Reënboogrant Maats deur Maritha Snyman: ’n jonglesersindruk

  • 1

Titel: Reënboogrant Maats: Omnibus 1
Skrywer: Maritha Snyman
ISBN: 9780799380811
Uitgewer: Lapa

Maja Meyer is ’n graad 7-leerder. Hierdie lesersindruk is uit eie beweging aan LitNet gestuur.

 * 

“Ek wil nie aartappels hê nie! Sal almal my asseblief net uitlos!” Klink hierdie sin vir jou bekend? Dalk nie? Dis die eerste sin van my gunstelingboek, Reënboogrant Maats deur Maritha Snyman, wat ongelukkig in ’n motorongeluk dood is.

Vandag gaan ek, Maja Meyer, ’n graad 7-leerder in Laerskool Stellenbosch, ’n resensie skryf oor Reënboogrant Maats.

Waaroor gaan die boek?

Die boek gaan oor twee susters wat tien maande verskil. Sunette, die oudste, en Shani, die jongste, beleef allerlei opwindende avonture. Hulle albei is in graad 6 in Laerskool Reënboogrant. Die twee het vriende op wie ’n mens kan staat maak.

Shani hou nie veel van Sunette se een vriendin, Tina, nie. Sy dink dat Tina vir Sunette misbruik omdat Tina disleksieprobleme het.

Verder is daar chaos in die huis, met ma Maryna en pa Herman Brink wat min by die huis is. Marietjie, die vierjarige snip, pla gereeld vir Shani-hulle. Dolf, hulle oudste en enigste broer, in graad 8, hou hom soms te groot. En daar is ouma Mart, wat altyd sê wat eerste in haar kop kom en Engelse woorde háát! Wat van Ou Boela, Dolf se hond, wat ’n boerboel is en nie veel doen in die storie nie?

En dan die moeilikheidmakers: Rachelle, graad 7, is die enigste leerder wat met ’n chauffeur by die skool opdaag; Japie, wat hardekop is en hom grootmeneer hou, alhoewel hy in graad 6 is; en Jacques, wie se pa hom gedurig mishandel – hy kom met blou kolle by die skool aan.

Dan is daar twee seuns op wie Shani en Sunette albei verlief is: Johan en Pierre. Shani voel kwaad dat Pierre meer met Sunette tyd spandeer. Hy help Sunette met haar hekkies. Pierre is Dolf se beste vriend. En dalk … net dalk … hou Shani van Marius, die rekenaarboffin en die hakkelendste mens op aarde.

Verder is hulle vriendinne met: Ans, ’n bietjie oorgewig; Patience of Pat, wie se pa saam met Shani-hulle se pa in Amerika studeer het; en Liz, ’n moeilikheidmaker, maar Shani se beste vriendin…

Sunette presteer in haar akademie vreeslik goed en skitter in haar sport. Shani is baie goed met drama en ballet, maar almal sien net vir Sunette raak.

Vreksel Fourie is die creepiest ou wat Sunette ken. Hy probeer haar altyd betrap om haar dalk seer te maak.

Ook is daar Rosie, wat die Brinks se huishouding hanteer.

Hoekom ek van die boek hou?

Dit klink dalk vreemd, maar ek haat skool. Tog, as ek dié boek lees, is dit baie lekker om te sien wanneer hulle in die skool is. Dis ’n snaakse, opwindende reeks wat bangmaak en ’n mens se tone sal laat krul.

Vir watter ouderdom is die boek gepas?

Die boek is gepas vir kinders van 10 tot 13, dalk selfs ouer. Jonger kinders mag dit lees, maar gaan nie die romantiese dele interessant vind nie. Die romantiese dele is net wanneer die kinders oor ouens dink, dans by ’n sokkie met hulle en … dalk selfs soen!

Wie is my gunstelingkarakter en waarom?

Sunette, vir seker! Sy dink glad nie aan haarself nie. Sy is vriendelik.

Dit is geen haat teenoor blondekoppe nie, maar gewoonlik in stories is dit die blonde meisies wat die mooiste is. Sunette het donker hare en sy is supermooi. Sy is netjies, leer hard en kry vir enige iemand met wie dit sleg gaan, jammer. As sy regtig was, sou ek haar vriendin wou wees.

*

Ek beveel hierdie reeks sterk aan.

Lees ook:

In memoriam: Maritha Snyman

Moet kinders hulself en hul omgewings in kinderboeke herken?

Aspekte wat kinders se leesmotivering beïnvloed

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 1

Kommentaar

  • Barend van der Merwe

    Ek het baie van skool gehou, maar soos meeste mense, dit eers besef toe my skooljare verby was. Tog, jongmense van vandag het dit gewis swaarder. Die druk op jongmense om te presteer neem jaar na jaar toe, daarom kan ek nie my eie jongmensjare vergelyk met vandag se jongmense nie.

    Interessante bespreking! Dankie, mag die vreugde van lees jou volg oral waar jy gaan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top