Kaptein Onderbroek se avonture klink goed in Afrikaans: ’n resensie

  • 0

#1 Die avonture van Kaptein Onderbroek (ISBN: 9780798183000)
#2 Kaptein Onderbroek en die geveg teen die tandetoilette (ISBN: 9780798183659)
#3 Kaptein Onderbroek en die inval van die koelbloedige kostannies uit die ruimte (en daarna die aanval van die ewe bose zombie-nerd boelies) (ISBN: 9780798184267)
Skrywer: Dav Pilkey
Vertaler: Kobus Geldenhuys
Uitgewer: Human & Rousseau

George Beard en Harold Hutchins het die grootste superheld in die geskiedenis van hulle laerskool geskep – en hy gaan op allerhande snaakse avonture. Ontmoet Kaptein Onderbroek! Sy ware identiteit is só ’n groot geheim dat selfs hý nie weet wie hy is nie! (Eintlik is dit die gehipnotiseerde skoolhoof, die “mislike Mnr. Mor”, en sy nuwe naam is eintlik maar net terugbetaling omdat hy op die twee “coolste” kinders in die skool pik en in sy onderbroek met sy rooi kantoorgordyne rondvlieg...)

Die reeks is deur dieselfde skrywer as Hondman, ’n uitvloeisel van Captain Underpants. En wie het nou ooit gedink dat twee graad vier-leerders só bekend sal word dat dit selfs ’n Netflix-reeks sou regverdig?

...
Die boeke is kleurvol, die uitleg is slim en hou jou aandag gevange.
...

Die kort beskrywing saam met die eerste boek verklaar dis “skreeusnaaks en perfek vir eerste of trae lesers!” Wel, met 12 boeke in die oorspronklike Amerikaanse reeks, verskeie vertakkings en toekennings, meer as 20 vertalings en meer as 80 miljoen kopieë verkoop, het baie trae lesers nou boekwurms geword. Die twee seuns wat dikwels die teikens van die nare skoolhoof en onderwysers is vir hul lawwe pret, kruip gou onder jou vel in.

Die eerste boek gee ’n lekker oorsig oor presies hoe Dav Pilkey op die idee van Kaptein Onderbroek gekom het. Hy was die klas se kunstenaar én hanswors, maar natuurlik het dit van sy onnies irriteer en hom dikwels ’n teiken vir hul woede gemaak.

In die tweede en derde boek kry lesers ’n klein bonus met ’n mini-roman van die karakter Hondman. Tong van die gereg en Ramkat se wraak ook deur George en Harold.

Dié ongewone Amerikaanse “superheld” het nou ook in Suid-Afrika geland en sy avonture is glad nie so volksvreemd soos jy sou dink nie.

Captain Underpants het eers in die laat negentigs gestalte gekry, toe ek natuurlik al lankal verby kinderboeke was, maar vriende met kinders het elke nuwe avontuur verslind – en ons het baie van die boeke vir hulle gekoop. Een van daardie vriende se kinders het vir lank my man Captain Underpants genoem en selfs vir sy 40ste verjaardag vir hom ’n klein lapfiguurtjie van hul gunstelingkaptein – vir hul gunsteling-oom – gekoop.

Om dus die boeke op my lessenaar te kry, het my oë sommer vol trane laat skiet, want dié kinders is natuurlik nou al groot en woon in Amerika en ons mis hulle geweldig. 

Maar terug by die boeke. Kaptein Onderbroek praat Afrikaans en dis nie ’n KI-Afrikaans nie, dis eg en snaaks en maak weer woorde soos “skorriemorrie”, “lummels”, “kontrepsie”, “klikbek”, “poepkussings” en “hondedinges” – al daardie woorde wat ons op laerskool laat skater het as iemand dit sou uiter – mode!

 ...
Ek dink die vertaler, Kobus Geldenhuys, toor met woorde.
...

Ek dink die vertaler, Kobus Geldenhuys, toor met woorde. Ek het destyds met hom gesels toe hy die Harry Potter-boeke vertaal het en sy nuutskeppinge – wat vandag deel van ons spreektaal is – het my verstom. Dis nie bloot vertaal nie; dis oordink, herkou, weer probeer, tot die woorde lekker op die tong val en bekend klink, al is hulle nuut. Hierdie boeke was dus in bekwame hande: Dav Pilkey kan maar gerus slaap. 

Tog, ek is altyd lugtig vir vertalings van kinderboeke uit ander lande, omdat kulture en verwysings só drasties kan verskil en nie alles as fabels van elders afgemaak kan word nie. Ek hoor ook altyd in my agterkop my oorlede ouma wat altyd so half vir haarself geprewel het dat ons ook niks self kan uitdink nie, ons wil mos alles ver-Amerikaans.

Maar aan die ander kant, ons woon in ’n wêreld waar grense vervaag het, waar ’n globale gemeenskap ons manier van lewe geword het. Bitter min is uniek en eie aan ’n spesifieke plek, maar tog is daar gebruike, kulture en uitdrukkings wat nie altyd lekker oorgedra word met ’n vertaling nie.

Die wintersonnetjie bak oor my bene en my koffie is stomend warm toe ek met die drie boeke in my groot fluweelstoel gaan sit. Voor ek my kom kry, skaterlag ek, maak saam geluide by die dele waar jy gevra word om vinnig heen en terug te blaai (“Blaai-en-beweeg”), sodat jy “een geanimeerde prent” maak.

Die boeke is kleurvol, die uitleg is slim en hou jou aandag gevange. En weer eens is Kobus se taalvernuf duidelik te bespeur. Daar is geen vreemde woorde of terme nie. Alles is eg-Suid-Afrikaans, soos hul skool, “Leergierig Laer”; of “Slimjan Snuisterye” vanwaar hulle die hipno-ring bestel; of die paneelwa met “Die slegte ouens” op die sykant geverf; of die rugbyspan, “Stankdal se Stinkers”; of die ruimtewesens se “Superbose snelgroeisap”. Bekend maar ook soms nuut en vreemd. 

Ek het die boeke geweldig baie geniet en hou van die kinderlike pret wat die twee seuns het. Die onderwerpe sluit alles van zombies en toilette met tande, bankrowers en wetenskapeksperimente, tot slegte snoepiekos in. Dis asof ek self weer op laerskool is en goed soos borrelbadseep in die swembad ervaar.

Die avonture is kort en oulik en die teks nie te veel of te min nie. Ek glo dis vir trae én ywerige lesers, oud én jonk en ’n wonderlike reeks vir grootouers om bande met kleinkinders te versterk. Maar dis ook ideaal om kinders wat so dikwels op skool moet hoor dat hul uitbundigheid of aapstreke onwelkom is, te laat weet dat onskuldige pret niemand skade doen nie.

Lees ook:

Reënboogrant Maats deur Maritha Snyman: ’n jonglesersindruk

Bokdrolletjies en boeke: 'n Jong leser se indruk van Springboekie deur Fanie Viljoen

Leer om te vergewe met ’n blikkie samboksalf: ’n lesersindruk van Alene Mari Holder se jeugroman Samboksalf en ’n draaktraan

Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top