- Anke Theron skryf ’n gereelde kinderboekrubriek vir LitNet.
Die Desembervakansie is hier! Vir die boekwurms onder ons is dit tyd vir lees, lees en avontuur! Maar hoe gemaak as jou kind nou nie regtig hou van lees nie, maar eerder ’n fliek sal kyk?
Gelukkig is daar ’n ryk geskiedenis van kinderboeke wat verwerk word vir films en TV-reekse. Dit is juis hierdie praktyk waar boeke as basis vir films en TV-reekse gebruik word wat ’n fliekvlooi in ’n boekwurm kan transformeer.
Met die oog op die feesgety gaan daar in hierdie aflewering van “Goue lint, my storie begint” eerstens gesels word oor die fliek-versus-boek-debat. Daar sal gekyk word of die argument oor boek versus film enigsins steek hou en op grond waarvan elke kant sy voor- en nadele het.
Tweedens sal daar ’n verskeidenheid aanbevelings gemaak word vir jong lesers wat iets interessant en avontuurlustig soek om te lees. Wie weet, miskien beland daar iets in iemand se Kerskous ...
Boeke teenoor films
Onder gevestigde boekwurms is daar die oortuiging dat die boek altyd uittroon bo die film, ook omdat die boek in die meeste gevalle eerste was. Daar is etlike gevalle waar die filmdraaiboek ’n geskrewe boek inspireer, soos die Fantastic beasts-filmreeks, waar die dramateks as boek gepubliseer is omdat die films so gewild was. Die ander kant van die muntstuk is die film-entoesiaste wat volhou dat die visuele lushof en aksie van ’n film ’n boek se bekoring kan oorskadu. Weer eens is die Fantastic beasts-films ’n goeie voorbeeld van waar die films so goed was dat dit gelei het tot boekformate van die avonture van Newt Scamander en sy vriende. Hierdie films brei ook die wêreld van Harry Potter uit.
Wees asseblief daarvan bewus dat sommige titels wat genoem word, nie noodwendig vir alle kinders of jonger kinders geskik is nie, maar wel genoem word weens die gewildheid en bekendheid daarvan. Jy as leser is welkom om te gebruik of te kies wat in jou smaak val of jou kind se leesvlak pas.
Film beter as boek
Rosseinsky (2024) is profilm in haar bespreking van 13 films wat sy voel beter is as die boekweergawe. Op haar lysie verskyn die volgende films:
- The Godfather (1972), waarvan die boek reeds in 1969 gepubliseer is.
- Forrest Gump deur Winston Groom, wat in 1986 gepubliseer is en in 1994 as film talle kykers se harte bekoor het.
- Blade runner deur Philip K Dick, oorspronklik in boekvorm gepubliseer as Do androids dream of electric sheep? in 1968. Die filmweergawe is aansienlik aangepas om die filmformaat beter te pas.
- The devil wears Prada (2023) deur Lauren Weisberger wat in 2006 verfilm is met Anne Hathaway en Merryl Streep in die rolverdeling.
- Casino Royale (2006) – die titelkarakter, James Bond, het ook filmroem verwerf deur Ian Fleming-boeke wat al verskeie kere verfilm is, asook in TV- reekse verwerk is. Veral die BBC-weergawe met Benedict Cumberbatch is baie gewild.
- Mary Poppins (1964) met Julie Andrews as die nimlike titelkarakter. Die reeks boeke deur PL Travers het tussen 1934 en 1988 verskyn, maar die film moes verskeie aanpassings maak om die bronmateriaal te laat pas. Dit was ook van die eerste films waar animasie saam met akteurs op die skerm te sien was.
- Shrek (1990), William Steig se prenteboek wat deur Dreamworks verwerk is met die gebruik van rekenaargegenereerde beelde (CGI), was ’n treffer onder kinders en volwassenes. Die musiek wat in die film gebruik is, het ’n groot bydrae gelewer tot die sukses onder gemengde gehore.
- Mean girls (2004), en blykbaar met ’n nuwe weergawe in 2024. Dit was gebaseer op ’n selfhelpboek wat in 2002 gepubliseer is onder die titel Queen bees and wannabes.
- Jaws (1975). Het jy geweet hierdie riller was eers ’n boek deur Peter Benchley, wat in 1974 gepubliseer is?
