CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Hy was op die plaas toe die eerste bomme val. Dit was laataand. Die werkers het reeds na hul blyplek gegaan. Hy het op die stoep gesit. ’n Blikbeker swartkoffie in sy hand. Sy pypsteel wat aan sy mondhoek hang. Bliksem, die boerboel, het dit eerste aangevoel. Die hond het vanaf sy lêplek langs sy rottangstoel opgespring en half beneuk, half nog deur die slaap na die rant van die wye, rooi sementvloer gedrentel. Die hond blaf vir die donker buitelyne van die versameling sipresse teen die verste kliprantjie. Grom effe. Plof in ’n versameling losserige velle en uitgestrekte pote neer en bring dan ’n jammerlike klank na vore. “Wat is dit, seun?” het hy gevra. Bliksem bly na die horison staar. Fyn dotjies lig speel in sy donker, bekommerde kykers. Hy hys homself vanuit sy stoel. Plaas die blikbeker op die stoepreling. Trap tot op die grasperk en bak sy hand voor sy oë. Soos ’n misreën van vuurvliegies verskyn flikkerende ligpunte teen die duister. Nader en nader kom dit. Naby genoeg om te kan sien. Te ver om die oorsprong daarvan te kan plaas. Hy suig aan sy pyp. Verskuif sy regterhand na sy oor. Luister of hy die tweerigtingradio in die voorportaal van die sandsteenhuis hoor kraak. Meteens let hy die afwesigheid op: Die krieke wat ophou sing. Die tjier-tjier van die windpomp by die plaasdam nou verstil. Die silhoeëtte van die sipresbome wieg teen die sterrelig, maar hy voel geen wind teen sy vel nie. Stadigaan sak die gloeiende kooltjies neer. Hy tiep sy ken na bo. Geen reuk van verskroeide gras vul sy neusholte nie. Hy hoor geen veraf geblêr van lammers wat na ooie soek nie. Die oorverdowende stilte en die gevoel dat daar iets fout kan wees, is al wat oorbly. Toe: ’n Verblindende lig bo die koppies. Die wind kom aangeruis asof God self sy asem oor die Vrystaatse vlaktes uitblaas. Die skielike rukwind pluk die hoed van sy kop af en gooi die tuinstoele om. Sy pyp vlieg uit sy hand. ’n Geweldige druk van bo dwing hom tot op sy knieë. Toe die sipresse uit hul ankerplek skeur en soos tandestokkies saam met die plaasimplemente en verkoolde karkasse deur die lug aangevlieg kom, dwing hy homself regop. Hy gryp na sy pyp. Hardloop na die huis. Kry die hond se leerhalsband beet, trek hom saam en klap die voordeur agter hom toe.
Die staaldeur van die inloopkluis waarin hy en Bliksem skuil het van die hitte met die kosyn versmelt. Dit neem hom ure om deur die driedubbele-baksteenmuur na buite te breek. Die tabak vir sy pyp is lankal daarmee heen. Net die dosie vuurhoutjies in sy gatsak bly oor. Sy hande bebloed en opgeswel soos hy die kolf van die .306 teen die muur moes kap-kap-kap. Toe hy die laaste baksteen loswikkel en die sonlig ’n flou straal oor hom en die hond kaats, besef hy dat daar niks oor is nie. Die lug ruik pure swael. Die uitsig is helder, maar verlate. Alles grafstil. Ingedagte suig hy aan die pyp al weet hy dat daar niks van sal kom nie.
Later is die gat groot genoeg sodat hy en die hond kan uit. Verdwaas staan hulle tussen die mure wat staande gebly het. Die fondasie van die huis is pikswart. Die halwe mure ook. Die veld. Die stompies waar bome eens gestaan het. Die beendere, verwronge stukke metaal, geknakte stutpale en die oorblyfsels van die stoor wat rondom die werf gestrooi is, ook naby aan steenkool. Die son brand op ’n maanlandskap neer. Geen wolke is in die kobaltblou lug te bespeur nie. Hy staan in die middel van ’n asland. ’n Ander land.
Snuffelend draf Bliksem tot waar die plaasdam eens gestaan het. Fyn, grys wolkies swiep van sy pote af op soos hy wegdraf. Dit sif weer neer om die kaal grond te bedek. Die hond is dors, besef hy. Hy ook. En honger.
