
Boekomslae: Pan Macmillan South Africa
Flaffie
Jaco Jacobs
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781776253685
Stink sokkies
Jaco Jacobs
Pan Macmillan South Africa
ISBN: 9781779990471
Na ’n aansienlik rowwe dag besluit ek om die boekwinkel in te vaar. Ek kom soos gewoonlik nie verder as die kinderboekrak nie en onthou toe dat Jaco Jacobs op sosiale media met sy nuwe publikasies gespog het. Genadiglik kry ek van hulle op die rak. Die beste kopies sluit altyd kinderboeke in. Ek verslind Flaffie (2024) voor slaaptyd daardie aand en lees (en lag) skaamteloos Stink Sokkies (2024) tydens ’n oefensessie op ’n trapmeul, terwyl ander hulle gô om my uithardloop. Beste oefensessie nóg!
Flaffie (2024) vertel die verhaal van Judy en Rudi wat vir ’n aand deur Megan opgepas word terwyl Rudi se ma en Judy se pa uitgaan. Hulle is honger en bestel ’n pizza van ’n nuwe restaurant, maar (on)gelukkig word daar eerder ’n ruimtewese in hul tuin afgelaai.
Stink sokkies (2024) vind plaas by Kamp Kaalvoet waar Ben deur die ander leerders geterg word oor sy probleem. Sy beste maat, Lennie, kry hom jammer en bedink ’n plan om op ’n (meestal) onskuldige wyse wraak te neem.
In Flaffie (2024) slaag Jacobs daarin om die tradisionele narratief van geskeide gesinne en stiefouers en -sibbe te vernuwe. Die tradisionele stiefsibbe en -ouers waarmee lesers oor die algemeen bekend is, waar straf, haatlik optree en slegs ’n negatiewe impak op mekaar die norm skyn te wees, word uitgedaag, en die verhoudings word eerder verfrissend aangebied as ondersteunend, tegemoetkomend en gaaf. Rudi meen sy “oom Theo is baie gaaf” en hy gee nie om dat sy ma met hom getrou het nie (bl 7). Rudi het eerder ’n probleem met sy stiefsussie wat “’n pyn” is, aangesien sy altyd haar huiswerk doen (7). In plaas daarvan dat kwaadwilligheid hoofsaaklik as die ondertoon van die nuwe gesinsdinamika ingespan word, word dit eerder as tegemoetkomend uitgebeeld. Kinders kan dit as ’n voorbeeld van bestaande “moderne” gesinne sien oftewel hoe iemand eerder in hierdie omstandighede kan optree. Judy probeer nie om haar stiefbroer sleg te behandel nie en probeer inteendeel haar bes om aan te pas by die nuwe omstandighede.
.........
In hierdie kinderboek, baan fantasie die weg vir die uitbeelding van aktuele kwessies waarmee lesers kan identifiseer. Die feitlike terloopsheid van hierdie kwessies word ’n effektiewe manier om gesprekke daaroor met die teikenleser te begin.
............
In hierdie kinderboek, baan fantasie die weg vir die uitbeelding van aktuele kwessies waarmee lesers kan identifiseer. Die feitlike terloopsheid van hierdie kwessies word ’n effektiewe manier om gesprekke daaroor met die teikenleser te begin. Alternatiewe oplossings of maniere om daaroor te redeneer kan gevolglik in ag geneem word. Die gesinsdinamika en die uitwerking daarvan op ontwikkeldende adolessente word deur middel van fantasie-elemente aangespreek wat die karakters in staat stel om hul gevoelens uit te druk en ook sodoende die grootwordproses te bewerkstellig. Deur middel van die vreemde troeteldier waarmee Judy identifiseer, is dit vir haar byvoorbeeld moontlik om haar gevoelens te openbaar wanneer sy meen dat sy ook partykeer voel asof sy nie in haar nuwe gesin hoort nie. Gevolglik word dit vir Rudi moontlik om sy aksies beter te begryp sowel as die impak daarvan op sy stiefsussie. Rudi vra Judy om verskoning dat hy haar soos ’n ruimtewese in hul huis laat voel.
Daar moet vanselfsprekend gewaak word teen streng didaktiese kinder- of jeugliteratuur, maar Flaffie (2024) stel wel lesers in staat om ’n arsenaal op te bou van hoe daar met nuwe familielede omgegaan kan word. Vir my as volwassene is hierdie les dalk meer ooglopend, maar jonger lesers sal beslis nie voel asof hulle voorgesê word nie. Alhoewel die bestel van ruimtewesens groot moeilikheid veroorsaak, dien dit as ’n katalisator van die onderliggende verhoudingsdinamika in ’n moderne gesin, en veral dan tussen stiefsibbe. Die versterking van Rudi en Judy se band lê verder in hul gemeenskaplike doel om van die ruimtewese ontslae te raak, die opruiming van die gemors wat dit gemaak het, en om self vir hul aandete te sorg. Hulle het ook ’n gemeenskaplike vyand – Megan – wat slegs voor die grootmense mooi glimlag en vriendelik is. Hierdie antagonistiese rol word gelukkig nie aan een van die gesinslede toegewys nie – anders as in meer tradisionele verhale waarin ’n bose stiefma of reeks kwaadwillige stiefsussies gevind kan word.
