
C Johan Bakkes by die Siyoma-valle (foto: Gerrit Rautenbach)
Groetwoorde deur Gerrit Rautenbach
Boeta, vir wat gaan neuk jy nou die rooi randjies deur? Vir dié van julle wat nie weet wat dit beteken nie, hy is oor die Styx. Vir dié van julle wat nie weet nie, hy is nie meer met ons nie. Hy het finaal gegroet. En ek is nie bly nie, maar verlig. Want die laaste tyd het ek ’n ikoon sien kwyn.
Nie net fisies was hy groot nie, hy was ’n groot gees. Hy het alles groot gedoen. Goed gedoen. Hy het soveel dinge gedoen wat die meeste mense net oor kan droom. Hy kon die laaste tyd amper nie sy eie huis se paar trappe opstap nie, maar desjare het hy van Opuwa regdeur die Namib tot by Swakop gestap. Dis ’n 1 000 kilometer in net 27 dae. Maak die som. Waarskynlik van daar het hy die titel Johannes die Loper gekry.
Ek het hom jare gelede op Terrace in Stellenbosch se stoep leer ken. Nee, net ontmoet, dit vat lank om ’n man met soveel fasette, soveel vlakke en dieptes te leer ken. En dit vat baie myle op die reispad om sy binnekant raak te verstaan. Ek was reeds op Terrace se stoep toe die deurgereisde viertrek in die gerieflike oop parkeerplek stop. Die deur kraak oop. ’n Jong man wat goeie myle op het, loop stoep toe. ’n Bol wille donker hare en rooi baard wip saam. Sy regterarm is bespikkel met bangles, van pols tot omtrent by sy elmboog. Later geleer elkeen het ’n lang storie, ’n heenkome. Hy het nie curios gedra nie, maar herinneringe; hy het stories omarm. Die ding met Boeta Bakkes was, hy het nooit iets sonder ’n rede gedoen nie.
........
"Ek was reeds op Terrace se stoep toe die deurgereisde viertrek in die gerieflike oop parkeerplek stop. Die deur kraak oop. ’n Jong man wat goeie myle op het, loop stoep toe. ’n Bol wille donker hare en rooi baard wip saam. Sy regterarm is bespikkel met bangles, van pols tot omtrent by sy elmboog. Later geleer elkeen het ’n lang storie, ’n heenkome. Hy het nie curios gedra nie, maar herinneringe; hy het stories omarm. Die ding met Boeta Bakkes was, hy het nooit iets sonder ’n rede gedoen nie."
........
Ons het verder hier en daar in mekaar vasgeloop. Soos die slag met een of ander Woordfees wat daar ’n soort van huldiging vir die Bakkes-brigade was in die Dorpstraat-teater. Ma Margaret, Johan, Christiaan et al was daar. Johan was maar altyd senuagtig met sulke optredes en dan vat hy maar so ietsie vir bietjie kalmte. Tossie Lochner was vars uit Italië ook dié dag daar. “Die man sluk drie dubbel-rums-en-Coke af en lees dan foutloos uit Openbaring voor,” was haar verwondering.
Ons het al hoe meer gesprekke oor reis gehad. Mekaar bietjie vir bietjie leer ken. My mond het oopgehang oor die wedervaringe en reise wat hy toe al deurgewerk het. Die Naukluft, Visrivier meer as een keer. Rusland was ’n passie. En hy en ’n bende medereisigers het begin met die ste-ste-reise. Die koudste plek waar mense lewe. Die hoogste plek waar mense bestaan. Die droogste, warmste, wildste, ongelooflikste. Alles. Iewers tussen alles deur het ek en hy dik vriende geraak.
Hy het my vertel dat hy ’n paar jaar terug probeer het om die unieke Kuomboka-seremonie in Barotseland, Wes-Zambië by te woon. Dis wanneer die koning van die Lozi verhuis van sy somertuiste op die eiland Lealui na sy wintertuiste op die vasteland. Dis iewers tussen Maart en April, maar min mense weet wanneer. En as jy nie binne-inligting het nie, gaan jy dit nie bybring nie. Hy het onsuksesvol teruggekeer.
Later van tyd het ek redakteur van die reistydskrif mooiloop geword. Johan het ’n medewerker geword. Ons vriendskap het dikker geword. Die reise meer. Die kuiers groter. Op ’n dag kontak Piet du Toit van Kabula in Barotseland my. Hy bied aan om my saam te vat om die Kuomboka te gaan beleef. Ek noem dit vir Johan.
“Ek gaan saam.” Ons het die seremonie beleef. Dit was Afrika en jy moet geduld hê. In ’n stadium wag ons langs die water en niks gebeur nie. Net daar besluit Johan hy gaan nou die dikgepakte Lozi’s om ons iets leer sing. Kort voor lank weergalm dit oor Barotseland: “En hoor jy die magtige dreuning, oor die veld kom dit wyd gesweef ...”

