Die Adam Small-gedenklesing en voorsitterskap van die SBA: ’n onderhoud met Michael le Cordeur

  • 0

Michael le Cordeur is in November 2024 aangewys as die nuwe voorsitter van die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA). Hy praat met Naomi Meyer hieroor, asook oor die Adam Small-gedenklesing, wat hy hierdie naweek in Pniël aanbied.

Michael, baie geluk met die feit dat jy aangewys is as die nuwe voorsitter van die SBA. My eerste vraag is oor jou: Jy het onlangs afgetree by die Universiteit Stellenbosch, is ek reg? Die SBA is ’n geletterdheidstrust. Jy en die SBA is baie goeie pasmaats! Kan jy dalk uitbrei op jou posisie by die US voor jou aftrede, sodat dit duidelik is wat ek bedoel?

Dankie vir die mooi wense en vir die geleentheid.

Jy is reg. Ek het afgetree as die visedekaan vir onderrig en leer by die US se Fakulteit Opvoedkunde. Ek was voorheen vir 25 jaar verbonde aan die WKOD, aanvanklik as Afrikaans-onderwyser vir matrieks. Later skoolhoof van Hoërskool Kylemore op ’n betreklik jong ouderdom, en toe kringbestuurder van onderwys voordat ek die sprong na Maties gemaak het. Dit was as kringbestuurder dat ek agtergekom het dat leerders sukkel om met begrip te lees. Selfs op hoërskool. Dit het my gemotiveer om in te skryf vir ’n PhD aan die US en navorsing hieroor te doen. Die titel van my proefskrif was “Die bevordering van leerlinge se leesvaardighede met behulp van mediastrategieë”. Na voltooiing van die doktorsgraad het ek ’n pos as dosent in Afrikaans aan die US aanvaar. Hier was ek byna 20 jaar en het uiteindelik gevorder tot medeprofessor en later vol professor in Afrikaanse letterkunde. As visedekaan van leer en onderrig kon ek my passie om leerlinge se leesvaardighede te verbeter uitleef. My studente was toekomstige onderwysers en deur vir hulle leestegnieke te leer wat hulle op hulle beurt weer in die klaskamer kon toepas, kon ons ’n verskil maak aan duisende leerlinge se leesvaardighede en dus ook hul toekoms.

Noudat ek afgetree is, sal ek as emeritus professor my passie kan voortsit as voorsitter by die SBA juis omdat lees en die bevordering van lees een van die SBA se hoofdoelwitte is. Ons Zoë-leesprojek is ons vlagskipprojek en baie gewild. Ons maak reeds ’n verskil in die lewe van 54 000 leerlinge in 540 skole. In daardie opsig is ek en die SBA dus die ideale pasmaats. Dit vorm ook die basis van my jongste boek wat binnekort verskyn: Reading with comprehension.

My volgende vraag is nog iets oor die SBA. Die SBA fokus op geletterdheid en hoe taal – Afrikaans in al sy variëteite – mense kan bemagtig. Watter taal word hier bedoel? kan mens vra. Ek lees op die SBA se webwerf: "Die SBA wil Afrikaans huis toe vat – na alle Afrikaansgebruikers – in elke dialek en tongval, in elke uithoek van die aarde." Wat beteken dit vir jou?

By die SBA glo ons in die potensiaal van mense en dat elke individu uniek is en ’n unieke bydrae na die herstelproses van ons land kan bring. Voorts is ek van mening dat Afrikaans behoort aan almal wat die taal praat, ongeag watter dialek of tongval jy het. Die onskuld van Namakwa-Afrikaans, die eerlikheid van Griekwa-Afrikaans, die humor van Kaapse Afrikaans, tesame met die ongeronde Bolandse Afrikaans met sy tiniest Bolandse bry (soos ek), is almal boustene van ’n taal wat ons ons eie noem, juis omdat dit ons saambind en nasiebou bevorder. Dit is bewys van jou liefde en respek vir mede-Suid-Afrikaners. Sodoende word Afrikaanssprekendes bemagtig om die beste van hulself te gee in die strewe om ons land te verewig.

Hoe sien jy die pad saam met die SBA vorentoe? Ek vra jou hier onder uit oor ’n geleentheid wat jy in jou hoedanigheid as SBA-voorsitter gaan lei, maar is daar nog iets wat die SBA vanjaar beoog waarvan jy ons lesers kan inlig?