- The Bourne identity deur Robert Ludlum. Wie sou kon raai dat, nes James Bond, Jason Bourne ook eers ’n papierkarakter en toe ’n silwerdoekheld was?
- Jurassic Park (1990) deur Michael Crichton, wat ’n kultus rondom dinosourusse begin het, was ook eers ’n boek. In 1993 was dit ’n trefferfilm en het dit hopelik ’n bewustheid onder lesers en kykers geskep vir die gevare van genetiese manipulering.
- The Shawshank redemption (1994) is net nog een van Stephen King, die koning van die riller en griller, se boeke wat filmsukses behaal het.
- The notebook (1996), geskryf deur Nicholas Sparks. Hoeveel meisies het nie hul oë uitgehuil oor hierdie film nie.
’n Interessante voorbeeld uit die 1980’s is die gewilde reeks The thorn birds, wat gebaseer was op Colleen McCullough se roman met dieselfde titel wat in 1977 gepubliseer is. Blykbaar het daar tydens die reeks ’n groot lesersoplewing plaasgevind. Let wel, hierdie boek was vir volwasse lesers en nie vir sensitiewe lesers nie (so het ek gehoor). Maar mense het begin lees weens die gewildheid van die reeks.
Die grootste faktor wat hier ’n rol speel wanneer ’n film beskou word as beter as die boek, is wanneer die verhaal beter werk binne die medium van film as teks. ’n Anonieme skrywer op Medium, ReadMax, verduidelik dit deur te verwys na die tydsbeperkings van ’n film teenoor ’n boek, wat baie meer tyd bestee aan beskrywings. Dink hier byvoorbeeld aan The Bourne identity, ’n aksiebelaaide verhaal wat jou deur die spoed van die aksietonele in werklike spoed, adrenalien laat ervaar. Dit is moeiliker om dit in ’n boek vas te vang.
........
Die vooruitgang in tegnologie het toegelaat dat karakters met meer menslike eienskappe uitgebeeld kan word. Die wêreld waarin die verhaal afspeel, kon uitgebrei word en daar kon bepaalde identiteite aan die karakters gegee word. Shrek sal vir ewig nou in ’n Skotse aksent praat.
........
Dit is ook moontlik hoekom ’n kinderboek, ’n eenvoudige prenteboek soos Shrek, so goed getransponeer het na film. Die vooruitgang in tegnologie het toegelaat dat karakters met meer menslike eienskappe uitgebeeld kan word. Die wêreld waarin die verhaal afspeel, kon uitgebrei word en daar kon bepaalde identiteite aan die karakters gegee word. Shrek sal vir ewig nou in ’n Skotse aksent praat. Dit het ook gesorg vir ’n wyer gehoor as net kinders, alhoewel dit steeds toeganklik en gepas was vir kinders. Ouers kon dit saam met hul kinders geniet; selfs tieners en jong volwassenes kon dit geniet, onder andere omdat daar ’n tikkie humor in die film bygewerk is.
In hierdie gevalle van Rosseinsky (2024) is dit moontlik om te argumenteer dat die film die boek se verhale verruim of uitgebrei het. Tog sou die film nie tot stand gekom het as die boek nie eerste daar was nie. Dus het elk sy sterk punte. ReadMax (2024) bespreek dit breedvoerig is sy artikel “Book vs movie: Which is better? A deep dive into popular adaptations” (2024).
Die bekoring van elk – boek en film
Dit is ’n interessante en goed oorweegde antwoord wat ReadMax, ’n anonieme skrywer, op Medium geplaas het rondom die debat van wat beter is – boek of film.
ReadMax gebruik die term allure – aantrekkingskrag of bekoring – om die aanpassing van boeke vir films te bespreek (2024). Dit is ’n besonder bruikbare beskrywing omdat verskillende dinge verskillende individue sal aantrek tot spesifieke verhale en verhaalformate.
Die belangrikste stelling wat ReadMax (2024) maak, is dat beide boeke en films van die magtigste mediums van vertelling is. Die hoofverskil is dat die een medium oudiovisueel ryk is en die ander teksgebonde is en die lesers toelaat om hul verbeelding te gebruik. Films en boeke kan dus as twee kante van dieselfde muntstuk beskou word.
Boeke het ’n tydlose aanloklikheid wat ’n vlak van persoonlike konneksie met die verhaal bied (ReadMax 2024). Hierdie medium bied aan lesers die geleentheid om die verhaal in hul eie verbeelding te beleef en te verbeel, asook ’n meer emosionele ervaring met moontlike dieper betekenis.