“Kom, my honne,” gee hy opdrag en haak sy pyp by die hoek van sy mond in. “Die rivier is hierdie kant toe.”
Hy probeer om nie te veel daaraan te dink nie, maar hy besef dit instinktief toe hy die fondasies van die werkers se behuising verby: Hulle is ook almal weg. Sover as wat hy teen die plaaspad afstap watse roesbruin klippe nou wit vertoon, sink die gewaarwording by hom in dat die wêreld vir altyd verander het. Die omgewing is nou ’n vreemdeling. Net die val en styg van die valleie en waar die uitgestrekte landskap teen die klipkranse bots, is vir hom bekend. Die res is swart-verskroeide, lewelose aarde. Hy volg die naaf van die ravine om die smal rivierbed te vind. En daar sak hy vir die tweede keer in soveel dae tot op sy knieë. Dolleeg. Kurkdroog. Die fyn riviersand is in glasplate verander. In die verwronge spieëls vol borrels sien hy sy eie gesig. Dit lyk asof hy oornag ’n duisend jaar oud geword het.
Moedeloos wink hy vir die hond om hom te volg. Tussen die skeurtandrotse vind hy ’n ingang wat hy laas as kind gebruik het. ’n Wegkruipplek van soorte. ’n Speelplek waarin hy kon skuil om op duikertjies met sy .22 aan te lê. Dié spelonk gaan dieper die krans in, dít weet hy. En daarbinne was dit altyd koel en klam.
Sy oordeel was reg. Die spleet teen die naakte rotswand lyk anders as wat hy dit onthou, maar sy voete vind die roete gou. Van onder uit die ongenaakbare son wat hy homself wil verbeel feller as voorheen skyn, vlug hy. Bliksem volg hom gedwee. Daarbinne die koel grot vind hulle ’n poeletjie bergwater wat drup-drup. Al smaak dit vrank, is die lafenis genoeg.
Of dit skok was en of dit verslaentheid was, begin sy ooglede te knikker nes hy die laaste handvol water gulsig inslurp. Hy fatsoeneer ’n kopkussing vanuit klippe. Die hond maak homself teen hom tuis. Die pyp lê hy op sy borskas neer. Sy hande beskermend daarom gevou. En dan is hy vir die wêreld dood.
Dit is al laataand toe hy weer ontwaak. Dit gebeur teen sy wil. In sy koorsagtige droom voel-voel hy vir die boerboel se warm lyf wat teen hom du. Sy hand vind nie vir Bliksem langs hom nie. Hy vlieg orent. Strompel tot by die ingang van die grot.
“Bliksem! Kom hier! Kom in!” skree hy op die boerboel wat al blaffend en histeries voor die ingang van die grot na die lug hap.
Dieselfde klein, blink vuurvliegies van die vorige aand het weer verskyn. Hierdie keer syg hulle nie vanuit die hemelruim neer nie. Nou beweeg hulle berekend tussen die koppies en klowe deur. Spoed oor die verflensde veld om bo die oorblyfsels van die opstal te sirkel. Daar hang hulle vir ’n wyle voordat hulle wegskiet om in die sterrelose nag in te verdwyn.
Hulle moet eet en daarom is hy bly toe hy die molslang die volgende oggend gewaar. Dit het nie veel gevat om die slang teen die muur van die grot vas te keer nie. Daar is niks om mee vuur te maak nie en die laaste vuurhoutjies is wat hy gebruik om die vel effe van die vlees af te skroei. Dit pla Bliksem klaarblyklik nie veel nie en sy toegewysde stukke vleis verdwyn in twee groot happe.
Dit is met ’n mengsel van afgryse en ontnugtering dat hy dit vroegdag buite die grot waag. Hier kan hulle nie bly nie en buitekant is daar niks nie, sover as wat die oog kan sien. Hy en die hond sal vrek. Hy moet ten minste probeer om die bure se opstal te bereik voordat die son weer sak. Al knaag dit aan hom dat daar van hulle ook sekerlik min tot nil sou oorbly, is dit al wat hy nou kan doen.
Hy trek sy hemp uit, week dit in die poel water en por vir Bliksem aan dat hy ook daarvan moet drink. Dan eers vertrek hulle.
