Huisies vir muisies deur Chareldine van der Merwe: ’n onderhoud

  • 0

https://turksvypublikasies.co.za/2024/10/25/huisies-vir-muisies/

Huisies vir musies
Chareldine van der Merwe
Turksvy Publikasies
ISBN:  9781037016097

Chareldine van der Merwe praat met Naomi Meyer oor Chareldine se onlangs gepubliseerde kinderboek, Huisies vir musies.

Chareldine, baie geluk met die verskyning van Huisies vir muisies by Turksvy Uitgewers. Op die voorblad sien ek twee maats wat na ’n muis kyk. Vertel ‘n bietjie wat jou inspireer het om die storie te skryf - wat het jou die idee gegee?

Die twee seuns op die voorblad is my sussie se kinders. Die motivering vir die storie is maar my eie ervaring en ook dié van my kinders se tandmuisstories. Wat my egter tot skryf laat kom het, is die volgende: Tydens 2020 het ons baie gaan stap. Op ’n spesifieke dag het daar ’n veldmuis oor die paadjie gehardloop en Xavier, die oudste boetie, wou weet wat dit is. Toe ek aan hom verduidelik dat dit ‘n veldmuis is, wou hy dadelik weet of veldmuise ook vir jou geld bring vir jou tande soos die tandmuis. Die storie was van toe af nog heeltyd in my kop.

Jy is ’n ma en ’n ouma en jy bevorder lees onder veral Afrikaanse kinders. Vertel ook asseblief vir ons lesers iets van wie jy is voordat ons verder oor jou boek praat.

Ek woon in Kylemore, een van die mooiste dorpies, so 10 km buite Stellenbosch. Ek is getroud met Edward en ons het twee volwasse kinders (Trudine en Edwill), wat al getroud is (met Kirwan en Nadine) en een kleinseun, Barrett. Ek werk as projekbestuurder vir die Vriende Van Afrikaans, ’n afdeling van die ATKV. My liefde vir lees en leer word weerspieël in my werk wat daarop gerig is om kinders te leer lees en ’n liefde vir stories by hulle te kweek. Ek bied gereeld werkswinkels aan oor voorlees, leesbegrip en leeruitdagings, die waarde van boeke en die belangrikheid van ’n goeie taalbegrip. Ek het my eie leessentrum in my dorp begin om kinders met lees- en leeruitdagings te help, is ’n motiveringspreker by skole en tree dikwels op as beoordelaar vir taal- en leesontwikkelingsprojekte. Ek is passievol oor Afrikaans as taal in al sy variëteite. Ek het in 2022 die Kokertoekenning vir Bemagtiging deur Afrikaans van die Afrikaanse Taalraad ontvang vir my werk by die ATKV en in myr gemeenskap en by skole. In 2024 is ek deur Afrikaans100 benoem as een van die Top 10 Vroue met ’n Impak óp Afrikaans, déúr Afrikaans.

Illustrasie verskaf deur die uitgewer

Wil jy dalk kortliks vir ons lesers vertel waaroor die storie handel, sonder om te veel van die intrige te verklap? Ek sien dit gaan net soveel oor die maats as oor die muisies!

Xavier en Kendrick het van kleins af geleer dat die buitelug en oefening goed is vir jou om fiks en gesond te bly. Dis waarom die twee boeties graag in die veld gaan fietsry, terwyl Mamma, Tannie en Oom saam met hulle stap om die natuur te geniet en te sorg dat hulle veilig is. Dis hier waar die seuns op ’n dag ’n veldmuisie teëkom ... en deur dié diertjie leer dat jy ewe goed vir jou tande as vir jou lyfie moet sorg. 

Waar kom jou eie liefde vir die natuur vandaan? Dit klink my jy weet baie van diere. Hoe het jy jou navorsing oor die muise gedoen (en hoekom is muise belangrik, en hulle huisies)?

