Kariba
Illustreerder: Daniel Clarke
Skrywer: James Clarke
Verhaal: Daniel Clarke, James Clarke en Daniel Snaddon
Projekbestuurder: Sarah Scrimgeour
Gepubliseer deur Catalyst Press (2023)
ISBN: 9781946395825
Ondersteuning van Triggerfish Animation
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur. LitNet het die skrywer nie versoek om dit te stuur en geen vergoeding is aan die skrywer betaal nie.
Kariba (2023) is ’n Afrika-fantasie wat fokus op die Shonga-kultuur, asook die tradisies en mitologie van die Zambezirivier.
Dit vertel die verhaal van Siku, ’n meisie met bonatuurlike magte wat water kan beheer. Sy is as ’n baba deur haar aangenome pa, Tongai, tussen die ruïnes van die antieke koninkryk, Rhutapa, gevind en is as ’n “normale” kind op ’n vulstasie, Walker’s Drift, teen die Zambezirivier grootgemaak.
Wat Siku egter nie weet nie, is dat sy eintlik die dogter van die Nyami Nyami is.
Nyaminyami is ’n riviergod wat die Shonga-stamme aan die walle van die Zambezirivier vir generasies teen enige gevaar of bedreigings beskerm het.
Die tydperk waartydens die grafiese roman afspeel, is tydens die konstruksie van die Karibadam (tussen 1955 tot 1959) en weerspieël die konflik en verandering wat die gemeenskappe tydens hierdie tydperk ervaar het.
As gevolg van die groeiende spanning, word Siku se ware identiteit aan haar geopenbaar. Dit dwing haar om ’n besluit te maak tussen ’n lewe van ’n “normale” kind of die redding van die Shonga-stamme van uitwissing. Indien sy kies om haar ware identiteit, as die dogter van Nyaminyami, te aanvaar, waag sy die risiko om haar ou identiteit te verloor en as die riviergod hergebore te word.
Kariba is die perfekte kombinasie van geskiedenis en mitologie. Dit gebruik die geskiedenis as die omgewing waarin die verhaal afspeel en as die dryfkrag vir die konflik wat daarin voorkom.
Volgens die skeppers van die grafiese roman, Daniel en James Clarke, is die verhaal nie veronderstel om ’n akkurate historiese verteenwoordiging van die politieke en sosiologiese uitdagings van daardie tydperk te wees nie. Alhoewel daar aan temas van politieke konflik, gedwonge verwydering en die verlies aan tradisie en kultuur geraak word, is die grafiese roman se hooffokus op die mitologie van die Zambezirivier.
Die doel van die verhaal is ook nie om kritiese opinies oor die bou van damme en hul gevolge op mense en die natuur uit te lig nie. Hierdie temas word net soos die geskiedenis eerder as ’n agtergrond gebruik vir die hoofstorie, die verhaal oor die Rumuko-siklus van die Zambeziriviergod, Nyaminyami.
Sommige lesers mag dalk dink dat die grafiese roman veronderstel is om hierdie temas meer in diepte te bespreek, eerder as om net liggies daaraan te raak. Dit kan daartoe lei dat die grafiese roman meer geskik vir jonger lesers is – as ’n tipe inleiding tot hierdie temas waaroor hulle later meer kan lees. Dit beteken egter nie dat lesers van verskillende ouderdomme nie die storie sal kan geniet nie. Dit is veral interessant om oor die Zambezi-mitologie, die riviergod en die Rumuko-siklus te leer. Dit is verhale wat nie noodwendig algemeen vir baie mense is nie, veral mense wat nie van Afrika is nie.
Alhoewel die karakters in hul dialoë oor die mitologie praat, word dit hoofsaaklik visueel deur middel van Siku se visioene aan die lesers oorgedra. Hierdie illustrasies is besonders en werklik van die mooiste bladsye in die roman.
Anders as die res van die grafiese roman, word die visioene nie in reghoekige of vierkantige rame geïllustreer nie, maar in watervormige blobbe. Op hierdie manier word daar woordeloos aan die lesers aangedui dat iets anders besig is om te gebeur, wat dit makliker maak om die mitologie tussendeur die verhaal te vleg sonder om die lesers te verwar. Dit weerspieël die verhaal van hoe die Tsonga-stamme geskenke aan die riviergod, Nyaminyami, in ruil vir beskerming gee.
Die diep blou kleure en blobagtige rame wat gebruik word om die visioene te illustreer, sluit tematies aan by die gevoel van water. Dit herinner die leser ook hoe drome nie altyd helder gesien of onthou kan word nie, maar soms dof is soos om na ’n weerkaatsing op ’n waterbron te kyk.
Buiten die visioene, word die uitbeelding van beweging en klank baie goed in die illustrasies verteenwoordig. ’n Goeie voorbeeld hiervan kan op bladsy 6 en 7 gevind word waar Siku in die boom vir haar pa, Tongai, sit en wag. Wanneer sy hom sien en afklim, gebruik die illustreerders verskillende rame en figuurposisies om dit uit te beeld. Dit skep die gevoel dat die leser ook besig is om uit die boom te klim.
’n Ander goeie voorbeeld waar die beweging, maar ook die “gevoel” van klank uitgebeeld word, is wanneer Siku en Amedeo (haar Italiaanse vriend) met ’n motorfiets deur die bos ry.
Die grond waaroor die motorfiets gly, die lyne wat gebruik word om te illustreer hoe vinnig hulle beweeg en die beeld van die voëls wat wegvlieg, skep ’n lewendige beeld. Hierdie beelde en elemente stel die leser nie net in staat om te sien wat gebeur nie, maar om dit te hoor en voel.
Dit is opwindend om meer en meer grafiese romans te sien wat in Afrika afspeel en wat raak aan mitologie, geskiedenis, natuur en kultuur wat eg is aan die Afrika-kontinent. As Suid-Afrikaner is dit lekker om hierdie stories te lees en te sien hoe Afrika ook verhale oor fantasie-avonture met die wêreld deel. Moenie daarmee ophou nie! Ons vra vir nog!
Lees ook:
In conversation with Jessica Powers, owner of Catalyst Press
Three women providing a catalyst for African literature: An interview
Kommentaar
Wonderlik verduidelik, dankie Irene.