CJ Langenhoven het in 1923 Loeloeraai geskryf. Die eerste wetenskapfiksieroman in Afrikaans het dus ’n eeu gelede verskyn. Op 12 Augustus 2023 is die 150ste herdenking van CJ Langenhoven se geboortedag gevier. Om hierdie dubbele herdenking te vier, daag LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds alle skrywers uit om ’n wetenskapfiksiekortverhaal voor te lê vir publikasie. Hier is meer inligting.
***
Haar naam is Uluthando
Die nuwe dag breek helder. Onbesoedeld. Soms gebeur dit te midde van slierte reën, soms met ’n gewigtige donderstorm oor die oerwoud en dan, soos vanoggend, oopgebreek soos ’n gesonde hoendereier.
Die Fort se hoofraam het ’n 16,45% kans op ligte reën in sektor 82 voorspel vir 21:56.
Nog voordat die eerste strale verskyn, begin die gekwetter van die wye verskeidenheid voëls om die Fort en verder weg roep diere na hul kleintjies. Dit is tyd om wakker te word en te vreet. Onder die bome wei ’n verskeidenheid kleinvee en vanuit die heuwels klink die geroep van jakkalse. Daar is kos in oorvloed. Die riviere en damme is ryk aan vislewe en ver bokant die Fort draai ’n Aquila verreauxii. Die witkruisarend, ’n honderd jaar gelede op die rand van uitwissing, maar nou weer heersers van die lugruim.
Kunsmatige intelligensie-robot Sarah-997 kom met ’n ligte zoem-geluid uit haar herlaaiposisie. Haar bioniese grysblou oë is onmiddellik wawyd oop en behendig ontkoppel sy die kabel wat uit die area tussen haar borste tot in die spesiale laaieenheid teen die spierwit muur kronkel.
Sy druk ’n blou knoppie op haar regterpols en uiter dan ’n enkele sin in ’n gemoduleerde stem om haar dag se vouers te open. “Donderdag 25 Maart 2145, zero-seshonderd-uur.”
Geruisloos stap sy na die klein vertrek langs haar laaistasie om haar volmaakte liggaam van bo tot onder met ’n spesiale olie af te vee. Die vel moet beskerm word, gevoed word en mag nooit verouder nie. Die menslike vel is een van die weinige oorblyfsels van ’n byna uitgesterfde spesie. Die Fort het besluit dit is dienlik en die moeite werd om te bewaar.
Sarah-997 se opdrag is die vorige nag deur middel van die herlaaikoord vanaf die Fort se sentrale rekenaar op haar mikroskyfie geprogrammeer, soos elke dag sedert haar skeppingsdag op 13 Desember 2115. Soos al die vroulike produkte van daardie jaar, heet sy Sarah, spesialisbot in die veld van organiese materiaal, opsporing en herwinning.
Sy en KI-Petrus-407 moet vandag 50,35 kilometer reg oos ry om monsters in te win van ’n spesie boomvaring wat verlede week deur KI-Sarah-580 ontdek is. Daar word vermoed dat dit die grasveldboomvaring of Alsophila dregei is wat sowat 120 jaar gelede laas gesien is in hierdie area wat voorheen bekend gestaan het as Suid-Afrika se KwaZulu-Natal. Dit was ’n welige plant maar tog broos in die verwoesting wat gevolg het. Aardverwarming, die Groot Brand en ook die daaropvolgende vyftigjaardroogte het die Fort se hoofbestuur oortuig dat die plant uitgesterf het.
Die 123-jaaroue kunsmatige intelligensieprogram begin nou werklik sy waarde wys.
Sarah-997 se opdrag is duidelik: Bring ’n klein monster van die plant in sektor 72 met sy wortel terug na die laboratorium en oorhandig dit aan die hoof van die navorsingspan. Gaan omsigtig te werk en versteur nie die omgewing en habitat nie.
Haar take en opdragte hierna is onbekend. Sy bevraagteken niks nie en bestaan vir vandag en die natuur se herstel. Een plant, een dier, een organisme op ’n slag. Haar opdrag vandag is opsygesit vir vyf uur en 45 minute. Dan moet sy terug wees by die Fort om te herlaai en om môre se opdrag te ontvang. So is dit. Niks meer en niks minder nie.
