Dis nou al ’n jaar: vir Anastasia de Vries

  • 1

Dis nou al ’n jaar …

Ek het laas jaar geskryf dat ek dit nooit oor my hart kon kry om vir Anastasia “jy” of “jou” te sê nie – en ek’s steeds daar. Dié aanspreekvorm was nooit net uit respek nie; dit is (en bly) ’n gebaar van iets veel dieper: eerbied. Eerbied vir wat Anastasia beteken het, en steeds beteken. Omdat ek geweet het: Ek staan in die teenwoordigheid van iemand wie se lewe méér was as werk, méér as roeping. Iemand wie se wese self “onderrig” was. “Aanwesigheid” was. Lig.

Daar’s ’n vreemde soort stilte wat saam met die eerste herdenking van iemand se dood kom. Nie die doodse stilte van vergete dinge nie, maar daardie stilte waarin elke les, elke aanhaling, elke gebaar weer begin praat – stadig, helder, met nuwe betekenis.

Ek hoor weer die vrae. Die skerp opmerkings. Die warm, sarkastiese ondertone van ’n mentor wat altyd genoeg in ons geglo het om ons ongemaklik te laat groei.

Want dit is wat ware mentorskap doen: Dit maak nie net spasie vir jou om te leer nie, dit daag jou uit om te wórd. Om te wees. Om te leef op maniere wat die lewe van ander aanraak.

Ek het nou al gesien hoe ander begin ploeg. Jongmense wat nie wag vir toestemming nie. Wat vra. Wat skryf. Wat organiseer. Wat aanhou. En as ek mooi kyk, sien ek daardie afdruk van Anastasia se hande – nie net in hulle woorde nie, maar in hul bereidwilligheid om ongemaklik te wees ter wille van reg en geregtigheid. In hul moed om vir niks en niemand terug te staan nie.

En ja, D-34 is steeds daar – dalk ’n ander naam op die deur, dalk ander voetstappe op die vloer – maar daar’s ’n gevoel wat bly. ’n Mens weet: Hiér het iemand geleef wat mense laat glo het dat hulle kán. Dat hulle moet. Dat hulle mág.

Ek besef opnuut: Anastasia het nie net gepraat oor hoop, of oor kritiese denke, of oor goedheid sonder agenda nie. Anastasia wás daardie dinge. In elke student wat opnuut durf droom het; in elke “huiskind” wat anders uit daardie kantoor gestap het as toe hulle ingestap het. 

En ek? Ek is steeds “huiskind”.

Ek dra steeds die ewigheidsgoed en vrae wat Anastasia my geleer het om te vra. Ek dra steeds daardie ongemaklike moed wat Anastasia van ons verwag het. Een jaar later, Anastasia, besef ek dat ons nie net gehelp is om ’n stem te vind nie – ons is geleer wat dit beteken om die stem van ander raak te hoor.

En ek weet nou: Daardie “a luta continua” is nie net ’n slagspreuk nie. Dis ’n lewenshouding. Dis om te bly skryf, bly vra, bly dink, bly liefhê … sonder om aan ongemak of vrees toe te gee.

Dis hoe ons kap. Aan. Elke dag.

Rus steeds sag. Anastasia het baie gesaai. En ons sal nie nalaat om te oes nie.

Huiskind

Lees ook:

Ons het groot verloor, Anastasia

Anastasia, omdat jy geglo het ek kon

Die confidence van ’n witkind

Stacey, die gange is nou stil

Hoe Juffrou se woorde my lewe gered het: "Djy doenit’ie vi my nie, Troubles."

’n Groetwoord vir Anastasia de Vries

Sy was ’n vrou van kleur en ’n vrou van kleure: ’n Elegie vir Anastasia de Vries

Ek wens sy was my dosent ook gewees – dankie vir als, Anastasia

Anastasia was ma' net nou eenmal "Ôse Stacey"

In memoriam Anastasia de Vries

Bruggenhoofden: Anastasia de Vries lewer rigtende bydraes in kritiese herevaluering van tale, geskiedenis en gemeenskappe

  • 1

Kommentaar

  • Monica Hammes

    Ai, jy was so geseënd om die wonderlike vrou van naderby te geken het. Dankie vir die herinnering.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top