Pearl of the Sea
’n Grafiese roman
Verhaal deur: Anthony Silverston, Raffaella Delle Donne en Willem Samuel
Uitleg: Willem Samuel
Bykomende uitleg: Gabriela Camarillo, Kay Carmichael en Jessi Ochse
Ink en teks: Jessi Ochse
Kleur: Clyde Beech
Redigering: Wayne Jones
Gepubliseer deur Catalyst Press (2023)
ISBN: 9781946395740
Geproduseer deur Triggerfish
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Pearl of the sea (2023) is ’n kleurvolle, aksiebelaaide strokiesprentboek wat die eenvoud en mooiheid van die Suid-Afrikaanse kusdorpies uitbeeld. Dit gaan oor ’n arm vissersgemeenskap iewers aan die Weskus van Suid-Afrika en fokus op ’n gesin, Pearl en haar pa (Vernon), wat weens die werkloosheid in hul kusdorpie sukkel om ’n bestaan te maak. As ’n poging om te keer dat hulle stad toe moet trek, waar daar meer werksgeleenthede vir haar pa is, gaan Pearl daagliks duik om vis te vang wat sy verkoop. Haar lewe word egter onverwags verander wanneer sy op ’n dag ’n unieke vriendskap aanknoop met ’n antieke seemonster, genaamd Otto.
Die strokiesprentboek bestaan uit pragtige tonele van sonsopkomste en sonsondergange by die see en asemrowende onderwatertonele wat enige seeliefhebber se hartsnare sal streel. Die openingstoneel is ’n goeie voorbeeld hiervan, met verskillende skakerings van blou soos die verskillende dieptes van die see uitgebeeld word. ’n Verskeidenheid plantegroei is sigbaar in die voor- en agtergrond, met talle visse en seediere wat tussendeur swem.
In die eerste sewe bladsye word Pearl aan die leser as ’n onbekende, naamlose figuur, hoofsaaklik net deur middel van visuele beelde, aan die leser voorgestel. Eers op bladsy agt verskyn spraakborrels en dialoog, maar ten spyte van die gebrek aan woorde word Pearl se karakter effektief aan die leser oorgedra.
Die lesers leer van Pearl se nuuskierigheid soos sy tussen die plantegroei, rotse en grotte op soek is na kreef. Haar speelsheid en liefde vir die see is opsigtelik in die manier waarop sy tussen die seediere rondswem en met hulle omgaan. Dit word veral uitstekend in drie klein toneelpanele op bladsy twee uitgebeeld, waar Pearl aan drie anemone raak sodat hulle moet toegaan.
Pearl se liefde en waardering vir die see en seediere word later in die verhaal keer op keer bevestig. Die skeppers van die boek het ’n goeie balans tussen die teks, dialoog en visuele beelde gevind wat die verhaal, karakters, temas en ligging van die verhaal deurlopend komplementeer en ondersteun.
’n Goeie voorbeeld hiervan is hoe die tema van armoede en werkloosheid in die verhaal ingewerk word. Die eerste aanduiding van armoede is die bordjies en plakkate wat oral in die dorp opgesit is met die woorde: “For Sale”, “In Debt?” en “Need Cash?” (13).
Kort daarna word hierdie tema verder beklemtoon op bladsy 14 en 15 wanneer Pearl-hulle se krag afgaan terwyl sy haar hare blaas en die “Final Notice”-briewe wat bo-op die kas sigbaar is. Dit is hier waar lesers begin wonder oor wat Pearl en haar gesin se finansiële toestand is.
Aanvanklik kan dit dalk voorkom dat haar pa, Vernon, ’n slegte en agterlosige pa is, maar later word die rede vir hul finansiële situasie op bladsy 34 en 35 ontbloot”
“And don’t lie to me! Wesley saw you take money from those poachers!”
“What’s it to you? You’re never here anyway.”
“I’m out there all day, looking for work to put food on the table.”
“What do you think I’m doing?!”
