Op die redakteur se lessenaar
Nuut by Naledi: Uilvlug in die skemer deur Anton A van Niekerk
2025-10-29Idees is die bloedsomloop van beskaafde samelewing. Idees is daardie denkmiddele waarmee ons interpreterend probeer sin maak van die wêreld van ons ervaring. Anton van Niekerk, bekende filosoof van Stellenbosch, se rubrieke, wat in hierdie bundel versamel word, begelei sy lesers in sy eie volhardende soeke na sin, maar deins nie terug vir onkonvensionele en kontroversiële gesigspunte wat hy deurentyd aan die orde stel nie.
Nuut by Naledi: Opgeklim en weer gery deur Dirk van Zyl Smit
2025-10-29Dirk van Zyl Smit bied vir die leser motivering en praktiese wenke oor die omkeer van ’n negatiewe situasie in ’n suksesverhaal. Deur positiewe denke, geloof en harde werk het hy dit reggekry om een keer meer op te staan as wat hy geval het. Sy lewe was een van afval en seerkry, maar opklim en weer ry.
Nuut by Queillerie: Die laaste leuen deur Anita du Preez
2025-10-22Sophia het weer een van die episodes gehad waar sy eenvoudig wegraak. Asof sy in die put is waarin sy as kind met haar troetelkuiken, Rebecca, geval het. Swart. Niks. Toe sy bykom, vind sy haar man, die popster Max Bladen, met ’n bloederige wond aan sy kop. Wie het Max reg hier in hul leefkamer aangeval? Dit kan tog nie wees dat sý ... ? Sy sal bitter vinnig ’n manier moet vind om haar onskuld te bewys – al kan sy niks onthou nie.
New from Tafelberg: Healing the mother wound by Moshitadi Lehlomela
2025-10-22A much-anticipated and requested follow-up from the author of The girl who survived her mother, this is a comprehensive guide for individuals healing from the mother wound – psychological trauma resulting from maternal neglect, abuse, or emotional unavailability. This is a must-have guide for the modern woman ready to soar.
Nuut by Naledi: Briewe van heldinne vertaal deur WJ Henderson
2025-10-22Agtien beroemde vroue uit die Griekse mitologie en geskiedenis skryf aan hulle minnaars om te verneem hoekom hulle nie skryf of terugkom nie. Die tragiese ironie is dat die helde óf omgekom óf iemand anders gevind het. Die briewe vertoon ’n wye spektrum van gevoelens, gedagtes, omstandighede en gedrag. Die ongeveer vyf-en-twintigjarige Ovidius, ’n Romeinse man in die laaste dekade vC, verbaas die leser van vandag met sy uitgebreide kennis van die mitologie en vernuftige skildering van die vroulike psige.
Nuut by Naledi: Vandagsedag deur Lanie van Reenen
2025-10-22In Vandagsedag deel Lanie van Reenen die juwele van die kleiner, onder-die-radar-lewe; die huis wat sy liefderik restoureer in die plattelandse dorpie waar sy land, hoe sy, ten spyte van die beperkinge wat met die ouderdom saamkom, steeds ja sê vir avonture. Sy beleef die laaste jare van haar ma se lewe intens en bring haar eie gedagtes oor oudword in perspektief. Sy verlustig haar in die klein detail van ’n vervullende alleenlewe, besef dat sy dit tot ’n kunsvorm kan verhef in die wete dat al wat sy – ons almal – het, is inderdaad vandag se dag.
Nuut by Tafelberg: Die drie weduwees deur Irma Venter
2025-10-16Ami het geweet sy gaan eendag moet afskeid neem van Paul de Jager, die afgetrede polisiegeneraal. Maar wat sy nie verwag het nie, is sy laaste opdrag aan haar: Sy moet met die hulp van sy drie eksvroue na ’n stokou onopgeloste saak kyk.
Nuut by Queillerie: Sarah plus een deur Kristel Loots
2025-10-16Sarah het geen begeerte om met grasie oud te word nie. Sy dra onpaar oorbelle, ’n groot sonbril en haar hare is bloedrooi gekleur. Wat sy wel nie op haar ouderdom verwag het nie, is om na haar 55ste martriekreünie genooi te word.
Nuut by Lapa: Aksieheld Austin: Redding op die rooi planeet deur Fanie Viljoen
2025-10-16Teen die agtergrond van ’n Marsagtige landskap is hierdie avontuur vol spanning, aksie en onverwagte kinkels. Sal Ewald sy titel as die ware Aksieheld Austin behou, of sal hy deur sy mededingers oorskadu word?
