
Tyrone de Villiers, “Juffrou” Anastasia de Vries en Chundre Filippus, of “Eeltjie”, soos Anastasia haar genoem het. Chundre is Tyrone se girlfriend, hulle het saam gestudeer by UWK. Anastasia het Tyrone soms “Beeldjie” genoem, of “Meester”.
*
Juffrou Anastasia!
Dis so gepas. Sedert ek jou ontmoet het, was jy vir my ’n juffrou en nie ’n doktor nie. Die tipe juffrou oor wie kleuterkinders huil as hulle na ’n volgende graad oorgaan. Dis presies hoe ek nou voel en waar ek my bevind. Ek het jou juffrou genoem want ek’t jou ontmoet pas na matriek, my eerste jaar by UWK. Ek’t baie kere jammer gesê daarvoor, maa’ ek’t besef dat “juffrou” is baie meer gepas as “doktor”. “Doktor” is so distant en onmenslik – imagine ek moet jou elke keer “doktor” noem; waar is die emosie, die connection? Dis ’n titel wat mens bang en ongemaklik maak.
Jy het my nooit aangespreek oor ek jou juffrou noem nie. Jy’t dit eerder embrace en ek ook, want jy wás my juffrou. “Juffrou” klink baie meer nader en emotional. Jy’t deel geword van my groei, en omdat ek ver was van die huis,, het jy my baie aan my ma herinner. Ek het my ma in jou begin sien. Jy lyk baie soos my ma, klink soos my ma en die stories is nes my ma. Ek’t daagliks in jou kantoor gaan sit net om na jou stories te luister. Dit het my gecomfort. Jy’t eenkeer vir ons hoender gebak wat die beste was wat ek al ooit geproe het. Dit het sulke kaasbesigheid oor gehad. My mond en my oë water sommer nou gelyktydig.
Juffrou, jy het my geforseer om uit my comfort zone te kom. Ek was nie baie praterig nie. Ek sou net sit en luister, na jou of enigeen, maar jy kon dit binne-in my gesien het. Ek kon dit ook sien, maar ek was bang om dit uit te bring, nie omdat ek nie geweet het hoe nie, maar omdat ek onvrymoedig was. Ek onthou hoe u altyd vir ons (ek en Eeltjie) gesê het: “Ek wil hê julle moet die confidence van witkinders het. Julle het geen rede om julself te bevraagteken of om terug te staan vir enigiets nie.” Ek verstaan daai woorde vandag beter as enigiets. Daarom probeer ek my bes om dit te beoefen. Jou woorde weergalm.
Jy’t my voorgestel aan Kaaps. Die eerste gesprek wat ek bygewoon het, was ’n onderhoud wat jy gelei het en in die onderhoud het jy gebrag van ons, van my. Dit was ’n eer. Alles waarby ek nou betrokke is en van hou, het jy vir my moontlik gemaak. God het jou op my pad gesit. Wat God gee, kan niemand wegvat, nie eens Hy nie. By my sal jy bly. Jy het my ’n liefde vir taal gegee. Al die jare het ek my voorberei, maar ek het nooit besef dis iets wat ek kan doen nie. Dit het soos tweede natuur vir my gevoel om Engels en Afrikaans te slaag sonder om te study of om essays te skryf en pryse daarvoor te wen of om elke dag deur ’n woordeboek te lees as kind net om nuwe woorde te leer. Jy het my laat besef dis iets wat ek kan gebruik om die samelewing te verander. Wie sou kon dink dat ek dit al die jare misgekyk het? Die einste wapen waarmee God die wêreld geskape het. Jou woorde het die woorde binne in my ontsluit en I will pay that forward. Ek sal my nerwe afwerk om seker te maak dat ons kinders die confidence van ’n witkind sal hê. Hulle sal vi’ niks terugstaan of onvrymoedig voel nie. Veral nie vir die manier hoe hulle praat of klink nie.
Juffrou, ek wil nie dink of praat van die dood nie. Ek sal ook nie in past tense skryf nie. Ek sal die stuk skryf asof dit ’n brief is wat ek aan jou skryf. ’n Brief wat jy vanaand gaan lees. Jammer dat ek u “jy” en “jou” noem, maa’ ek weet u verstaan hoekom.
Net laas maand het u gejoke van die keer wat ek verdwaal het met die bus. Toe ek in die Kaap kom, het ek so baie verdwaal, want ek het nie geweet hoe die buste werk nie en ek het nie die confidence van ’n witkind gehad om mense te vra nie. En die dag toe ons jou eksamen skryf. Ek was so excited dat ek vroeg opgestaan het, te vroeg, en dis wat gemaak het dat die verkeerde bus op die verkeerde tyd op die regte spot kom stop het. Daai dag toe ek in Mowbray beland, het ek genoeg gehad. Die trane het gerol in die taxi, almal het my dopgehou. Ek was kwaad, ek wou huis toe gaan. Ek’t gesoek of daar nie taxi’s is wat Oudtshoorn toe ry nie. Waar ek die geld sou kry, weet ek nie. Jy’t my laat bel en my prontyt gesê ek moet kom al kom ek laat. Die invigilator wou nog u teenstry, maar u het my na die tyd in u kantoor laat skryf. Ek het u gewarn u gaan u werk verloor en ek wou nie skryf nie, maar u het ferm gesê ek moet sit en skryf. Daai is hoekom ek jou “juffrou” noem! Watter doktor sou dit doen? Doktore is gebonde aan wette en regulasies. Jy was net gebonde aan jou sudente en geen “powers that be”.
Dankie vir alles, juffrou. Ek is bly ek kon hierdie keer opdaag toe jy my genooi het. Ek sal myself op die groot stage plaas vir jou. Al is ek onvoorbereid of al is ek nie goed daarin nie. Ek het die confidence van ’n witkind by jou gekry.
Hoekom is dié dan so moeilik, juffrou? Ve’gewe my, ek huil. Ek wil niemand sien of hoor praat van jou nie! Ek onthou jou, juffrou!




Lees ook:
Hoe Juffrou se woorde my lewe gered het: "Djy doenit’ie vi my nie, Troubles."


Kommentaar
Ai, Anestacia, Stacy, doktor, vriendin, meisie vanni Ravensmead, UWK,Bush,80's... Jou stem is stil. Daar gaan 'n kampvegter vir Afrikaans, Afrikaaps verby. Riv.
Pragtig, dankie.
Beeldjie en Eeltjie, hoe pragtig is die name. Vir my was sy Antjie in die tyd wat ek saam met haar gewerk het by Rapport en Vrye Weekblad. 'n Regte mens-mens wat jou laat voel het jy is eintlik regtig meer as oukei wanneer jy in jouself getwyfel het. Sy was sonder pretensie en altyd net haarself, met 'n groot hart. Mag haar siel in vrede rus.