Titel: Nina-omnibus – Die awesome speurklub
Skrywer: Elizbè van der Colff
Illustreerder: Chris Venter
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624095347
Ek het Nina en die wacky hare, Nina en die funky eksperiment en Nina en die crazy klere baie geniet toe hulle oorspronklik in onderskeidelik 2012, 2014 en 2018 verskyn het. Nina-Omnibus: Die awesome speurklub beland toe onlangs op my lessenaar – dieselfde drie bogenoemde stories. Ek vervies my toe vir die titel. Wacky, funky en crazy werk al drie vir my goed in die oorspronklike titels. Maar awesome? Sou Die cool speurklub nie beter gewees het nie? Ek lees dit toe wel weer, en ja, die stories is cool. Ek het dit dié keer nog méér geniet en waardeer. Ek volstaan egter by Nina-Omnibus.
Chris Venter se moderne illustrasies is prettig, ekspressief en gedetailleerd, en komplementeer die teks uitstekend.
Elizbè van der Colff se stories lees soos ’n outydse suiglekkerballetjie waaraan jy suig. Aan die begin, wanneer die twee vriendinne, Nina en Jessie, nog nie weet hoekom hulle sien wat hulle sien wanneer hulle die swart-en-rooi pet opsit, in die gekraakte spieël kyk, iets tussen vanielje en aarbeie ruik en voel asof hulle deur deurskynende jellie beweeg nie, is die suiglekker nog swart. Hierna, sonder die pet, kan elke nuwe kleur waarby jy al suigende uitkom, ’n storie op sy eie wees tot jy by die uiteindelike wit uitkom en alles ewe skielik binne een storie sin maak. inaNy neg essieJa sil weeti aieby oeiege peurdersst.
In Nina en die wacky hare is daar ’n kopluisplaag by Laerskool Tierkop en Nina en Jessie het gou ’n verdagte in hulle visier ná hulle speurtog hulle na die oorsprong van die kopluise gelei het. Hulle verdagte word, te midde van alledaagse skoolaktiwiteite soos ’n netbalwedstryd en entrepreneursdag, uiteindelik met behulp van vernuwende en moderne metodes aan die kaak gestel. Die netbalwedstryd en entrepreneursdag is twee ministories in die groot storie – twee kleure van die veelkleurige suiglekkerballetjie. Lesers sal goed identifiseer met hierdie byeenkomste as deel van die skoolkalender. Leerders kan trouens ’n paar goeie idees vir entrepreneursdae by Nina en haar klasmaats kry. Lesers sal hulle ook met die gemoedelike onderonsies tussen seuns en meisies en die stryery onder sibbe kan vereenselwig. Ek vermoed hulle gaan ook gril, en ek sal nie verbaas wees as daar koppe ná hierdie storie jeuk nie. Van der Colff skets baie realistiese prentjies.
........
Die netbalwedstryd en entrepreneursdag is twee ministories in die groot storie – twee kleure van die veelkleurige suiglekkerballetjie. Lesers sal goed identifiseer met hierdie byeenkomste as deel van die skoolkalender. Leerders kan trouens ’n paar goeie idees vir entrepreneursdae by Nina en haar klasmaats kry.
........
Aan die begin van Nina en die funky eksperiment, ná Nina en Tiaan saam met hulle joernalispa ’n nuwe koeldrankfabriek gaan besoek het, bevind Nina haar later die middag, danksy die swart-en-rooi pet, op die kop van ’n puisiegesigseun wat ’n paar slukke geel koeldrank afsluk voor hy ’n rekord op die atletiekbaan slaan.
By die skool is Mirkia Zitscky, die onaangename nuweling in Nina en Jessie se klas, aanvanklik die enigste meisie wat oor die dwarslat kom tydens atletiekoefeningsessies voor die naderende kleure-atletiekbyeenkoms. Mirkia het altyd ’n pleister of twee op haar gesig en daar is skielik meer kinders slegte velle. Dit lyk boonop asof veral hulle op die atletiekbaan presteer.
