Sy was ’n vrou van kleur en ’n vrou van kleure: ’n Elegie vir Anastasia de Vries

  • 2

Anastasia de Vries (links) en Valda Jansen (regs). Foto’s: verskaf

’n Mens wil iéts doen. By die aanhoor van jou afsterwe, Anastasia, wil ’n mens iets dóén. Iets groots. ’n Grootse gebaar, soos om goed aan die brand te steek. Of ten hemele te skree. Maar al wat uit ons lyf kon kom, was ’n gedempte huil. Gedrae klanke vanuit diep binne ons.

’n Mens wíl iets groots doen. Soos om blomme bymekaar te maak, alles wat jou arms op een slag kan dra. En daardie blomme neer te lê op al die plekke waar jý was.

Niksvermoedend het ek soos op elke ander weeksdag al die pad UWK toe gery. Die nuus van jou dood kom pas nadat my kind uit die motor geklim het op pad klas toe. Ek het parkeer, my foon se data aangeskakel, en onmiddellik het twee boodskappe verskyn. Die nuus was kort en kragtig, op die man af, asof die afsenders self dit ook nie kon glo nie.

Deur my trane staar ek deur die motorruit na buite. Wat tref, is die heldergeel blomme wat in bosse begin uitskiet. Die bome staan nog winterkaal. Op een van hierdie kaal takke daal vanuit die niet ’n blinkswart voëltjie neer; groen veertjies versier die nek. Hy huiwer ’n wyle in die boom voor my en vlieg dan blitsig weer weg.

Net daarna trek die hemele toe en die reën stort neer. Toe kon ek huil. Want ek het onthou van die bos blomme wat ek gekoop het om langs jou hospitaalbed neer te sit.

Maar hulle het my met die bos geel affodille voorgekeer, want jy was in die intensiewe eenheid en niemand mog vars blomme inbring nie.

“Ons kyk mooi na haar,” het die verpleegsuster sag met ons gepraat. “Ons vou haar soos ’n diamant in sagte watte toe.”

Maar dit was oukei, het ons gedink, ek en my kind. Ons sal later, wanneer jy beter is, weer vars blomme kry en dit vir jou bring. Ons sal jou mos weer sien in jou lieflike huis met die rooi stoof en die pers en groen mure in Gordonsbaai. Want jy wou nog vir my kind leer roti’s maak. Jy wat so lief was vir mý kind terwyl jy so onophoudelik ook oor jóú kind kon spog. Jou huis was jou oulaas plekkie, daar waar jy gaan aftree, het jy vir my broer Julian gesê. Die huis waar jy gereeld breyani gemaak en al die bure uitgenooi het: “Bring ’n bord of ’n bakkie en kom skep, hier is genoeg vir almal.”

“Hoi!” So het jy my gegroet in ons e-posse sedert jou dae as boekeredakteur by Rapport. Tóé al was jy my goedgesind en het jy hoflik en vriendelik op my versoeke om bydraes te skryf geantwoord. ’n Rubriek oor SV Petersen of ’n resensie van Eusebius McKaiser se debuutboek het jy met groot vreugde op jou blad gepubliseer.

Met die nuus van jou dood was al wat ek kon doen om die pad te vat soos in die dae toe ek en jy hier op die UWK-kampus nog langs mekaar was. Jou kantoor genestel teen myne. Rug teen rug was ons. Ek het my motor gaan parkeer waar ek dit vroeër altyd parkeer het toe ons nog kollegas was. Ek het my baadjie styf toegeknoop, want vanoggend, die dag van jou dood, het die verbygaande winter ons met mening gelooi. Vir oulaas.

Ek het stadig gestap om alles in te drink. Oor die parkeerterrein, verby die agterkant van die groot saal, om die draai, in die paadjie af, in by die gebou waar die Afrikaans-departement nog al die jare steeds is. Verby C1, waar kosbare boeke bewaar word en Small en Breytenbach se portrette groots pryk.

Verby die trap. Die gang was doodstil. Al die deure bottoe. Ek het aan geen deur geklop nie, want ek wou niemand sien nie. Jou naam op jou toe kantoordeur. Jou afwesigheid ’n dawerende stilte.

Daar het ek ’n wyle net gestaan. Die stilte ingeneem. Asof jou teenwoordigheid vir oulaas nog daar rondhang. Asof dit een van die plekke sou wees waar jou siel ná die uitblaas van die laaste asem sou kom vertoef. Voor jy weer sou gaan. Om voort te leef in die herinnering van elkeen wat aan jou dink en jou onthou en jou nooit sal vergeet nie.

Die mense sê die mooiste goed van jou, Anastasia. Want jy was mooi en goed. Die beste getuigskrifte is die woorde uit die monde van jou studente. Hulle het hul harte uitgeruk en dit bloederig op die papier gegooi. Jy sou trots gewees het om dit te sien. Ek hóór jou goedkeurend sê: “Nou soe!”

Hulle skryf, Anastasia. Jou kinders, jou studente. Hulle wat deur jou hande gekom het. Hulle spreek hul gevoelens uit, hulle neem hul plek in. Hulle wéét wie hulle is. Jy het vir hulle die confidence van ’n Anastasia gegee.

*

Die eerste nag ná Anastasia se dood het ek kort-kort wakker geword. Dwarsdeur die nag het die klanke van “Ave Maria” oor en oor in my kop gespeel. Vanuit die niet. Dit was asof iemand dit daar geplant het. Die aand by Anastasia se roudiens in die Mater Dei Katolieke Kerk in Parowvallei het hierdie woorde weer geresoneer.

Al die woorde wat ons oor haar uiter, alles wat ons skryf, al die herinneringe wat ons opdiep, is ’n inkantasie.