Daar is ’n onderskrif by haar opdrag wat sy nou aflaai in haar primêre vouer vir die dag: Wees bedag op enige teken van homo sapiens. Die verwoesters. Ook bekend as okwamadoda, die benaming vir mens in ’n uitgestorwe taal, genaamd Zoeloe. Sy rits die gekamoefleerde bruin en groen oorpak toe en gord die laserpistool wat op die tafel lê, om haar heupe. By die sentrale opleidingsaal gaan sy staan. Die nuwe generasie robotte is besig met ’n geskiedenisles wat in rooi letters oor ’n skerm flits. Dit word afgewissel met skermskote van oorlogstonele, vloede en dolfyne wat doodgeslaan word. Homo sapiens het hulle bestaansreg op aarde verbeur. As daar nog mense bestaan, is hulle welkom in die Fort indien hulle hul onderwerp aan die nuwe orde. Dié wat aanvanklik deur die Fort ingeneem is, het hulle skuldig gemaak aan korrupsie, selfsugtigheid en wisselvallige emosies. Hulle is vernietig. Die nuwe orde kan nie vernietig word soos die ou wêreld nie. Emosies is die mens se ondergang en die KI se vyand. Sarah-997 weet daar is ’n klein groep mense in sektor 72 wat sowat 60 kilometer oos van die Fort wegkruip. Hulle is slinks, gevaarlik en ’n bedreiging vir die nuwe orde. Tot dusver kon hulle die KI’s se pogings om hulle te vang meesterlik fnuik. Sy weet ook dat hulle kanse om gevang te word daagliks met 0,69% toeneem. Die vernuftigheid van kunsmatige intelligensie word deurlopend opgeskerp. So is dit ook in al 195 lande waar die Fort in beheer is. Nuwe beelde flits oor die skerm. Groen woude, plate vol veldblomme en rustige grootwild wat wei. Sarah-997 vryf oor haar linkerpols met die menslike vel. Sy het nog 30 sekondes voordat sy by die sweeftuig moet wees. Met die koms van die KI het die natuur begin herstel. Soos dit hoort. Dit is die doel van die nuwe orde. “Soos dit hoort!” dreunsang die nuwe KI’s. Petrus-407 arriveer 2,2 sekondes ná haar by die sweeftuig en groet met die duim, wys- en middelvinger van die linkerhand. Sy beantwoord die universele groet, wys hom daarop dat hy laat is en klim langs hom in die klein bolvormige rytuig. Hulle ry in stilte. Nuttelose kommunikasie gebruik onnodige energie. Albei is geprogrammeer met hulle eie opdragte en syne is om die rytuig te bestuur en haar te lei na die plek waar die varing opgemerk is. In hierdie oerwoud waar onheil skuil, is twee KI’s beter as een. Hy moet help uitkyk vir die vyand. Die sweeftuig gly moeiteloos een meter bokant die ruie graslande en Petrus-407 stuur dit behendig om al die bome, struike en selfs ’n Loxodonta wat vreedsaam oor die vergroeide teerpad voor hulle loop. Hierdie Afrika-olifant is besonder groot, flits die gedagte deur Sarah-997. Sy bêre die visuele inligting in haar databasis. Dit is die negende een hierdie week en die derde bul. Dit beteken die spesie toon ’n positiewe groei. Sy sal die statistiek bywerk. Hulle is versigtig met die sweeftuig naby die diere. Hulle mag nie seerkry nie, niks mag vernietig word nie. Slegs as dit uiters noodsaaklik is om die voortbestaan van die sterkeres te verseker, vind uitdunning plaas.
Petrus-407 bring die sweeftuig tot stilstand en geruisloos sak dit af tot op die groen kweek tussen ’n groep fluweelboswilgers. Van hier af is dit ’n 30 meter stap tot by die plek waar die plant waargeneem is. ’n Jagluiperd staan nuuskierig en toekyk hoe hulle die toerusting aflaai.
Sarah-997 kyk om haar rond, stoor inligting en analiseer. Die diere en voëls kom kalm voor. Hulle is gesond en weet dat hierdie vreemdelinge in die bos nie voedsel is nie. Sy lig ’n vierkantige silwer houer op en volg Petrus-407 die bos in.
’n Swerm neushoringvoëls skree skel in die boom oorkant hulle en Sarah-997 se sensor loei saggies in haar ore. Gevaar! Sy gaan staan en sit die houer stadig voor haar neer. Voor haar stap Petrus-407 nog aan. Metodies, op koers. Het hy niks gewaar nie? Is daar fout met sy stellings? Sy druk die blou knoppie op haar pols drie keer. Hy draai om na haar en stap die paar tree totdat hy voordat haar staan.