Verder bied boeke ’n dieper vlak van besonderhede, omdat tyd baie anders hanteer word in ’n geskrewe teks as wat dit in ’n film sou afspeel. Daarom is beskrywings breedvoerig en word aksies en gebeure in baie besonderhede beskryf en die klassieke “blow by blow” word in woorde vasgevang. Dit dra ook by tot die stadiger pas van boeke teenoor die pas in ’n film, waar ’n aksietoneel binne minute afspeel, terwyl dit in ’n boek oor 20 bladsye vertel word. (Die boekwurm sou hier kon argumenteer dit is hoekom die dikste boeke die lekkerste lees.)
Daarom is dit vanselfsprekend waarom die aanpassing van boeke na films of televisie soms groot dele moet sny of aanpas. Tyd. Die gemiddelde film se speeltyd is 80–120 minute, twee ure, en dus kan elke besonderheid en klein gebeurtenis nie altyd in die filmweergawe ingesluit word nie. Dit is seker die grootste rede hoekom boekwurms nie altyd so gaande is oor die filmweergawes van hul gunstelingboeke nie. Daar is gebeure wat kort en dele wat die lesers as belangrik ag wat ontbreek in die film. Ons wonder steeds hoe Nearly-Headless Nick se doodsparty in Harry Potter en die kamer van geheime gelyk het ...
........
As leser het jy die vryheid van jou eie verbeelding om karakters, plekke en dinge te “sien” soos jy dink en jou verbeel hoe dit moet lyk. Wanneer iets verfilm word, verdamp hierdie vryheid soos mis voor die môreson.
........
Nog ’n faktor wat ter sprake kom, is visualisering teenoor verbeelding wat ReadMax (2024) noem. As leser het jy die vryheid van jou eie verbeelding om karakters, plekke en dinge te “sien” soos jy dink en jou verbeel hoe dit moet lyk. Wanneer iets verfilm word, verdamp hierdie vryheid soos mis voor die môreson. Die lees van ’n boek skep dus ’n verpersoonlikte ervaring van ’n verhaal. Wanneer ’n film van ’n boek gemaak word, berus die keuses van hoe alles gaan lyk en wat gesny sal word, hoofsaaklik by die regisseur en vervaardiger.
In ReadMax se ontleding kyk hy in besonder na die Harry Potter-reeks, omdat dit so gewild onder lesers sowel as nielesers was en tot ’n mate steeds is. In die boeke word die lesers tussen die hoofnarratief deur blootgestel aan ’n nuwe wêreld met ’n legio van beskrywings en besonderhede. Dieselfde kan van JRR Tolkien se Lord of the rings gesê word. Tog het beide van hierdie boekreekse se filmweergawes besonder goed gevaar en wyd komplimente ontvang vir die visuele rykheid van die kostuums, landskappe ens.
Daar moet ook bygesê word dat alhoewel beide hierdie rolprentreekse beduidend aan die boeke se inhoud moes sny as gevolg van tydbeperkings, die hoofnarratiewe stewig ondersteun en behoue gebly het.
Miskien is ’n meer onlangse geval, ook vir volwasse lesers, waar die vorige voorbeelde meestal op tieners en jong volwassenes gemik was, is die Outlander-reeks deur Diana Gabaldon. Baie aanhangers van die boeke wys gereeld besonderhede uit wat verskil van die boeke of dat belangrike dele uitgelaat word. Steeds bly die boeke gewild en die laaste boek is nog in die skrywer se hande en word glo in die volgende twee jaar verwag.
Dit bring ons by die voordele van boeke én films. Die voordele van boeke is ’n dieper insig in karakters, hul ontwikkeling en die plekke wat hulle bewoon. ’n Boek gaan jou ook langer plesier verskaf, omdat ’n goeie boek of reeks jou nie net ’n uur of twee sal vermaak, soos ’n film sou nie.
........
Die vraag wat eintlik gevra moet word, is watter medium vertel die storie die beste?
........
In verband met kinderboeke, veral reekse soos Percy Jackson, Harry Potter en Sanri Steyn, moedig dit jong lesers aan om ’n aktiewe verbeelding te bou, wat weer kan help met die ontwikkeling van kognitiewe funksies. Hierdie funksies help byvoorbeeld met sosiale vaardighede en empatie, en help kinders leer hoe om in sekere situasies op te tree.
