Die Swartgat | Wetenskapfiksiekompetisie

  • 0

CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.

***

WAARSKUWING: Vermy kortiko-steroïede!

Alissa gee ’n bevel en die musiek in haar slimoorfone verdwyn. Die rekenaarskerm voor haar registreer die inligting vanaf haar oorfone:

Ouderdom: 23
Lengte: 1,68 m
Gewig: 62 kg
Bloeddruk: 121/80
Bloedsuiker: normaal
Gesondheid: uitstekend
Geskeduleerde besoek aan Stasie 501: 15 dae

Net ingeval enige onwelkome kunsmatige intelligensie ooit toegang tot haar rekenaar probeer verkry, het sy vir die stelsel instruksie gegee om geen inligting met enige indringer te deel nie. Haar ouderdom, lengte en gewig is redelik algemeen, maar veiligheidsonthalwe het sy haar ouderdom en lengte ’n klein bietjie aangepas.

Die VV in die hoek gee vir haar die tyd toe sy daarvoor vra. Haar ouma vertel graag van haar kinderdae en die platskerm-TV wat hulle gehad het. Primitief! Wie wil ’n TV hê as jy Virtuele Visie kan hê?

Sy blaas haar asem uit en fokus op die kommunikasie wat reeds ’n geruime tyd op die Swartgat aan die gang is. Planne beraam is ’n goeie begin, maar dis nie konkreet nie. Sy verkies aksie. Sy draai aan die silwer ringe om haar middelvinger.

“So, die liewe prez doen nie goed op steroids nie?” P0is0n se ouers was van die eerstes wat die aarde vir Mars verruil het.

“Dis blykbaar gevaarlik vir diabete,” verskyn Hacktivist se kommentaar vanaf een van die slimstede aan die kus.

“Wat ek nie kan verstaan nie, is hoekom so ’n arsehole van ’n president so ’n fantastiese seun het. Zeke Zen is nog jonk, maar almal is mal oor hom, hoor ek,” verskyn P0is0n se boodskap op haar skerm.

“Jy moet vir Giga oor Zeke vra. Hulle ken mekaar, het ’n connection.” Alissa trek haar vingers deur haar lang, nagswart hare, draai aan die ring in haar onderlip.

“Zeke is betrokke by al wat ’n charity is. Sy hart is groter as wat jy jou ooit kan indink. Dis juis omdat ek Zeke so goed ken dat ek nie verstaan hoekom hy nog sy pa se outokrasie duld nie. Sy pa mag dalk die president wees, maar almal weet hy’s ’n aaklige mens.”

“Terug na diabete en ons plan,” reageer Hacktivist.

“So, nou tackle ons saam die mediese tonnel wat die prez maandeliks vir ’n gesondheidsupdate besoek. Ek soek Stasie 501 se ligging, Ice. Koördinate.” Gigabyte is hulle ekspert wanneer dit by kodering en programmering kom.

Hulle gesamentlike aanlyn handvatsel is Civic Slap. Lank gelede sou hulle moontlik as Red Hat Hackers bekendgestaan het. Sy’s min gepla oor name en die boksies waarin mense kwansuis moet pas. Wat haar wel pla, is regerings. Spesifiek hulle regering. Reg en verkeerd.

Vir enige spioenasiebot sal dit lyk of hulle, hulle aan die anderkant van die aarde bevind. Dis nou, sóú dit toegang tot hulle kommunikasie kon kry, en daardie kans is nul. Die Donker Web van lank gelede was blykbaar redelik veilig, maar baie primitief in vergelyking met die Swartgat, of “Black Hole” soos wat Hacktivist dit noem.

“Reg so.” Alissa kyk op. Haar woning is kaal, buiten vir die deursigtige verpakkingshouers wat SpaceZ, die ruimtereismaatskappy, verskaf het. Drie van die houers is volgepak. Die vierde een is nog leeg. Dis vir haar rekenaars. Toe sy haar elektroniese toerusting aangekoop het, het sy bevestig dat dit aan internasionale en interplanetêre standaarde voldoen. Volgende week verhuis sy na Mars. Sy kan nie meer wag nie. SpaceZ stuur slegs een keer in twee jaar ruimteskepe na Mars, want dis wanneer die aarde en Mars die naaste aan mekaar is. Die ongeduld kriewel al maande lank in haar tone, maar as SpaceZ slegs een reis elke twee jaar het, moet ’n mens maar jou beurt afwag.

Uiteindelik sal sy vir P0is0n in persoon kan ontmoet en dis al wat tel.

Toe hy en sy ouers oor is Mars toe, het die reis blykbaar iets soos sewe maande geduur. Tans duur die reis slegs drie weke. Dank die hemele vir tegnologie!

Sy neem ’n happie van haar seewier-en-meelwurm-pasta.

P0is0n het al vir haar ’n video gestuur waarop mens die gesuis van die wind kan hoor, die woede van die stofstorm op Mars kan sien. Hóé, weet sy nie, maar P0is0n het reeds vir haar werk gekry. Sy kon dit skaars glo toe sy die werk van Chief Future Officer by RoverX, die maatskappy wat die Rovers op Mars beheer, aangebied is. Die Rovers is die robotte wat op Mars vir water boor, die oppervlak vir boerdery en ruimtetuie gelykmaak, asook moontlike tegniese ongerymdhede in die ruimtetuie opspoor.

