Die Meerkat-reeks deur Mart Meij en Beatrix de Villiers: ’n resensie

  • 0
  • Skrywers van die Meerkat-reeks: Mart Meij en Beatrix de Villiers 
  • Illustreerders: Melany Pietersen, Luan Serfontein, Vian Oelofsen, Stephen Wallace, Johann Strauss en Alistair Ackermann

Graad 1 Boek 1 Afrikaans HT, Faan Haas land in die pot en ander stories
Uitgewer: Best Books
ISBN: 9781776074020 

Graad 1 Boek 2 Afrikaans HT, Mien Muis se huis en ander stories
Uitgewer:
Best Books
ISBN: 9781776074044

Graad 2 Boek 1 Afrikaans HT, Rob Robot en maats
Uitgewer:
Best Books
ISBN:
9781776073924

Graad 2 Boek 2 Afrikaans HT, Tumi beplan ’n reis na haar oupa en ander stories
Uitgewer:
Best Books
ISBN: 9781776073948

Graad 3 Boek 1 Afrikaans HT, Martie Meerkat en ander stories
Uitgewer:
Best Books
ISBN: 9781776073979

Graad 3 Boek 2 Afrikaans HT, Hoe Skilpad sy dop gekry het en ander stories
Uitgewer:
Best Books
ISBN: 9781776073993

Om te leer lees is een van die grootste avonture wat alle kinders toekom. Lees is dan ook een van die eerste vaardighede wat op skool aangeleer word – ’n vaardigheid wat dwarsdeur die kind se skoolloopbaan én lewe verreikende gevolge kan hê. Nou hoekom is en bly lees so ’n belangrike vaardigheid in ons moderne eeu? Die voordele van leesfiksheid strek inderdaad baie verder as die klaskamer. Lees bou woordeskat en beter taalvaardighede, wat goeie grammatika en beter sinskonstruksie beteken, wat in die meeste skoolvakke ’n bonus is. ’n Kind wat lees, spel ook met minder moeite baie beter, en derdens verbeter lees konsentrasievermoëns, wat met fokus help. My gunstelingvoordeel is egter dat lees ’n goeie en gesonde vorm van ontspanning is.

Ek was daarom baie opgewonde om te sien dat daar ’n nuwe leesreeks beskikbaar is. Toe ek hierdie boeke onder oë kry, was ek wel verbaas oor die formaat – bloot omdat ek, wanneer ek aan ’n leesboek dink, my ’n kleiner en makliker hanteerbare boek voorstel. Die feit dat hierdie ses boeke in Mart Meij en Beatrice de Villiers se nuwe Meerkat-reeks – twee elk vir graad 1 tot 3 – in A4-formaat uitgegee is, het egter gou sin gemaak. Dié boeke is klasleesboeke wat, soos NB-uitgewers se bekende Nuwe Alles-in-Een-reeks, ook deur Mart Meij en ook in A4-formaat, ook aktiwiteite en oefeninge bevat.

Elkeen van die ses klasleesboeke is ingedeel om oor ’n tydperk van 20 weke te strek. Boek 1 van elke graad maak dus voorsiening vir die eerste twee kwartale van die jaar en boek 2 vir die laaste twee. Hierdie boeke help om Huistaal-leerders in die Grondslagfase aan woorde en sinne bekend te stel en hulle sodoende te leer lees en skryf. Die reeks volg ’n fonetiese benadering waar klanke, en later spelkonvensies, stapsgewys aangebied word.

........
Die altesaam 13 stories vir graad 1, 15 stories vir graad 2, en 19 stories of feitestukke vir graad 3 behels leesstukke wat fabels, grappies, feitestukke, advertensies en voorbeelde van aanlyn  en/of elektroniese kommunikasie insluit. Praat- en leesaktiwiteite en speletjies tussendeur maak dit makliker vir leerders om leesbegrip in te oefen en dra daartoe by dat nuwe taalvaardighede aangeleer word.
........