Wanneer daar gekyk word na die filmweergawes van boeke, is daar die voordeel van ’n oudiovisuele ervaring (ReadMax). Dit sorg vir ’n meer intense ervaring van ’n verhaal eerder as om dit net te lees. Daar is kleur, klank, beweging en musiek wat saam ’n verhaal vertel soos dit voor ons afspeel. Dit mag dit ook meer toeganklik maak vir persone wat beperkte tyd het – ’n 180-minute-fliek teenoor ’n aantal ure om ’n boek te lees. Ook persone wat blind of siggestremd is, geniet films – omdat hulle gehoor selfs meer sensitief is, kan hulle ook die verhaal meemaak deur middel van klank. Laastens is dit mos lekker om saam met vriende, ’n geliefde of dalk die kinders ’n lekker film te kyk. Dit is iets wat saam met ander geniet kan word, waar lees grootliks ’n individuele aktiwiteit is en jy dit eers na die tyd met ander kan bespreek.
Volgens ReadMax is daar gevalle waar die boek die film kan “outshine” en andersom. Hierdie rubriekskrywer voel dat dit ’n beter manier is om te kyk na die debat rondom of boeke beter is as films. Die vraag wat eintlik gevra moet word, is watter medium vertel die storie die beste?
........
Hande op! Wie het op skool die filmweergawe van hul voorgeskrewe roman gekyk en net hier en daar die boek gelees, of nog erger, glad nie die boek gelees nie en net die film gekyk?
........
Dit is miskien die veiligste om die medium te geniet wat chronologies eerste was. Hiermee word bedoel dat indien die boek verfilm is, om eers die boek te lees en dan die film te kyk. Andersom is ook moontlik, soos met Jaco Jacobs se Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins. En hou ook die logistieke beperking van elke medium in gedagte, maar dit bly ’n geval van persoonlike voorkeur.
Hande op! Wie het op skool die filmweergawe van hul voorgeskrewe roman gekyk en net hier en daar die boek gelees, of nog erger, glad nie die boek gelees nie en net die film gekyk? Dalk was jy nie so gelukkig dat jou skool se boekkeuse as film beskikbaar was nie, maar kom ons kyk na die tekste wat wel filmweergawes het. Dit bring ’n ander perspektief op die debat oor die lees van die boek teenoor die kyk van die film.
Voorgeskrewe literatuur in Suid-Afrikaanse skole
Daar is ’n redelike aantal voorgeskrewe Afrikaans Eerste Addisionele Taal- en Huistaal- boeke wat verfilm is. Baie belangrik is om te onthou dat hierdie boeke nie noodwendig gekies is vir ’n filmverwerking omdat dit voorgeskryf is nie. Geen regisseur kies ’n boek om ’n verhaal deur middel van film te vertel eksklusief op grond daarvan dat dit in ’n skoolkurrikulum voorgeskryf word nie. Dit gaan oor baie meer.
Eerstens is daar die motivering om ’n storie te vertel, en ’n goeie storie trek ’n wye gehoor, nie net tieners nie. Die verhaal moet duursaam en gelaagd wees en gepas wees vir film as medium. Hiermee word bedoel dat as ’n boek ’n baie oppervlakkige storielyn het, en moontlik op te veel, wydverspreide plekke verfilm moet word, dit finansieel nie moontlik sal wees om dit te verfilm nie. Dink hier aan bekende plekke soos Buckingham-paleis, Versailles, Carnegie Hall of ander duur en logisties moeilike plekke wat herkenbaar is. Met tegnologiese vooruitgang en dinge soos CGI word die beperkinge makliker om te oorbrug, maar daar is steeds beperkinge wat in ag geneem word wanneer ’n boek vir film aangepas word.
Tweedens is dit ’n bonus indien ’n boek voorgeskryf word, omdat daar tot ’n mate motivering sal wees vir die verkoop van kaartjies by die vertoning van die film of DVD of op stromingsdienste. Die finansiële waarborg is reeds ter sprake en ’n gerieflike byvoordeel.
Derdens is die rede hoekom ’n spesifieke boek voorgeskryf word, juis dat dit van gehalte is met literêre waarde, gelaagdheid, kwaliteitnarratiewe en presies hoekom daar veronderstel word dat kinders dit moet lees as deel van hulle opvoeding.
