
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
Titel: Die Smooie en die Smoue
Skrywer: Julia Donaldson
Illustreerder: Axel Scheffler
Vertaler: Jaco Jacobs
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485311683
Die geliefde is nogal slim, vir haar is ’n kinderboek onweerstaanbaar. So, sy koop kinderboeke en sy lees kinderboeke. Ek is dankbaar, want dan mag ek hulle ook lees.
En so daag sy toe ook weer op met ’n boek wat ons sowaar nie het nie.
Die Smooie en die Smoue, geskryf deur Julia Donaldson met illustrasies deur Axel Scheffler, is pret. Dit is boonop propvol tydlose waarhede, tussen al die guitigheid deur. Ek wens alle politici in alle wêrelddele wil dit lees.
Jaco Jacobs se vertaling is heerlik.
Die storie
Die storielyn is bekend, ook tydloos. Al gehoor van Romeo en Juliet? Nou weet jy waaroor hierdie boek gaan. Gelukkig is die einde veel vroliker as Shakespeare s’n.
In hierdie verhaal gaan dit oor Fleur en Fanie.
Nou wat is die probleem, vra julle?
Hier is die opsomming, aldus Fleur se oupa:
Luister vir my, pasop vir ’n Smou.
Hulle slaap snags in gate wat hulleself grou.
Hulle dra snaakse skoene, hulle spring hulle flou.
Fanie se ouma sien sake anders:
Luister vir my, pasop vir ’n Smooi.
Hulle dink grasgroen hare is mooi.
Hulle slaap in ’n snaakse ding – ’n kooi.
Julle kan raai dat Fleur en Fanie mekaar raakloop en ... van mekaar begin hou. Die voorblad sê dit reeds. Wat dan gebeur, wel, uhm nee, lees dit self.
Dis heerlik om die boek te lees en Axel Scheffler se illustrasies is wonderlik.
Het ek gesê Jaco Jacobs?
Julia Donaldson het reeds meer as 200 boeke geskryf, maar onder Afrikaanse lesers het sy ’n huishoudelike naam geword toe Philip de Vos haar boek The Gruffalo vertaal het as Die Goorgomgaai. Die woord goorgomgaai het intussen volksbesit geword. Selfs mense wat nie die boek gelees het nie, sal by geleentheid die woord goorgomgaai gebruik om ’n ongure karakter te beskryf.
Die stoute Philip de Vos, wat skynbaar nooit grootgeword het nie, het so ’n goeie vertaling gemaak dat heelwat lesers dink die Afrikaanse weergawe is selfs nog beter as die Engelse een.
Protea Boekhuis, wat later die regte tot Donaldson se uitgebreide oeuvre begin bekom het, was egter baie slim om Jaco Jacobs te nader vir van die ander werke.
Om kinderboeke in rym te vertaal, is deksels moeilik. Jy moet die storie en die illustrasies, geskep in die brontaal, pas by die teikentaal. Dan moet alles nog boonop rym en volgens ’n sekere metrum gelees kan word.
Jaco Jacobs is ’n fantastiese kinder- en jeugboekskrywer. Hy het self al meer as een rympieboek geskryf en hy is deksels slim. Soos De Vos, het Jacobs nog nooit sy stoutseuntjiehumor verloor nie.
As julle my nie glo nie, bekyk gewoon Jaco Jacobs se ATKV-Skrywersalbum:
Vir kinders van twee weke oud tot 122
Donaldson se humor is wonderlik.
Scheffler se sketse laat ’n mens oor en oor kyk na al die detail.
Afrikaans is bevoorreg om intelligente uitgewers te hê wat die heel beste vertalers kies om te verseker dat ons leeservaring niks hoef terug te staan vir die oorspronklike nie.
Nou moet ons net die wêreld se politici op ’n gevorderde leeskursus plaas. Dit sal gevorderd wees vir ’n politikus, want hierdie boek is geskik vir kinders, van twee weke oud tot 122 jaar.
Lees ook:
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke
Kode bruin! Die goorste week ooit!-kinderboekreeks: ’n jonglesersindruk
Bokdrolletjies en boeke: 'n Jong leser se indruk van Springboekie deur Fanie Viljoen
Kariba: ’n lesersindruk van die grafiese roman deur Daniel en James Clarke


