Hoe Juffrou se woorde my lewe gered het: "Djy doenit’ie vi my nie, Troubles."

  • 6

Anastasia de Vries (foto: Naomi Bruwer); Angelo Julies (foto: verskaf)

...........
Dit is 11:05, Woensdag 30 April 2014. My selfoon lui reg langs my kop, onder my kopkussing. ’n Nokia ringtone. “Hallo,” antwoord ek.
Na so 10 sekondes se stilte, wat soos ’n leeftyd voel, gil ’n stem in die verte: “Troubles! Djy sôre dat djy nóú op kampus kô. Ek wil niks hoor’ie. Ek gee nie om of djy loop, hol of taxi vat’ie. Djy is voor 12:00 by my kantoor om te skryf.”
...............

Dit is 11:05, Woensdag 30 April 2014. My selfoon lui reg langs my kop, onder my kopkussing. ’n Nokia ringtone. “Hallo,” antwoord ek.

Na so 10 sekondes se stilte, wat soos ’n leeftyd voel, gil ’n stem in die verte: “Troubles! Djy sôre dat djy nóú op kampus kô. Ek wil niks hoor’ie. Ek gee nie om of djy loop, hol of taxi vat’ie. Djy is voor 12:00 by my kantoor om te skryf.”

Nog voor ek kon sê “Juffrou ...”, druk sy die foon in my oor neer. Dis Juffrou. My Afrikaans-dosent. Anastasia de Vries, Anna of Stacey vir ander, maar vir my was sy altyd Juffrou. Sy vat nie nonsens nie. Ek het so pas haar kwartaaltoets misgeloop – AFR 331 (Teksredaksie en dokumentontwerp). Dit tel altesaam 50 punte en 40% van die vak se groottotaal.   

Ek sit op die rand van die bed en staar die verte in, terwyl ek oor die toekoms peins. Ek het nie verslaap nie, ek het nie die toets gemis nie – ek het bly lê. Doelbewus. Ek het besluit om op te gee. Op te gee op my drome. Om die hasepad te kies en op te skop.

Ek het net twee keer tevore haar klas gemis. En daarna het sy my verbied om na Pick n Pay te gaan voor haar klas, want beide kere was ek vir een of ander rede in ’n Pick n Pay  vasgevang. Sy het my daai twee kere ook gebel en op my gegil: “Troubles! Djy sôre dat djy nóú op kampus kô.”

Vandag se oproep is anders as die ander. Sonder kwade gevoelens, nes ’n ma wat haar kind vermaan en in lyn bring. Haar stem was anders as die vorige kere. Hierdie keer met meer deernis. Amper soos om te sê: “Ek het nodig dat jy hierdie doen. Dis nie belangrik vir my nie, maar vir jou.” Dit was ’n pleidooi. ’n Aanmoediging. ’n Reddingsboei in ’n stormagtige tydperk.

Ek sleep my voete met ’n swaar gemoed by die deur uit. Stadig in die pad af, op pad kampus toe. My lewe is ’n warboel. Dis asof sy my met haar kaal hande kampus toe sleep.

Oomblikke later stap ek by haar kantoordeur in – dit staan altyd oop. Ek sug en gaan sit op die leerstoel reg voor haar lessenaar. “Sit,” sê sy. “Djy het 45 minute en nie ’n sekonde meer nie.” Sy stoot die vraestel voor my neer en gaan sit in haar stoel en gaan voort om ’n e-pos met twee vingers te tik. So af en toe hou sy op tik en loer of ek oukei is.

Na so 40 minute sê sy: “Djy het 5 minute oor.” Ek pak sommer dadelik op. Ek probeer oogkontak vermy, maar haar moederlike instinkte is te skerp en sy stuur my winkel toe vir sigarette en ’n tjoklit. “Koop vi djou ook iets en hou die change.”  Die change was R134-60. “En as djy trug kô moet djy my sakke help dra tot by my lift.”