........
Indien dit ’n Addisionele Taal-boek is, is dit raadsaam om die film te kyk eers wanneer die teks behoorlik behandel, gelees en afgehandel is, sodat leerders nie verwar word nie. Kyk in die konteks van voorgeskrewe boeke die filmweergawe as ’n verrykende aktiwiteit, as ’n leer-, onthou- en verstaan-aktiwiteit.
........
Máár (en hier kom die waarskuwing) ’n filmweergawe van ’n voorgeskrewe boek kan nooit die lees van die oorspronklike boek vervang nie. Die een kan nooit in die plek van die ander staan nie. Hoekom nie? Juis vanweë die beperkinge van tyd en plek. Soos ReadMax in sy bespreking noem, moet daar altyd aanpassings gemaak word om die pas van die verhaal te laat werk vir die medium van film. Dit moet vinniger wees en binne die tydraam van 60–120 minute kan pas. Dit lei dikwels daartoe dat dele van die inhoud gesny of verander moet word. En dit is net hier waar leerders in die slaggat trap wanneer hulle slegs die filmweergawe kyk en nie die boek lees nie. Daar word besonderhede uitgelaat en in sommige gevalle verander. Dan vang dit jou in die eksamen, want (’n voorbeeld) die hoofkarakter het nie ’n bromponie gebruik om na sy meisie se huis toe te ry nie, want die akteur was nie oud genoeg om ’n bromponie te kon ry nie. Of daar was nie ’n bromponie beskikbaar nie en hy ry eerder met ’n elektriese fiets na sy meisie.
Dit beteken nie dat daar met afgryse na leerders gegluur behoort te word omdat hulle die film gekyk het eerder as om die boek te lees nie. Die aanbeveling hier is om eerder eers die boek te lees, al is dit nie met die grootste hoeveelheid aandag of stipleesvaardigheid nie. Daarna kan die film gekyk word en die twee weergawes vergelyk word en die verskille bespreek word. Indien dit ’n Addisionele Taal-boek is, is dit raadsaam om die film te kyk eers wanneer die teks behoorlik behandel, gelees en afgehandel is, sodat leerders nie verwar word nie. Kyk in die konteks van voorgeskrewe boeke die filmweergawe as ’n verrykende aktiwiteit, as ’n leer-, onthou- en verstaan-aktiwiteit.
Hier volg ’n lys van enkele titels wat in die laaste 20 jaar vir meestal hoërskoolleerders voorgeskryf is:
- Die pro (1997) deur Leon de Villiers is in 2015 vrygestel met jong opkomende akteurs, soos Kaz McFadden, Arno Greeff en Edwin van der Walt onder die rolverdeling.
- Skilpoppe (1998) deur Barrie Hough is in 2004 as ’n TV-film verwerk met Lizz Meiring, Marius Weyers, Therese Benade, Paul du Toit en June van Merch in die rolverdeling.
- Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom (2002) deur Marita van der Vyver is in 2010 vrygestel met akteurs soos Anna-Mart van der Merwe, Gys de Villiers en Anneke Weidemann, met Regardt van den Berg as regisseur.
- Vaselinetjie (2004) deur Anoeschka von Meck. Die film het in 2017 uitgekom met akteurs soos Sharleen Surtie-Richards, Royston Stoffels, Arno Greeff, Karin van der Laag en Simon Bruinders in die rolverdeling.
- Suurlemoen! (2008) deur Jaco Jacobs word in 2014 vrygestel met akteurs soos Tiaan Kelderman, Chris Chameleon, Anna Davel en Dirk Stoltz in die rolverdeling.
- Lien se lankstaanskoene (2008) deur Derick van der Walt is in 2012 vrygestel met Andre Odendaal as regisseur en Elize Cawood, Marie Pentz, Magda van Biljon, Hykie Berg, Dirk Stoltz, Riaan Cruywagen, Julie Strijdom en Franci Greyling in die rolverdeling.
- Droomdelwers (2011) deur Esta Steyn is ’n interessante geval, omdat dit eerste as ’n TV-draaiboek getiteld Meeulanders (1996) geskryf en uitgesaai is. Daarna het Steyn die teks aangepas en as Droomdelwers gepubliseer.
Hierdie is slegs ’n vlugtige seleksie van die meer bekende titels met beide boek- en filmweergawes.