Dit is vir my nogal lekker om oor hierdie storie en tema te gesels, want ek dink almal kan hierby aanklank vind en het hul eie storie oor muise, en meer spesifiek die tandmuis. Ons wil graag vir kinders leer om mooi na hulself en die omgewing te kyk. ’n Liefde vir diere is ook iets wat van jongs af by kinders tuisgebring moet word. Kinders moet oor empatie en simpatie geleer word sodat ons gemeenskappe kan bou wat omgee. En dan bly dit natuurlik ’n bonus as dit ’n lekker storie is wat kinders kan geniet en binne hul verwysingsraakwerk is. Ons is baie bevoorreg hier waar ons woon – dit is pragtig en ons as familie is baie lief vir sport en die natuur.

............
’n Liefde vir diere is ook iets wat van jongs af by kinders tuisgebring moet word. Kinders moet oor empatie en simpatie geleer word sodat ons gemeenskappe kan bou wat omgee. En dan bly dit natuurlik ’n bonus as dit ’n lekker storie is wat kinders kan geniet en binne hul verwysingsraakwerk is. Ons is baie bevoorreg hier waar ons woon – dit is pragtig en ons as familie is baie lief vir sport en die natuur.
.............

Illustrasie verskaf deur die uitgewer

Dink jy kinders in hierdie land het genoeg toegang tot boeke? Ons weet ’n boek is ’n luukse in ’n huis waar daar nie kos is nie. Wat kan mens doen om seker te maak die boeke kom by die kinders uit, en wat doen jou eie organisasie, die VVA, om hierdie vraag te probeer beantwoord?

Naomi, nee, daar is ongelukkig nie genoeg toegang tot boeke nie. Veral in die afgeleë plekke waar ons werk, kan ons dit waarneem. Ons is ook nou in ’n digitale era waar dit al moeiliker word om met skerms mee te ding en mense dikwels dink dit is beter as om kinders eerder aan boeke bloot te stel. Ongelukkig is dit nie waar nie. Veral vir kinders wat lees- en leeruitdagings het, bly boeke die beste opsie, om verskeie redes waaroor ek nie hier kan uitbrei nie.

.............
Naomi, nee, daar is ongelukkig nie genoeg toegang tot boeke nie. Veral in die afgeleë plekke waar ons werk, kan ons dit waarneem. Ons is ook nou in ’n digitale era waar dit al moeiliker word om met skerms mee te ding en mense dikwels dink dit is beter as om kinders eerder aan boeke bloot te stel. Ongelukkig is dit nie waar nie. Veral vir kinders wat lees- en leeruitdagings het, bly boeke die beste opsie, om verskeie redes waaroor ek nie hier kan uitbrei nie.
................

Die VVA werk landwyd om hierdie uitdaging aan te spreek deur middel van hul boektrommelprojek, wat verskeie komponente bevat, soos boektrommeloorhandiging, voorlees van stories, boekopvoeding, voorleeswerkswinkels vir ouers en opvoeders, en leeskonferensies. Verder verskaf ons ook opleiding sodat mense kinders met uitdagings kan help en ook om kinders te leer lees.

Die storie is belangrik en vir ’n kind is die prente ook belangrik. Ek sien hoe mooi die illustrasies is. Kan jy iets daaroor sê?

Ronell Lareman het die illustrasie gedoen; dit is pragtig. Ek het vir die Turksvy Uitgewers voorbeelde gestuur van foto's waar die storie afspeel en Ronell het dit baie goed geïllustreer.

Illustrasie verskaf deur die uitgewer

Hierdie boek lyk soos ’n lekker geskenk in die Kerskous. Waar kan mense dit koop en met hulle kinders en kleinkinders deel?

Die boek is op hierdie stadium by Turksvy Uitgewers te koop en ek self het ook ’n bietjie voorraad by my. Ek dink dit sal ’n goeie geskenk wees vir enige kind – selfs ’n lekker voorleesboek.

Lees ook:

Die Meerkat-reeks deur Mart Meij en Beatrix de Villiers: ’n resensie

Die doodgewone bure deur De Wet Hugo: ’n resensie

Goue lint, my storie begint: Kinder- en jeugboeke – film of boek?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top