
...
Hamba kahle, comrade. Rus. Jou werk is klaar. Ons sal voortbou op dit wat jy agtergelaat het en ons sal baklei, vir ons taal, ons mense.
...
Ek staan met my kop in my hande. Dit klop verskriklik. Anastasia is dood. My keel is rou geskreeu. Anastasia is dood. Die trane val sonder keer. “Anastasia is dood,” weergalm dit binne my. Sy’s weg. “Here nee. Nie Ana nie,” prewel ek die woorde saggies. “Here asseblief laat hulle ’n fout gemaak het. Here asseblief ek smeek U,” pleit en soebat ek by die Here saggies. Maar helaas …
*
Ana jy het hierdie wêreld soos enige ander doodnormale baba binnegekom – rasend en gretig om die wêreld aan te pak. Maar die lewe wat jy gelewe het, was allesbehalwe normaal. Jy was spesiaal. ’n Ware Godsengel. Die Moeder Teresa van UWK se Afrikaans- departement. Die rolmodel vir Ravensmead se mense. ’n Joernalis, dosent en skrywer enig in jou soort. ’n Ma duisend. Nie net vir jou meisiekind nie, maar vir duisende van ons. Jou hart, deur en sak was oop vir letterlik enige een. Jy het voorwaar ’n open door policy gehad in alle areas van jou lewe.
Die eerste keer toe ek jou ontmoet het, was in 2017. Ek was ’n ou skaam en baie verskrikte eerstejaarstudent. Jy het die klas binnegekom, jou voorgestel, met jou vlegsel (daai French braid wat so eie aan jou was) gespeel, vir ons vertel hoe jy jou min steur aan mense en hul opinies en hoe jy jou lewe leef volgens jóu reëls. Ek het dadelik van jou gehou. Jou skerpsinnigeheid het my mesmerised gehad en ek wou van toe af nes jy wees. Ek het vir almal vertel van jou en het almal wat ek kon, saam my genooi na jou kantoor toe – hulle moes jou ontmoet en self sien wat ek bedoel as ek sê: “Julle, Anastasia is die Anton Fransch van Afrikaans. Julle moet net kom hoor.”
By jou het ek geleer baklei vir my taal, my reg op bestaan, my vrouwees en my bruinwees. Jy wat dit tot diep binne ons deurboor het dat ons bruin mense staan vir niemand terug nie en ons kou aan g’n agterspeen nie. Ons claim ons space en ons baklei aanhoudend vir ons space tot hulle eendag vir ons space maak sonder dat ons daarvoor hoef te baklei. Jy met jou klein gestalte, maar groot gees. My hart bloei.
Jy het in my geglo toe ek nie in myself kon glo nie. Jy het lewe in my geblaas op ’n manier soos net jy kon. Vir my oor die vingers getik as jy moet, en vir my dan altyd herinner: “Jy kan beter doen. Jy moet dit net glo.”
Oor die jare heen het ek baie komplimente gekry, en die hoarder wat ek is, versamel ek mense, gebeure en plekke ook. Een van jou dra ek orals saam my rond: “Jy. Jy’s ’n yster jy. Jy moet aanhou skryf. Jy gaan ’n belangrike figuur in die Afrikaanse literatuurwêreld word.” Veral op dae wanneer die imposter syndrome inskop en ek wonder of ek ooit eendag goed genoeg sal wees om ’n boek te kan skryf.
Dit was nog altyd die plan om eendag my eerste getekende kopieë van my boek, spesiaal opgedra aan jou, by jou kantoor te kom aflewer. Omdat jy geglo het ek kon, nog lank voor ek geweet het ek kon. Ek wou vir jou ’n Vrouedag-rubriek skryf, maar ek het gesukkel met writer’s block. Vandag skop ek myself, writer’s block en imposter syndrome diep onder hulle gate! As ek net geweet het … Maar ek het gedink ek het nog genoeg tyd.
Ana, jy gaan gemis word. Afrikaans het verloor. Groot verloor. UWK het verloor. Voornemende Afrikaans-studente het verloor. Vir hulle gaan jy die legend wees waaroor almal gaan rave, soveel dat hulle wens hulle het jou ontmoet. Jy het goed gearbei, Ana. Ek sien oudstudente hulle medelye betoon, en almal praat van jou mooi groot hart. Hoe jy ons almal omhels en omvou het. Ons tuis laat voel het. Jy was ons huis weg van die huis. Vir sommige van ons het ons toe eers ’n huis gevind. In jou arms. Jou omhelsing. In jou kantoor waar ons vir ure kon sit, selfs al was ons net op soek na ekstra liefde. Ek wens soms jy het harder baklei teen die dood. Jou werk op aarde kan nog nie klaar wees nie. My tyd met jou was te kort. Maar dan gaan ek weer op sosiale media en ek sien hoe die medelye instroom. Veral van jou oudstudente. En ek besef opeens, jy hét gearbei. Jou kinders is joernaliste, skrywers, redakteurs, onderwysers, dosente, honneurs- en meestersgraadstudente. Jissie, what a wow!
Jy verdien die rus, Ana. Jy het hard gewerk. Baie van ons laat droom. Plekke laat sien en mense laat ontmoet wat ons net van kon droom. Jy het alte graag jou kennis en jou konneksies met ander gedeel. Jou hart, tyd en plek ook. Niks sal ooit weer dieselfde wees nie. Niemand ook nie. Ek weet jy’t gesê ek is dit aan myself verskuldig om my honneurs klaar te maak, maar dit sal uit en uit net vir jou wees, Ana. Alles wat ek hierna doen, sal wees om hulde te bring aan jou.
Hamba kahle, comrade. Rus. Jou werk is klaar. Ons sal voortbou op dit wat jy agtergelaat het en ons sal baklei, vir ons taal, ons mense. Ons sal ’n stem wees vir die stemloses. Nes jy ons geleer het. A luta continua. Tot ons mekaar weer sien. Jy sal vir altyd diep in ons harte gebêre wees, Ana.
Lees ook:
Hoe Juffrou se woorde my lewe gered het: "Djy doenit’ie vi my nie, Troubles."