P0is0n is blykbaar in beheer van sonkrag op die rooi planeet.

Alissa vee oor haar oë, onderdruk ’n gaap. “Kom ons maak ons game oop. Dan kan ons mekaar ten minste sien. Ons weet dis veilig.”

 

Op die virtuele videospeletjie-toep op die Swartgat sien sy hoe Gigabyte opstaan, strek en weer in sy stoel neerval.

“Kom ons maak klaar, ouens,” motiveer Hacktivist. “Voordat die president sy nuwe beleid onderteken en dit wet word. Plus, ek wil graag vandag nog die see ruik.” Toe hy sy kop draai, sien sy ’n branderbord agter hom teen die muur. Sy kaal bolyf is bruin, gespierd onder al die tatoes. As daar nou een mens is wat nooit van kuberkrakery verdink sal word nie, is dit Hacktivist. Nie met die klomp vlegseltjies in sy hare en sy buitemuurse bedrywighede nie.

Hulle ander drie lyk na ondergrondse kreature.

“President Zen het ons uitverkoop! Eers het hy die vyand toegang gegee tot die land se skaliegas en daarna nóg staatskuld aangegaan en in ruil die land se waterregte aan die vyand verkwansel. En nou wil hy mense deur wetgewing verbied om te emigreer. Wie dink hy is hy!” Gigabyte slaan met sy hand op sy lessenaar. “Gelukkig woon jy op ’n ander planeet, P0is0n. Of sou jy ooit wou terugkeer hierheen?”

“No ways! Ons het die aarde verlaat toe ek 17 was en ek is geen dag spyt nie. Een van my sandstoters wou aarde toe gaan om van sy familie te besoek, maar hy’s op Mars gebore. Hy’t omtrent sy moer gepluk toe die wetenskaplike by die mediese sentrum hom sê die aarde se atmosfeer sal hom inmekaardruk.”

“Sandstoters?” vra Gigabyte.

“Die wind hou hier amper nooit op waai nie. Selfs as die wind nié waai nie, is stof ’n probleem. Sonpanele werk nie as dit vol stof is nie. Toe die eerstes hier gearriveer het, moes mense die sonpanele manually skoonmaak dat die stof nie die sonlig blokkeer nie. Daai mense is sandstoters genoem. Agter hulle rûe, natuurlik.” P0is0n grinnik. “Cosmo Sun se techies word nou sandstoters genoem. So, ek het ’n klomp sandstoters as minions.”

“Fassinerend, maar kom ons gesels later, ouens,” maan Alissa.

“Ja-a-a-a, Ma,” reageer Hacktivist.

“En toe jý dit net nou gesê het—”

“Ek weet, ek weet. Guilty as charged,” erken Hacktivist.

Via die program wat Gigabyte vir hulle geskryf het, sleutel sy die koördinate van die mediese tonnel wat die president maandeliks besoek, in.

“Hack, jy het mos die president se persoonlike kommunikasie ondersoek. Waarvoor gaan hy so baie skuld aan?” vra P0is0n.

“Jy nie my kommunikasie gelees nie, dude? Vir alles wat luuks is vir hom en sy addergebroedsel: van plastiese sjirurgie tot behuising, privaat-lugmobiele en so aan. Of praat jy van die staatskuld? Alles wat duur en onprakties is.”

Gigabyte se opdrag verskyn op Alissa se skerm. “Go, Ice.”

Die sleutelbord se toetse is warm onder haar vingers. Wanneer sy bedags op haar rekenaar werk, het die toetse nie kans om koud te word nie. Nie eens in die winter nie.

Van winter gepraat, sy moet nog met SpaceZ bevestig watter grootte ruimteuitrusting sy wil hê. Die slimstad waarin sy gaan woon en alle geboue is blykbaar verhit, maar buite die slimstad se koepel is dit vriesend. -60 grade Celsius, as sy reg onthou.

’n Idee tref haar skielik. Sy verander die president se voorgeskrewe dosis insulien van 10 na 100 eenhede. Mediese Stasie 501 se virtuele dokter kan op géén manier haar voorskrif verander nie. Ook geen waarskuwing uitreik nie. Die stasie en virtuele dokter is heeltemal onder haar beheer. Slegs betreffende hierdie één pasiënt. Geen manier dat die president dié sal oorleef nie. En die plan met die insulien is veel beter as die kortiko-steroïede wat hulle aanvanklik oorweeg het. Hy gebruik buitendien insulien en sal nooit vermoed dat daar met sy dosis gepeuter is nie.

“Baai-baai, prez,” verskyn op haar skerm. Hacktivist.

“P0is0n, is die kamera in die tonnel gereed vir aksie?” tik Alissa. Alles wat via die Swartgat gebeur, is veilig, maar wanneer dit by sensitiewe inligting kom, voel dit vir hulle veiliger om eerder in kode as verbaal via hulle aanlyn speletjie te kommunikeer.