Alweer op die langpad diep-Karoo toe (foto: Gerrit Rautenbach)

As daar skadu is, moet jy rus. (Foto: Gerrit Rautenbach)
Johan was ’n enigma en baie mens in een. Hy het soos Takoeza gelyk, maar sy binnekant was doeksag. Hy het woes voorgekom, maar was haarfyn georganiseer. Hy was ’n briljante CA met deurtrapte stapstewels en ’n kopband. En ’n arm vol bangles. Hy het hard gepraat, dik gelag en sterk gevat. Maar hy het maklik getraan oor ’n mooi storie. Hy het haastig voorgekom, maar altyd tyd gehad vir ander. Sy baie boeke was almal alfabeties gerangskik.
Ek onthou een nag in die diep Namib was ons saam met ’n groep mense en hy het die kinders maak sit om die kampvuur en spooksprokies vertel. Hulle monde het oopgehang terwyl hy gesluk-sluk het aan sy rum en hy nuwe wonderwerke uitgedink het. Hy was vandaar vas elke aand. Hy was lief vir mense. Hy was lief vir die lewe.
Dan was daar die duine. Boeta het saamgery, nooit bestuur nie. Net gesorg dat ons nie droogloop nie. Bo-op een van die hoogste duine gryp hy die paneelbord vas. “Hou vas, Pappie gaan jaag,” reken hy. Twee uur later stop ons op die oewer van die oorvol witwater van die Kuiseb in vloed. ’n Rare gesig. Johan gee die water so een kyk en begin klere uittrek. “Maak los, Pappie gaan bad!”

Op die Zambezi (foto: Gerrit Rautenbach)

By Meobbaai langs die Skedelkus (foto: Gerrit Rautenbach)
Alles was vir hom spesiaal. Niks was sommer nie. Sy pa het hom ’n palieter genoem. Dis ’n lewensgenieter. “Johan is besig om homself dood te lewe,” het sy liewe Nanna-vrou gereeld opgemerk. Hy het seker, maar hy het niks laat verbygaan nie. Alles was 200%.
Ek onthou die keer wat ons die grenspos by Katima moes injaag. Hulle maak sesuur saans toe. Presies 17:59 word ons deurgestempel. Dit was voor die Chinese die pad oorgebou het en in die pers laastelig van die dag duik ons deur die dongas. Totdat Boeta my stop. Ons skink ’n ietsie, sit die CD-speler aan en gaan sit op die masjienkap van ons vierwa. Die nag kom oor ons. Jan Blohm sing.
Maria Magdalena, wil jy nie vir hom vra
vir wind in haar seile
en ’n beautiful oseaan.
Gee vir haar, gee vir haar
my wêreld in satyn.
Boeta, ek wens dat ek vir jou ook my wêreld in satyn kon gee.
Ek onthou die kere wat ons bloot afgetrek het van ’n stofpad, so effe tussen die ruigtes in verdwyn het en dan is die enigste besluit wie rol sy bedrol uit by die voorwiel, wie by die agterwiel. Dan is dit ’n worsie op die vuur, ’n doppie of twee en groot gesels onder meer sterre as wat die meeste mense ooit gesien het. Die keer wat die brug oor die Njoko-rivier verspoel het en jy halflyf deur die water vooruit geloop het om te kyk vir gate of klippe terwyl ek deurry. Jy was altyd daar vir jou medemens. Die keer wat ons Kaapse Luiperds in Bakkrans in die Cederberg loop soek het. “As ons niks luiperds kry nie, het ons steeds baie gekry,” het jy geseg.
En die keer wat ons by medevriend Carlos by Felix Unite by Noordoewer op die Oranjerivier oorgeslaap het. Ons wou weer tussen voor- en agterwiel geslaap het, maar Carlos gee ons een van sy chalets. Met twee klein enkelbedjies. Middel van die nag skrik ek wakker van ’n moerse slag. Dis Boeta se bangle-arm wat die sementvloer getref het toe hy afneuk. “Ek het die bed byster geraak,” reken hy, “maar moenie kommer nie, ek is op pad terug.” As jy langs ’n wiel slaap, neuk jy nie af nie.

Boeta staan wag op 'n duin (foto: Gerrit Rautenbach)
Daar was soveel kante aan hierdie man dat dit moeilik is om alles vas te vat. Sy pa, Casparus Marius Bakkes, was ’n militaris van beroep by die Militêre Akademie in Saldanha en Boeta was in sy skaduwee. ’n Patriot in volkleur met selfs ’n getatoeëerde Vierkleur op sy rug.
Eers was hy ’n dosent aan kleurlose Unisa, maar het later afbeweeg na die veelkleurige Universiteit van die Wes-Kaap. Jare later wyl hy professor by UWK was, wat CA’s van sy honneursstudente moes maak, het die opstande gekom. Die universiteit was onbruikbaar. Johan en Nanna had ’n groot huis in die Paarl en het die hele spul daar laat intrek. Nanna het kos gemaak en Johan het klas gegee. ’n Soort van satellietkampus. En in broederskap gesorg dat al 12 van hulle CA’s geword het. Hy was trots op hulle. Ek was trots op hom.
Boeta Johan, my groot vriend, jy wat die ste-ste-reise in oormaat gedoen het, ek kan aanhou vertel, maar nou groet ek jou liewerster. Van al die ste-opsies het jy dalk nie die oudste geword nie, maar jy kom in aanspraak vir die meeste. En uniekste.
Geniet nou jou grootste reis. Alles van die beste, Ouboet.
Lees ook:
Video's: Reis en vleis – Gerrit Rautenbach gesels met Johan Bakkes


Kommentaar
Groete ou Grote. Hier kan ek nie saam stap nie, maar sal eendag jou in “Koos Dup se voetspore in die Melkweg” volg.😢
Ook jy kan skryf soos min, Gerrit.