Herinneringe aan Jan Boland Coetzee

  • 4

Foto verskaf deur Vriesenhof.

...
Vir my is dit sy brutale oortuiging dat die grond, die fisieke aarde en die natuur, die mensdom se grootste gawe is, en dat beskawings slegs gemeet kan word aan die manier van omgang met en respek vir hierdie wêreld.
...

Dis nie ’n groot boom wat geval het nie, eerder ’n hele woud. ’n Woud van eike waaruit houtstawe gesaag sal word om vate van te timmer, die vate te vul met Chardonnay en Pinot Noir, met die wete dat die wyne wat daaruit spruit net so lank sal hou soos die herinneringe aan Jan Boland Coetzee. En, vir seker, sal die wyne net so mooi, smaaklik en van blywende geure wees.

Hy is op sy baadjie getakseer, toe noem hulle die gespierde knoets van ’n 18-jarige student “Boland”, aangesien dié nuwe Stellenbosse student van die Weskus geen ander baadjie gehad het om te dra as die een wat hy as lid van die Bolandse rugby-skolespan gekry het nie. En ja, vir ’n klompie jare was Oom Jan se bekendste beeld onder die Suid-Afrikaanse publiek dié van ongenaakbare rugbyflank, harder as graniet en taaier as ’n Velddrif-bokkom wat twee weke te lank aan die tou gehang het.

Ek het hom aanbid voordat ek hom as 10-jarige laaitie ontmoet het op die plaas Kanonkop in Stellenbosch. Hy was toe al ’n een-pet-Springbok, buiging gemaak in die eerste toets teen Willie-John McBride se Britse en Ierse Leeus van 1974. En dit was taal wat ons, soort van, bymekaar gebring het.

My ouers het gereken ’n paar weke aan huis van Jan op die wynplaas Kanonkop sou my Afrikaans opskerp, aangesien ons pas teruggekeer het na Suid-Afrika vanuit Londen, waar ek gedurende die vier jaar in Engeland, soort van, verengels het.

Dit was ’n suksesvolle twee weke op die plaas, aangesien Oom Jan se beperkte Engels en my sukkel-sukkel Soutie-Afrikaans genoop het dat ons die eerste paar dae deur middel van handgebare moes kommunikeer; tot ek uit, een deel aansien en een deel desperaatheid, nogal vinnig met meer vertroue, minder oor my Afrikaanse woordeskat struikel.

Terwyl die nasie se aandag destyds gevestig was op Jan Boland die rugbytitaan, was hy besig om geskiedenis te help maak. Wyngeskiedenis.

Daar op Kanonkop, waarheen hy in 1968 gestuur is om wyn te maak op ’n plaas onder besit van die legendariese politikus en wynpersoonlikheid Paul Sauer, het die eerste wyne onder die Kanonkop-etiket verskyn. Vanuit die 1973-oesjaar, ’n Cabernet Sauvignon en ’n Pinotage.

Die uitmuntende gehalte van Oom Jan se Kanonkop-wyne het aan die spits gestaan van ’n rewolusie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Tot en met die 1970s het by verre die meeste wynplase, onder meer Kanonkop, hul wyn of druiwe verkoop aan die groot korporatiewe wynspelers soos die KWV, Stellenbosse Boerewynmakery of Distillers-korporasie. Hieruit is handelsmerkwyne geskep, wyne sonder die siel en identiteit wat slegs verkry kan word wanneer die eindproduk in die bottel die resultaat is van wyne gemaak op die plaas self, uit sy eie druiwe wat die geografiese eiesoortigheid van daardie eiendom se wingerde weerspieël.

Wynplase soos Kanonkop het, te same met onder andere Meerlust, Simonsig, Overgaauw, Backsberg en De Wetshof, ’n nuwe beweging in die Suid-Afrikaanse wynbedryf ingelui wat gelei het tot die koms van landgoedwyne, wyne van individuele karakter en identiteit. Oom Jan en Kanonkop se bydrae hier was enorm in die skep van ’n nuwe aansien van en respek vir Kaapse wyne.

’n Tweede hoofstuk het in 1980 begin toe hy die plaas Vriesenhof aangeskaf het, verder suid geleë as Kanonkop en aan die voet van Stellenbosch-berg. Die rugbygloriedae was iets van die verlede, maar die wynlegende sou aansienlik groei.

Op Vriesenhof is Cabernet Sauvignon gemaak, aangesien Oom Jan tot sy laaste dae daarvan oortuig was dat Stellenbosch en Cabernet Sauvignon vir mekaar bedoel was. Maar, daar was die beheptheid met die wyne van Boergondië wat gelei het dat die Coetzee-gesin in 1981 sak-en-pak verhuis het na die dorp Beaune in hierdie streek in die Franse ooste. Oom Jan het ingeval by Maison Joseph Drouhin, een van die bekendste kelders daar, waar hy die kans gegee is om wyn te maak uit die befaamde Chardonnay- en Pinot Noir-wingerde van Boergondië, daar waar wyn vir oor die 900 jaar gemaak – en byna vervolmaak – is.