Nuut by Lapa: ’n Jaar in my lewe deur Louis Pretorius
2025-10-16’n Valentynssokkie en ’n wolkbreuk. ’n Rekenaarspeletjie en ’n oomblik in die fliek. ’n Laataandgesprek met Eurythmics se "Sweet dreams" wat speel. ’n Vonk.
Nuut by Queillerie: Eleksie op Erdvark deur Rudie van Rensburg
2025-10-16Soois Swart se sukkelende koerantjie op Erdvark in die Knersvlakte berig sonder moderne tegnologie oor die naderende munisipale eleksie. Vir die eerste keer in ’n dekade word die BA Minus deur twee ander partye teengestaan.
Nuut by Human & Rousseau: Sweetie: Stories deur Nataniël
2025-10-09Hierdie splinternuwe versameling van Nataniël bevat 31 stories – 5 in Engels, 26 in Afrikaans. Verskeie van die stukke is uit Nataniël-produksies oor ’n periode van twee jaar: Ring van vuur, Nineveh song, Cake topper en Duif.
Nuut by Human & Rousseau: Al die swendelaars deur Chris Karsten
2025-10-09Op die vooraand van speurder Arrie Dogh se aftrede beland ’n oënskynlik doodgewone inbraaksaak op sy lessenaar. En wanneer hy begin ondersoek instel na die inbrekers op Louis Jooste se perdeplaas neffens Wildernis, besef hy daar skuil ’n slinkse slang in die gras. Waar begin die storie wat Arrie eindelik oorvertel? By die Turkse perdekopers? By Jooste se ponzi wat Bertie en vriend Diek se neseiers ingesluk het? Of begin als by die miljoene wat uit ’n rusbank op Jooste se stoetplaas verdwyn het?
Nuut by UJ Press: Frederik Van Zyl Slabbert: Soekende profeet deur Albert Grundlingh
2025-10-09Frederik van Zyl Slabbert is al beskryf as die beste landsleier wat Suid-Afrika nooit gehad het nie. Met hierdie boek word gepoog om ’n gebalanseerde geheelbeeld van ‘n enigmatiese figuur te bied. Slabbert was nie iemand wat in die heldegalery van Suid-Afrika opgeneem is nie. Hyself sou dit ook nie so verkies het nie. Maar sy nalatenskap, ook vir Afrikaanse mense, is nie daarom van mindere belang nie.
Nuut by Tafelberg: Met ander woorde deur Wilna Adriaanse
2025-09-30Toe Kristina een aand vermis raak nadat sy gaan draf het, bel haar huismaats die polisie. Hulle kry haar in die vroeë oggendure teen die berg. Sy kan nie onthou wat met haar gebeur het nie; daar is ook geen verklaring vir die drastiese persoonlikheidsverandering wat sy ondergaan het nie. Ten einde raad word die hulp van psigiater Ben Krige ingeroep.
Nuut by Best Books: Lees en kyk met begrip: Graad 9 AFR HT, saamgestel deur Marnel Agenbag
2025-09-23Die Lees en kyk met begrip-reeks vir die senior fase bied splinternuwe KABV-gerigte geskrewe en visuele tekste om leerders se leesbegrip te versterk. Huistaalleerders in Graad 9 sal aanklank vind by die inhoud wat met sorg uitgesoek is om aan te sluit by hul ervaringswêreld en taalvermoëns.
Nuut by Best Books: Lees en kyk met begrip: Graad 8 AFR HT, saamgestel deur Frans Mostert
2025-09-23Die Lees en kyk met begrip-reeks vir die senior fase bied splinternuwe KABV-gerigte geskrewe en visuele tekste om leerders se leesbegrip te versterk. Huistaalleerders in graad 8 sal aanklank vind by die inhoud wat met sorg uitgesoek is om aan te sluit by hul ervaringswêreld en taalvermoëns.
Nuut by Human & Rousseau: Kleinkat 1: Kleinkat se strokiesklub deur Dav Pilkey
2025-09-17Kleinkat leer vir ’n skool paddavissies hoe om hul eie strokiesprente te skep. Terwyl die paddavissies se wilde verbeeldings hulle na verskillende vertelgenres lei – van ’n tandeborsel wat ’n prokureur wil word tot ’n kaastoebroodjie-monster – sal lesers leer oor samewerking, empatie en vreeslose selfuitdrukking.
Nuut by Human & Rousseau: Weg is nie ’n plek nie deur Santie van der Merwe
2025-09-17Natasja bevind haar vroegoggend op die snelweg, tien ure noord van Kaapstad. Al haar besittings is agter in die kar en sy sweer sy sit haar voete nooit weer naby Johnny nie. Eers nadat sy op die N18 afgedraai het, onthou Natasja: George, haar pa se boesemvriend, woon nog op Lelievlei. Miskien moet sy gaan aanklop?
