Leer om te vergewe met ’n blikkie samboksalf: ’n lesersindruk van Alene Mari Holder se jeugroman Samboksalf en ’n draaktraan

  • 0

Titel: Samboksalf en ’n draaktraan
Skrywer: AM Holder
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637004640

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Alene Mari (AM) Holder se debuutroman, Samboksalf en ’n draaktraan (2024), is ’n fantasie-jeugroman wat afspeel op ’n klein verlate Karoodorpie, genaamd Rhynsburg. Dit is ’n dorpie wat met die eerste oogopslag soos enige ander doodgewone plattelandse dorpie lyk, totdat die hoofkarakter, Lizelle van Aswegen, per ongeluk in ’n wêreld van drake, magiese wesens en ’n oeroue geveg betrokke raak.

...
Dit is pret om al hoe meer oorspronklike Afrikaanse fantasieverhale op die boekwinkels se rakke te sien.
...

Die verhaal begin met Lizelle wat verveeld op die stoepmuurtjie voor die dorp se kafee, Stina’s Café, sit en wag vir Die Burger om afgelewer te word. Sy het teësinnig vir haar ouers gaan kuier tydens haar Desembervakansie, maar as sy eerlik kon kies, sou sy veel eerder in die Kaap in ’n koffiewinkel wou wees, waar sy toegang tot enige koerant van haar keuse kon hê.

Hier is net ’n drie dae oue kopie van Die Burger wat tussen die Landbouweekblad en die Sarie op die draadrak voor Stina’s Café lê en verlep. (6)

Lizelle sit liewer buite Stina’s Café en wag vir die koerant, want dit is beter as om in haar ouerhuis te sit en wonder of haar befondsingaansoeke om Joernalistiek te gaan studeer goedgekeur sal word of nie. Weens haar pa se afdanking as siviele ingenieur en haar ma se verslawing, is dit die enigste manier hoe sy aan die plaasdorpie sal kan ontsnap en haar drome as joernalis sal kan nastreef.

Sy besef egter later wanneer sy met die wel belese koster, Oom Johannes Haarhoff, bevriend raak, dat daar meer in Rhynsburg aan die gang is as wat sy aanvanklik gedink het. Sy ontdek dat die fantasiewêreld waarin sy so dikwels ontsnap nie so ver van die werklikheid verwyder is soos sy gedink het nie.

AM Holder se roman skilder pragtige en ikoniese tonele wat met Suid-Afrikaanse plattelandse dorpies geassosieer word. Van die stil, afgeleë lewe skryf sy:

Die poskantoor oorkant Stina’s is reeds toe. Met sy hoë gewel en swaar eikehoutdeure is dit duidelik een van die oudste geboue op die dorp. Langs die poskantoor is PEP se geel-en-blou naambord al vaal gebrand in die son [...] Aan die ander kant van die straat staan die kerk. Reguit sementpaadjies lei van alle rigtings af na die deure toe. Langs die paadjies en om die kerk se voet is rye wit roosbome. Die lyne van die vensters en die wit mure lei die oog boontoe, na die toring. Teen die pers agtergrond waarin die sterre een vir een verskyn, lyk die weerhaan se silhoeët uit sy plek. (17)

Oor die besige Kersmark met nuuskierige dorpsmense waarvoor iemand amper niks kan wegsteek nie, staan daar:

Die saal is die ene geklingel van teelepels en lipstiffiebevlekte koekvurkies, die geur van boerewors en Sondagparfuum en jillende kinders se spookasem [...] “Michelle sê my sy is maar ’n snaakse een,” sê Sandra. “Glo van Hanover af gekom, maar niemand weet hoekom sy daar weg is nie.” (46–50)

Dit is pret om hierdie omgewingsbeskrywings te lees en daarmee te kan assosieer, en selfs jou oë te rol vir sommige van die stereotipiese tannies.

