Boekbekendstelling: Vroue van Atlantis saamgestel deur Anastasia de Vries

  • 1

Inspirasie is die wagwoord!

“En ons sal nooit weer dieselfde mense wees nadat die 12 vroue met ons gebeur het nie. Dit was ’n besondere voorreg om saam met Suzanne en Eldridge Jason te werk en die wonderlikste is dat van my kollegas en ons studente deel hiervan is.” – Anastasia de Vries

Twaalf ongelooflike vroue wat ’n verskil maak tussen die bendes, die werkloosheid en die koeëls. Atlantis is steeds die verlore stad, maar hierdie twaalf vroue se verhale inspireer. Dit is ’n moetlees vir almal wat glo dat liefde en geloof ’n verskil kán maak.

Atlantis aan die Weskus was die breinkind van ’n vorige regering se “desentralisasiebeleid” – maar is tans die toonvenster van ontheemding. Uit hierdie wanhoop, staan dié twaalf vroue se stories soos fakkels in ’n lang, donker nag.

Die opbrengs van dié boek sal deur die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK) aangewend word as studentebeurse.

Wie is in die boek?

Die twaalf vroue is: Francis Brown, Mary-Ann Cedras, Chrissie Cloete, Mandy Jonker, Christine Lewis, Sylvia Losper, Lenie Maya, Carol Muller, Sillene Oppel, Olivia Pharo, Mary Tenggren en Rachael Watson. Hulle verhale strek van gemeenskapdiens aan gestremde persone, bejaardes en kankerlyers, die rehabilitasie van dwelmafhanklikes, MIV/Vigs-voorkoming en -destigmatisering, tot inspirerende vroue wat staan in die onderwys, verpleegdienste, uitsaaiwese, ’n sangeres, ’n atleet en ’n tuinier.

Die samesteller en bydraers

Anastasia de Vries is ’n bekende skrywer, joernalis en dosent.

Hierdie boekprojek is geloods in samewerking met die Departement Afrikaans en Nederlands, Universiteit Wes-Kaapland (UWK).

Ander bydraers tot die projek is skrywer en joernalis Eldridge Jason, joernalis Christa Prinsloo, sowel as ses UWK-studente: Chandré Cloete, Suné van Rooyen, Geraldine Fortuin, Ebenesia Pieters, Jolyn Phillips en Courtneigh Ess.

Die boek bevat ook ’n aantal foto’s deur Izak de Vries.

* * *

Vroue van Atlantis is by toonaangewende handelaars asook direk by LAPA Uitgewers beskikbaar. Kontak LAPA by 012 401 0700 of besoek ons webblad: www.lapa.co.za.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top