Aangesien daar nou ’n lekker lang somervakansie van pret en plesier voorlê, is hier ’n paar aanbevelings van boeke met filmweergawes en films met boekvoorgangers.
’n Paar aanbevelings vir boeke en films
Hierdie lys aanbevelings gaan ook Engelse titels insluit, omdat daar die afgelope paar jaar ’n beduidende oplewing is in tiener- en jongvolwasseneboeke, veral reeksboeke wat verfilm word of as reekse verwerk word vir stromingsdienste soos Netflix, AppleTV en Disney+.
The wild robot is in September deur Universal Studios vrygestel en is gebaseer op Peter Brown se gelyknamige trilogie wat in 2016, 2017 en 2023 gepubliseer is. Dit handel oor ’n robot wat op ’n afgeleë eiland beland en aanpas by die wildernis en die diere wat op die eiland woon. Sy maak ook vriende met ’n jakkals en maak ’n wildegans groot. Dit is vol avontuur, en die skrywer was nou betrokke by die illustrasies en die visuele aspekte van die film. Kyk hier gerus die film as ’n lusmaker vir die boeke, want die verhaal volg nie presies die boek se narratief nie.
- The wild robot, 2024
Roald Dahl-films soos Willy Wonka and the chocolate factory (1971), Charlie and the chocolate factory (2005) en The BFG (2016) is uitstekende lusmakers vir die boeke.
- Willy Wonka and the chocolate factory, die ouer weergawe (Paramount Pictures, 1971)
- Charlie and the chocolate factory (Warner Brothers, 2005)
- The BFG (Walt Disney Studios Motion Pictures, 2016)
Daar is ook die film Wonka (2023) wat geïnspireer is deur die verhale van Roald Dahl, en geskryf is deur Paul King wat ’n epiloog wou skep vir die Willy Wonka-karakter in Roald Dahl se Charlie and the chocolate factory-boeke. Miskien inspireer hierdie verhaal van pure inspirasie (... in a world of pure imagination...) jou om een van Dahl se boeke te lees en op ’n verbeeldingsvlug te gaan.
- Wonka (Warner Brothers, 2023)
Nog ’n paar titels:
- The chronicles of Narnia deur CS Lewis
- Anne with an E (2017), ’n hervertelling in ’n reeks episodes van die klassieke Anne of Green Gables op Netflix, is ’n uitstekende weergawe.
- How to train your dragon (2010) – die animasiereeks was besonder gewild en die boeke is ook in Afrikaans beskikbaar. Daar is ook “’n regte lewe”-weergawe in produksie wat vir 2025-vrystelling beplan word.
- Percy Jackson and the Olympians: Lightning thief (2010) en Percy Jackson and the Olympians: Sea of Monsters (2013). Daar is ook die nuwe Percy Jackson and the Olympians-reeks wat op Disney+ beskikbaar is.
En as hierdie films jou nie lus maak vir avontuur nie, is hier ’n paar boekvoorstelle:
- Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins deur Jaco Jacobs, pas verskyn by Pan Macmillan. Dit is ’n verwerking van die TV-filmdraaiboek van die 2024-film, Die fantastiese verdwyning van Charlie Prins (2023) as deel van die kykNET Storiefilms-projek. Daar is ook ’n paar gesteelde sokkies betrokke.
- Ons laaste legendariese somer (2024) deur Fanie Viljoen kan dalk jou somer van legendariese leeservarings wees. Beskikbaar aanlyn by Lapa.
- Quinn se jaar van kwik (2024) deur Zelda Bezuidenhout is ’n lekkerleesboek, maar raak ook aan belangrike relevante temas waarvan elke meisie en jong dame bewus moet wees – dat vroue met respek behandel moet word en niemand se besitting is nie, maak nie saak hoe lank die tradisie nie. Daar is nog vele ander van Zelda Bezuidenhout se jeugboeke beskikbaar wat almal lekker vakansieleesstof is.
- Sunel Combrink se Ontwaking van winter-trilogie: Hartklop (2022), ’n Beeldskone nagmerrie (2023) en Noodlot (2024). Kry sommer al drie by hierdie skakel.
- ’n Lekker limeriekboek vol lekkersêrympies: Die tantes van Nantes deur Philip de Vos en Piet Grobler (2024). Daar is soveel lekkersêrympies en jy sal krul van die lag en lekkerkry. Bestel dit gerus hier.
