
Tydens Die wolkversamelaars se boekbekendstelling in 2019. Vlnr Jean Meiring, Alma, Jenine Coetzer en Nadia
Alma Kennedy 17/10/1969 – 8/7/2025
Ek het Alma heel gepas by ’n boekbekendstelling ontmoet. Hierdie een, die 2011-bekendstelling van Melt Myburgh se digbundel, Oewerbestaan, het by haar en Nico se ruim huis vol lig, boeke en helder kunswerke plaasgevind. Die lang, mooi vrou met die lewendige bruin oë het dadelik my aandag getrek en gehou.
Hierna het ons vriendskap gegroei en het sy my ingetrek by haar groot vriendekring en my help tuis voel. Sy was die gom wat ’n besondere groep vriende bymekaargehou het.

November 2023, by Etienne van Heerden se bekendstelling van sy roman, Gebeente
Alma het van skrywers gehou, dalk omdat sy self ’n boek of twee in haar gehad het. Ons het op ’n dag besluit om saam te begin skryf aan ons onderskeie projekte, maar sy het nie te lank daarna nie gesê dat sy nog nie reg is nie. ’n Mens het wel geweet jy sou haar by ’n Johannesburgse boekbekendstelling, boeke in die hand, raakloop. Ek was gelukkig genoeg om twee Woordfeeste in Stellenbosch saam met haar mee te maak en ook om haar te hê as mede-gesprekvoerder tydens die bekendstelling van my derde roman in 2019. Tipies Alma, het sy dit as ’n feesviering gesien en die wyn geborg, al het sy self nie ’n druppel gedrink nie. Sy het daaraan geglo om die suksesse van vriende te vier. Kortom, sy het ons lewens lekkerder en beter gemaak met haar eie lewenslus.

Alma in Moskou
Sy het die wêreld vol gereis en het ’n hoë posisie as regsgeleerde beklee. Haar werk was veeleisend, en haar skootrekenaar nooit ver nie. ’n Kollega, Nico Geldenhuys, ’n kommersiële regsadviseur wat aan Alma, die algemene bestuurder: korporatiewe en regsake, by ’n groot mynmaatskappy rapporteer het, onthou haar só: “Sy het nie aan mikrobestuur geglo nie. Etikette en werkstitels kon haar ook min skeel, maar sy was bedag op protokol en korporatiewe etiek. Haar span se professionele en persoonlike groei was ’n prioriteit. As regsadviseur was sy ou-skool. Met haar lang lys van kwalifikasies (drie meestersgrade, gekwalifiseerde transportbesorger en notaris, sowel as ’n belastingdiploma) kon sy uit ’n breë verwysingsraamwerk haar bestuur met raad bedien.” Hy voeg by, en hier kan ek vanuit ’n persoonlike oogpunt heelhartig met hom saamstem: “Laastens, maar nie die minste nie, Alma het nooit wrokke gekoester nie. Meningsverskille is vinnig bygelê en oomblikke later kon ons weer daaroor lag.”

In die Russiese Arktika in 2020
Taai regsgeleerde, ja. Maar ek glo sy het dit reggekry om haar sagter kant as reisiger, kunsbeskermer en skrywersvriend uit te leef. Sy het vele vriende en kennisse opdrag gegee om vir haar iets te maak, ook wanneer sy weet dat daar geldnood is. Haar aanmoediging en ondersteuning was opreg en sonder enige verwagtinge van haar kant af. Trouens, sy wou nie haar ondersteuning aan die groot klok opgehang gehad het nie.
Ek het ’n skildery van akrielblomme in ’n nagtuin gemaak waarop ek trots was, maar wat ek ook besef het nie groot kuns is nie. Ek het nie veel verftalent nie, net entoesiasme. Alma het daarvan gehou en gevra of sy dit kan koop. Ek was oorbluf en gevlei, maar onder die indruk dat sy bloot my selfvertroue ’n hupstoot wou gee. Toe hang sy die blomme in haar indrukwekkende Kalkbaai-huis, die Art House, se ingangsportaal op. Tussen die ander “regte” kuns. Dit is die tipe vriendin wat Alma was.