Dit is ongenadiglik warm vir September en die hemp skuur styf en droog teen sy vel teen die tyd dat hulle sy gronde verlaat. Dit is sewe kilometer van sy huis tot waar die grondpad met die grootpad kruis. Hy is verbaas om te sien dat daar geen snelweg oor is om van te praat nie. Asof die verblindende blits die teer laat verdamp het, is daar ook nou net ’n vae herinnering van ’n grondpad oor. Die asvaal landskap blyk nimmereindigend te wees. Dit ruk aan sy hart om die oorblyfsels van sy plaashek te sien: Twee stafies staal onder bleekwit klippies versteek.
Die son sit loodreg bo hom en Bliksem teen die tyd dat hulle die bure se opstal bereik. Op pad na hier het hy gesoek en gesoek. Gekyk en gekyk. Hy kon geen fondasie, geen oorblyfsels van mure, geen teken van die Breda’s sien nie. Selfs die heinings van die buurman se vele skaapkampe is weg asof hier nooit tweeduisend koppe skaap gewei het nie. Dit lyk kompleet of niemand ooit hier geleef het nie en waar die huis gestaan het, lyk nes die grootpad. ’n Verlate lap grond. Gekraakte klippe. Bakstene wat tot gruishopies en erts vermurwe het.
Ontsenu stap hy terug tot waar die Breda’s se afdraai die snelweg van ouds ontmoet. Morbied kyk hy toe hoe Bliksem hom vraend aankyk toe hy in die rigting van Fauresmith begin stap. Daar vorm al rooi blase op die arme hond se sagte pote. Iewers moet daar tog iemand oor wees, dink hy mismoedig terwyl sweetpêrels hom aftap.
So ingedagte, honger en dors is hy dat hy nie die silwer vorming op die gesigseinder raaksien nie. Bliksem grom. Maar dan laat sak hy net weer sy kop om langs sy baas aan te foeter. Oorwonne beweeg die boer en sy boerboel digterby die silwer etsing wat soos ’n soliede paneel die landskap raam. Dit is eers wanneer hy hom trompop daarin vasloop dat die grysbebaarde man in die flenterige klere met die verslete pyp tussen sy tande geklem teen die glinsterende, plat, glasagtige muur opkyk.
Hy het nog nooit so iets gesien of beleef nie. Dit is asof daar ’n muur uit niks gemaak voor hom opdoem. Hy kan dit nie sien nie. Maar hy kan ook nie verder stap as wat hy en Bliksem gekom het nie. Hierdie “muur” keer hom. Aanvanklik dink hy dat dit sy eie brein is wat ’n truuk op hom trek. Hulle stap al lank. Dit is warm. Hulle het nie water by hulle nie. Goël sy gedagtes dan, wonder hy toe hy sy plathande uitstrek om daaraan te vat. Die oppervlak waaraan hy raak is koel. Dit reageer met sy teenwoordigheid. Aanvanklik dink hy dat dit maar die son se refleksie is wat ’n spieëling van grys, silwer, oranje en blou weerkaats. Maar nou resoneer sirkels van allerhande kleure in fyn, vloeiende golwe van sy hande af weg. Dit kring uit om hoër en hoër te reik. Bo-oor sy kop strek dit. Ver, ver bo sy kop. Dit is nie ’n muur nie. Dit is ’n koepel van soorte. Hoe ver strek dit? Hy móét weet. Hy en sy hond moet die dorp bereik of hulle is bokveld toe. Hy moet deur, verby of oor hierdie ding kom.
Hy hap-hap met sy oogtande aan die pypsteel. Tree terug. Storm op die muur af en hamer met sy vuiste teen die koel oppervlak wat hy nie as glas, rubber of staal kan beskryf nie. Bliksem begin terstond vir die mirage te blaf. Soos voorheen, kring daar wye, kleurvolle sirkels vanuit die kontakpunte waar sy vuiste land. Saam hiermee: ’n Lae frekwensie wat hy net kan beskryf as die gedempte roep van een of ander buiteaardse loerie of spreeu. Aldeurdringend vul dit die landskap om en in hulle. As hy nie so ooreis was nie, was dit vir hom mooi. Vir wat na kilometers ver lyk, kring die vibrasies in silwer, goud en rooi van hulle af weg.