...
Daar is ’n verskeidenheid van temas wat in AM Holder se jeugroman voorkom, insluitend skynheiligheid, rassisme, feminisme, armoede en deursigtigheid.
...

Hierteenoor weef Holder moeiteloos ’n wêreld van fantasie en magiese wesens tussen haar ikoniese beskrywings, stereotipiese karakters en hul kenmerkende Suid-Afrikaanse taalgebruik.

Daar is dit weer. Soos ’n perd wat runnik en die roep van ’n visarend. Toe sien sy hom. Daardie yslike vlerkspan beweeg oor hulle koppe. Gebou soos ’n leeu, maar met silwer skubbe soos ’n vis [...] “Whoooohoo!” roep Duan terwyl die Vaaldraak langs die motorfiets vlieg. Die majestueuse dier kyk in Lizelle se oë. Sy lig weer die helmet se windskerm. Waterige bruin oë. Onskuldig soos ’n Wildsbok. Die wêreld raak stil en die brommende motorfiets verdwyn onder haar. (213–14)

Daar is ’n verskeidenheid van temas wat in AM Holder se jeugroman voorkom, insluitend skynheiligheid, rassisme, feminisme, armoede en deursigtigheid, maar twee temas wat moontlik die grootste rol in die roman speel, is hebsug en vergifnis.

Die tema van hebsug word sterk deur die Nagvreters in die verhaal uitgebeeld. Nagvreters, onsterflike wesens en aartsvyande van die Skemerlopers wat kosbare hulpbronne verorber om hul oneindige honger te probeer stil.

Die offers lê opgehoop op die skinkborde. Kaviaar, oesters, foie gras. Alles. Geen borde of eetgerei word gedek nie. Ook nie ’n tafeldoek of kerse nie. Die Nagvreters se hande werk vinnig om alles gereed te kry. Hulle kan nie meer uithou nie. Maar daar hang wanhoop in die lug, want hulle weet. Hulle weet die Honger sal net weer terugkom. ( 60–1)

Hulle gierigheid laat die aarde dor en verwoes dit. Dit is moontlik dat dit selfs kommentaar lewer op ons as mensdom, hoe ons oor die jare die Aarde se hulpbronne misbruik en toekomstige generasies van ’n vrugbare Aarde en toekoms ontneem.

Hierdie gedagte sluit aan by die tema van vergifnis. Hoofsaaklik vergestalt deur die hoofkarakter, Lizelle, se innerlike worsteling teenoor haar ma. Lizelle se woede en rede waarom sy sukkel om haar ma te vergewe, is omdat sy moontlik deur haar ma se verslawing van haar drome beroof is.

Hierdie twee temas vul mekaar aan, nes die Nagvreters het Lizelle se ma ’n oneindigende honger wat sy probeer vul met haar verslawing. Die vraag wat Holder se roman regdeur die verhaal deur hierdie temas ondersoek, is hoe vergewe mens iemand vir ’n toekoms of geleentheid wat hulle van jou geneem het?

Alhoewel die vraag aan die einde van die roman beantwoord word, mag ouer lesers dalk ervaar dat dit nie diep genoeg ondersoek is nie. Die verhaal eindig egter steeds bevredigend met die suggestie dat Lizelle tog op die pad na vergifnis is.

Dit is pret om al hoe meer oorspronklike Afrikaanse fantasieverhale op die boekwinkels se rakke te sien. Naas Fanie Viljoen en De Wet Hugo, lyk dit of Suid-Afrika nog ’n skrywer het wat uiteindelik die leemte in Afrikaanse fantasie begin vul. Dit maak hierdie fantasieliefhebber baie opgewonde!

Lees ook:

Kariba: ’n lesersindruk van die grafiese roman deur Daniel en James Clarke

The "real" pearl of the sea: ’n Leser se indruk van die grafiese roman Pearl of the Sea

LitNet loof maandelikse Crito-prys vir lesersindrukke uit

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top