Nog ’n lughawe, hierdie keer saam met drie laerskoolvriende
Dit is nie net kunstenaars wat by Alma se ruimhartige ondersteuning en aanmoediging gebaat het nie. Deur die loop van ons vriendskap kon ek twee en twee bymekaarsit en het ek bewus geword van naamlose mense wat sy gehelp en ondersteun het. Sy sou glad nie daarvan hou dat ek dit hier ophaal nie. Sy het haar ding stil gedoen, soos die keer toe sy aangedring het daarop om die matriekdogter van ’n huishulp van my se skoonheidskursus te help borg. Toe ek kapsie maak, het sy op haar ferm manier “Nonsens!” gesê, en dit was dit. Dieselfde het gebeur toe my ma ’n snoepwinkel in haar aftreeoord oopgemaak het en Alma help voorraad aankoop het.

In haar element as joviale, vrygewige gasvrou
Sy het ’n voorliefde vir naïewe kuns gehad wat haar heerlike humorsin uitgebeeld het. Behalwe vir kunswerke van hoek tot kant teen die mure, was hul huise ook vol vrolike, eksentrieke beeldjies wat as tafelversierings bygedra het tot plesierige partytjies. Alma se Desember-feeste het ’n instelling geword, met chaotiese, oproerige geskenkuitruilings. Dit het vir baie van ons ’n merker geword; die einde van die werkjaar is in sig en die vakansieseisoen word nou ingelui.

Alma se laaste verjaarsdagviering, 2024
Haar verjaarsdagfeeste was nog ’n hoogtepunt op talle van ons se kalenders. Sy het die uitnodigings vir Oktober al vroeg in Januarie uitgestuur om seker te maak soveel moontlik vriende kan saamkuier. Verlede jaar se partytjie was moeiliker; ons het geweet hoe siek sy is.

Alma en Nico, haar groot liefde
Ons het verbete gedans, wou ons hartseer besweer en het dit soort van reggekry, totdat Alma in haar toespraak soos gewoonlik na Nico, haar groot liefde en eggenoot van langer as 30 jaar, as haar “current husband” verwys het, maar sagter bygevoeg het: “And my last one.”

Kleinboer en Eben Venter by laasgenoemde se 2018-Johannesburg-bekendstelling van Green as the sky is blue
Sy het ’n besige lewe gelei – en dit is lig gestel. Haar energie was verstommend, selfs vir jong vriende. Sy het probeer om drie keer ’n jaar oorsee te gaan en die meeste naweke deur Suid-Afrika te reis. Skaars ’n maand gelede het sy nog gesê sy wil Bolivië toe. Sy het vasgeklou aan haar reisdrome; sy wou so graag leef.

Nog ’n groot, vrolike verjaarsdagviering
Alma was ferm wanneer nodig en ook pragmaties. Ons het nou die dag weer gelag vir haar reaksie op die ongeluk by vriendin Suzy se verjaarsdagparty. Ons het vir Alma vertel van die aand toe ’n bekende akteursvriend sy hand verbrand het met vuurwarm chillisop en die partytjie moes verlaat om na ongevalle te gaan. Drama. Toe ons klaar is met die storie, vra Alma: “Wat eet julle toe?!”
Die laaste keer wat ek van Alma gehoor het, is so twee weke voor haar dood. Sy het ’n paar helder dae tussen enorme pynepisodes gehad en ek het pas ’n reisartikel in die Sarie gepubliseer. Ek het ’n Facebook-plasing hieroor gemaak, en Alma het kommentaar gelewer: “Well done!” Dit is die tipe vriendin wat sy vir ons almal was.
Ek was onlangs by my dokter, ’n vennoot van Alma se huisdokter. Toe ek in hom vasloop, praat ons ’n bietjie oor Alma en sê hy, hy is verstom dat sy nog staande is; haar siekte is aggressief. Ek het weer besef dat sy sou baklei tot die einde toe.
Alma Kennedy was groter as lewensgroot en sy het mense na haar toe aangetrek. Toe die nuus die oggend kom dat sy rondom middernag oorlede is, het die hadedas hier by my elders gaan lawaai, die verkeer op Beyers Nauderylaan ophou dreun en my bure se Scottie ophou blaf. Die stilte was absoluut en dit het nog nie gewyk nie.


