Die Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2023: ’n onderhoud met Steward van Wyk

  • 0

Foto van Steward van Wyk: Naomi Bruwer

Die Universiteit van Wes-Kaapland kondig graag aan dat aansoeke ingewag word vir die sewende toekenning van die Jan Rabie & Marjorie Wallace-beurs.

Hierdie beurs, befonds deur ’n ruim bemaking van wyle Marjorie Wallace, wil hoofsaaklik ’n belowende of gevestigde skrywer in staat stel om vir ’n jaar lank te fokus op ’n projek in skeppende skryfwerk in Afrikaans. Die skryfprojek moet op publikasie gerig wees.

Die beurs beloop R475 000. Dit word toegeken in die gees van Jan Rabie en Marjorie Wallace se werk en strewe ten opsigte van Afrikaans as die taal van ’n breë gemeenskap.

Hier is nog besonderhede.

Persverklaring: Jan Rabie & Marjorie Wallace-Skrywersbeurs 2023


Steward van Wyk praat met Naomi Meyer oor die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs waarvoor binnekort weer aansoek gedoen kan word.

Steward, dis baie opwindend dat die Jan Rabie Marjorie Wallace-skrywersbeurs weer beskikbaar is sodat skrywers hiervoor kan aansoek doen. Wat is die agtergrond van hierdie beurs? Hoe lank word dit al toegeken? Wie presies was Jan Rabie en Marjorie Wallace en waarom was dit vir hulle van soveel belang om skrywers van die toekoms finansieel en tydsgewys in staat te stel om suksesvolle romans te kan lewer?

Ek moet eers aan die breë skrywersgemeenskap en belangstellendes verduidelik dat hierdie rondte van die beurs effens laat is weens die impak van die Covid-19-pandemie op die werksaamhede van die universiteit. Soos ook by ander instellings moes daar ’n aantal aktiwiteite uitgestel word, maar noudat ons weer na ’n groter mate van normaliteit terugkeer, kan dit hervat word.

Marjorie Wallace het in haar testament aangedui dat die opbrengs van haar boedel bemaak word aan die Universiteit van Wes-Kaapland wat dit as ’n aparte fonds moet belê en dat die rente gebruik word vir ’n beurs wat ’n skrywer in staat moet stel om aan ’n skryfprojek te werk vir ’n tyd lank sonder die bekommernis om ’n inkomste te genereer.

........
Aansoeke word nou ingewag vir die sewende beurs. Vorige ontvangers was André P Brink (2010), Willem Anker (2012), SJ (Fanie) Naudé (2014), Ronelda Kamfer (2016), Nathan Trantraal (2018) en Valda Jansen (2020).
..........

Aansoeke word nou ingewag vir die sewende beurs. Vorige ontvangers was André P Brink (2010), Willem Anker (2012), SJ (Fanie) Naudé (2014), Ronelda Kamfer (2016), Nathan Trantraal (2018) en Valda Jansen (2020).

Jan Rabie was deel van die Sestigers in die Afrikaanse letterkunde en die persoon wat dié beweging ingelei het met sy vernuwende bundel kortverhale Een-en-twintig. Terwyl hy in Parys was, het hy die Skotse skilder Marjorie Wallace ontmoet. Hulle huis in Cheviot Place, Groenpunt en later in Onrus was ’n belangrike bymekaarkomplek vir skrywers en kunstenaars. Soos JC Kannemeyer in sy biografie oor Rabie aandui, het hulle ’n eenvoudige lewe gelei en hulle toegewy aan die skryf- en skilderkuns. Vandaar die voorneme om kreatiewe mense finansieel by te staan.

Daar het boeke van formaat reeds vanweë hierdie skrywersbeurs ontstaan. Philida, ’n slaweroman, Buys, ’n grensverhaal, Die derde spoel, Kompoun. En nog meer. Vorige ontvangers was André P Brink, Willem Anker, SJ Naudé, Ronelda Kamfer, Nathan Trantraal en Valda Jansen. Behalwe dat die skrywers wat hierdie boeke geskryf het, talentvol is, bied die beurs een van die mees waardevolle dinge waarvoor ’n skrywer kan droom: tyd. Tog beskik baie mense oor tyd en skryf nie noodwendig sulke grootse boeke nie. Hoe word die keuringsproses gedoen en hoe weet die keuringspaneel dat hulle ’n goeie uitkoms sal kan sien?

