C Johan Bakkes (1956– )

  • 1

Gebore en getoë

Casparus Johannes Bakkes, of Johan soos hy beter bekend staan, is op 21 Oktober 1956 op Stellenbosch gebore – die oudste van vier kinders van Cas en Margaret Bakkes. Hy het twee broers, Christiaan en Marius, en ’n suster, Matilda. Sy pa is ’n baie bekende geskiedkundige en sy ma ’n bekende skrywer en niggie van Hennie Aucamp. Christiaan is ook ’n skrywer en Marius werk in die filmbedryf.

Johan se ma het altyd gesorg dat daar baie boeke in die huis is. “Maar,” erken hy teenoor Carel Lessing (Volksblad, 14 Januarie 2002), “ek is nie ’n swaar leser nie. Gee my eerder Wilbur Smith as Kafka. Ek kon nooit objektief lees nie. As ek ’n Louis L’Amour gelees het, kon jy seker wees ek is die cowboy.”

Hy vertel aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 11 Desember 2011): “My ma sê ek was ’n hiperaktiewe kind. Ek het myself kleintyd aan die slaap gerol en sy het gesê ek sal nooit ’n vrou kry nie. Ek het wonderlike ouers, maar ek is nog bang vir my ma. Wanneer sy bel en sy sê ‘Boetie …’, dan cringe ek oor wat ek moontlik aangevang het.”

Sy laerskooldae bring hy op Saldanha aan die Weskus deur en hy matrikuleer in 1974 aan die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria. Sy grootwordjare in Saldanha is verantwoordelik vir sy liefde vir avontuur, reis en die natuur.

Saam met die studente van die Militêre Akademie op Saldanha het Johan as agtjarige gaan “vasbyt” in die Sederberge.

Johan het by sy pa geleer hoe belangrik dit is om alles te dokumenteer. Hy het altyd ’n kamera by hom en het rakke en rakke vol fotoalbums met aantekeninge oor elke foto, vertel hy aan Stephanie Nieuwoudt (Rapport, 13 November 2011): “Jy moet alles dokumenteer, anders vergeet jy. Ek het ook by my pa ’n waardering vir die natuur geleer. Ons is as kinders altyd saam met hom met rugsakke die berge in. My ma het ons gedwing om te lees en die wêreld in die boeke het ons nuuskierig gemaak oor dit wat daar anderkant is.”

“My ma het ’n moerse invloed op my; sy bepaal my ekwilibrium,” sê Johan aan Erns Grundling. “Sy het my gedwing om te lees en ek het gou besef daar is ander plekke as Saldanhabaai, waar ek grootgeword het. En my pa het my Sederberg toe gevat en lief gemaak vir die veld. Hy het my saans om ’n kampvuur van Napoleon en van Christiaan de Wet vertel.”

Verdere studie en werk

In die “ou” dae het jy, nadat jy matriek gemaak het, óf ’n predikant óf ’n dokter óf ’n onderwyser geword, vertel Johan in ’n onderhoud aan Alison Westwood, maar nadat hy RGN-opnames gelees het oor watter beroep die hoogsbetaalde is, het hy besluit om geoktrooieerde rekenmeester te word. Hy is dus ná matriek na die Universiteit van Pretoria, waar hy in 1977 sy BComRek-graad behaal, in 1979 sy honneursgraad in dieselfde rigting, en in 1980 sy Sertifikaat in Teorie van Rekeningkunde. In 1992 behaal hy sy MCompt aan Unisa. Hy begin in 1991 ’n diploma in natuurbewaring aan die Technikon RSA, maar maak dit nie klaar nie. Hy is tans besig met ’n doktoraat oor die ekonomiese oorlewing van natuurbewaring in Afrika.

Johan was vir twee jaar ’n kaptein in die voormalige Suid-Afrikaanse Weermag. Twee botsende beginsels, naamlik lewenstandaard en lewensgehalte, veroorsaak dat hy die nut van ’n agtienuur-werksdag bevraagteken, en net na sy militêre opleiding oorweeg hy aftrede. Sy groot droom was om as professioneel-gekwalifiseerde boemelaar diens te doen, maar sy twee kinders het verhoed dat hy sommer so die pad kon vat.