- Drie uitstekende boeke deur Annerle Barnard is Spel (2021), Gif (2024) saam met Franco V Heyn en haar nuutste boek, Donkerster, wat as naaswenner vir die Lapa Jeugromankompetisie aangewys is, en wat hier bestel kan word.
- ’n Oulike reeks boeke vir jonger lesers is die Jorsie-reeks deur Heléne Booyens oor ’n woelige, besige worshondjie wat allerhande avonture meemaak. Kry gerus jou kopie hier.
- Nerine Allers se boeke is altyd ’n wenner met Wian en die Viking-swaard (2024), Per ongeluk Parys (2021), Losprys in Parys (2020) en Teken in Parys (2023) wat in die laaste jaar verskyn het. Daar is ook Op die maat van Maya (2021) en Die verdwyning van Seamus Smit deur Seamus Smit (2022). Kyk gerus ook na haar vorige boeke, by hierdie skakel.
- ’n Goeie Kersgeskenk vir Bosveld- en grasveld-liefhebbers is Superhelde van die Savanna (2024) deur Marleen Lammers. ’n Lekker storie oor ’n bakoorjakkals en ratel wat maats maak.
- Die boek waarvoor baie lesers al lank gewag het – Spud – the reunion (2024) – wat pas verskyn het en die Spud-reeks voltooi. Dis beslis op my Kerslysie van boeke. Daarbenewens is daar ook drie films gebaseer op die boeke wat in 2010, 2013 en 2014 verskyn het. Beskikbaar by Pan Macmillan.
Daar is natuurlik hope ander ongelooflike boeke wat nog hier genoem kan word, maar dalk moet lesers op Lapa, Pan Macmillan en NB-uitgewers se webtuistes gaan loer vir inspirasie.
Die geveg om die titel vir beter storieverteller, boek of film, lewer ten einde nie ’n wenner op nie. Dit behoort eerder as twee kante van dieselfde storie beskou te word. Dit is eerder die uitbreiding van ’n verhaal as ’n afbrekende praktyk of ’n kortpad.
Alhoewel dit besonder nuttig is vir Eerste Addisionele Taal-leerders om ’n film te kyk en die visuele leidrade te gebruik om te verstaan wat in ’n voorgeskrewe boek aangaan, is dit beslis beter om eers die boek te lees en te verstaan. Die film behoort as verrykend en nie as verwysing gebruik te word nie.
Elke vertelmodus, film en boek, het sy eie bekoring en aantreklikheid vir die individu. Hoekom ’n goeie storie die voorreg ontsê om twee keer vertel te word? Gaan google ’n bietjie hoeveel van die films wat jy al geniet het, oorspronklik ’n boek was. En gryp dan ’n boek en lees ’n avontuur los hierdie somervakansie.
Bibliografie
Jones, I. 2017. Are books better than films? The King’s School Chester. https://www.kingschester.co.uk/news/bbc-school-reports/books-better-films (18 November 2024 geraadpleeg).
Media Staff. 2018. Books vs movies: The age-old debate. Indiana University Bloomington Libraries. https://blogs.libraries.indiana.edu/mediabeat/2018/03/19/books-vs-movies-the-age-old-debate (18 November 2024 geraadpleeg).
Pan Macmillan South Africa. https://www.panmacmillan.co.za (28 November 2024 geraadpleeg).
Penguin Random House SA. Lapa se kinderboekafdeling aanlyn. https://www.lapa.co.za/kinder-en-jeug (28 November 2024 geraadpleeg).
Puffin Team. 2024. Best film and TV adaptations of children’s books. Penguine Online. https://www.penguin.co.uk/articles/childrens-article/best-film-tv-adaptations-childrens-books (18 November 2024 geraadpleeg).
ReadMax. 2024. Book vs movie: Which is better? A deep dive into popular adaptations. Medium. https://medium.com/@readmax/book-vs-movie-which-is-better-a-deep-dive-into-popular-adaptations-8347972f63fd#:~:text=Books%20often%20provide%20a%20deeper,storytelling%20and%20complex%20character%20development (18 November 2024 geraadpleeg).
Rosseinsky, K. 2024. 13 movies that are better than the book they’re based on. Independent. https://www.independent.co.uk/arts-entertainment/films/features/movie-adaptations-better-than-book-b2621780.html (18 November 2024 geraadpleeg).