Op Donderdag 30 November vind die bekendstelling van Vroue van Atlantis in Atlantis plaas. Menán van Heerden het met die samesteller van die boek, Anastasia de Vries, gesels oor die agtergrond van hierdie 12 verhale van inspirasie.
Wie is in die boek en wie is die ander bydraers tot die projek?
In die boek is die verhale van 12 vroue wat doen wat hulle moet om die wêreld ’n beter plek te maak, ’n genadiger plek, ’n plig wat begin by en in die gemeenskap van Atlantis in die Wes-Kaap waarvan hulle deel is. Hulle is, in die volgorde waarin hulle in die boek verskyn: Lenie Maya, Rachel Watson, Mary Tenggren, Chrissie Cloete, Mandy Jonkers, Olivia Pharo, Christine Lewis, Mary-Ann Cedras, Francis Brown, Carol Muller, Sillene Oppel en Sylvia Losper.
Diegene deur wie die vroue se verhale oorgedra word, is Eldridge Jason (medesamesteller van die boek en skrywer van Gerook) en ’n joernaliskollega van hom, Christa Prinsloo. Van die Departement Afrikaans en Nederlands (UWK) is dit ek, twee ander dosente, Marni Bonthuys en Jolyn Phillips (van wie die digbundel Radbraak onlangs verskyn het), en drie van ons studente, Chandré Cloete (tweedejaarstudent van Genadendal), Geraldine Fortuin (’n derdejaar van Citrusdal) en Ebenesia Pieters van Beaufort-Wes, wat tans in Leiden, Nederland, haar meestersgraadstudie voortsit.
Waar kom die idee vir hierdie inspirerende boek vandaan? Waarom is hierdie verhale belangrik vir die mense van Atlantis?
Ek wens ek het hierdie wonderlike idee opgedroom, maar die eer kom Suzanne van Niekerk van Lapa-uitgewers toe. Teen die einde van verlede jaar vra sy per e-pos of ek saam met ’n paar ander skrywers deel van ’n skryfprojek oor 12 vroue van Atlantis wil wees. Kyk, ek is geen skrywer nie – ek skryf wel soms, maar toe lees ek in haar e-pos dié weggooisin raak: “Of dalk wil jy dit eerder ’n projek van julle departement maak?” Met hoeveel “ja’s!!!” en uitroeptekens ek haar toe geantwoord het, kan net Suzanne vertel. Toe kry ek so ’n besadigde e-pos terug: “Ja op wat, Anastasia?” “Op ‘projek van ons departement, Suzanne’,” antwoord ek toe ewe bedees.
Toe sleep ek Eldridge by, hy vir Christa, want in ’n groeiende departement met vier permanente dosente, ek inkluis, is die oes aan grootmense met hande wat los genoeg is om nog elders ook raak te vat, maar skraal.
Aanvoorwerk moes gedoen word – nie almal wil ’n storie wees nie, en allermins dié vroue, moes ons later uitvind – afsprake vir onderhoude moes gereël word en was dit ’n storie om die vroue se tye met ons s’n te versoen! Dank Vader vir Eldridge wat by alles nog al hierdie reëlings behartig het.
Kan ons die opbrengs van die boek stort in ’n beursfonds vir ’n behoeftige, verdienstelike student in ons departement (en hopelik studente)? het ek die UWK-mense gevra. Dit sal beteken dat ons die projek vir die liefde van die saak aanpak, het ek gesê. My hart wou sommer in strome by my oë uitloop toe almal instem, en dat die beurs dalk spesifiek aan ’n student uit Atlantis toegeken moet word.
So waarom is hierdie verhale belangrik, veral vir die mense van Atlantis? Nou dít, is ’n verhaal op sy eie ...
Die Saterdag toe ons Atlantis uitry nadat ons ons “stories” opgeneem het, was ons stil, asof elkeen net ’n rukkie langer iets groter as jouself vir jouself wou hou. Ek dink ons het toe pas besef hoe belangrik hierdie verhale, hierdie vroue vir hul gemeenskap is, vir ons wat hulle ’n paar uur lank kon beleef, vir ’n land wat mense soos hulle bitter nodig het. Ons wat aan dié boek help werk het, wat ons beskou as geleiers van hul verhale, eerder as vertellers, is nie meer dieselfde mense nadat dié vroue met ons gebeur het nie.
