
Reinette Lombard, ook onder haar nooiensvan as Reinette Palmer bekend, het op 29 Mei 2025 ’n leeskonferensie by Laerskool Newtonpark is Gqeberha aangebied.
Ons weet Suid-Afrika se kinders kan nie met begrip lees nie – die Pirls-verslae vryf dit die hele tyd onder ons neuse.
Reinette en haar ma, José Palmer, het daarom met ’n reeks kinderboeke begin wat baie suksesvol is.

’n Ma en dogter wat skoolhou
Reinette se ma, José Palmer, was ’n onderwyser, en daarom het Reinette ook gaan onderwys swot.
Toe die jong Reinette begin skoolhou, was José haar eerste departementshoof. Teen die tyd dat José afgetree het, was Reinette haar laaste adjunkhoof.

Daar is genoeg intelligensie, maar ...
Reinette het later haar eie praktyk begin waar sy kinders kon assesseer en help. Talle is na haar verwys omdat hulle nie kan lees nie. Toets sy hulle, dan toon die kinders gemiddelde intelligensie, wat beteken dat hulle veronderstel is om te kan lees.
Waarom dan die gesukkel, het sy gewonder.
Sy het toe gaan kyk na wat die kinders moes lees in daardie skole waar hulle so sukkel. Feitlik dadelik het sy besef dat die tekste wat die arme kinders moes lees, heeltemal verkeerd was. Ten eerste was hulle deurspek met groot, lang woorde wat hoegenaamd nie ouderdomsgepas was nie; ten tweede is talle tekste ingevoer en het daarom geen relevansie vir die leerders nie. Die jong lesers kon nie aanklank vind by die stories of die karakters nie.

Ma moet ophou droom!
Reinet te vertel dat haar ma al die jare wat sy skoolgehou het, vertel het hoe graag sy kinderboeke wou skryf. Toe Reinette besef hoe swak die leesmateriaal in die gemiddelde klaskamer is, het sy vir haar ma gesê dis tyd om op te hou droom en om te begin skryf aan stories.
So is Tippie gebore.
José sou die verhale uitdink en Reinette sou elke storie deeglik verwerk om seker te maak dat die woorde op die regte vlak is en dat elke uitkoms wat bereik moet word, moontlik sou wees.
Hulle het hierdie stories, met eenvoudige illustrasies, in haar praktyk begin gebruik, en skielik het die sukkelende lesertjies dit reggekry om wel met begrip te lees.

Ilse Salzwedel kontak LAPA
José en Ilse Salzwedel gaan na dieselfde kerk toe.
José vertel toe vir Ilse van die sukses wat Reinette behaal. Ilse kontak vir LAPA, en daar begin die gesprekke.
Tippie, die grys olifantjie, word nou deur Zenelda McDonald geskets.

Tippie het intussen uitgebrei. Hy praat nou al ’n hele aantal Suid-Afrikaanse tale en deesdae help hy en sy maats die jongspan selfs met wiskunde.
Meer as 1,3 miljoen Tippie-boeke is reeds verkoop.
Lees ook:
Reading for comprehension deur Michael le Cordeur: ’n onderhoud
Onderwyshulp en leesbegrip: Johan Anker beantwoord lesers en opvoeders se navrae
Onderwyshulp: Hoe wyd lê die betekenis van lees? Die toepassing van metakognisie en modellering

