Nasionale Boekweek 2025: Nadine Petrick se kinderboekkeuses

  • 0

Die Uitgewersvereniging van Suid-Afrika (UVSA) moedig Suid-Afrikaners aan om Nasionale Boekweek 2025 te vier. Naomi Meyer het ’n paar kinderboekuitgewers om hul boekkeuses gevra. Hier is Nadine Petrick van PRH/LAPA se kinder- en jeugboekhoogtepunte van die week.

Dis moeilik om te kies, want ek het ’n rak vol boeke vir kinders en jongmense wat my hart laat sing. Ek gaan dus volstaan met die héél nuutstes wat ek met ’n geruste hart kan aanbeveel.

The witching kitchen (Martinus van Tee). Die skrywer en illustreerder (en voorleser, as jy die QR-kode gaan skandeer) is een en dieselfde mens, en mens kan sien hy het hope pret gehad terwyl hy aan die projek gewerk het. Maar nie naastenby soveel pret soos wat die lesers van die boek gaan hê nie! Ek het uit my maag uit gelag van pure plesier en lekkerte. (Vir lesers 5 jaar en ouer.)

Die dertiende dag in Chengdu (De Wet Hugo). Ek het die boek in een go deurgelees, want ek kon nie my nuuskierigheid beteuel nie. (En ook: Ek was ’n bietjie bang.) As jy hou van grillers en reekse soos Wednesday en allerhande vreemde kulture en spoke en dinge, dan gaan jy mal wees oor dié boek! De Wet is die koning van die genre. (Vir lesers 11 jaar en ouer.)

Hoe haal ek nou asem? (Cliffordene Norton). Om ’n ouer te verloor is ’n ongelooflik verskriklike ding, en as jy ’n tiener is, is dit amper ondenkbaar tot dit gebeur. Hierdie boek pak dié tema met groot sensitiwiteit en deernis aan; en dis so mooi geskryf. Dit het dadelik ’n spesiale plek op my boekrak gekry. (Vir lesers 13 jaar en ouer.)

Lees ook:

Nasionale Boekweek 2025: Simone Hough se kinderboekkeuses

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top