Jy kan nie in ’n gemeenskap leef en niks doen aan die nood op jou voorstoep omdat jy reken jou lewe, en dié van jou geliefdes, is mos in orde nie, sê een van dié vroue. En dié nood is nie altyd net materieel nie; ons leef immers in ’n tyd van groeiende afstandelikheid tussen mense, hoër en stewiger skeidsmure, minder omgee, minder respek vir mekaar se menswees, toenemende geweld, fisiek en geestelik, en ’n al hoe groter behoefte aan die sagter woord, aan tyd vir mekaar, van jou hand uitsteek na jou naaste en op tasbare maniere wys: “Hier is ek. Ek is hier vir jou.”
Dis waarvoor dié vroue en hul verhale staan: dat die gebod waaroor ons as Christene so hoog opgee, “... en jou naaste soos jouself”, ’n doending is. Dis waaraan hulle ons – my en Eldridge, wat die boek help saamstel het, en die ander wat saamgewerk het – opnuut herinner het. ’n Mens vergeet soms hoe bevoorreg jy eintlik is, dat jy meer het om te gee as wat jy dink (nie noodwendig goeterse nie), en meer is as wat jy durf droom.
Want hier is hierdie 12 vroue en hulle máák tyd, al is dit net om ’n ander se pyn en swaarkry te help dra, om mense te help bemagtig oor hul regte. Hulle is vrygewig met hul vaardighede wat hulle gebruik om die lewe vir ander te verbeter. Hulle strewe van dag tot dag om die voorbeelde te wees na wie ’n jonger geslag kan opkyk en navolg, knyp soms van hul eie huisgeldjies af sodat projekte weens ’n gebrek aan borgskappe nie doodloop nie, steek hul trots in hul sak om namens ’n ander te bedel sodat ’n geliefde ’n menswaardige begrafnis kan kry. Hulle skep ’n wêreld waarin ’n bemoedigende woord vir ’n kind die verskil is tussen uitsigloosheid en drome waar maak, waar jou kind nog my kind is en myne joune, en waar mense mens is deur die mense om hulle.
Twaalf verhale van inspirasie. Waarom hierdie twaalf inspirasiefigure?
Dis ’n vraag wat van die vroue ook gevra het. Waarom húlle – daar is mos ander mense in Atlantis en die land wat meer doen as hulle? Maar hoeveel doen soveel soos hulle met so min, was ons teenvraag. In elk geval, die keuse het op hulle geval omdat hulle vroeër verlede jaar deur die ATKV vereer is as leiers in Atlantis, en ek meen Lapa se Suzanne het gereken daar is meer aan dié vroue as die kort biografiese skets van elk wat berigte oor hul ATKV-toekennings vergesel het. Sy was reg. Daar wás meer. Daar ís. En méér.
Soos jy reeds genoem het, het hierdie boekprojek geskied in samewerking met die Departement Afrikaans en Nederlands, UWK. Watter ander gemeenskapsprojekte het die departement al in die verlede van stapel gestuur?
Toe die departement meer dosente gehad het, was dit makliker om gemeenskapsprojekte naas die doseerlading te hê, en skoolprojekte saam met Afrikaans-onderwysers was veral ’n prioriteit. Die jaarlikse LOK-simposium (LOK: Letterkunde-ondersteuningskomitee) vir onderwysers wat Afrikaans aanbied, is byvoorbeeld ’n gesamentlike projek van die UWK en US. Slypskole en werkswinkels wat met die taalpraktyk te doen het, is van tyd tot tyd en afhangend van befondsing vir belangstellendes uit die gemeenskap aangebied. Die departement het die afgelope twee, drie jaar ook slypskole vir ontluikende skrywers saam met plaaslike instellings, die nuusmedia en skrywers uit Nederland aangebied. Nog projekte, veral gerig op die behoeftes van ons departement se groeiende studentegemeenskap, word in die vooruitsig gestel.