Die altesaam 13 stories vir graad 1, 15 stories vir graad 2, en 19 stories of feitestukke vir graad 3 behels leesstukke wat fabels, grappies, feitestukke, advertensies en voorbeelde van aanlyn  en/of elektroniese kommunikasie insluit. Praat- en leesaktiwiteite en speletjies tussendeur maak dit makliker vir leerders om leesbegrip in te oefen en dra daartoe by dat nuwe taalvaardighede aangeleer word.

Dis belangrik om weer te beklemtoon dat die Meerkatreeks-boeke klasleesboeke en nie vlakleesboeke is nie. Dit bevat ook nie vergrote teks wat vir gedeelde lees gebruik word nie. Klasleesboeke is vir groepbegeleide lees saamgestel. In ’n klaskamer kan groepbegeleide lees op twee maniere gedoen word: Daar kan met die hele klas uit die klasleesboek gelees word, of met groepe leerders op verskillende leesvlakke uit vlakleesboeke na aanleiding van leesvaardigheid gelees word. Die Meerkat-reeks is ook baie geskik vir tuisonderrig.

Die skrywers neem as’t ware die opvoeder of ouer aan die hand deur die onderrigproses. Meij het haarself al deur die jare, as samesteller van bykans 700 boeke in die onderwysveld, as spesialis bewys, dus is opvoeders in veilige hande. Benewens leiding ten opsigte van die klanke, sigwoorde en spelwoorde waarop in die klasleesboek by elke les gefokus word, is volledige lees- en lesplanne en ander hulpbronne gratis aanlyn beskikbaar by www.nb.co.za. Daar sal die opvoeder onder andere meer inligting oor die volgende vind: hoe daar met verskillende soorte lees gelees word (byvoorbeeld hardoplees en voordraglees); die aanbieding van ’n les; leesspeletjies; en taal- en praataktiwiteite. Hierdie aktiwiteite en lees- en skryfopdragte is gewoonlik gebaseer op temas binne die lesplan en die storie of leesstuk by die lesplan ingesluit. Stories en ander leesstukke sluit ook aan by temas wat in die kurrikulum voorgeskryf is.

Dus: Met bogenoemde boksies netjies getiek, bly die stories en leesstukke waaroor dit vir die belangrikste gebruikers van hierdie boeke gaan, oor. Hoe lyk die stories, die leesmateriaal?

Ek was aangenaam verras. Die kat sit nie meer net op die mat nie! In die eerste storie, Tim, Tom en Emma vat die pad na die dam, in die eerste boek van die reeks, Faan Haas land in die pot en ander stories, pak Tom die kar. En wat maak Emma? “Emma sit die kat in die kar. ‘Ek vat net die kat,’ sê Emma.” En soos dit op dié stadium moet wees, vertel die kleurvolle illustrasies van Melany Pietersen baie meer as die teks en is daar baie vir die opvoeder om die jong gehoor by die storie, en die leesboek, betrokke te kry.

Teen week 16 in graad 1 dui die inhoudsopgawe aan dat daar op alle enkelklanke, asook aa, ee en oo, gekonsentreer gaan word. En daar beland Faan Haas, wat al in die vorige week se storie arrogant was, byna in die pot.

“Jy is in my pad, Wolf,”
sê Faan Haas vir die wolf.
“Jy weet ek is die baas van die bos.”
Wolf lag net.
Hy kry vir Faan Haas aan sy oor beet.
“Jy gaan in my pot kom, Haas,” sê Wolf.

Dié keer is dit die ander illustreerder van die boek, Luan Serfontein, se kostelike illustrasies wat saam vertel.

