Roslynne Toerien in Gqebera

  • 0

Roslynne Toerien is nie net sommer nie.

Sy het enkele dae voor haar optredes in Gqeberha gehoor dat een van haar boeke, The speedy six Olympics, die kortlys vir 2025 se SA Book Awards in die kinderboekafdeling gehaal het. Sy ding mee met, onder andere, Trevor Noah en Fanie Viljoen. (Not to shabby, I’d say!)

Sy is boonop ’n fantastiese spreker en dis pret om haar dop te hou voor ’n groot skoolsaal gepak met kinders wat vasgenael sit en luister.

Moeiliker, maar juis toeganklik

Om ’n kinderboek te maak, is moeilik. Om ’n kinderboek goed te maak, is deksels moeilik. Daar is boonop verskillende tipes kinderboeke.

In ’n vorige skrywe het ek aangetoon hoe Reinette Palmer, of dan Lombard soos sy ook onder haar getroude van bekend is, verduidelik het dat sekere kinderboeke nie woorde moet bevat wat onnodig moeilik is nie. Ek self was ook al skerp oor onnodige groot woorde in Marleen Lammers se baie oulike boek, Die bok wat sy spring verloor het.

Beteken dit dus dat kinderboeke nooit groot woorde mag bevat nie? Glad nie. Roslynne Toerien bewys dat die regte boek wat op die regte manier geskryf is, uiters toeganklik kan wees, al is die woordeskat daarin bewustelik moeilik.

Hoe weet ons dis toeganklik? ’n Saal vol kinders jok nie. Selfs die klein outjies wat ek dopgehou het, sou rondskuif, maar hulle het beslis die storie gevolg en wou baie graag die vrae beantwoord wat sy elke nou en dan gevra het. Nie almal van hulle se moedertaal is Engels nie.

Niefiksie in rym

Waarom sou ek positief wees oor hierdie boeke?

Toerien gebruik rym en ritme goed. Elke storie is ’n epos in die kleine.

Kinders doen verbasend goed met rym en ritme. Ek het onlangs vir die ma’s van my ere-kleinkinders probeer verduidelik hoe belangrik ritme en rym reeds vir babas van ses weke oud is.

In die laerskool werk rym en ritme ook – mits dit goed gedoen word.

Toerien is goed. Sy gebruik groot, moeilike woorde op ’n manier wat die jongmense se aandag hou en genoeg laat verstaan om dadelik hande op te steek wanneer sy iets vra oor die inhoud.

Beginnerlees vs niefiksie vir die woordeskatleerder

Waar Reinette Palmer se Tippie-reeks baie fyn uitgewerk is om sekere woorde en klanke aan kinders oor te dra en ander uit te sluit, is Roslynne Toerien se tekste gemik op die bogemiddelde kind wat verveeld raak met die alledaagse.

’n Kind hoef nie ’n hoë IK te hê om te wil weet nie. Ek was self ’n kranige leser van niefiksie op skool, al was ek nie juis slim nie. My woordeskat was egter op ’n vroeë ouderdom ewe goed, en soms selfs beter, as dié van die slim kinders. Lees was die een ding wat ek van kleins af goed kon doen.

Ek het nie destyds Roslynne Toerien se boeke gehad nie, maar ek sou hulle geniet het, sou hulle toe al beskikbaar wees.

Voorlees en selflees

Toerien is ’n opgeleide onderwyser en sy tree gereeld voor verskillende gehore op. Net soos sy kinders kan betower, kan sy ook korporatiewe praatjies doen.

Nie almal is so goed soos sy nie, maar ’n gewillige onderwyser met ’n bietjie inisiatief sal ook hierdie boeke kan voorlees op ’n manier wat selfs vir erg gemiddelde lesers opwindend kan wees. Goeie diksie en die korrekte uitspraak sal wel help, maar juis omdat die boeke so lekker rym, sal dit ook volwasse niemoedertaalsprekers help met hul uitspraak.

Nandi Lessing-Venter het die LAPA/Penguin-stal se boeke baie deeglik uitgebrei. Sy verdien ’n pluimpie vir die lys wat sy tans bedryf.

Dit is net so nodig om ook vir die leergierige kind boeke te gee wat hulle woordeskat en kennis sal uitbrei, as wat dit is om vir die sukkelende kind boeke te maak. Lessing-Venter doen beide.

Geskenkboeke

Ma’s en oumas kan gerus kennis neem van hierdie boeke se impak op die jongklomp.

Die illustrasies deur Julie Smith-Belton is nie net mooi nie, hulle is ook anatomies slim nagevors.

Meer as ’n skrywer

Ros, soos vriende haar klaarblyklik noem, het my beïndruk. Ek het aanhou luister lank ná ek genoeg foto’s en inligting gehad het. Dit was gewoon lekker om haar te hoor voorlees.

Sy is egter meer as net ’n voordragkunstenaar en skrywer. As die uitvoerende hoof en stigter van die niewinsgewende trust, die LEARN-projek, doen sy ook baie om armer skole van boeke te voorsien. LEARN staan in dié geval vir Let’s Educate A Rainbow Nation.

Sy werk ook nou saam met die Rotariërs om seker te maak dat kinders uit armer gemeenskappe ook toegang het tot boeke.

Haar boeke sluit in: The nocturnal nine, The feathered five, The forgotten four, The speedy six Olympics, Under the baobab tree en The rumbling rhino. Laasgenoemde is gemik op bewaring.

Dankie aan Sunridge Park Primêre Skool

Die foto’s is geneem met vergunning van die hoof van Sunridge Park Primêre Skool, met die hulp van verskeie onderwysers.

Lees ook:

Tippie, die klein grys olifantjie wat kinders help lees

Die bok wat sy spring verloor het deur Marleen Lammers, ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top