Kommentaar
Daar was net een Alma. Sy was uniek. En sy was liefde. Ek is een wat kan getuig van haar omgee. Ons sal haar nooit vergeet nie.
Baie dankie, Nadia. Sy was regtig besonders.
Daar was en sal net een Alma Kennedy ooit wees.
Ons lewens gaan beslis valer wees. En dit voel of 'n rots in my lewe weg is, of ek meer gaan float.
Dankie Nadia, jy het haar lewe baie goed vasgevat in hierdie huldeblyk. Sy het 'n positiewe invloed op baie mense se lewens gehad.
Jy het Alma tot op die laaste t beskryf. Sy los 'n helse gat. Dankie Nadia x
Beautifully written Nadia, thank you.
Ek het haar net deur Facebook geken, maar was tog altyd beïndruk. Sy het ook gehoop ons ontmoet 'n slag in Kalkbaai. So jammer om te verneem van die lyding.
Ek ken haar nie maar wens ek was een van haar vriende! Jy het so mooi geskryf oor haar en ek is verstom dat sy so almal genooi het na haar verjaarsdag! Sy was n seën vir almal rondom haar. Mag sy 'n voorbeeld wees vir almal.
Baie dankie, Nadia, vir 'n waardige plasing vir 'n besonderse vrou.
Sooooo trots dat ek haar juffrou van st 8 tot matriek was om Afrikaans vir haar te leer. Ek salueer haar!
Baie gepas, Nadia. Baie dankie. Ek dink aan jou in jou -en julle - diepe verlies.
Dankie vir 'n lieflike huldeblyk aan 'n lieflike mens.
Alma was 'n besondere omgee-Mensch en vriend! Altyd 'n inspirasie, altyd vrolik en ondersteunend! Dankie vir die mooi huldeblyk, Nadia.
Ek het die voorreg gehad om haar een keer te ontmoet. Ons was vir lank Facebook-vriende. Na hierdie ontmoeting het ons so af en toe per WA gekommunikeer. Sy was dikwels besig en wanneer sy nie op die daad aandag kon gee aan mens se navraag nie het sy ALTYD, wanneer sy 'n oomblik kon afstaan, teruggeskakel. Ek wens ek het vir Alma beter geken - sy was FORMIDABEL!
You captured her spirit, kindness and generosity so perfectly. If willpower and love of life was enough, Alma would still be with us. She fought so hard. I miss her and the world is less colorful with her gone.
Haar voorbeeld van omgee, van volledig mens wees en van voluit lewe, laat 'n blywende indruk op my en die reusevriendekring wat sy rondom haar vertroetel het.
'n Hartsvriendin, 'n mens met soveel empatie wat tyd gemaak het vir haar vriende, iemand op wie ek altyd kon staatmaak vir 'n objektiewe opine, maar ook kennis oor enige onderwerp kon deel en 'n kleurryke, vol lewe gelei het. Die wêreld gaan haar mis!
Alma was such a wonderful person, a tide has gone out with her. Thank you for the fitting tribute.
Voor my grootgeword, sy het my altyd laat verstaan dat ek haar favourite tannie is. Omgee vir almal om haar, dit was sy. Kosbare oomblikke die laaste paar maande met haar! Te min van haar gehad!
Só mooi geskryf, dankie Nadia.