Ons beplan om Zoë verder uit te brei. Tot dusver was ons hoofsaaklik gemik op die Wes- en Noord-Kaap, maar ons beplan om die res van Suid-Afrika te betrek. Hierdie jaar brei ons uit na die Karoo en selfs KZN. Ons begin hierdie jaar met twee beurse aan honneursstudente, en ons sien daarna uit dat hulle na voltooiing van hul navorsing (oor onderskeidelik Gariepafrikaans en leesondersteuning in die Grondslagfase) by die SBA met Zoë gaan help. Ons voormalige voorsitter, Sandra Prinsloo, is gereed met 13 TV-episodes oor Afrikaans se komvandaan wat op die SBA se webtuiste gepubliseer gaan word. Hierdie naweek stel ons ook ons rieldansboek, Rielritme: sarsies op snare, bekend by die Adam Small-fees. Ons Oerliedere-boek onder leiding van Zenobia Kloppers is so gewild dat ons reeds in ons tweede druk is. Ons gaan ook ’n sigbare teenwoordigheid hê by die KKNK, die Suidoosterfees, die Woordfees en die Kalfiefees. Ek is skoon uitasem.

Ek sal ook op die toekoms fokus.

Sal Kaaps ooit deel word van die kurrikulum?

Is daar jonger skrywers wat Small se oeuvre verder gaan neem? Indien wel, wie is hulle en waar is hulle? Hoe sien bruin mense hul toekoms met Afrikaans?

https://adamsmallfees.co.za/

Die Adam Small-fees vind hierdie naweek plaas, en jy bied die Adam Small-gedenklesing aan. Wat kan mense wat hierdie lesing wil kom bywoon, verwag? Ek sien op die program staan daar dat ’n kort program van Adam Small se werk hier aangebied sal word.

In my lesing fokus ek op Small se werk, sy verlede en sy filosofie oor Kaaps as letterkundetaal. Ek verwys na sy stryd om erkenning vir Kaaps as synde ’n kombuistaal en hoe hy hom afgesonder het toe sy eie mense in hom begin twyfel het. Ek verwys na die stryd agter die skerms om hom die Hertzogprys te gee, en fokus op sy werk wat die apartheidswette uitgedaag het. Daar sal ook van sy gedigte opgevoer word en selfs gesing word terwyl ek my lesing lewer.

As jy dink aan Adam Small: Wie was hy vir jou? Wat van sy werk of sy menswees het jou nog altyd die meeste aangegryp?

Afgesien daarvan dat hy en my ma verlangs familie is, was Adam Small my mentor. Sy foto het agter my in my kantoor gehang. Hy het van Kaaps ’n letterkundetaal gemaak en ek glo soos André P Brink dat Kanna die beste drama in Afrikaans is. Ek het sy werk, sy gedigte en dramas, en veral Krismis van Map Jacobs, met oorgawe in my klasse by die US aangebied.

............
Afgesien daarvan dat hy en my ma verlangs familie is, was Adam Small my mentor. Sy foto het agter my in my kantoor gehang. Hy het van Kaaps ’n letterkundetaal gemaak en ek glo soos André P Brink dat Kanna die beste drama in Afrikaans is. Ek het sy werk, sy gedigte en dramas, en veral Krismis van Map Jacobs, met oorgawe in my klasse by die US aangebied.
...............

Hy en sy vrou en ek en my vrou het soms saam uitgegaan. Dan het hy my aangemoedig om op te staan vir dit waarin ek glo. En gemotiveer om te skryf, “Want wie gaan al daai boeke skryf wat so nodig is as jy dit nie skryf nie, Michael?"

Lees ook:

Kollig op akademikus Michael le Cordeur: Moedertaalonderrig en leesbegrip

SteedsDink met LitNet Akademies: Michael le Cordeur oor sy akademiese navorsing

’n Strategie vir die insluiting van Kaapse Afrikaans by die formele skoolkurrikulum

Die Adam Small Boekefees 2025: ’n onderhoud met Darryl David

Adam Small (1936–2016)

Resensie: Krismis van Map Jacobs deur Adam Small

https://argief.litnet.co.za/article.php?news_id=17804

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top