Seeperde deur Naomi Meyer: ’n resensie

  • 1

Foto deur Darkmoon Art op Pixabay; omslag deur Pan Macmillan

...
Daar is baie waarmee veral jong meisies sal identifiseer en wat hulle sal boei om die boek enduit te lees en hopelik vir ’n volgende een kans te sien.
...

Titel: Seeperde
Skrywer: Naomi Meyer
ISBN: 9781776252978
Uitgewer: Pan Macmillan

Naomi Meyer se splinternuwe Seeperde, met twee grootoogmeisies op die voorblad, is ’n lekkerlees-skoolstorie wat jong lesers tevrede en gelukkig sal neersit. Hoewel daar duidelik negatiewe gebeure en onderstrominge teenwoordig is, bring Seeperde ’n algemeen positiewe gevoel sonder te veel wroeg en baklei.

...
Seeperde skop af met Stella en Mira op die perdeplaas waar hulle gereeld gaan perdry. Wanneer Stella op Billy se rug sit, vergeet sy van alles wat haar pla – dinge soos die “koel-soos-komkommer-meisies” by die skool of huiswerk wat nog gedoen moet word.
...

Onrealisties en naïef is die verhaal egter nie. Heelwat tipiese kwessies en emosies waarmee daar tydens grootwordjare geworstel word, word geïmpliseer of liggies uitgespeel. Ons hoofkarakter, die twaalfjarige Stella, en haar vriendin Mira het ’n krisis op hande en soek oplossings daarvoor te midde van alledaagse onsekerhede en suggesties van selfs boeliery. En soos die flapteks skimp, is daar ook ’n spesiale band, byna magiese kommunikasie, tussen Stella en haar gunstelingperd, Billy.

Seeperde skop af met Stella en Mira op die perdeplaas waar hulle gereeld gaan perdry. Wanneer Stella op Billy se rug sit, vergeet sy van alles wat haar pla – dinge soos die “koel-soos-komkommer-meisies” by die skool of huiswerk wat nog gedoen moet word. Dis egter hier by haar gelukkige plek waar sy per ongeluk iets skokkends hoor en die ratte in haar kop begin draai om die situasie, nog voor sy veel daarvan weet, te probeer beredder.

Intussen is daar skool, huiswerk én die fondsinsameling, en dit voel asof Runette, voorheen Stella se groot vriendin maar nou deel van die “tjie-tjie-tjie-groepies”, die hele tyd orals betrokke is. Die maats ontmoet ook vir Ziaan, die nuwe seun in hulle klas en vind uit dat sy ma, wat ’n perdtatoeëermerk op haar arm het, die skool se nuwe musiekonderwyseres is.

Meyer span perde en musiek as temas in om haar storie oor ’n groepie graad 6-vriende en ’n perdeplaas met finansiële probleme op ’n klein kusdorpie in te kleur.

Daar is iets oor stories met of oor perde wat veral jong meisies fassineer – afgesien daarvan of hulle ruiters is of nie. Diegene sonder perde in hulle lewens leef hulle in in die hoofkarakters en perdestories se avonture en boots ervarings as’t ware na. Perde is goeie geselskap en die verhouding tussen perd en ruiter of versorger word vir jare al die meeste van die tyd geromantiseer en is dikwels ’n aanvaarbare en veilige bron van sentimentaliteit om emosies aan te wakker. Soos Stella vir haar ouers sê: “Perde is my lewe!” Billy is haar gelukbringer, haar towerperd. Reg in die kraal (of stal) van die teikenmark van Seeperde – veral nege- tot twaalfjarige meisies, en hopelik ’n paar seuns.

Musiek as tema word ook regdeur Meyer se storie ingewerk. Voor die hand liggende verwysings en intriges sluit in die Suidster Rockers en hulle nuwe treffer, ’n fondsinsameling vir ’n nuwe vleuelklavier vir die skool, die nuwe musiekonderwyseres, ’n nuwe orkes en oom Adam se djembe-drom. Ek glo ook nie die musiekonderwyseres se naam, juffrou Allegra, is uit ’n hoed getrek nie.

Ritme slaan egter myns insiens uiteindelik die kitaar of (letterlik) die djembe-drom, wat musiek as tema betref. Ritme is die skakel tussen musiek en perde. Stella is gek daaroor om na die dressage-items op die Olimpiese Spele, waar die perde op maat van ritmiese musiek stap, op televisie te kyk. Wanneer Stella op ’n stadium na Mira op haar perd kyk “voel dit vir haar asof daar musiek in haar kop speel”. Dis ook nie verregaande om die rol wat beide musiek en perde in terapie speel in gedagte te hou nie. Weliswaar hier nie doelbewus nie, maar albei tog instrumenteel tot die bevredigende einde.

Stella sukkel aanvanklik om die djembe-drom te speel, maar toe oom Adam voorstel dat sy haar die geluid van Billy se hoewe voorstel, “Ra-tat-tat-tat” en “Ta-fe-teffie-taf”, hoor ook Mira die perde galop. Wanneer Stella oom Adam se woorde “My musiek het gemaak dat daar meer mense by die kafee kom koop het” onthou, toe klein Luna langer by die perde wil bly, weet sy wat hulle moet doen om die perdeplaas te red.

Seeperde is ’n welkome toevoeging tot ’n baie belangrike segment van die jeugboekmark – boeke vir jong lesers waarmee selfvertroue en ’n liefde vir lees gekweek kan word. Daar is baie waarmee veral jong meisies sal identifiseer en wat hulle sal boei om die boek enduit te lees en hopelik vir ’n volgende een kans te sien. Aan die einde van hierdie boek was alles vir Stella net reg. “Dalk was dit omdat Billy kan toor. Of dalk was dit omdat sy die towerkrag in haarself ontdek het.” Net so glo ek dat Seeperde, danksy ’n verskeidenheid intriges of temas – dalk perde, dalk musiek – daarin slaag om lesers by die storie in te lok, om hierna ’n lekker leesbelewenis te waarborg.

  • 1

Kommentaar

  • Naomi, van harte geluk met jou nuwe, opwindende boek. 'n Heerlike titel, Seeperde is 'n perd van 'n ander kleur. Dit trek onmiddellik 'n leser se aandag. Dis 'n wenperd wat lesers tot by die eindstreep sal boei.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top