Dis asof sy weet ek kry swaar. Daar is nie geld nie en my ouers kon my verlede week net ’n R50 gee. Hulle is pensioenarisse. My sussie het gehelp, maar sy het ook net genoeg om die huishouding aan die gang te hou. My tweelingbroer doen ’n internskap en verdien net genoeg om ons huur te betaal. Ek werk as ’n studente-assistent, maar omdat ek op work study is, word 60% daarvan afgetrek vir my studies, omdat my beurs nog nie uitbetaal het nie. My rug is teen die muur en die enigste logiese uitweg is om ’n ander werk te soek.

...........
“Djy doenit’ie vi my nie, Troubles,” sê sy terwyl ons na haar lift toe loop. “Djy doenit vi djou. En vi djou ma en pa en vi Sussie. Djy doenit vi djou gemeenskap, die mense van Touws. Djy doenit vi amal wat agter djou aan kô … Dís vi wie djy ’it doen,” sê sy met dieselfde oorgawe soos toe sy vir my gesê het ek is die joernalis in haar klas.
............

“Djy doenit’ie vi my nie, Troubles,” sê sy terwyl ons na haar lift toe loop. “Djy doenit vi djou. En vi djou ma en pa en vi Sussie. Djy doenit vi djou gemeenskap, die mense van Touws. Djy doenit vi amal wat agter djou aan kô … Dís vi wie djy ’it doen,” sê sy met dieselfde oorgawe soos toe sy vir my gesê het ek is die joernalis in haar klas.

Ek sal dit nooit vergeet nie. Dit was die tweede week van die eerste kwartaal. In daardie stadium het ek net die vak geneem om maklike krediete te kry – of so het ek gedink.

“Hier is baie goeie skrywers in die klas, ouens wat goeie subredakteurs gaan maak. Djy is nie die slimste nie, maar djy is die enigste joernalis hier,” het sy voor die hele klas gesê. Ek het gelag en gesê sy maak seker ’n grap – min wetend dat ek die volgende tien jaar van my lewe in nuuskantore, by ongelukstonele, in raadsale, op misdaadtonele en in howe gaan deurbring en elke oomblik daarvan gaan geniet. En selfs ’n paar toekennings langs die pad sal inpalm. 

“Sien djou môre, Troubles,” sê sy met haar kenmerkende giggel – so ’n ritmiese stembuiging met 'n strelende toon – soos net sy kan giggel. “Ek bel djou vroeg. En moenie lat ek waggie.”

“Ja, Juffrou,” sê ek en stap huis toe met nuwe wind in my seile. Vol moed en ’n huppel in my stap.

Sy het die volgende dag gebel, en elke week, maand en jaar daarna. En na ’n stilte van so 10 sekondes sou ek altyd hoor: “Troubles!”

Lees ook:

Jeremy vannie Elsies deur Jeremy Vearey: ’n resensie

Vroue van Atlantis: ’n onderhoud met Anastasia de Vries

’n Groetwoord vir Anastasia de Vries

  • 6

Kommentaar

  • Anton Hartnick

    Partykeer is ons seëninge om met die regte mense paaie te kruis, of partykeer is dit ons ongeluk deur paaie te kruis met die verkeeede mense. Saluut aan u, "Juffrou"-dosent.

  • Ek kon haar nie so lekker sien. My bril was nie skoon genoeg nie. Ek het baie uitgemis. Ek sien nou wat ander in haar gesien het. Ek mis haar nou baie, baie met 'n hartseer hart. Ek het n bietjie te laat my bril skoongemaak. Ai! Ai! Ai togie! Stomme HENDRIKKIE. Dis ekke! K... Stom!!!

  • Elmari Potgieter

    Dankie, Angelo, dat jy my herinner watter lieflike mens sy is en altyd sal wees. Ek het haar weer ge-Antjie toe ons saam by Rapport in Johannesburg gehad het. Sy het 'n manier gehad om die absoluut perfek gepaste ding op die regte oomblik te sê, presies wanneer jy dit nodig het. Sy het diep omgegee. Daar is min mense soos sy op hierdie aarde.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top