
Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (UVSA) moedig Suid-Afrikaners aan om Nasionale Boekweek 2025 te vier. Naomi Meyer het ‘n paar kinderboekuitgewers om hul boekkeuses gevra. Hier is Simone Hough se kinder- en jeugboekhoogtepunte van die week.
Die Tjoppie-reeks – regtig die lekkerste pret vir voorlees vir kleintjies tussen 2 en 4 jaar. Tjoppie het al baie harte gewen en die reeks is onder ons topverkopers. Dit is ook my eerste keuse vir ’n verjaardaggeskenk vir enige kleuter. Daar is al ses boeke in die reeks, asook twee kartonboekies vir 0–2-jariges. Tjoppie se sussie en Tjoppie gaan skool toe is die nuutste titels in die reeks.
Duistermaan deur Jaco Jacobs. Dit is ’n splinternuwe grilstorie deur Jaco Jacobs vir 8–12-jariges. ’n Klein padstal in die berge en vreemde geluide in die nag ... Wat meer kan ek sê! Vir dapper lesers wat nie bang is vir die donker nie.
As ek jy was deur De Wet Hugo. Jy gaan hardop lag en huil oor dié lieflike storie. Jong tieners skryf reeds vir De Wet Hugo briewe oor hoe hierdie boek hulle geraak het. Met temas soos selfbeeld, vetvernedering, eetversteurings, boeliegedrag en geestesgesondheid, alles verpak in ’n skreeusnaakse "body swap"-avontuur, is hierdie ’n moet-lees vir elke meisie. Vir 8–12-jariges.
Lees ook:
Nasionale Boekweek 2025: Michelle Cooper se kinderboekkeuses
Nasionale Boekweek 2025: Miemie du Plessis se kinderboekkeuses