“Wat is die probleem?”
“Gevaar.” Sy vorm die woord sonder klank.
Hy kantel sy kop. “My sensor is stil.” Hy druk aan ’n verskuilde knoppie teen sy bors en kantel weer sy kop. “Niks.”
“Daar is iets.” Sy voel haar bioniese oor vibreer soos wat die sensor aan- en afgaan. Sy probeer dit afskakel met die knoppie op haar bors maar niks gebeur nie.
“Wanneer was jou jaarlikse diens?” Sy diep robotstem is kil. Hy is nie volkome geprogrammeer om afwykings te analiseer nie. Sy maak ’n kantnota. Die jaar 2120 word gereken as ’n swak produksiejaar vir KI’s. Hy is boonop gemaak toe daar heelwat kragonderbrekings by die Fort was, vermoedelik die werk van ’n okwamadoda-rebellegroep.
“Twee maande gelede.” Sy klap teen haar regteroor en die sirene verstil.
Die woud hou asem op. Sy kan nou niks meer hoor nie. Is haar bewuste foutief? Onmoontlik. Sy word gereken as die beste produk van haar jaar en is by die afgelope Botkonferensie in Praag uitgesonder as ’n voorbeeld van haar skepper se ingenieursvernuf.
Oor Petrus-407 se skouer sien sy die beweging.
Okwamadoda.
Daar is twee van hulle. ’n Man en ’n vrou. Hulle is vuil en hulle klere is stukkend. Die vrou hou ’n deurmekaar bondel voor haar bors vas.
Die bondel begin huil.
Sarah-997 gryp na die laserpistool aan haar sy op dieselfde oomblik wat Petrus-407 omswaai en syne vuur.
Die vrou val agteroor en die man gryp haar net voordat sy en die wriemelende bondel op die grond val. Die laserstraal het ’n sirkel met ’n 10-sentimeter-deursnee op haar voorkop gemaak en Sarah-997 kan ’n kolletjie groen van die struik agter die vrou daardeur sien. ’n Enkele straaltjie bloed stroom teen haar neus af.
Die man gooi sy hande in die lug. Die universele teken dat hy oorgee. Hulle mag nou nie doodmaak nie. Dit is die wet van die Fort.
Petrus-407 stap afgemete nader en troon oor die man op die grond. Hy blaf bevele en hou sy wapen op die man gerig. Die bondeltjie lappe op die grond skreeu soos ’n gewonde dier.
Sarah-997 stap vorentoe en tel die skoppende lyfie op. Sy hou die kind vas met haar arms reguit na vore gestrek. Sy weet die klein okwamadoda het verskeie openinge waaruit die vreemdste vloeistof kom. Die kind is kaal. ’n Dogtertjie, vier maande en sewe dae oud, stoor sy die beeld. Sy het nog nooit ’n homo sapiens-baba in lewende lywe gesien nie, maar die biologie van die spesie is wel in haar databasis gelaai. Sy analiseer binne ’n sekonde. Die kind is honger en koud, maar andersins gesond.
Terwyl Petrus-407 en die man mekaar aangluur, raap sy die vuil lap op en draai die kind toe. Dan kniel sy af na die dooie ma en druk die kind se mond teen haar kaal bors terwyl sy met die ander hand die bors druk vir die laaste paar druppels melk voordat die vloei stop. 10 druppels melk mors op haar hand en sy kyk gefassineerd daarna terwyl die kind suig en suig aan haar gestorwe ouer se bors. Ongemerk vee sy die paar druppels af na ’n opening op haar gewrig, daar waar ’n spesiale vloeistof ingespuit word om hulle interne werke te smeer. Sy sal later die samestelling van die melk ontleed en deurgee vir reproduksie deur die laboratorium.
Haar bewuste maak ’n besluit. Hierdie kind moet oorleef. In die nuwe orde het almal ’n kans op oorlewing. Sy ignoreer die feit dat dit die vyand is.
Sy blaf ’n bevel. “Petrus-407, gaan voort en verkry die organiese spesimen. Jy het die koördinate. Ek sal die homo sapiens na die sweeftuig vergesel vir vervoer na die Fort.”
Hy gee gehoor aan haar opdrag. As ouer model Bot het sy die outoriteit in opdragte buite die Fort. Sy sal sy ondeurdagte optrede met die eliminasie van die vrou moet rapporteer en hy sal aan streng toetse onderwerp word.