In die wetenskapklas is dit ook hierdie kwartaal tyd vir die graad 5’s se groot eksperimentetaak waar die leerders met die beste eksperimente ’n groot prys kan wen. Nina en Jessie se eksperiment word geïnspireer deur verdere speurwerk en nog ’n besoek aan die koeldrankfabriek se laboratium via die pet. Die einste koeldrankfabriek bemark hulle nuwe energiedrankie by Laerskool Tierkop en beplan ’n groot advertensieveldtog waarin presteerders by die atletiekbyeenkoms verfilm sal word. Ja, nog ’n suiglekkerballetjie met baie kleure voor jy by die wit uitkom.
Nina en Jessie woon in Nina en die crazy klere die Eksotiese Eksperimente Ekspo by, maar nie voor hulle die swart-en-rooi pet raadpleeg vir ’n bietjie konteks oor wat om te verwag nie. Van der Colff deel haar binnepret met die skryf van haar stories en lekker sin vir humor met haar lesers. Mirkia Zitscky, met die pleisters op haar gesig, het my lekker laat giggel, en in Nina en die crazy klere was dit mejuffrou Annie Brandt met haar rooi hare, asook die hoofkeurder vir uitstallers, dr Crower, ’n kaalkop man met ’n lang woeste baard en ’n snor wat my laat glimlag het. Dr Crower word vinnig vir die meisies “Seerower” as gevolg van sy voorkoms, maar ook, met sy van kreatief gelees, C Rower.
........
Van der Colff se Nina-stories is oorspronklik, snaaks, spannend en verbeeldingryk. Haar karakters is tipies en geloofwaardig. Hulle klink soos tien- of elfjariges, of jonger.
........
Soos die suiglekker gesuig word, raak die pet weg, klim lesers saam met Nina en Jessie met spesiale handskoene en sokkies teen mure uit, dra lyfkouse om onsigbaar te wees en doen slim speurwerk om raaisels op te los. Later, na nog ’n paar lagies weggesuig is, is dit duidelik dat Van der Colff vir dr Crower altyd met ’n lang baard sou uitbeeld. Hoe anders sou Nina haar vermoedens kon bevestig dat dit hy is as sy baard nie onder die sak oor sy kop uitgesteek het nie?
Van der Colff se Nina-stories is oorspronklik, snaaks, spannend en verbeeldingryk. Haar karakters is tipies en geloofwaardig. Hulle klink soos tien- of elfjariges, of jonger. Aan die einde van die eerste hoofstuk sê Tiaan vir Nina en Jessie: “Ek hoop julle gooi op!” Van der Colff kon ewe maklik “Ek hoop julle word naar” gebruik het, maar kies om baie nader aan die teikengroep se natuurlike dialoog te bly.
Van der Colff se ontknopings is nooit uitgerek nie en sy laat haar lesers toe om self kloutjies by ore te bring, hoewel alle intrige-eindes of slottonele gemotiveer kan word. Alle drade kan teruggevolg word; daar is geen toevallige, gerieflike of “onrealistiese” uiteindes nie. So maak dit in Nina en die crazy klere heeltemal sin dat die polisie opdaag net nadat Nina dr Crower, Jessie en Anika bevry en die boosdoeners toegesluit het. Sy het immers met haar aankoms daar reeds ’n boodskap met die adres aan Jana gestuur. Van der Colff onderskat nooit haar jong lesers nie.
Ek wil Nina-Omnibus onvoorwaardelik aanbeveel. Daar is iets heilsaam aan hierdie stories. Nina en Jessie het selfs hulle eie kodetaal, of wat hulle geheime skrif noem – ’n soort “Pig Latin”. Ja, hulle het selfone, en daar is ’n Xbox, en daar is die pet met sy spesiale kragte, maar meestal is hulle net avontuurlustige kinders. Om my boodskap in Nina en Jessie se geheime skrif aan die begin van hierdie skrywe te ontsyfer: Nina en Jessie is twee baie goeie speurders. Mag lesers van Nina-Omnibus ook met hierdie geheime skrif eksperimenteer. Dit word aan die einde van die eerste storie, Nina en die wacky hare, verduidelik.
Lees ook:
Jong lesers: Nina en die wacky hare deur Elizbè van der Colff en Chris Venter
Goue lint, my storie begint-rubriek: die waarde van illustrasies in kinderboeke
Flaffie en Stink sokkies deur Jaco Jacobs: ’n gesamentlike resensie