..........
Die ondermyning van stereotipiese geslagsrolle kan verder as ’n kenmerk van Jacobs se oeuvre uitgelig word (dink byvoorbeeld ook aan Die meisie met vlerke, 2024). In Flaffie (2024) word dit duidelik wanneer Judy byvoorbeeld die toebroodjies maak omdat Rudi reeds ’n taak verrig het.
...........
Die ondermyning van stereotipiese geslagsrolle kan verder as ’n kenmerk van Jacobs se oeuvre uitgelig word (dink byvoorbeeld ook aan Die meisie met vlerke, 2024). In Flaffie (2024) word dit duidelik wanneer Judy byvoorbeeld die toebroodjies maak omdat Rudi reeds ’n taak verrig het. Hy het Flaffie se gemors skoongemaak en dit is dan nou Judy se beurt om iets tot die aand se gebeure by te dra. Die uitbeelding van emosies word ook nie slegs tot die vroulike karakters beperk nie, maar is ook duidelik in Rudi se reaksie teenoor Judy se uitlating dat sy nie welkom voel nie. Imile Wepener se gepaste illustrasies versterk hierdie gegewe en dra daartoe by om dit by die ontwikkelende leser tuis te bring. Hierdie boek, wat slegs 48 bladsye beslaan, slaag daarin om die geïdentifiseerde kwessies op ’n subtiele wyse te ondersoek en terselfdertyd ’n unieke blik op die kitssamelewing te werp, soos toepassings waarop enigiets onder die son – in die hele sterrestelsel – bestel kan word. Selfs ’n ruimtewese as ’n troeteldier!
Stink sokkies (2024) plaas die leser in Lennie se skoene, die beste maat van iemand wat afgeknou word. Aangesien die teikenleser om en by sewe jaar oud is, word die afknouery uiteraard nie tot die drastiese graad uitgebeeld nie. Ben kan byvoorbeeld iets doen aan die probleem waaroor hy geterg word. Hy meen ook dat hy gedink het dat hy nie eers skoene sou dra by Kamp Káálvoet nie en het dus ’n onskuldige misberekening ontgaan. Die sukses van hierdie verhaal lê grootliks in die ommeswaai van die spotters (Lika en Zandi) se houding teenoor Ben se stink sokkies, en alhoewel hulle dit nie besef nie, neem Ben en Lennie wraak deur ’n poets op hulle te bak. Die kreatiewe wending in die afloop van die verhaal is verrassend en laat die leser onseker tot aan die einde. Die idee dat intelligensie bo wreedheid ingespan moet word om afknouery te kniehalter, word gekontrasteer met die slim sêgoed waarmee die afknouers vorendag kom. Dit word duidelik dat diegene wat afknou, nie altyd so slim is soos wat hulle dink nie, en die ou spreekwoord “Wie laaste lag, lag die lekkerste!” word in die boek gekonkretiseer.
Die doofheid van die onderwyser versterk die onopvallende wyse waarop afknouery plaasvind en die skade wat dit kan berokken wanneer dit nie aangespreek word nie. Dit bied ook, soos in Flaffie, ’n manier vir onderwysers en ouers om soortgelyke probleme aan te spreek. Hierdie tekste kan betrek word om lesers toe te rus om self probleme op te los sonder om verdere skade te berokken deur soortgelyke wrede gedrag uit te oefen. In hierdie kort boek word die gemeenskapsbetrokkenheid en aandadigheid met betrekking tot afknouery ook uitgelig deurdat die res van die jonger karakters (behalwe Lennie) lag wanneer Lika of Zandi vir Ben terg. Dit is veral duidelik tydens die vasvra, wanneer dié twee karakters antwoorde gee waarby sy stink sokkies betrek word. Die ondermyning van gesag en verdoeseling van afknouery word ook in hierdie toneel bewerkstellig wanneer meneer Nel sukkel om te hoor wat die meisies sê en dan ’n ander antwoord gegee word as hy daaroor uitvra.
Beide boeke betrek gemeenskapskwessies en struikelblokke in verband met grootwording op subtiele en meer direkte maniere. Nietemin is ek van mening dat die hoofdoel van hierdie tekste is om te vermaak en ’n liefde vir lees te kweek. Humor en fantasie word effektief betrek en die aksiebelaaide verhaalgebeure dra by tot ’n klimaks en afloop waarmee lesers van alle ouderdomme tevrede sal wees. Om te lees vir plesier en terselfdertyd jou arsenaal aan te vul om sekere struikelblokke en kwessies aan te pak, is ’n bonus – veral vir ontwikkelende lesers, maar eintlik vir almal in die gemeenskap. Die wêreld sal beslis ’n beter plek wees as álmal (meer) kinder- en jeugliteratuur lees. Die trapmeul is wel opsioneel! Soos Thabo in Stink sokkies roep ek ook: “Hoera vir Stink sokkies!” én dan “Hoera vir Flaffie!”
Lees ook:
Kode bruin! Die goorste week ooit!-kinderboekreeks: ’n jonglesersindruk
Die Smooie en die Smoue deur Julia Donaldson: ’n lesersindruk

