Dis weer in die nuus: Die meeste Suid-Afrikaanse kinders kan nie met begrip lees nie.
Lees ’n verslag van die belangrike werk ten opsigte van kinders en lees wat onlangs as deel van die Adam Small-fees in die gedaante van ’n leeskonferensie aangebied is.
.........
Elke kind wil lees. Dit was die tema van die onlangse VVA-Leeskonferensie wat verlede Donderdag by die Wes-Eind Primêre Skool in Franschhoek vir opvoeders aangebied is. Die leeskonferensie is ’n belangrike inisiatief wat deel vorm van die ATKV en die Adam Small-fees se skoleprogram in samewerking met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) om onderwysers in hul uitdagende beroep te motiveer en te ondersteun.
............
Elke kind wil lees. Dit was die tema van die onlangse VVA-Leeskonferensie wat verlede Donderdag by die Wes-Eind Primêre Skool in Franschhoek vir opvoeders aangebied is. Die leeskonferensie is ’n belangrike inisiatief wat deel vorm van die ATKV en die Adam Small-fees se skoleprogram in samewerking met die Pniël Erfenis- en Kultuurtrust (PEKT) om onderwysers in hul uitdagende beroep te motiveer en te ondersteun.

Carien Muller, Chareldine van der Merwe, Gillian Arendse, Shireen Crotz en Wilna van Rooyen
Sowat 60 onderwysers van graad R tot 12 het drie ure in die versengende warm Franschhoek afgestaan om na vier kundige sprekers te luister wat elk praatjies gelewer het oor leesontwikkeling, die emosionele welstand van die opvoeders, die belangrikheid van voorlees en die waarde van die onderwys tans.
Shireen Crotz (VVA) was die programleier. Die VVA is gemoeid met lees, leesontwikkeling, leesbevordering voorskools, ook gedurende die Grondslagfase en die Intermediêre fase. Hulle poog om ’n liefde vir lees by kinders aan te wakker.
Die program is saamgestel om aan onderwysers hulpmiddels te gee om ’n liefde vir lees, en lees met begrip, by leerders aan te wakker, sowel as om onderwysers te onderskraag en te motiveer om al die verskillende uitdagings in en buite die klaskamer te hanteer.
“Elke skool behoort in te koop in die leeskonferensie, want dit is gratis en gee vir die onderwysers vaardighede om hulle werk met ywer en entoesiasme en vaardighede te doen,” sê Janine Myburgh, voorsitter van PEKT.
- Die wonder van ’n kind
Wilna van Rooyen van Pretoria, ’n spesialis in vroeëkinderontwikkeling, sê lees is geweldig belangrik vir die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON).
Sy het ook genoem dat die AON fantastiese plakkate en ander hulpmiddels gratis verskaf wat onderwysers tydens hulle aanbiedinge kan gebruik.
.........
"Een wenk: Lees moet ’n vreugde wees. Dit mag nooit ’n straf wees vir kinders nie. Dit moet eerder ’n beloning wees. Ons moet ook onthou dat lees ’n aangeleerde vaardigheid is. Om ’n moedertaal te leer is natuurlik; ’n tweede taal is ’n aangeleerde vaardigheid."
............
“Een wenk: Lees moet ’n vreugde wees. Dit mag nooit ’n straf wees vir kinders nie. Dit moet eerder ’n beloning wees. Ons moet ook onthou dat lees ’n aangeleerde vaardigheid is. Om ’n moedertaal te leer is natuurlik; ’n tweede taal is ’n aangeleerde vaardigheid.
“Konsepte wat in jou moedertaal aangeleer is, kan maklik in ’n volgende taal aangeleer word. Dis in die hart van leer, lees en skryf, want dis waar ons alle vakke makliker kan verstaan.
“Byna alles wat ons doen, behels die vermoë om te lees. ’n Liefde vir lees ontwikkel voordat ’n kind kan lees. Ons moedig jong ouers aan om van vroeg af vir kinders stories te vertel en te lees. Dit bou hulle woordeskat.”
Sy wys ’n grafiek oor lees met begrip. “As ons vir ’n leerder woorde leer, moet ons werklike en konkrete, tasbare voorbeelde gebruik om hulle te help om die woorde te verstaan, of selfs om dit werklik uit te speel. Ons Afrikaans vir kinders in graad 6 is onder gemiddeld wat die wêreldstandaarde betref as dit by lees met begrip kom. Die Wes-Kaap vaar die beste van al die provinsies.
“Lees begin voor geboorte. Fetusse hoor meer die wysie van die taal as wat jy sê. Op 38 weke kan mens duidelik voue in die brein sien. Hoe meer voue daar in die brein is, hoe groter is die moontlikheid vir intelligensie. Dis waarom die voorgeboortefase so belangrik is.
“As ons jong ouers motiveer om gesond te eet en leef, het hulle babas die beste moontlike kans om soveel moontlik voue in die brein te hê. Daardie kinders kan uiteindelik vir jou sorg. Wanneer die kind gebore word, is 25% van die brein se grootte reeds ontwikkel. Die brein groei tot 90% van sy volwasse grootte binne die eerste vyf jaar. Van vyf tot 25 jaar oud groei die brein maar 10%. Binne die eerste vyf jaar het die dinge wat met ons kinders gebeur, ’n lewenslange invloed. Ons moet seker maak dat die fondament, die grondslag, wonderlik is.”