Met haar eie pistool in die een hand tel sy die baba met die ander hand op en beveel die man om voor haar te stap in die rigting van die sweeftuig.
Met sy kop knik hy na die baba. “Haar naam is Uluthando.” Sy stem is gespanne en gelaai met emosies. Sy analiseer dit. Die naam en die emosies. Uluthando beteken sy is liefde. Presies 1,8 sekondes. Zoeloe. Sy kategoriseer die gevangene se emosies. Probeer dit ontleed. Dit neem haar ’n lang vier sekondes. Liefde, hartseer, trots, vrees en haat. Sy isoleer die haat. Dit is jeens haar en haar soort. Haat het die ou wêreld vernietig, flits vanoggend se beeld deur haar bewuste. Die ander emosies is nutteloos vir haar. Sy ken nie die omvang daarvan nie. Sy sal later konsulteer met die hoofraam vir meer inligting.
By die sweeftuig buk sy om die baba eers op die grond neer te lê sodat sy die voertuig kan oopmaak vir die man. Terwyl sy gebukkend staan, waag hy sy kans. Sy sien nie die hou kom nie en is gedisoriënteerd terwyl sy op haar rug lê en die blou lug tussen die bome se takke waarneem. Sy was onverskillig en het haar waaksaamheid verslap. Verskeie gedagtes skiet deur haar bewuste. Sy is nie in staat om een te isoleer of te analiseer nie.
Momenteel verlam, konsentreer sy op die sterkste gedagte en identifiseer dit. Vrees, flits die antwoord. Nog iets. ’n Drang om te oorleef. Onbekend, maar tog ingebou in haar werkinge. Sy het nie hiervan geweet nie. Vreemd, dink sy. As ’n Bot obsoleet raak, word dit buite aksie gestel en die onderdele word gebruik vir die volgende generasie. Dit is hulle evolusie. Sterker, slimmer, beter.
Hy staan met haar laserpistool in sy hand. Haat brand in sy donker oë en sweet stroom oor sy gesig wat nou onnatuurlik blink. Sy bewende hand laat die rooi kol van die laserpistool rondspring op haar bors. Daar waar die menslike hart is en ook waar die KI-skepper besluit het hulle eie intelligensie gesetel moet wees. Haar mikroskyfie. Die man weet as hy daar skiet, sy onmiddellik sal ophou funksioneer. Sy sal net ’n nuttelose masjien wees met die lyf van ’n menslike vrou, slegs omdat haar skepper besluit het sy moet soos een lyk; omdat sy makliker sou inpas in die natuurlike omgewing. Sy weet egter as sy weer sou gebruik word, dit as een van die nuwe generasie KI’s sal wees. Geslagloos. Tye verander. Evolusie is onvermydelik.
Die kind begin weer huil. Klein geluidjies, kermend. Sonder om haar bewuste te raadpleeg of te analiseer, raap sy die kind op en druk haar teen haar bors vas. Deels om die man te keer om haar te skiet, maar ook vir ’n ander rede. Onontleedbaar. Daar is geen verwysing in haar databasis nie.
’n Skerp gewaarwording skiet deur haar kunsmatige borste wat onder die oorpak bult. ’n Warm gloed stuif deur haar vel en instinktief vou haar arms stywer om die baba.
Die man kyk geskok na haar bors waar die kind nou aan haar oorpak begin suig. Die pistool val uit sy hand en hy sak grond toe, sy mond ’n vraende gat terwyl bloed uit die gaatjie in sy bors drup.
Petrus-407 is die beste skut van sy generasie.
Sy kyk om na waar hy staan, sy laserpistool sekuur gerig op sy slagoffer. Sy blik is neutraal. Sarah-997 raak bewus van ’n nuwe gewaarwording wat moeilik is om te identifiseer. Skaamte? Trots? Sy vermy haar kollega se oë en kyk af na die baba.
Liefde, flits dit uiteindelik ná vyf sekondes. Onverklaarbaar, flits die volgende boodskap deur haar bewuste. Geen verwysing nie.
Haar hand streel die sagte wang en voorkop van die kind. “Uluthando.” Klankloos vorm haar lippe die woorde.
Die kind woel nie meer nie en suig luid aan die melk wat warm uit haar borste deur die materiaal sypel.
Lees die ander inskrywings hier:
LitNet en die Langenhoven Gedenkfonds soek jou wetenskapfiksieverhaal!