Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die bok wat sy spring verloor het
Skrywer: Marleen Lammers
Illustreerder: Gwendolene van der Merwe
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9781776353651
Daar is ’n vierjarige in my lewe. Sy draai my om haar pinkie. Hierdie ou man se hart vermurwe wanneer sy op my skoot kom sit en sê: “Oom Izak, lees vir my.”
As ’n toenmalige uitgewer van opvoedkundige boeke is haar teenwoordigheid in my lewe vir my gelyk aan ’n laboratorium. Ek is gefassineerd deur wat sy kies om gelees te word, ook hoe sy reageer op die boeke wat ons lees.
In ons huis is daar twee rakke vol kinderboeke wat jong besoekers na hartelus kan uitpak en verken. Wanneer ’n klein leeswetenskaplike dus opdaag met ’n boek wat sy gekies het, neem ek kennis. Ek neem ook kennis van die manier waarop die inhoud ontvang word.
’n Klein teoretiese insetsel
’n Kinderboek is nie bloot ’n paar woorde met meegaande prente nie. Kinderboeke word met verskillende doeleindes geskryf.
In Afrikaans, en veral in boeke wat vroeë lees aanmoedig, is daar dikwels ’n aantal bladsye van herhalende teks wat telkens net genoeg verskil om ’n verhaal te vertel, maar wat die jong leser leer om sekere patrone raak te sien en dan ook die verskille in die patroon.
Dan is daar ander boeke wat veel sterker steun op die prente. Die jong leser word aangemoedig om die prente te interpreteer en self ’n storie op te maak. Die teks is dus ter ondersteuning, maar vertel nie die volle verhaal nie. Hierdie tipe teks is minder gewild in Afrikaans, want ons onderwysers hou daarvan dat alle kinders “op dieselfde bladsy is” – dis ’n slegte woordspeling, mea culpa, maar helaas. In Europa is hierdie soort boeke waar die leerders hul eie storie skep veel meer gewild. Met 40 plus kinders per klas in Suid-Afrikaanse skole is dit egter gewoon makliker om almal dieselfde woorde te laat lees.
Hierdie boek laat die jong leser die verhaal vertel
Marleen Lammers woon in Europa en dit word duidelik in haar aanbieding van die teks. Daar is min woorde en baie illustrasies waar die jong leser self die verhaal moet invul.
Die teks begin met ’n redelike aantal woorde om die agtergrond te skets, maar dan word die woorde al hoe minder en die leser moet self die verhaal begin vertel aan die hand van die sketse.
Eers iets oor die storie
“En wat is ’n springbok sonder ’n spring? Net ’n ... bok?”
Dit is die eksistensiële dilemma waarmee die arme springbokkie opgesaal is. Hy kan nie spring nie. En springbokke moet kan pronk! Hulle spring wanneer hulle pronk!
Die arme bokkie is behoorlik hartseer.
Gelukkig het hy ’n klompie maats wat hom graag wil help. Apie, veral, is ’n liewe maat wat allerlei planne uitdink.
Dit is onkreukbaar lekker om te lees watter planne werk en watter planne werk nie.
Kry die boekie en ervaar dit self.
Werk dit?
Kinders is die lakmoestoets van enige boek. Hulle is eerlik. Daar is geen filters nie.
En?
Wel, my vierjarige assistent het die boek geniet. Ek moes egter ’n bietjie help.
Dit, die hulp aan ’n vierjarige, is nie sleg nie. Ek het haar gewoon gewys waarna om te kyk om die verhaal te kon interpreteer.
Vir sesjariges sal dit waarskynlik makliker kom.
Sesjariges in groepverband sal dit sonder twyfel saam en lawaaierig kan oplos. Wees dus gewaarsku: In tjoepstil klaskamers is die boek dalk een wat kan ontwrig.
(Klaskamers moet eintlik nie tjoepstil wees nie ...)
Kritiek?
Die feit dat ’n moeë vierjarige nie dadelik alles gesnap het nie, is nie ’n probleem nie.
Met minimale hulp het sy die storie wel verstaan en geniet.
Ek vermoed egter dat van die woorde gewoon te groot is vir die teikenmark. Hier is die eerste bladsy se teks:
Die son bak die Afrika-vlakte warm.
Olifante slof-slof, kameelperde toring hoog, sebras flits hul gestreepte agterstewes.
Al die diere geniet die luilekker oggend ... behalwe vir een. ’n Jong springbokkie staan versteen in die middel van sy trop. Die ander pronk sierlik om hom, maar hy kan nie ’n spier verroer nie.
Genugtig.
Daar is dalk sesjariges wat elke woord sal verstaan, maar ons moet die realiteit van die Afrikaanse klaskamer in gedagte hou.
Hoe flits ’n sebra?
Weet die kinders wat dit beteken om te pronk as jy ’n springbok is?
Wat beteken sierlik?
Ek sou nie hierdie bladsy goedgekeur het as ek die redakteur was nie.
Later in die boek word van ’n lanseerplatform gepraat. Dis snaaks en baie slim vir die 0,5% van die sesjariges wat die woord ken en die verbintenis met ’n vuurpyl of ’n hangswewer kan maak. Die res van die kinders en talle onnies sal egter sukkel. My vierjarige medeleser het nie die woord geken nie.
Goed. Ek is die eerste wat sê ’n mens mag moeilike woorde in kinderboeke inbou, maar dan moet die konteks die leser help om hulle te verstaan en moeilike woorde moenie te veel voorkom nie.
In die Eenvoudigetaalbeweging word geweldig baie klem gelê daarop dat ’n moeilike woord – as dit daar moet wees – omring moet wees met maklike woorde, anders verloor lesers gewoon hulle vermoë om sin te maak van ’n sin.
Goeie nuus
Gelukkig is die res van die boek nie so moeilik nie. Om die waarheid te sê, die taalgebruik word makliker, selfs minder, soos die storie momentum opbou.
Ek hou vreeslik baie van Die bok wat sy spring verloor het en my klein medeleser was ewe beïndruk.
Ek moet ook noem dat Gwendolene van der Merwe se illustrasies uitstekend is. Sy dra hierdie lieflike storie met haar snaakse, en o so raak, sketse. Marleen Lammers se idee is wonderlik, Van der Merwe se sketse maak alles moontlik (en lekker).
Die boek is ook beskikbaar in Engels as The bok who lost his spring.
Lees ook:
Goue lint, my storie begint: Kunsmatige Intelligensie (KI) en kinderboeke
Elders gesien: Kinderboeke deur kunsmatige intelligensie geskep?