Hy bring sy vuiste tot stilstand. Verstel aan die pyp wat dreig om van sy lippe te glip. Dis tóé dat hy ’n stem waarneem. Hy kan dit nie hoor nie. Eerder “praat” iemand van binne sy gedagtes met hom. ’n Skielike teenwoordigheid manifesteer tussen sy ore sonder dat hy daarvoor gevra het.
“Waar kom jy vandaan?” vra die rustige stemtoon.
“Ek boer hier buitekant Fauresmith…” antwoord hy ietwat oorbluf terwyl Bliksem teen die versperring opspring. Ook die aanraking van die boerboel se pote het kringe kleur en klankvibrasies tot gevolg. “Ons is aangeval. Ek probeer by die dorp uitkom.”
“Wat is dit daardie?”
“Wat is wat?”
“Die ander?”
“Ek verstaan nie die vraag nie? Watter ander?”
“Die ander wese. Die een langsaan jou.”
Hy kyk af om te sien hoe Bliksem nou verbete ’n gat onderdeur die muur van lig en klank probeer grawe. Sover as wat sy naels in die klipperige grond grou, ontvou daar fyn sirkels van klank en kleur wat soos golfies van hom af wegspoel.
“Dit is my hond.”
“Hond?”
“Ja. Bliksem, die boerboel. Hy woon ook op die plaas.”
“Een oomblik, asseblief.”
Die teenwoordigheid tussen sy slape verdwyn. Ná wat soos ’n leeftyd voel, pols die vreemde dog gerusstellende stem weer in sy gedagtegang.
“Onmoontlik. Canis lupus familiaris het in die jaar 2023 uitgesterf.”
“Kan-nie-wie-se-watse-goed?”
“Honde. Honde het in die jaar 2023 uitgesterf,” antwoord die stem hom saaklik.
Verdwaas kyk hy na waar Bliksem nou ewe op sy agterstewe sit met ’n sotlike uitdrukking wat oor sy bakkies span. Dit lyk asof hy na iemand of iets luister. Sou hy ook die stem kon hoor?
“Wel. Hier sit Bliksem voor jou. Hy bestáán.”
“Hoe het jy in die aarddomein beland. Het jy vanuit jou bêreplek verdwaal?”
“Aarddomein? Verdwaal? Bêreplek! Waarvan praat jy? Ek boer al my lewe lank buite Fauresmith. Dit is ’n familieplaas. Ek het dit geërf. Vra enige iemand op die dorp. Almal ken my.”
“Een oomblik, asseblief.”
Hierdie slag neem dit die stem slegs ’n paar sekondes om terug te keer.
“Antwoord die volgende vrae wat ek aan jou gaan stel tot die beste van jou vermoë.”
“Goed…” antwoord hy huiwerig.
“Jy is onbewus van die inval wat gestrek het van aardjaar 2023 tot 2031?”
“Daarvan weet ek niks. Ons is wel aangeval, ja.”
“Jy is onbewus van Verdelging Bevel 1242 van sterjaar 4564B tesame met Bewaringsbevel 412 van sterjaar 4568A van wat jou planeet stelsel Proxima Centauri genoem het?”
“Ek is nie goed met getalle nie. Nog minder met astrologie. Ek weet nie waarvan jy praat nie.”
“Jy is onbewus daarvan dat jy jou tans in sterjaar 5553C bevind?”
Hy knik slegs sonder om die implikasie volkome te besef.
“Wat was jou spesifieke sub-spesie identifikasie?”
“My wat?”
’n Paar sekondes tik verby voordat die stem hom antwoord.
“Jou noemnaam en van?”
“Rynhardt Ignatius Phillipus van Winkle. Maar almal noem my sommer maar oom Rip.”
“En die ander wese?”
Hy kyk af na waar die hond homself op die warm sandgrond neergevly het. Hygend en uittong wag hy.
“Bliksem, die boerboel.”
Skielik bulder die stem in plaas van praat. Amper motories klink die monotone stemtoon nou op. Vervaard kom Bliksem orent om homself teen sy linkerbeen vas te druk.
“Rip van Winkle en Bliksem die Boerboel. Hiermee sanksioneer ek julle beide namens die intergalaktiese beheerraad tot herkondisionering, assimilasie en durende bewaring in lyn met Bewaringsbevel 412 van sterjaar 4568A insake lewende wesens gevind op planeet Aarde in die aardjaar 2023. Maak asseblief gereed vir transportasie.”