Sy benadruk dat kinders nie ontwikkelingsfases moet oorslaan nie. Looprame is byvoorbeeld verkeerd vir ’n kind se motoriese ontwikkeling – kinders moet kruip met hulle hande en voete. Dit is ’n baie belangrike fase en verskillende ervarings van ontwikkeling word so vasgelê.
“Finland se kinders leer tot 16 jaar oud met voorwerpe. Hulle beleef leer met die lyf. As jy met jou lyf kan ervaar, snap die brein dit. In Engels: If it is in the muscle, it is in the mind. Dit is belangrik om deur speel te leer. As jy speel, leer jy.
“Wetenskaplikes het uitgevind dat ongeveer 400 herhalings nodig is om nuwe sinapse, die verbindings in die brein, te vorm. As die herhalings deur speel plaasvind, het ons net 10–20 herhalings nodig. Wil jy dit 400 keer doen, of wil jy dit 10–20 keer doen?”
Dus: Laat die kinders speel. As jy dit op speelse manier doen, onthou hulle dit.
...........
Dus: Laat die kinders speel. As jy dit op speelse manier doen, onthou hulle dit.
............
Die brein kry inligting van die sintuie. Die sensoriese, motoriese en emosionele ontwikkeling is baie belangrik by ’n kind. “As jy vir kinders ’n opdrag gee of ’n vraag vra, gee hulle ’n kans om te reageer. Dit vat ’n rukkie. Die sintuie moet die inligting vir die brein gee, en die brein moet weer opdragte vir die sintuie gee. Ons is so geneig om, as ons iets vra, onmiddellik antwoorde te wil hê. Die doel van onderwys is om kinders kans te gee om te dink.
“Soms, as hy wel antwoord, raas ons sommer. Moet hom nie afskiet nie; hy gaan nie weer wil antwoord nie.
“As ’n klomp van die boustene nie daar is nie, gaan kinders probleme hê. Ons moet werk met multisensoriese onderrig. Hoe meer sintuie van die kinders jy inspan, hoe meer dele van die brein werk. Dink aan die volgorde van sintuigontwikkeling: die vel, neus, mond, ore en dan die oë, wat enigiets van drie tot agt jaar vat om te ontwikkel. Dink hoe jy die leerders kan help om al hulle sintuie in te span om ’n holistiese leeservaring in die klas te kry.”
Van Rooyen het die lesing afgesluit met die onderwysers wat ’n prentjie van hulself teken. Die doel hiervan was om te wys dat as jy self teken, werk ’n groot deel van jou brein.
- Haal jy asem of snak jy na jou asem?
Die spelterapeut, maatskaplike werker en berader Carien Muller het oor die emosionele welstand van opvoeders en onderwysers gepraat. Haar praatjie was getitel: “Haal jy asem of snak jy na jou asem?”
Sy het ook gevra: “Wat laat jou tick?”
Sy het praktiese asemhalingswenke gegee vir onderwysers om te oefen vir wanneer hulle angstig voel en nuwe fut moet kry.
Muller het die onderwysers aanvanklik gevra watse uitdagings, struikelblokke of “suurstofdiewe” hulle daagliks ervaar. Dinge soos kinders se dissipline, onbetrokke ouers, ongemotiveerde kinders, onregverdigheid, interne kompetisie, moegheid, bemoeienis met administrasie en persoonlike uitdagings het opgekom.
Sy wou ook weet: “Maar wie bemagtig jou, wie motiveer jou, wie laat jou goed en sterk voel oor jouself?”
Die metafoor wat sy gebruik, is die suurstofmasker in ’n vliegtuig. “Jy moet jou suurstoftenk opvul deur suurstofdiewe teen te werk. Jy moet aan jou eie veerkragtigheid werk. Vul jou suurstof deur asemhalingstegnieke aan. Haal diep asem en blaas vir sewe sekondes daarna uit. Jy kan help om jou eie emosies te reguleer deur diep asem te haal en kalm te word. Dink aan iets wat jou frustreer en haal asem daarop. Dit aktiveer ’n parasimpatiese sisteem waar jy kalm en gemaklik voel.
“Leef bewustelik, of mindful. Bly in die oomblik om nie oorweldig te voel nie. Met bewustelikheid help jy jouself om die oomblik te geniet. Jou sensoriese sisteem help jou om die oomblik te geniet waarin jy is.”
Sy het ook gesê: “Die padkaart na innerlike vreugde is deur dankbaarheid.” Sy motiveer die onderwysers om te dink aan een klein dingetjie waarvoor hulle dankbaar kan wees. “Beleef dit, visualiseer dit met jou sintuie. Maak vir jou ’n prentjie van dit waarvoor jy dankbaar is. Gee daardie ding waarvoor jy nou dankbaar is, ’n naam. En haal dan asem. Beleef dit sensories as jy kan.”