Tussendeur sy werk as rekenmeester en professor (by Unisa van 1983 tot 2000 in toegepaste rekenmeesterskap en vanaf 2001 by die Universiteit van Wes-Kaapland) reis hy die wêreld vol.

Hy hou hom ook besig met wildboerdery (by Marble Hall) en die aanbied van safari’s. Hy is ’n geregistreerde toergids en besit sy eie safari-onderneming, Induku Safari’s. Hy is ook ’n ekspedisieleier en logistieke organiseerder en het onder andere die BMW Motorfiets Dorsland Ekspedisie in 2006 gereël, die South African/Zambian Crocodile Expedition in 1993 en die Pick ’n Pay Coastal Awareness Campaign in 1992, waartydens die hele Suid-Afrikaanse kuslyn gestap is.

Johan se een groot liefde is reis en nogmaals reis. Hy het die Visrivier-canyon al negentien keer gestap en ook Kilimandjaro en die Himalajas uitgeklim. Met safari’s en 4x4-togte het hy feitlik die hele suidelike Afrika deurkruis, en met openbare vervoer lande soos die Ivoorkus, Mali, Senegal, Mauritanië en Marokko tot in Europa. Hy het ook al op die Trans-Sahara-trein gereis, sowel as die Trans-Siberiese trein. Sy groot droom is om op elke trein in die wêreld te geklim het.

Sy stories spruit hoofsaaklik uit ’n joernaal wat hy op sy reise hou. Volgens Johan kom die groot skryf eintlik van sy historikus-pa af, wat al van sy sestiende jaar af dagboek hou. Maar dit is nie 'n standaarddagboek nie, want hy dokumenteer besonderhede oor mense, gebeurtenisse, politiek, ens. Sy dokumente strek van die tyd toe hy stormjaer in die Ossewa Brandwag was, verby die eerste hartoorplanting en die maanlanding.

Maar die eintlike skryf van die stories in Johan se eerste boek, Moer toe die vreemde in, begin eers nadat Riana Scheepers een daarvan in die hande gekry het om met haar skoolkinders te behandel. Nadat Riana sy werk onder hande geneem het, het hy dertig stories binne vier weke klaargemaak. Hy vertel aan Carel Lessing (Die Burger, 5 November 2001) dat daar ook ’n skrikwekkende keurverslag was, maar dit het hom nie afgeskrik nie. “Ek skryf nie vir daai ouens nie. Die groot literêre geeste gaan my knieë afskiet.” Ook sê hy: “Kyk, ek wou nie my ma-hulle se plek inneem nie. Ek was maar Johannes die Loper. Ek het gevoel – net nie nog ’n Bakkes wat skryf nie.”

Moer toe die vreemde in word in 2001 gepubliseer, en soos Johan self sê, ontstaan sy stories omdat hy oor niks anders kan skryf as dit wat hy self beleef het nie (Rapport, 10 November 2006). “Ek is nie ’n skrywer nie, ek’s ’n storieverteller, ek’s ’n traveller, ek’s ’n professionele boemelaar. Ek’s doodeerlik as ek dit sê.”

Francois Smith skryf in Die Burger van 29 Oktober 2001: "Johan probeer om benewens die reisavonture ook meer menslike ervarings te betrek – die dood, die liefde, die ondeurgrondelikheid van menslike verhoudings. Sy forte is ’n soort lakoniese verrassingsverhaal waarin die besonderhede van die avontuur in diens van die knaleffek staan."

Carel Lessing (Beeld, 19 November 2001) meen dat hierdie "vreemde vertellings van vreemde plekke baie lesers plesier kan verskaf terwyl hulle self op ’n heel basiese vlak een van die groot vrae in die letterkunde probeer beantwoord."