Dae ná die nuus van haar dood voel my lyf seer. Soos ’n bloederige massa, ’n wond wat nie ophou bloei nie. Almal van ons wat vir Anastasia lief was, voel asof ons onsself in iets sags moet toedraai.

Soos ’n diamant was sy. Kosbaar en raar. Gewild, onkreukbaar en sterk. En sy het geblink soos ’n diamant. Jy kon haar deur ’n ring trek.

Een van die laaste kere wat ek vir Anastasia op kantoor gesien het verlede jaar, het sy ’n vlegsel gedra en ons het ’n paar woorde daaroor gewissel.

Ek hou tog so van ’n vlegsel, het ek gesê. Ek het al skoolgehou toe vra ek my ma nog soms om my hare te vleg. “Ja,” het sy in die wegloop geroep – kliphard, want sy het nie getraak wie hoor nie – “ons coloured vroue en onse vlégsels!” Sy het ook nie getraak of jy issues het met ’n term soos “coloured” nie.

In die tyd toe sy siek geword het, het die velde langs die N2 geel gestaan. Blomme wat vanself opgekom het, wapperend in die Kaapse wind.

Jy kon jou ook aan haar verkyk. Aan die klere wat sy graag gedra het, in die kleure waarin sy haar gehul het. Die kleure van kosbare edelstene en diep, donker, dramatiese materiale. Soos die kleure van die speserye in ’n geurige bord breyani. Woorde wat by ’n mens opkom: brokaat, goud, purperrooi, fluweel. In jou geestesoog onthou jy haar met tossels en blinkers, frille en fraiings, pofmoue en fyn kantafwerking. Sy het dit alles met styl gedra.

Waar Anastasia ook al gegaan het, het sy mense oorskadu. Met haar intellek, haar vriendelikheid, haar opregte omgee en die klere wat sy gedra het, het sy almal rondom haar oorrompel. Ook met haar liefde vir en kennis van Kaapse Afrikaans en die Nederlandse letterkunde.

Ná die beroerte was haar lyf broos en die altyd teenwoordige glimlag moeilik om te bespeur. Maar sy was nog Anastasia. Sy praat, al is dit moeisaam. Sy laat my toe om haar hand vas te hou vir die duur van ons besoek. Sy verkyk haar aan my kind, net soos sy in al ons laaste gesprekke ’n jaar gelede elke keer na my kind se welstand verneem en breedvoerig oor haar eie kind se doen en late vertel het.

In die hospitaal het sy met haar gesonde hand agter haar nek gevroetel. Sy het haar vlegsel uitgehaal waar dit teen die kussing gerus het. Sy het met die vlegsel gespeel terwyl ons moeisaam, maar geduldig, ons heel laaste gesprek gevoer het. Haar vlegsel was haar kommunikasie. Sy het ons gesprekke onthou, al kon sy dit nie verwoord nie.

Sy word Maandag geopereer, het sy gesê en na haar hart beduie: “Hulle gaan dit regmaak.”

Toe ek sê ons sal nie lank bly nie, want haar studente wag ook buite in die gang en ons wil haar nie vermoei nie, moes ek my oor naby haar mond hou om te kon hoor wat sy antwoord.

Die studente is crazy, het sy gefluister. En ek het geglimlag, want dit is waar. Haar studente is vol lewe in Anastasia se teenwoordigheid.

Met haar gesonde arm het sy my kind lank vasgehou. Styf vasgedruk en op die voorkop gesoen. Talmend. Asof sy ons nog langer by haar wou hou. Asof sy alles wat sy nog so graag wou sê, met hierdie vashou wou oordra. Net soos almal wat in ’n uiting van uiterste verdriet die pen opneem om oor hierdie vrou te skryf. Asof ons haar tog net nóg langer by ons wil hou.

My laaste WhatsApp aan haar die oggend van die operasie het sy nooit gelees nie. Die twee grys regmerkies langs die boodskap spook by my.

Maar my laaste woorde aan haar in die hospitaal het sy wel gehoor. Ek het in haar oë gekyk en gesê: “Anastasia, jy moet onthou ons is almal baie, baie lief vir jou.” Sy het my met ’n ernstige uitdrukking aangekyk en stadig geknik.

Sy bly by ons. Soos die velde vol geel blomme langs die paaie op weg na UWK. Soos die plate wit en geel en bont blomme in die netjiese tuine op die kampus. Die wete dat die lente altyd weer terugkom. Die wete dat ons gedagtes altyd weer na Anastasia sal terugkeer.

Ons herinneringe aan haar vou ons soos iets kosbaars in watte toe.

Dit omvou ons in die aanblik van ’n bos geel affodille, in die aanhoor van die “Hail Mary”, in die lees van die lieflike liefdesverklarings van haar studente.

Dit bly by my. Soos die laaste kyk in die hospitaal. Ernstig het sy ons aangestaar terwyl ons van haar af moes wegstap. By die deur het ek gaan stilstaan en omgekyk. ’n Laaste glimlag vir Anastasia. Gesien haar oë was steeds stip op ons gerig. En nie geweet dis vir oulaas nie.

Lees ook:

’n Groetwoord vir Anastasia de Vries

Ek wens sy was my dosent ook gewees – dankie vir als, Anastasia

Ons het groot verloor, Anastasia

Anastasia was ma' net nou eenmal "Ôse Stacey"

Anastasia, omdat jy geglo het ek kon

Die confidence van ’n witkind

  • 2

Kommentaar

  • Knop in die keel geskrifte. So pragtig. Wens ek het haar geken. Respek. Ook vir elke Afrikaansie.

  • Hoe raak en hoe mooi het jy, Valda, in die onthou die menswees van Anastasia saam gebind - soos jy 'n ruiker van jou herinneringe aan ons bied. Baie dankie vir mooi daarvan.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top