Die keuring word gedoen deur ’n beurskomitee wat deur die bestuurskomitee aangewys word vir elke rondte. Dit bestaan uit die voorsitter of sy/haar verteenwoordiger en twee persone uit die skrywers-/uitgewersgeledere. In al die vorige gevalle was die besluit eenparig. Die verskillende beurskomitees was oortuig deur die haalbaarheid, literêre meriete en vernuwende elemente in die voorleggings. Daar is geen ander kriteria wat geld nie, soos dat die beurs moet gaan aan ’n opkomende skrywer of iemand uit ’n bepaalde groep.

Wat is vir jou persoonlik ’n opwindende aspek van hierdie projek en om daarby betrokke te wees?

Ek moet noem dat ek tans net ’n addisionele lid van die bestuurskomitee is. Dit was in die verlede vir my baie interessant en opwindend om te sien watter wonderlike projekte voorgelê word en hoe dit uiteindelik realiseer. Ek is baie bly dat die beurs kan doen wat Rabie en Wallace in vooruitsig gestel het.

............
Dit was in die verlede vir my baie interessant en opwindend om te sien watter wonderlike projekte voorgelê word en hoe dit uiteindelik realiseer. Ek is baie bly dat die beurs kan doen wat Rabie en Wallace in vooruitsig gestel het.
.............

As jy na die Afrikaanse letterkunde op hierdie tydstip kyk, hoe lyk dit anders as voor die vorige beursaansoektydperke?

Die beurs is baie gesog en het ongetwyfeld ’n groot impak op ontwikkelinge in die Afrikaanse letterkunde. Dink net daaraan dat die twee vorige wenners, Anker en Naudé, sedertdien pryswennerromans geskryf het, Skepsel en Dol Heuning, onderskeidelik.

Ek verwag dat ons weer vanjaar baie aansoeke gaan kry, gegewe die impak van die pandemie en dat daaruit ’n treffende voorstel gekies gaan word.

Wat moet voornemende beursaansoekers nou doen om hulle sake agtermekaar te kry en voorleggings te stuur? Sal jy dalk praktiese reëlings uiteensit sodat elk wat hier lees en wil aansoek doen, presies weet hoe om die aansoek te rig?

Die vereistes word in die advertensie en inligtingstuk uiteen gesit. Uit my ervaring met die keuring is dit belangrik dat aansoekers ’n deeglike voorstel voorberei waarin hulle aandui dat die boekprojek goed deurdink is, haalbaar is en binne die gegewe tyd voltooi kan word. ’n Aanduiding van die tydsverloop met die navorsing en skryf en hoe die finansiële inspuiting gaan help, kan bygevoeg word. In die gees van Rabie en Wallace se vernuwende en inspirerende kreatiewe werk kan dit dui op verruiming en kritiese omgang met die diskoerse van ons tyd.

Lees ook:

Nathan Trantraal (1983–)

’n Bosluis, Billy the Kid en Coenraad de Buys: Die spore van legendes in die veld

PJ Philander-huldiging, Tuin van Digters 2021: ’n Oorsig

Uit die argief: Jan Rabie (1920-2001). Een persoonlijke herinnering

Steward van Wyk gesels oor die uitkomste van die Jan Rabie en Marjorie Wallace Skrywersbeurs

Uitnodiging: Jan Rabie & Marjorie Wallace-gedenklesing deur SJ Naudé

Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2020 toegeken aan Valda Jansen

Die Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs kry ’n Anker

Fanie Naudé wen Jan Rabie & Marjorie Wallace Skrywersbeurs vir 2014

Jan Rabie & Marjorie Wallace-lesing: Soos ’n koeipaal op die plaas

Jan Rabie / Marjorie Wallace Lecture: Ground Zero – the South African literary landscape after apartheid

Jan Rabie & Marjorie Wallace-skrywersbeurs 2020

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top