Na die verskyning van Johan se tweede bundel reissketse, Nou’s ons in ons donner in, skryf Le Roux Schoeman (Die Burger, 23 November 2006): "Dit is ’n voorreg om die skrywer tussen die artefakte van sy avonture te hoor en te beleef. Die verhale, hoewel baie kort, is dikwels boeiend, en dis moeilik om te sien hoe verkope nie aangespoel sal word deur die stroom van die einste buitelugtydskrif-stortvloed nie."

"Johan Bakkes se kompulsiewe gedrag strek tot die uiteindelike voordeel van die leser," skryf Cecile Cilliers in Rapport van 9 Maart 2007, "want hy besóék nie net nie, hy belééf ook intens. En selfs meer: hy maak die nuwe wêrelddele en die mense daarin tot eie besit, om dit dan vir ons in kort maar boeiende sketse te beskryf."

Toe hy vyftig geword het, het hy aan Rapport (10 November 2006) vertel dat Nou's ons in ons donner in gaan oor "die droom van reis en om dit ’n werklikheid te maak. Want dit gaan daaroor dat ’n mens kan droom, maar jy moet doen ook. En die ou wat dit nie kan doen nie, kan reis deur my stories te lees.

"Mense wat my eerste boek Moer toe die vreemde in gelees het, kan meer van dieselfde verwag. Lekker reisstories, met so bietjie van die lewe tussen deur gesprinkel. Tog is daar een ding in Nou’s ons in ons donner in wat anders is. My stories is gewoonlik baie kort, amper kripties, want ek is nie slim genoeg om byvoeglike naamwoorde uit te dink nie,” sê hy.

Nou’s ons in ons donner in is in 2008 deur Elsa Silke vertaal en deur Human & Rousseau gepubliseer onder die titel To hell and gone. Meryl Berkowitz skryf hieroor (uitgewer se inligtingstuk): “The author’s adventurous spirit has taken him to destinations all over the world, the common thread being that these places are almost always off the beaten track. This collection of thrilling stories recounts his numerous exploits. [...] He also writes enchantingly about adventures closer to home. To hell and gone is a book to inspire the adventurer in all of us.”

Sy derde boek, Norrevøk (30°W27°N; 17°W21°N), bevat stories oor sy reis na Siberië in Rusland. Die bundeltitel is die naam van ’n klein Russiese dorpie. Sandra Troskie (Media24) skryf dat Norrevøk Bakkes op sy beste is. “Sy stories kronkel deur gister se onthou, môre se verwagtinge en eindig dikwels met slim slotte. Anderkant die gekruide taal raak sy kopreise plek-plek pure poësie. Vir hierdie leser, wat altyd wil, maar nie altyd kan nie, was die reise deur Norrevøk ‘’n totale lekkerkry.”

Stoffel Cilliers skryf in Beeld (Beeld, 10 Februarie 2009)dat die bundel nie ’n reisbeskrywing is nie. "Dit is eerder ’n klompie indrukke: elk slegs ’n paar bladsye lank, opgehelder deur foto’s wat atmosfeer knap weerspieël."

Dit is danksy Johan en ’n paar drinkebroers dat Theuns Jordaan vandag ’n ster is. Hulle het hom een aand in ’n restaurant hoor sing en was so beïndruk met sy stem dat hulle hom gehelp het om sy eerste CD te maak.

Johan is getroud met Nancy Vorster, ’n kliniese sielkundige en ’n kunstenaar, en hulle woon in die Paarl in die Wes-Kaap. Hulle is getroud toe hulle jonk was en het vyf jaar gewag voor hulle kinders gehad het. Kleintyd kon die kinders (Cara en Marc) saamgaan as dit prakties moontlik was. Johan vertel aan Ronel Terblanche op LitNet dat hy wegloop sonder om enigiemand te sê. “Wanneer my mense die oggend wakker word en die bakkie is weg, weet hulle Pa het al weer die pad gevat – gewoonlik net so vir tien dae. Maar nou moet ek ook sê, my vrou is ’n sielkundige en deesdae vra sy my wanneer loop ek weer, en nou vat sy al die fun daaruit.”

