Lesersindruk: Bloei + Blom

  • 0

Klik op die prent om die video te sien. (Beeldmateriaal verskaf deur dieboek.com.)

Bloei + Blom: ’n Viering van Afrikaans
’n Konsep van Nataniël
Samestellers: Ingeborg Pelser en Elmari Rautenbach
ISBN: 9781928446989 

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.

Die luukse en indrukwekkende boek Bloei + Blom: ’n Viering van Afrikaans (Konsep: Nataniël; Samestellers: Ingeborg Pelser en Elmari Rautenbach) het pas verskyn en is ’n waardevolle toevoeging tot die gesprek oor Afrikaanssprekendes wat oor die laaste 100 jaar belangrike bydraes in ons land gelewer het.

Die boek is pragtig verpak en gedruk, met glansryke volkleurfoto’s en goed deurdagte vertellings oor elke persoon. Dit is stylvol en aandagtig aanmekaar gesit, en voel soos ’n kunswerk in ’n mens se hande.  

Nataniël skryf op die agterblad:

So hier is dit nou, die suksesverhale van 200+ Afrikaanssprekendes, net ’n handvol – daar is nog vele, sommige bekend, ander tot nou toe feitlik geheim. Word trots, word geïnspireer, word vies, word jaloers, of begin net werk. Hierdie proses was ’n reuseles. Ek weet te min, ek gun te min.

Dit is inderdaad ’n reuseprojek: Die profiele begin met Eugène Marais en strek oor operasangers soos Virginia Davids, akteurs, boere, atlete, sakemense, chefs en nog vele meer.

Dit is ’n skatkis van inligting, met amper 240 bladsye van foto’s en persoonlike vertellings oor elke persoon. Dit is ’n viering van Afrikaans en die mense wat op verskeie gebiede belangrike bydraes gemaak het. 

Nataniël skryf ook in die inleiding oor die uitdagings wat so ’n boek bied en die besluite rondom wie ingesluit moet word en wie moet oorstaan na Volume II. Dit is juis hier waar die enigste haakplek inkom – en nie as kritiek op die boek nie, maar eerder oor die kwessie van die vertel van stories. Vanuit ’n genderperspektief is dit opvallend dat daar ongeveer 132 mans teenoor ongeveer 53 vrouens verskyn (’n benaderde telling). Veral in die sportgedeelte is dit redelik opvallend – slegs Tatjana Smith, Esther Brand en Natalie du Toit word genoem terwyl 31 mans genoem word. In die gedeeltes oor tegnologie en medisyne word daar ook min vrouens genoem. Dit laat die leser wonder – is dit omdat daar vir baie jare nie aandag gegee is aan vrouens wat presteer het nie? Of het ons dalk nie die stories van die merkwaardige vroue in ons land aangeteken nie?  Of was baie vrouens weg van die kollig toe hulle hul prestasies behaal het? Atlete soos Hannele Steyn, Sunette Viljoen, Erica Terblanche en ons vrouekrieketspan wat die weg gebaan het vir toekomstige spelers, verdien na die mening van hierdie leser ook hul plek in hierdie tipe boek.

Dit is wel so dat as ’n mens eers begin dink aan die talle groot geeste wat nog ingesluit sou kon word, ’n mens besef dat dit ’n onbegonne taak is – die boek is reeds gewigtig en sou nie veel meer kon byvoeg sonder om onhanteerbaar te word nie. Dit is wel belangrik dat ons meer stories van vrouens opteken sodat hul stemme nie vir toekomstige geslagte verlore raak nie.

Hierdie boek bring die stories van mense wat dalk voorheen nie bekend was nie, aan die lig. Dit vertel die verhale van mense wat hul drome gevolg het, ten spyte daarvan dat hulle dikwels in moeilike omstandighede begin het. Dit is ’n boek ter viering van Afrikaans, maar dit is ook een oor hoop en die seëviering van die menslike gees.

Die span wat aan hierdie versameling gewerk het, het dit reggekry om ’n wye reeks stories en persoonlikhede in een volume vas te vang, vasgebind met die goue draad van die Afrikaanse taal wat deur elkeen se wese gevloei het. Dit is ’n belangrike toevoeging tot die Afrikaanse geskiedenis en een wat ’n plek op die boekrak verdien.

Soos Nataniël in die inleiding skryf:

Dit is my hoop dat ’n bloedjong siel hierdie boek kan optel en hulleself iewers herken. Iemand opspoor wat inspireer. Iewers tussen die woedendes en onverklaarbares iemand sal vind wat met hulle praat, wat wys daar is hoop en dapperheid.

Ek glo hierdie boek sal dit regkry.

Lees ook:

Herinneringe aan Jan Boland Coetzee

Ons Alma, entoesiastiese skrywersvriend en kunsbeskermer

Hoe kan daar nie meer ’n C Johan Bakkes wees nie? Groetwoorde deur Gerrit Rautenbach

Dis nou al ’n jaar: vir Anastasia de Vries

Herkomsseminaar: Afrikaans sonder grense

Fotoblad: Die Afrikaans van die Kaapse Moslems-bekendstelling

Oor Griekwa-Afrikaans

Die veelrassige storie van Afrikaans

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top