In die tweede boek vir graad 2, Tumi beplan ’n reis na haar oupa en ander stories, is die stories en leesstukke al heelwat langer en maak jong lesers met verskillende teksformate, soos ’n toneelstuk, kennis. Vrae en oefeninge in die aktiwiteitsraam is meer ingewikkeld en ek vermoed opvoeders sal soms moet verduidelik voor oefeninge gedoen kan word. Frases soos “die kerngedagte van elke paragraaf” en “kan jy uit die sin aflei” sou ’n gedeelte van die teikenmark moontlik pootjie. Omdat hierdie boeke klasleesboeke is, hoef niemand egter alleen te sit en sukkel nie, en behoort daar altyd genoeg bespreking rondom die meer uitdagende opdragte te wees om almal op dieselfde vlak te bring.

........
Ek vermoed dat weke 33, 34 en 35 baie deur leerders geniet gaan word. Daar is twee heerlike dekoderingsoefeninge wanneer die meisies in die eerste hoofstuk van Geheime en raaisels in week 33 ’n brief in braille skryf en die seuns in hoofstuk 2 in week 34 in gebaretaal met mekaar gesels.
........

Ek vermoed dat weke 33, 34 en 35 baie deur leerders geniet gaan word. Daar is twee heerlike dekoderingsoefeninge wanneer die meisies in die eerste hoofstuk van Geheime en raaisels in week 33 ’n brief in braille skryf en die seuns in hoofstuk 2 in week 34 in gebaretaal met mekaar gesels. Week 35, nou al amper aan die einde van die skooljaar, lewer 12 lekker raaisels as leesstuk op.

“Hoe meer jy gee, hoe meer daarvan los jy agter jou! Wat is dit?”

Teen die tyd dat leerders by die laaste boek van die reeks van ses boeke, Hoe Skilpad sy dop gekry het en ander stories, uitkom, behoort hulle enige iets te kan lees. Leesmateriaal sluit kennisgewings, kriptiese advertensies, koerantkennisgewings of nuusberigte en ’n briewekolom, spraakborrels en inligtingstukke oor uiteenlopende onderwerpe (en gelukkig darem ook ’n paar lekker stories en sprokies) in.

Wat die vrae en aktiwiteite in die aktiwiteitsrame betref, het Meij en De Villiers weer die skroewe aangedraai. Daar word byvoorbeeld onder meer verwag dat leerders plakkate moet ontwerp, rymreëls moet voltooi en spelfoute moet opspoor en korrigeer.

Ek vertrou dat hierdie ses klasleesboeke ’n beduidende en betekenisvolle bydrae kan lewer om Grondslagfase-leerders toe te rus vir ’n sagte landing in graad 4. Moenie hierdie reeks op sy baadjie takseer nie – daar is veel meer tussen die reëls te lees en leer as wat die lawwe en karikatuuragtige buiteblaaie laat blyk. En dis goed so – soos pampoen met kaneelsuiker.

Al ses boeke is ook in Engels beskikbaar as:

  • Meerkat series: Grade 1 Book 1 English HL, Rab Rabbit in the pot and other stories
  • Meerkat series: Grade 1 Book 2 English HL, A home for Rixi Rat and other stories
  • Meerkat series: Grade 2 Book 1 English HL, Rob Robot and friends
  • Meerkat series: Grade 2 Book 2 English HL, Tumi plans a trip to her grandpa and other stories
  • Meerkat series: Grade 3 Book 1 English HL, Mandi Meerkat and other stories
  • Meerkat series: Grade 3 Book 2 English HL, How Tortoise got its shell and other stories

Lees ook:

Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders

Benru se boomskok deur Felicia Snyman-Du Toit en Die maniese muskietmoles deur De Wet Hugo: ’n gesamentlike resensie

Jani Jonker gloei in die donker deur Fanie Viljoen: ’n resensie

Nina-omnibus – Die awesome speurklub deur Elizbè van der Colff: 'n resensie

’n Onderhoud oor Skool vir talente – en oor nog kinderboeke vir die Kerskous

Die pad na lesers se harte loop deur hul lagspiere

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top