Die bronsarmbande wat aan Johan se arms is, weeg meer as twee kilogram tesame. Hy vertel aan Ronel Terblanche: “Die bangles het ek gekry in my omswerwinge in Afrika en het so deel geword van my – ek bad en leef daarmee en wanneer ek dit nie aan het nie, voel ek kaal. Sommige mense maak teelepeltjies bymekaar – ek hou van bangles. Sommiges is gekoop van ander se arms en sommiges geruil vir ’n blikkie boeliebief. Dit het miskien begin as ’n rebelse situasie om weg te kom van die normale, maar nou is dit deel van my lewe. Die bangles is natuurlik ook ’n bemarkingsfoefie. Mense sal vra waar kom ’n spesifieke bangle vandaan en ek sal sê Ivoorkus of Mali. Dan vertel ek van my volgende reis en vra of hulle wil saamkom.”

Volgens Johan is daar drie mense in sy binnekring: Nancy, Cara en Marc. Een maal ’n jaar spandeer hy alleentyd saam met elkeen van hulle. Toe Cara veertien geword het, is sy saam met hom Uhuru, die hoogste bergpiek in Afrika, uit. Hy voel vir seker skuldig dat hy nie so baie by die huis is nie, maar die kere wat hy wel tuiskom, sorg hy dat dit gehaltetyd is. (LitNet)

Samoe(r)sa reis word in 2012 gepubliseer. "Die draaipunt in hierdie reisverhale is Indië, meer spesifiek die berg Stok Kangri, maar daar is talle ver en naby afdraai- en ompaaie daarheen en terug. Op pad laai Bakkes sy reisgenote – dié wat saamgaan Indië toe én sy medepassasiers op sy lewensreis – die een ná die ander op,” skryf Erika de Beer in Beeld van 8 November 2010.

Sy gaan voort: "Die hoofstukke oor Indië word met dié 'oplaai'-stories afgewissel en telkens pas hulle soos ’n Ventertjie aan ’n sleephaak in by dit wat vooraf en agterna kom. Die kerngroep is die Boksombende en variasies op dié tema. Dis die ouens wat saam met Bakkes al die Visrivier-canyon snuif gestap en talle ander reise meegemaak het. 

“Dis allermins ’n teerpadstorie dié. Dis ’n hardebaardreis, maar op sy eie manier ’n heilsame, humoristiese een, al begin dit met ’n swart gat en eindig dit met ’n besoek aan die begraafplaas en ’n kodisil tot ’n testament. Niks is versuiker nie en tog is dit maklik om alles vir soetkoek op te eet. Dit is wat dit is en die storie staan nie in die pad van ’n goeie stel feite nie.

“Bakkes is ’n meesterverteller. Party lesers sal wens hulle was daar, terwyl ander ewe lekker gerieflik op ’n rusbank sal saamreis." 

In Rapport (30 Desember 2010) skryf Selwyn Milborrow: “Met sy unieke vertellings neem Bakkes die leser – soos in sy vorige boeke, Nou’s ons in ons donner in en Moer toe die vreemde in – hierdie keer op ’n Samoe(r)sa reis

“En ons begin by die Richtersveld waar Nama nog gepraat word en die ‘amastap’ leef, deur na Kartoem se stofstrate, dan ’n drinkplek in Kreuzberg, Berlyn, tot in Indië, die land van kerrie en samoesas. Saam met Bakkes gooi ons ’n draai in Varanasi, die stad van die Hindoegod Shiva waar jy sterf en só bevry word van die siklus van geboorte en dood.

“In die verhaal ‘Reisgenote’ laat Bakkes die leser met die gedagte dat ’n lewensmaat eintlik ’n reisgenoot is wat hom of haar die ruimte vir alleen wees, saamwees, apart wees en sommer net om te wees, toelaat. ’n Reisgenoot mag immers nie eiesinnig wees nie. In die saamwees moet die reisiger ook alleen kan wees. So is die lewe dan ’n reis met byna niemand wat alleen by die lewenseindbestemming wil uitkom nie.

