Benru se boomskok deur Felicia Snyman-Du Toit en Die maniese muskietmoles deur De Wet Hugo: ’n gesamentlike resensie

  • 0

Titel: Benru se boomskok: Die geheim van sy spesiale magte
Skrywer: Felicia Snyman-Du Toit
Illustrasies: Luan Serfontein
Uitgewer: Lapa
ISBN: 9780637005562

Titel: Kinkels en keuses 3: Die maniese muskietmoles
Skrywer: De Wet Hugo
Illustrasies: Stephen Wallace
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798184465

Party mense blaai na die laaste bladsy voor hulle besluit of hulle ’n boek wil lees of nie. Ek kon dit nog nooit verstaan nie. Ek wil nie weet hoe die storie gaan eindig voor ek die hele storie gelees het nie. Tog wil ek die hele storie lees juis om by die einde daarvan te kom – of dit nou agter die ontknoping aan is, of bloot met die hoop dat die storielyn beter word en bevredigend sal eindig. Hoewel ek nie die slot eerste wil lees nie, bly dit vir my belangrik.

Twee jeugboeke wat onlangs verskyn het se eindes het my aandag getrek. In Benru se boomskok deur Felicia Snyman-Du Toit moes die elfjarige Benru en sy vyftienjarige broer, Wayne, by hulle vreemde ouma, Elizabeth-Ann, intrek nadat hulle ouers vermoedelik dood is toe hulle vliegtuig verdwyn het. Reeds op die tweede bladsy lees ons dat Benru ’n vreemde ligspiraaltjie in sy houtlessenaarlamp opmerk. Dis ook asof Gwydion, ouma Elizabeth-Ann se kat, soms asof van nêrens verskyn en dwarsdeur jou kan kyk. Kort hierna verbeel Benru hom hy sien vir Wayne uit die stam van die ou akkerboom in die agterplaas klim. Die skrywer dek die tafel vir iets bonatuurliks en onheilspellend. Hierna raak dinge al hoe vreemder.

........
Die skrywer dek die tafel vir iets bonatuurliks en onheilspellend. Hierna raak dinge al hoe vreemder.
........

Benru en Wayne gaan via die akkerboom op uitstappies – hulle teleporteer. Die toorwese word deur hulle ouma verduidelik as ’n entiteit wat jou bedoelings lees. Daar mag egter nie hieroor gepraat word nie. Dan is daar die vreemde agente in geel. Met buitengewone dinge aan die orde van die dag moet Benru dus mooi trap om in slimkop Libby se goeie boekies te bly. Ek het Benru en Libby se “uitstappie” die meeste geniet. Spanning is goed opgebou en ’n paar raaisels is opgelos.

Alhoewel Benru en die boomskok lekker gelees het, het iets my gepla. Dit het gevoel asof daar ekstra legkaartstukke is waarvoor ek nie plekke kon vind nie. Uiteindelik het dit vir my soos ’n “voorskou” of lokprent van ’n boek gevoel. Asof temas soms nie genoeg uitgebou is nie en daar ander kere bloot ’n leidraad ingegooi is waarvoor ek nog nie ’n probleem kon kry om op te los nie. Asof daar nog dinge moes gebeur.

In De Wet Hugo se derde Kinkels en Keuses-boek, Die maniese muskietmoles, kry lesers weer kans om te besluit in watter rigting hulle die hoofkarakters wil stuur deur namens hulle keuses te maak. Aan die einde van sommige hoofstukke is daar instruksies waarvolgens die leser keuses maak. Daar word dus, anders as met ander boeke, heen en weer geblaai en hoofstukke word nie chronologies gelees nie. Hierdie boeke het ook nie bladsynommers nie. Na aanleiding van opsies waarop aan die einde van ’n hoofstuk besluit word, blaai lesers na watter hoofstuk ook al hulle keuse hulle stuur.

.......
In De Wet Hugo se derde Kinkels en Keuses-boek, Die maniese muskietmoles, kry lesers weer kans om te besluit in watter rigting hulle die hoofkarakters wil stuur deur namens hulle keuses te maak.
.......

WJ, sy suster Mindie, en hulle vriend, Raj, besluit om, op aanbeveling van ’n grillerige ou man van die oudhedewinkel, soos Die Drie Musketiers van Alexandre Dumas aan te trek vir Boekeweek se kostuumdag by die skool. Dinge loop egter sleg skeef en die drie musketiers is spoedig drie mutante muskiete. Muskiete het baie vyande en dit lyk boonop of Shoni, die boelie, ook op hulle spoor is. Hugo laat sy lesers goed sweet en gril en lag wanneer die vriende in moeilike situasies beland na aanleiding van lesers se keuses. Wanneer Shoni, die boelie, lees: “Jou vabond, wag, ek sal jou kry, van jou sal net ’n bloedkol bly”, wil jy vir die skerp De Wet Hugo-humor lag, maar jy is nog aan die gril vir nou-nou se toneel wat jy baie duidelik voor jou geestesoog kon sien. Nes jy gegril het toe Hugo grafies beskryf het hoe WJ soos ’n wafferse vampier op die ou man se nek te kere gegaan het en toe net daarna moes lag vir WJ se bekommernis oor die eiers wat nou gelê gaan word.

Soos die reeksnaam belowe, is daar inderdaad baie kinkels en keuses. Danksy Raj, die wandelende ensiklopedie soos sy vriende hom noem, weet ek boonop nou ook ’n bietjie meer van muskiete … en hulle vyande. ’n Naaldekoker kan byvoorbeeld twaalf gewone muskiete eet voor hy versadig is.

Oop eindes laat ruimte vir interpretasie en afsluitings is dus nie voor die hand liggend dieselfde nie. Verskillende lesers kan verskillende betekenisse wegneem, omdat lesers die vryheid het om die verhaal op hul eie manier te interpreteer.  Die storie het nie ’n duidelike oplossing of afloop nie, en daar mag na die tyd onbeantwoorde vrae of onsekerhede bly.

Tien van die agtien hoofstukke van Die maniese muskietmoles is slothoofstukke. Daar is met ander woorde tien eindes – weliswaar nie almal positief nie, maar wel bevredigend. Sommige van hierdie eindes, hoewel nie oop nie, laat ook steeds ruimte vir interpretasie. Benru se boomskok eindig oop en al wat ek daaruit kan aflei, is dat die verhaal nog nie klaar is nie en daar ’n opvolgtitel sal wees. Ek hoop regtig so, want ek kon nog nie al die drade knoop nie. Ek het Benru se boomskok ongelukkig effens gefrustreerd toegemaak.

Ek vermoed dat die kategorie lesers na wie ek in my eerste sin verwys het, moontlik ook die mense is wat te veel van ’n storie sou verklap en dit vir voornemende lesers sal bederf. Ek gaan geen eindes of gebrek aan eindes hier verklap nie. Lees die boeke.

Fluit-fluit, my storie is uit.

Lees ook:

Jani Jonker gloei in die donker deur Fanie Viljoen: ’n resensie

Nina-omnibus – Die awesome speurklub deur Elizbè van der Colff: 'n resensie

Goue lint, my storie begint: Die mag van volwassenes se boekkeuses vir kinders

Ben en die groot toets deur Zuléka Smit: ’n lesersindruk

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top