Sy sien hoe P0is0n die inligting via Gigabyte se program insleutel. Volgens die inligting wat Hacktivist versamel het, behoort die president vanaand die mediese tonnel te besoek. Terwyl hulle wag vir aksie speel hulle solank Spacenite.

Sy strek haar rug. “Kan ons 15 minute breek? Ek wil net ’n voedingspil sluk en ’n proteïendrankie kry, ouens. My bene kramp al van die ure se sit.”

“Goeie idee, Ice. Ek moet in elk geval gou na die sonpaneelmonitor kyk, die stelsel opdateer en my sandstoters opcheck. Kom ons maak dit 30 minute.” P0is0n is die Operasionele Direkteur by Cosmo Sun. Hy is min of meer 24/7 aan diens. Kort voordat sy hom via Spacenite ontmoet het, het hy alarms in Cosmo Sun se stelsels ingebou om hom te waarsku indien enigiets verkeerd gaan. Hy moet egter die stelsel elke 24 uur opdateer.

Die eerste ding wat sy wil doen wanneer sy by RoverX begin, is om die Rovers op te dateer sodat hulle hulself voortdurend verbeter en herskep. Natuurlik ook om verbeterde weergawes van hulself te skep.

Sy weet sy moet seker nou eers aan haar trek na Mars dink, maar kan nie help om te wonder hoe dit op Mars gaan wees nie. P0is0n het vir haar heelwat virtuele materiaal gestuur oor die manier waarop die kolonie werk, hulle 3D-gedrukte wonings, hoe hulle groente verbou, ensovoorts, maar uit ondervinding weet sy ’n mens moet iets self beleef om te weet hoe dit regtig is.

 

Toe sy weer voor haar rekenaar inskuif, sit al die ander al gereed.

“Amper dog ons jy mis al die aksie, Ice.” Hacktivist skuif rond op sy stoel. “En dit terwyl ek en jy maande se recon ingesit het.”

“Vir niks mis ek dié nie, ouens. Is dit ons prez se mobiel?”

“Einste,” antwoord Gigabyte.

Haar maag begin draai. Saam met die ander kyk sy hoe die luukse silwer mobiel deur die tonnel gly en links draai om deur die mediese tonnel te gaan. Die mobiel beweeg effens stadiger toe dit by die mediese tonnel kom, sodat die virtuele dokter genoeg tyd het om die president se gesondheid te assesseer en ’n diagnose te maak terwyl die mobiel aanhou beweeg.

Vandag is sy president Zen se dokter en sý besluit watter medisyne hy ontvang.

Die ligte in die mediese tonnel skyn blou.

Die virus wat Gigabyte vir die president se mobiel geskep en P0is0n daarna geaktiveer het, wys hoe die president tussen sy twee robotwagte in die mobiel sit. Die mobiel maak ’n luik oop toe die president die bevel gee en een van die lyfwagte neem die pakkie met voorgeskrewe medisyne in besit.

“Vat so!” fluister Hacktivist.

“Zeke kuier soms by sy ouers, maar dis ter wille van sy ma. Hy sal ontsteld wees oor sy pa se dood, maar nie vir lank nie.” Gigabyte byt op sy onderlip.

Sy glimlag toe die president se mobiel deur die neonligte in die ondergrondse tonnel gly. By sy luukse woning maak die wagte seker dat alles veilig is voordat hulle hom die woning laat betree.

“En hy weet niks.” Hacktivist grinnik. “Sy dood is in ’n pakkie in sy hande.” Toe hy Gigabyte se gesig sien, voeg hy by: “Zeke sal by sy pa oorneem as president. Eind goed, als goed, pel.”

Hulle sit vasgenael voor hulle skerms, selfs al weet hulle die president sal met aandete eers sy insulien gebruik. Terwyl hulle wag, kommunikeer hulle via die Swartgat. Nie een van hulle is tans lus om Spacenite te speel of enigiets anders te doen nie.

Uiteindelik stap die president en sy gesin na hulle eetvertrek toe.

Gigabyte sluk hoorbaar toe hy Zeke via die VV raaksien. “Ek het nie geweet hy gaan die naweek daar wees nie,” fluister hy.

Terwyl sy gesin by die lang glas-en-chroom-tafel gaan sit en die robotbediener hulle koskapsules naderbring, kry die president sy insulientoestel reg. “Nog een dosis oor in die oue,” sê hy vir sy vrou. “Ek gebruik dit eers.” Hy verruil die nuwe insulientoestel vir die oue.

P0is0n kreun.

Gigabyte en Hacktivist vloek.

Alissa voel hoe alle energie haar verlaat. As dit nie so duur was nie, het sy haar elektroniese toerusting teen die muur gegooi. Dis nou as sy die energie daarvoor bymekaar kon skraap.

Zeke skel toe hy sy pa se insulientoestel sien. “Ek het myne so wragtig by my woning vergeet.”

“Jou pa het net vandag ’n nuwe gekry. Gebruik dit sommer. Julle gebruik mos dieselfde dosis al vir jare.”

Alissa trek haar asem in toe die naald net onder Zeke se naeltjie ingly.

Lees die ander inskrywings hier:

LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top