“En dis die belangrikste met wié jy die pad aandurf. Ondanks die beperkinge. Soos die verteller se vriendskap met Kalie wat geld het, maar nie tyd nie. Anders as die verteller wat tyd het, maar nie geld nie. Hierdie dilemma, die rokdraers en hul reis deur Jammu – Kasjmir – die deel waar Indië en Pakistan op mekaar skiet, skrik hulle nie af nie. 

“Die stories in Samoe(r)sa reis is soos ’n reis die vreemde in: jy weet nie presies wat môre gaan gebeur nie. Die boek bevat 31 reisverhale en foto’s wat op hul avonture deur Bakkes, sy vrou en vriende geneem is. In die naskrif is daar ’n gedetailleerde weergawe van sy testament. Johan Bakkes, alias Johannes die Loper, die man met die bangles, Sylvester Stallone (soos hy in Zambië genoem is), het al in ’n onderhoud gesê hy is nie ’n skrywer nie, bloot ’n ‘trewwelaar’ met ’n storie. Maar in die genre van die reisverhaal staan hy uit en bied hy uitstekende vermaak.

“Soos met Bakkes se vorige boeke kan ’n mens net hoop Samoe(r)sa reis word in Engels vertaal sodat die wêreld ook kan sien wat Bakkes sien, beleef wat hy beleef. Die wêreld is te groot vir een leeftyd, leer ’n mens in Samoe(r)sa reis.”

Dit is nie gebruiklik vir ’n skrywer om op ’n resensie van sy werk te reageer nie, maar Johan is nie iemand wat hom aan gebruike en voorskrifte steur nie. Dus, toe ’n resensent kla dat Bakkes se Samoe(r)sa reis te veel “Jack Parow” in het en nie genoeg “Juanita du Plessis” nie, het Bakkes besluit om sy nuwe boek die ironiese titel Oepse daisy te gee. Ná titels soos Moer toe die vreemde inNou’s ons in ons donner in en Norrevøk word daar in die voorwoord van Oepse daisy vermeld dat dié boek se titel “net sowel ‘O bliksem’, ‘O gits’ of ‘O magtag’ kon gewees het”, want “miskien is dit tyd om Juanita du Plessis in plaas van Jack Parow te speel.”

Só het Johan ook by die bekendstelling van Oepse daisy by Protea Boekwinkel op Stellenbosch vertel. Hy het ook ’n “skatalogiese storie” aan die bepaalde resensent opgedra. “Ongelukkig was die storie ‘te skatalogies’ om in die bundel opgeneem te word,” het Bakkes gesê. Die titel van die storie verskyn wel in die bundel, saam met ’n foto van ’n man wat ’n kleinhuisie in die sneeu besoek en ’n opdrag aan die resensent, maar die verhaal, met ouderdomsbeperking 3–13 PG, kan slegs op NB-uitgewers se webtuiste gelees word.

Die titel Oepse daisy is egter nie net gekies as ’n stekie in die resensent se rigting nie. Die gelyknamige verhaal in die bundel het te make met een van Bakkes se heel moeilikste reise, naamlik om kolonkanker te oorwin. Die titel sê hy is nog nie naastenby naby aan “pushing up daisies” nie. Bakkes het selfs sy toewyding tot die stryd teen kanker gewys met die pienk das wat hy by die bekendstelling gedra het.

Ook Oepse daisy bevat vertellings oor ver en naby reise. “Maar dit gaan vir my eerder oor die sielsdinge van reis, as oor die plekke waar ek kom,” het hy gesê. Alhoewel humor steeds ’n groot element in sy werk is, erken Bakkes dat die verhale ’n tikkie nostalgie en melankolie het. “Miskien kom dit saam met die ouderdom, ek weet nie.”

Daar is heelwat foto’s in sy boek, “vir die mense wat nie kan lees nie”. Bakkes neem foto’s oral waar hy kom. Hy het selfs ’n foto van die gaste by die bekendstelling geneem, om glo vir sy vrou te wys hy “loop nie rond nie”. Dit is vir hom wonderlik as mans hom voorkeer en vra of hy die “man van Moer toe is”.