“Pearl … I didn’t want to have to tell you this. But, I don’t know if I can make next month’s rent … There are just so many more restaurants in the city. I know I’d get work there.” (34–5)
Hierdie drie storie-elemente (agtergrondteks, handeling, dialoog) stel die skeppers van Pearl of the Sea in staat om ’n geloofwaardige verhaal te vertel wat natuurlik vloei en nie geforseerd voel nie.
Die gebruik van kleur speel ook ’n interessante rol in die strokiesprentboek en word vir verskeie doeleindes in die verhaal gebruik. Hoofsaaklik om die verloop van tyd aan te dui, maar ook om die stormweer, kenmerkend aan die Suid-Afrikaanse Weskusdorpies, uit te beeld – wat bydra tot die geloofwaardigheid van die omgewing waarin die verhaal afspeel.
Die gebruik van kleur word ook op ’n subtiele manier toegepas om ons meer van Pearl te vertel. Dit is opmerklik dat die helder kleure wat gebruik word om die see uit te beeld, in kontras is met die vaal, bruin, geel kleure wat gebruik word wanneer Pearl in haar huis is of skool toe gaan.
Dit suggereer dat sy dit eerder verkies om alleen in die see te wees as op land tussen mense. Wat dan deur haar woorde op bladsy 17 en 18 bevestig word:
“Psst … Pearl … I have a towel. Did you go diving this morning? Must be scary down there.”
“Nah-uh. It’s the only place I feel safe … where people leave me alone.”
Pearl verkies dit om alleen op of in die see te wees, want dit is waar sy “tuis” en “veilig” voel, weg van ander mense. Die rede hiervoor sluit aan by ander twee temas wat in die strokiesprent behandel word, naamlik verlating en vergifnis.
Op bladsy 15 sien die lesers ’n foto van Pearl se gesin op die yskas, maar op bladsye 110 tot 114 leer hulle eers waarom Pearl se ma afwesig is.
“We’re moving! End of discussion.”
“But what if she comes back … b-back home? Sh-she won’t know where to find us.”
“Pearl … you know she’s not coming back. Your mom left because she was … in a difficult place. She did what was best for you. And that’s what I’m trying to do.”
Hieruit kan lesers begin verstaan waarom Pearl nie stad toe wil trek nie, want sy glo steeds dat haar ma terug gaan kom. Sy is bang as hulle wegtrek, sal sy nooit weer haar ma sien nie. Die leser kan verder die afleiding maak dat Pearl dit verkies om alleen in die see te swem, omdat dit haar toelaat om tydelik aan die werklikheid en haar pyn te ontsnap.
Dit verhoed haar ook om weer op dieselfde manier seergemaak te word, want as sy nie verhoudings met enige iemand het nie kan sy nie weer seerkry nie. Hierdie tema speel ’n groot rol in Pearl se karakterontwikkeling soos sy leer om haar ma te vergewe, die verlede te aanvaar en weer mense te begin vertrou.
Alhoewel die strokiesprentboek ernstige en swaar temas bespreek, word die verhaal tog op ’n humoristiese manier vertel en bestaan dit uit prettige panele wat lesers sal laat lag. Die dialoë bevat ook kenmerkende Suid-Afrikaanse taalgebruik en uitdrukkings soos: “Ag, nee!”, “lekker”, “pavement special” en “flip!”, wat bydra tot die uitbeelding van die Weskusgemeenskap waarin Pearl lewe (9, 11, 39, 94).
Ter afsluiting, Pearl of the Sea is ’n hartroerende, prettige verhaal wat deur middel van humoristiese dialoë en beeldskone visuele kuns vertel word. Die uitleg, vloei en alternatiewe komposisie van die strokiesprentpanele sal dit soos ’n film laat voel wat voor die leser afspeel. As dit die vlak van kwaliteit is wat lesers van Triggerfish Animation Studios se strokiesprente kan verwag, kan ek nie wag vir die volgende een nie!
Lees ook:
Up-close South African insight: a review of Pearl of the sea