- Voorlees met begrip
Chareldine van der Merwe van die ATKV en die VVA, en die redakteur van Doendinge van Afrikaans, het gesels oor voorlees en die nut van voorlees.
...........
“Voor ’n kind loop, moet hy eers kruip. En vóór ’n kind leer lees, moet die fondamente vir lees eers stewig vasgelê word, anders kan hy dalk heeltemal verkeerd leer lees en die res van sy lewe ’n agterstand hê. Die meeste kinders is nie gereed om woorde op ’n bladsy te ontsyfer voor hulle tussen vyf en sewe jaar oud is nie. Maar jy kan baie vroeër reeds jou kleuter se leesvaardighede begin ontwikkel.”
............
“Voor ’n kind loop, moet hy eers kruip. En vóór ’n kind leer lees, moet die fondamente vir lees eers stewig vasgelê word, anders kan hy dalk heeltemal verkeerd leer lees en die res van sy lewe ’n agterstand hê. Die meeste kinders is nie gereed om woorde op ’n bladsy te ontsyfer voor hulle tussen vyf en sewe jaar oud is nie. Maar jy kan baie vroeër reeds jou kleuter se leesvaardighede begin ontwikkel.”
Dit sluit fonemiese bewustheid, leesbegrip, klanke, vlotheid en woordeskatontwikkeling in. Om die proses van lees ten volle te verstaan, moet ’n mens eers besef dat alles wat jy kan doen, aangeleerde gedrag is. Baie kinders word sommer uit die staanspoor gebrandmerk met ’n leer- of gedragsafwyking, terwyl daar eintlik absoluut niks met hulle skort nie. Dié kind het dalk nog net nie ’n sekere vaardigheid aangeleer nie.
Die statistieke spreek vanself: ’n Derde van alle ouers vertel nie vir hul kinders stories nie, en nog 50% het nog nooit vir hul kinders ’n boek voorgelees nie. Net 14% Suid-Afrikaners lees aktief, terwyl daar in 58% van ons huishoudings nie ’n enkele boek is nie. Volgens statistieke is daar ongeveer vyf miljoen Suid-Afrikaners wat ongeletterd is. Hoe hanteer ons hierdie uitdagings?
Kenners meen dat leesgereedheid van kind tot kind verskil en nie aan ’n spesifieke ouderdom gekoppel behoort te word nie.
Die meeste kinders begin stelselmatig ’n belangstelling in letters en syfers toon en begin vra hoe ’n mens hul naam skryf. “Probeer eerder om jou kind speel-speel te leer as om lees op hom af te dwing. Moenie aan die begin te veel verwag nie, selfs al maak hy baie foute. En moet hom nie met sy maters vergelyk nie.”
- Wees die verandering
Onderwysers het meelewend saam geluister na die eksentrieke Gillian Arendse, ’n eksperimentele kernfisikus en motiveerder, se komiese gesprek getiteld “Teach in teaching”.
Arendse het die onderwyser aangemoedig deur te sê: “Jy is die protagonis in jou eie storie. As jy verandering wil sien, wees daardie verandering. Jongmense kyk op na jou, en deur jou interaksie berei jy hulle voor vir die toekoms. Jou slag met mense laat jou toe om jou eie ondervindings met die kinders te deel, want jy is al geslyp deur uitdagings in die verlede.
“Uiteindelik moet jy vorentoe. Soms hou jou ondervinding jou vas en terug. Soms vra jy jou af: Is dit waarmee ek besig is, die moeite werd. Add ek nog iets?”
Is die onderwys nog die moeite werd?
Met dinge soos “admin” voel die onderwyser dikwels hy “add min”.
Hy praat oor verskillende tipes ouers met wie die onderwyser by die skole te doen kry.
Daar is die karaoke-ouers, vulkaan-ouers, droogskoonmaak-ouers, helikopter-ouers, groupie-ouers en lawnmower-ouers. En die onderwyser moet ’n manier vind om veerkragtig te wees. “Don’t bounce back, bounce forward.” Die liggaam bêre trauma. Jy wil nie teruggaan na wat jou terughou nie. Jy wil vorentoe gaan, so spring vorentoe. Gebruik jou ondervindings om jou vorentoe te stoot. Soos Barack Obama gesê het: ‘Change will not come if we wait for other people.’
“Jy word in die jaar 2025 geroep om deel te wees van die oplossing. Gebruik jou leierskap en bring die verandering mee. Jy kan nie vir iemand wag nie. Jy is die kaptein van jou skip.”
Hy maak die grap met verwysing na die woord onderwys: Dalk moet ons onderwys iets anders noem, dit eerder verander na bo-wys, sodat dié belangrike beroep die respek kry wat dit verdien.
Lees ook:
Onderwyshulp en leesbegripstrategieë 4: Die voorbereiding van die onderwyser vir die onderrig
Die Adam Small Boekefees 2025: ’n onderhoud met Darryl David
Die Adam Small-gedenklesing en voorsitterskap van die SBA: ’n onderhoud met Michael le Cordeur
Huisies vir muisies deur Chareldine van der Merwe: ’n onderhoud