Die meeste van hierdie 27 reissketse het eers in die MyTyd-afdeling van Rapport verskyn. Magda Swart, die redakteur van MyTyd, se opdrag aan Johan was: “Ek hoop jy onthou nog dat jy belowe het om af en toe ’n reisrubriek / storie / wat ook al te doen. Jy kan so 1 600 woorde skryf en daar is ’n sterk klem op foto’s. Van die goed wat ek in gedagte het, is die sielsdinge van reis en verken, veel eerder as die plek en die pad soontoe …” (Justin Fox in sy resensie op LitNet)

Justin Fox het Oepse daisy vir LitNet geresenseer. “We visit Bakkes’s favourite South African haunts, such as the West Coast and Kalahari; there are long expeditions through Namibia, Angola and Tanzania; visits to Mali, the Ivory Coast and Morocco; trips to Italy, Greece and Russia. Bakkes favours going off the beaten track, far from tourist routes. Instead of spending money on expensive accommodation he unrolls his sleeping bag and nestles down exactly where he finds himself at the end of each day. This freedom allows him to meet fascinating characters and often puts him in the hands of common people who welcome him into their hearts. It is a brave and rewarding way to travel.

“There are a number of themes that resurface throughout the collection. Bakkes’s response to other writers and their experience of the places he visits is a recurring interest. So, too, his passion for food and drink which weaves itself into almost every tale. Music is an abiding love and Bakkes frequently marries the place with its characteristic sound, often the folk music tradition of the region. The music seems to infect his prose, and its lyricism reinforces Bakkes’s romantic vision of travel.

“Another common theme is the use of historical figures as a means to investigate a region. One of his finest sketches recounts an evening spent in a bar cum brothel in the back streets of Stone Town, Zanzibar. He strikes up a conversation with an elderly gent sitting in the corner writing. It is only at the end of the tale that we discover his is an imaginary conversation with Ernest Hemingway.

“Bakkes frequently uses traditional short-story techniques in his ostensibly simple, factual telling. For instance, he employs a teaser at the beginning of many sketches, such as ‘’n Italjaner in Afrika’, where he mentions in passing an 18th-century Italian who joined Napoleon’s army, and then goes on a tangential tale about a contemporary South African Italian living in Port Nolloth. It is only at the end of the story that these two threads come together.

“Another effective Bakkes device is the flashback. ‘Die Weduwee’ contains a series of anecdotes concerning the 1904 rebellion in Namibia juxtaposed with a contemporary journey in search of the story behind a grieving widow. In ‘Diamond Lil’ we flash back and forth between a 19th-century lady of the night and a modern bar girl. The past and present continually collide, adding resonance and deepening the meaning of both trajectories.

“All the stories are written in an intimate, assured and accessible style. You could almost be sitting around the fire with Bakkes, listening to him spin his yarns deep into the night, a mug of brandy in hand and jackals howling in the distance. There’s humour and wit, drama and sadness. The humour is often delightfully self-deprecating, as in ‘alkoholgebruik het my lewer groot genoeg gekry dat hy al hoërskool toe gaan’.

“Bakkes is obviously very comfortable with the short-sketch format, but the form can also be a hindrance. There are times when the 1 600-word limit imposed by the newspaper prevents deeper exploration of ideas. This is a problem that often arises when journalists republish their articles in book form. On occasion there needs to be a rewriting and reconfiguration of the original piece. At times one wishes that Bakkes had sunk deeper shafts, pushed a theme further, explored more of the literary potential. In so doing, some stories could have been lengthened and others cut. For instance, sketches that perhaps stretch the travel metaphor too far, such as his meditation on hamburgers or his visit to Glenda Kemp’s strip show, could have made way for a lengthening and deepening of other narratives.

“The one sketch that firmly breaks with these journalistic strictures is ‘Oepse Daisy’, the final and title story of the collection. This was not written for a newspaper and deals with his own ill health and journey through cancer. Where he uses the travel metaphor to explore sickness, time, aging and death we have Bakkes at his best. He writes, ‘Met die reise wat vir ons saak maak, weet ons nie aldag wat op die pad gaan gebeur nie.’ And so begins his journey through ‘hospitaalsale, X-straalkamers, MR-masjiene en operasieteaters’. It’s told with absolute honesty and without sentimentality.

