
Jani Jonker gloei in die donker deur Fanie Viljoen met illustrasies deur Emily House (LAPA Jeug- en kinderboeke, 2024)
Titel: Jani Jonker gloei in die donker
Skrywer: Fanie Viljoen
Illustrasies: Emily House
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780637005586
In Fanie Viljoen se nuwe boek, Jani Jonker gloei in die donker, ontvang Jani Jonker een aand onverwags én ongewens ’n bonatuurlike talent: Sy gloei in die donker. Maklik om jou voor te stel dat hierdie skrywer oor bonatuurlike kragte of talente of superhelde sou skryf. Maar hy verras jou. Die titel het my gedagtes laat gaan na ’n helder straal uit die hemel wat op Jani geland het. Of sy kon moontlik onder ’n nie-energiebesparende antieke lamp aan die slaap geraak het. Dat sy deur ’n vuurvliegie gebyt is, sou ek nooit voorspel het nie. ’n Vuurvliegie. Régtig? Hoekom sou Fanie Viljoen op ’n vuurvliegie besluit het?
Die voorblad en die eerste hoofstuk het my op fantasie vir jonger lesers voorberei, maar weer het ek in ’n doodloopstraat beland. Jani Jonker is in graad 7 en Jani Jonker gloei in die donker is ’n skoolstorie. Dis tradisie dat Jani en haar jonger broer, Martin, elke jaar kyk wie die eerste vuurvliegie in ’n glasfles kan vang. Net toe Jani haar fles oor ’n vuurvliegie wil skuif, skree Martin dat hy een gevang en dus gewen het. Die rumoer laat die vuurvliegie in haar visier opvlieg, en dié kom byt haar dan op haar wysvinger.
.......
Al delf hierdie verhaal nie diep in belangrike en swaarder temas soos selfaanvaarding, vriendskap, aanpasbaarheid en jaloesie nie, kan dit tog ’n belangrike rol speel om boodskappe oor te dra en gesprek oor hierdie onderwerpe uit te lok.
.......
Jani kry haarself vreeslik jammer en sy probeer baie hard, maar tevergeefs, om haar ouers te oortuig dat sy nie skool toe kan gaan nie. Martin terg haar dat sy ipekonders het. Sy kry dit aanvanklik reg om haar nuwe “talent” weg te steek, maar dit raak al hoe moeiliker. Martin vermoed hy het ’n spook gesien. Lesers kan hulle indink hoe moeilik dit vir Jani moet wees. As sy haar hand in haar sak steek, gloei dit – wat moet sy maak as haar onderwyser die ligte wil afskakel omdat sy vir die klas ’n video wil wys? In die kleedkamer gaan wegkruip?
Boonop lyk dit asof haar beste vriendin, Bella, haar ook nou vir die meer gewilde Tara wil verruil. By die tweeling, Lisa en Isa, se pajamapartytjie, word sy amper uitgevang.
........
Humor, sowel as Emily House se illustrasies en kreatiewe tipografie, maak die verhaal toeganklik vir ’n groter teikengroep.
........
Oppervlakkig beskou skets Viljoen komiese scenarios, maar dis onmoontlik om nie Jani se ongelukkigheid, spanning en selfs angs raak te lees nie. Alles realistiese kwessies waarmee baie kinders wat anders is of voel dat hulle nie inpas nie, stoei.
Teen dié tyd het Jani, in ’n poging om haarself te beskerm, baie verander. Baie dinge gebeur; nie alles lékker dinge nie. Jani leer dat ’n mens nie moet bang wees om jouself te wees nie.
Al delf hierdie verhaal nie diep in belangrike en swaarder temas soos selfaanvaarding, vriendskap, aanpasbaarheid en jaloesie nie, kan dit tog ’n belangrike rol speel om boodskappe oor te dra en gesprek oor hierdie onderwerpe uit te lok. Humor, sowel as Emily House se illustrasies en kreatiewe tipografie, maak die verhaal toeganklik vir ’n groter teikengroep.
Uiteindelik was dit nie belangrik hoekom Jani Jonker in die donker begin gloei het nie. Ek salueer wel die kreatiwiteit van die skrywer dat hy aan ’n spesifieke soort vuurvliegie gedink het, en beveel hierdie storie vir jong lesers van 10 tot 12 aan.
Lees ook:
Die Smooie en die Smoue deur Julia Donaldson: ’n lesersindruk
Flaffie en Stink sokkies deur Jaco Jacobs: ’n gesamentlike resensie
Kaptein Onderbroek se avonture klink goed in Afrikaans: ’n resensie
Bokdrolletjies en boeke: 'n Jong leser se indruk van Springboekie deur Fanie Viljoen