarde neergeskroei. Julle het die opdrag om te heers oor die natuur tot kwaadwillige effek gebruik om natuurlike lewensbronne te vernietig. Daarom gaan Ek die aarde delg, en alles daarop wat ek geformeer het.”

Noag het geluister, sy lyf lam van vrees; hy was nou heeltemal traag van spanning.

“Neem vyf biobanke saam: drie vir die kriogenetiese bewaring van die alle dierelewe wat Ek geskep het, mannetjie en wyfie, verteenwoordigend van alle DNS van Animalia moet daar wees; asook saampels van die groen plantelewe, fungi en alge.”

Daardie dae was geloof op aarde so skaars soos ’n mammoettand en Noag het dadelik weggespring met die reuse taak. As voormalige lid van die nasionale ruimte-agentskap het hy geen probleme ondervind in die verstaan en uitvoer van die instruksies nie. Die kritiek het vanuit samelewingsgeledere gekom. “Daai mal ou man,” het mense hom gekoggel. “Hy dink dat die aarde sal vergaan, daarom bou hy 'n vuurpyl!” Op al wat sosialemediaplatform is, is Noag bespot en uitgelag. Psigiaters en ander gedragswetenskaplikes het bly spekuleer oor dié voormalige ruimte-ingenieur se geestestoestand: Delusies van sonde, paranoia, grootheidswaan … en ander psigotiese simptome is aan die nuuskierige Jan Publiek as redes vir hierdie onverklaarbare gedrag voorgehou. Grappe en spotprente het sonder ophou die ronde begin doen.

Intussen het Noag, ’n welvarende man, al die materiaal bekom om die verpligte biobanke en vuurpyl te bou. By tye het hy so verlore soos ’n plothoender gevoel, maar hy was onwrikbaar ’n man van geloof. Dit is immers nie onwettig om ’n ruimtetuig te bou nie; dis eers met die lansering daarvan dat nasionale wetgewing begin lol. Maar El het geweet dat die Nasionale Intelligensiediens – Big Brother in sy volle glorie – tred hou met Naog se bewegings, en hom beskerm. Niemand kon deur El se firewall breek om sy e-pos-kommunikasie met Noag te onderskep nie. Tot in die fynste besonderhede het Noag die bloudrukplanne uitgevoer, die gesofistikeerde koolstofveselpakke met die helms en die nekringe, voedselpoorte en suurstofverbindings heel laaste gereed.

Die impak van die asteroïed wat Planeet Aarde sou tref, was ’n miljoen megaton: Alle lewe soos die mens dit geken het, sou in ’n oogwink vergaan – en die presiese tydsberekening, die sinchronisasie tussen die verdelging van die aarde en die lanseer van die vuurpyl het El in ’n geestesvervoering aan Noag geopenbaar.

Tektoniese plate het soos stukkies porselein verbrokkel; branders het hulle honderde kilometer hoog die lug ingeslinger; en ’n swart vagevuur van vlamme het landskappe en stede verteer. Want El se toorn het ontvlam. Wéér. Maar dié keer finaal.

Teen ’n verblindende spoed het Noag en sy gesin die miljarde kilometer afgelê; vir 40 dae en 40 nagte het hulle gevlieg – ’n lang tyd vir enige ruimtevaarder om sonder versterkings te oorleef.

Die hand van El het deurentyd oor Noag en sy vuurpyl gewaak.

Maar die kosmos is ’n groot, swart vakuum, en die laaste week van die 40 dae het Noag ’n hommel uitgestuur om Odusseia te gaan verken. Hierdie verkenningstuig se naam was Corvus, vernoem na die antieke voëlspesie kraai. Maar Corvus se batterykrag het gedaan geraak en dit het satellietverbinding met die moedertuig verloor en weggedryf die ruimte in, vir ewig verlore. En Noag het nóg ’n hommel, die Columba, uitgestuur, en die verkenningstuig het teruggekom met foto’s van Odusseia. Dae later het Noag weer die Columba uitgestuur, en dié keer het dit teruggekom met videomateriaal en GPS-verwysings in Odusseia, en Noag het geweet die konstellasie was nou naby.  

Maar dit was het einde niet. ’n Stuk ruimterots het onverwags die vuurpyl getref ... en vir ’n volle halfuur het Noag en sy gesin in die donker ruimtetuig voortgeswiep, die elektrisiteitsverbinding tydelik verlore. Volgens latere historiese geskrifte sou die ruimterots as Araram bekend staan. Noag het vreesbevange die teenwoordigeheid van El aangeroep, die kunsmatige gravitasie nou opgeskort, en die voorwerpe wat nie aan die vloer gemessel was nie, het opgestyg en spookagtig rondgedobber in die kajuit.

Met die genade van flitse het Sammy, Gamat en Jafel die noodopwekkers geaktiveer, net betyds om El se verbond, ’n manjifieke kosmiese glorie, te gewaar. En dít is wat El vir Noag gesê het: “Vestig julle op die konstellasie Odusseia, en neem die biobanke en al die bestaande prosesse van genetiese manipulering, en wees vrugbaar en vermeerder. Ek sluit ’n verbond met julle dat Ek nie weer ’n planeet sal delg oor die boosheid van die mens nie. Neem Odusseia en vorm kolonies; maar nooit weer mag die een volk of ras ’n ander onderdruk of tot slawe maak nie; en nooit weer mag die man die vrou as ondergeskikte aan hom stel nie; en nooit weer sal julle die ekosisteme verwaarloos of minag nie. Want Ek is die Lewenskrag teenwoordig in Alles en Almal.”

Ná ’n lang stilte het Noag dit gewaag om te antwoord: “En so begin alles weer van voor af ...?”

Lees die ander inskrywings hier:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top