“Oepse Daisy is a colourful, richly diverse collection of travel sketches told in an earthy, no-nonsense style. At times poignant and nostalgic, at times witty and playful, it is a uniquely South African take on travel. This is an easy read, with bite-size anecdotes, and is highly recommended for those with itchy feet, especially lovers of off-the-beaten-track travel.”

Johan se treintoer in Siberië was deel van sy missie om op elke trein in die wêreld te ry. Hy het Siberië beskryf as “die koudste plek in die wêreld waar mense ’n bestaan voer”. Hy het verder oor hierdie koue plek uitgebrei: "Dit was -57 °C; ek kan dit nie beskryf nie. Daar sit hulle bier in die yskas dat die goed kan warm word. Hulle het gesê jou trane kan vries, maar dit het nou nie werklik met my gebeur nie. Die Russe het gedink ons is mal. Ons gids was ’n jagter en martial arts-ou wat in hokke baklei, heeltemal van sy kop af...” (Aan Erns Grundling)

Stephanie Niewoudt skryf in Rapport (13 Desember 2011) oor Johan: "Hy kan nie, soos soveel van sy kollegas, agt uur per dag in ’n pak rondsit nie. Trouens, ’n mens kan jou die baardman met die minstens twintig armbande van koper, tou, knope en riempies om sy polse geensins in ’n formele werkplek voorstel nie. Die akademie het uiteindelik vir hom meer tyd en vryheid gebied om te reis. ’n Tipiese professor is hy nie, maar tog besef ’n mens jy kan jou kwalik, juis vanweë sy andersheid en wye kennis van die wêreld, ’n meer geskikte leermeester voorstel. 

"Johan se geesdrif vir reis, sy blyplek, sy familie borrel oor. ’n Mens onthou skaars dat hy ook in Oepse daisy skryf oor die kolonkanker wat by hom gediagnoseer is (hy is ná ’n operasie en behandeling “skoon” verklaar) en die emfiseem waarmee hy saamleef. Maar soos hy skryf: 'So gaan ek nie nou my lewenstyl verander om “langer te lewe” nie; ek het mos voluit gelewe tot nou – hoekom dan nie tot die einde nie?'"

Johan se oorsese reise is dikwels saam met pelle, maar hy sorg altyd dat hy ook ’n paar dae op sy eie is. “Alleen reis gee my die vryheid van beweging; ek kan my eie afdraaipaaie vat. Dit is vir seker ’n selfsugtige ding – iemand het eenkeer geskryf ‘to travel is to unmeet people.’ Ek het ’n basis, ’n vrou (die skilder Nanna Vorster Bakkes, wat ook ’n kliniese sielkundige is), en twee wonderlike kinders, en dit gee ’n groter dimensie aan reis. My reis is ’n reis van terugkom, al is dit iets wat my jaag.” (Aan Erns Grundling)

Johan verduidelik die verhouding tussen hom en sy broer, Christiaan (of Chrisjan) só aan Erns Grundling: “My pa het nie aartappels geplant nie; ons het opgekom soos ons moes opkom. As ons mekaar sien, is dit vreugdevol, ons soengroet mekaar en dan kuier ons. Maar langer as twee dae, dan begin ons baklei en dan huil ons en dan raak ons weer lief vir mekaar en dan ry ons weer.”

Op Netwerk24 (12 Mei 2013) skryf die joernalis oor ’n kuier aan Johan se huis waar daar agter in sy "werf" ’n ou snuiftabakskuur staan wat in die begindae van die Paarl opgerig is. Johan het sy kroeg daar ingerig, maar dit is nie sommer so ’n kroeg nie. "Ene SF Marais het hier sake gedoen – die oorspronklike uithangbord pryk nog binne-in die kroeg. Op die bord staan: SF Marais en Kie, Vars Produkte, Snuif en Tabakhandelaar, Foon 4075."

