Naomi Meyer praat met Zelda Mans van Lig in Duisternis Uitgewers oor die Katteklets-skryfkompetisie vir kinders, wat op 14 November sluit.
Zelda, ek sien daar is ’n skryfkompetisie aan die gang en die titel daarvan is Katteklets: Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp-skryfkompetisie. Vertel asseblief vir ons lesers van die boek en die agtergrond daarvan.
Die katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp is ’n vrolike kinderverhaal geskryf deur Adriaan Swanepoel. Hy het nog altyd ’n voorliefde vir kinderboeke gehad. Eendag het hy aan woorde gedink wat met kat begin of eindig. Die katkarakters het ontwikkel en later hul lêplek in die verhaal gekry. Daar is allerlei woorde en gesegdes wat die woord kat bevat wat in die storie gebruik word. Dit wys hoe kreatief daar eintlik in Afrikaans geskryf kan word. Van die karakters sluit in: Kieterkat, Nebukatneser, Katswink, Katoen en Coolcat. Die katte rap selfs in Kaapse Afrikaans!
Waar het die idee vir die skryfkompetisie vir kinders vandaan gekom? Gee asseblief vir ons lesers besonderhede van hoe hulle daarvoor kan inskryf. Is die kompetisie oop vir alle variëteite van Afrikaans?
Lig in Duisternis Uitgewers wou as deel van Afrikaans Amptelik se 100ste verjaarsdagviering ’n inisiatief begin waar kinders aangemoedig word om te lees en te skryf. Omdat die verhaal kreatiewe en oulike woorde en frases wat uniek aan Afrikaans is, bevat, was dit die ideale keuse.
Kinders tussen die ouderdom van 5 tot 18 kan inskryf. As inskrywing moet hulle ’n eksemplaar van die boek aankoop of reeds besit. Daarna kies hulle enige karakter uit die verhaal en skryf hul eie stories. Hulle mag natuurlik meer as een karakter gebruik.
Hulle kan in vier kategorieë deelneem:
*5 tot 7 jaar: video-opname van verhaal (1 minuut lank)
*8 tot 10 jaar: 200–300 woorde
*11 tot 14 jaar: 300–500 woorde
*15 tot 18 jaar: 500–700 woorde
Deelnemers moet voor of op 3 November hul inskrywings op ons webblad indien. Die wenners word op 14 November aangekondig.
Die kompetisie is oop vir alle variëteite van Afrikaans. Groot prysgeld, geborg deur AfriForum, is op die spel.
Enige wenke vir die kinders wat wil inskryf?
Hulle moet die geleentheid gebruik om so kreatief moontlik te wees en dit net geniet. Die deelnemers moet ook probeer om binne die woordbeperking te bly. Dit verseker dat hulle die vaardigheid aanleer om ’n sinvolle verhaal in ’n sekere hoeveelheid woorde te vertel.
Waarom is stories vir kinders belangrik?
........
Stories verryk hul woordeskat en verbeter ook die geheue en konsentrasie. As hulle na stories luister, verbeter dit hul luistervaardighede en andersins verhoog dit kognitiewe vaardighede. Daar is bevind dat stories kinders help om empatie aan te leer, emosionele intelligensie te bou en dit bevorder probleemoplossingsvaardighede. Boonop stimuleer dit die verbeelding en help kinders om kreatief te dink.
........
Stories verryk hul woordeskat en verbeter ook die geheue en konsentrasie. As hulle na stories luister, verbeter dit hul luistervaardighede en andersins verhoog dit kognitiewe vaardighede. Daar is bevind dat stories kinders help om empatie aan te leer, emosionele intelligensie te bou en dit bevorder probleemoplossingsvaardighede. Boonop stimuleer dit die verbeelding en help kinders om kreatief te dink.
Watter ander boeke gee Lig in Duisternis Uitgewers nog uit?
Lig in Duisternis Uitgewers is ’n Christelike uitgewery wat Afrikaanse boeke publiseer met die Bybel en gereformeerde geloof as fondament. Ons bied boeke aan vir jonk en oud, van dagstukkies en bordspeletjies tot teologiese werke, geskiedenis, opvoedkundige materiaal en selfs blokkiesraaisels.
Van ons nuutste publikasies sluit in: Steinaecker’s Horse: ’n histories-argeologiese rekonstruksie deur Anton van Vollenhoven; die vertaling Een man en een vrou deur Joel Beeke en Paul Smalley; Dek die tafel-resepteboek van Ons Tuis; en Herderskap van ’n kinderhart deur Tedd Tripp.
Lees ook:
Graad 5: Afrikaans Huistaal-vraestelle en memo’s, vierde kwartaal
Goue lint my storie begint: Kunsmatige intelligensie (KI) en kinderboekillustrasies
Nasionale Boekweek 2025: Miemie du Plessis se kinderboekkeuses