Dis hier waar Oom Jan nogmaals besluit het dat, vir die wynmaker, die natuur die grootste rolspeler is in die soeke na goeie wyn. “Die Franse het mos g’n woord vir ‘wynmaker’ nie,” het hy graag vertel. “Hulle praat van ’n ‘vigneron’, iemand wat die natuur van die wingerd, die grond, die omgewing en als moet bestuur, asook die wyn maak. En ek hou nie daarvan om na myself te wys as ’n ‘maker’ van wyn nie. Ek versorg mos net die vrug wat die wingerd en die natuur my gegee het.”

Terug op Vriesenhof, ná die jaar in Frankryk en ’n kop vol Boergondiese inspirasie, is Oom Jan se bydrae tot die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitgebrei deur die pioniersrol wat hy gespeel het met die vestiging van Chardonnay in die land, asook sy latere pionierswerk met Kaapse Pinot Noir.

Die jong boer op Kanonkop. Die visionêr van Vriesenhof. Die wynmens wat gemaklik ingeskakel het as verteenwoordiger van die beeld van Wyn Suid-Afrika toe die land na die afskaf van sanksies in 1990 die vino-wêreld betree het. In elke fase van sy professionele lewe is Oom Jan gesien as ’n man van aansien. Van gesag. Die verpersoonliking van wysheid, kennis en stille krag. Maar waar het dit als vandaan gekom en wat is die rede hiervoor?

Ja, sy wyne was altyd goed, eiesoortig en uniek. En Oom Jan se kennis van ’n wingerd se gedagtestroom en temperament onder wisselende weersomstandighede was legendaries. Sy geheue, iets besonders. Hy kon elke jaar se bottoestande onthou, elke parsseisoen van elke wingerd waarin hy in sy 57-oesjare gewerk het.

En behalwe, dalk, vir Danie de Wet, het ek persoonlik nog nie iemand ontmoet wat ’n spesifieke wyn so kon identifiseer, beskryf en ontleed nie.

Maar gawes en talent; wysheid en vaardighede alleen is nie genoeg om mense te maak wie se nalatenskap so blywend en onvervangbaar soos Oom Jan s’n is nie. Vir my is dit sy brutale oortuiging dat die grond, die fisieke aarde en die natuur, die mensdom se grootste gawe is, en dat beskawings slegs gemeet kan word aan die manier van omgang met en respek vir hierdie wêreld. Dit was die kern van elkeen van die vele boodskappe wat hy gedra het, asof hy van iewers gestuur is om dit te doen.

Lees meer hier.

Kanonkop se biografie

Vriesenhof se biografie

Stellenbosch Wine Routes se biografie

SA Rugby se biografie

  • 4

Kommentaar

  • Johan van Rooyen

    Dankie, Emile.
    Jan Boland, 'n ware mens-mens, wynmaker, rugbyspeler, landbouleier en Dagbreker.
    Hy was vir my 'n baken, 'n held en 'n steunpilaar tydens my SA wynbedryfsjare. Dit was altyd so lekker om te kon sê dat ek hom ken en om na sy wyse raad en ook lekker stories te kon luister.
    RIV JBC

  • Willem Rekkie Marais

    Seker een van die mooiste eerbewyse wat ek nog gelees het:

    Vir my is dit sy brutale oortuiging dat die grond, die fisieke aarde en die natuur, die mensdom se grootste gawe is, en dat beskawings slegs gemeet kan word aan die manier van omgang met en respek vir hierdie wêreld.

  • Inderdaad 'n mooi en baie belangrike eerbewys:

    Vir my is dit sy brutale oortuiging dat die grond, die fisieke aarde en die natuur, die mensdom se grootste gawe is, en dat beskawings slegs gemeet kan word aan die manier van omgang met en respek vir hierdie wêreld.

    Twee herinneringe wat ek van Jan Boland Coetzee het:

    In die laat 1980's of dalk vroeë 1990's was ek teenwoordig met die Heerengracht-wynkring se besoek aan Vriesenhof. Al die wynkringlede was deftig geklee vir die wynproeaand uit en Jan Boland Coetzee, wat ons ontvang en die vigneron woord gevoer het, was geklee in 'n kortbroek en kaalvoet! Dit was baie gepas vir 'n karakter soos hy en het bygedra tot sy aardse mededelings.

    In die vroeë 1980's of dalk laat 1970's het Jan Boland Coetzee gespeel in 'n intervarsity-wedstryd tussen Universiteit Stellenbosch en Universiteit Kaapstad. Waar ek gesit het aan die Jonkershoek-kant van Coetzenburg-rugbyveld, kon net die skare aan daardie kant van die veld sien hoe Jan Boland Coetzee aan ons kant van die skrum handeviervoet vorentoe kruip om die bal te gaan bederf vir sy teenstanders se skrumskakel en terug te kruip en weer by sy span se skrum te gaan inhaak sonder dat die skeidsregter aan die ander kant van die skrum dit kon sien. Dit het 'n baie luide gelag van die skare net aan die Jonkershoek-kant van die rugbyveld ontketen, want niemand anders aan die ander kant van die skrum kon hierdie manewales sien nie. Ek sien nou nog voor my Jan Boland se groot glimlag aan die skare aan die Jonkershoek-kant van die rugbyveld nadat hy weer sy regmatige plek aan die kant van die vasteskrum ingeneem het. So asof hy dit net vir ons gedoen het om ons te vermaak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top