Aan die mure is daar amper nie meer plek vir nog iets nie. Al Johan se memento's van sy reise dwarsoor die wêreld word daar uitgestal, met Afrika wat duidelik sy voorkeur is. "Hier is meer Afrika-maskers as wat die Duitsers elke jaar huis toe dra; ek sien ook ’n houtskaakstel en geraamde foto’s van al Johan se avonture. Johan se 'samoe(r)sareis(e)' het hom al van die Ivoorkus tot Timboektoe in Mali, van Senegal tot Marokko met ’n draai in Mauritanië gevat. G’n wonder daar hang ’n lap bedruk met ’n woestynkameel teen die een sinkplaatmuur nie.

"Digby die kroegtoonbank waar Johan op sy elmboë leun, staan Pop (’n mannekyn wat hy in Foschini op Ceres raakgeloop het) – in haar kamoefleer-uniform met ’n piepothelm op haar kop – sodat sy altyd naby Johan kan wees. '’n Man moet papiere hê,' glo Johan, en dit geld Pop ook. Dus het Pop haar eie paspoort. Johan beweer die lewensgroot Pop was al op vele van sy reise saam met hom. Pop sprak nie ’n sprook om die teendeel te bewys nie. Haar paspoort hou sy ook goed weggesteek sodat die stempels nie geïnspekteer kan word nie. [...]

"As Johan nie 'moer toe die vreemde in' [...] is nie, is dit hier in die tabakskuur waar hy sy sit en waar hy mildelik skink. En maklik praat – terwyl sy armbande klingel – en daar tot hanekraai gekuier word. Hier word ’n ding op sy naam genoem, kragwoorde gebesig – Norrevøk, dit was nou vir jou ’n bliksemse plek! – as die vertelling daarna vra. En geen wenkbrou word gelig nie.

"Binne-in Johan se tuiskroeg geld geen rituele nie; al is Johan ’n man wat '’n moerse sinnigheid' in rituele het. Buite die tabakkroeg in ’n ruim agterplaas is daar sewe braaiplekke – so na aan mekaar dat jy ’n tjop van die een na die ander kan gooi. ’n Man is mos nie lus om elke keer op dieselfde plek te braai nie! By die een sit jy op Malawi-stoele in ’n kring waar ’n lantern van Outa Lappies herinneringe oproep; by die ander kan jy biljart speel of by ’n lang tafel aansit. Op by die soldertrap bêre Johan sy boeke. ’n Kroeg is ’n dorp se siel, sê Johan.

Marieke Snyman (Nuus24, 19 Julie 2011) wou by Johan weet of die besluit om te skryf doelbewus geneem is en of dit ’n uitvloeisel was van sy ma en broer se skrywery was. "My ma het die liefde vir boeke en lees by ons verwek. Sy het ons altyd gedwing om te lees. Maar daar was geen manier wat ek gedink ek sal ’n skrywer wees nie. Ek het glad nie daarin belanggestel nie. Daar is nou al ’n ma en ’n broer in die gesin wat ek skryf, en ek wou nie een van die 'Brontë-susters' word nie. Dis hoekom dit op 42-jarige ouderdom regtig eers met my gebeur het."

Publikasies:

Publikasie

Moer toe die vreemde in

Publikasiedatum

2001

ISBN

0798142065 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Nou’s ons in ons donner in

Publikasiedatum

2006

ISBN

0798147326 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Engelse vertaling 2008 deur Elsa Silke

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Norrevøk (30°W27°N; 17°W21°N)

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798150118 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Sketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

To hell and gone

Publikasiedatum

2008

ISBN

9780798149440 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

 

Publikasie

samoe(r)sa reis

Publikasiedatum

2010

ISBN

9780798152402 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Human & Rousseau

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Oepse daisy

Publikasiedatum

2011

ISBN

9780795800306 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Queillerie

Literêre vorm

Reissketse

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Artikels deur Johan Bakkes beskikbaar op die internet:

Bronne:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Bygewerk: 2015-05-27

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top