Bakkes-broers gewildste op Woordfees se skrywersprogram

  • 0

Die Bakkes-Broers, skrywers Johan Bakkes en Christiaan Bakkes, kraai koning as dit by kaartjieverkope vir die 13de jaarlikse US Woordfees kom.

Hul Woord en wyn-ete op Kanonkop is die eerste Woordfees-produksie wat uitverkoop is vanjaar. En geen wonder nie: ’n vertikale wynproe en snoekbraai saam met dié twee storiemakers is nie te versmaai nie.

“Die lekker ding van die Woordfees is dat die ouens wat kom luister, saam met ons wíl kuier. Ek hou van die konsep – ons hou nie konsert nie, dis ’n paar manne wat lekker om ’n braai kuier, gesels  en snoek eet,” vertel Johan Bakkes laatmiddag uit die Paarl.

Johan gesels vrolik oor sy broer, veldkenner en bewaarder in die Kaokoland, en oor sy reise saam met boesemvriend Kalie Kirsten, saam met wie hy al menige avonture oor ’n bottel wyn beplan het. Die onlanggste hiervan was ’n treintoer in Siberië, deel van Johan se missie om op elke trein in die wêreld te ry. “Dis die koudste plek in die wêreld waar mense ’n bestaan voer – die temperatuur was een dag -57 ?C!”

Oor die Woordfees praat Johan met groot lof – hy het nog net een misgeloop. Behalwe vir Woord en wyn is Johan en kleinboet Christiaan ook te sien in Die formidabele Bakkes-Broers, waar hulle elk ’n splinternuwe boek kom bekendstel, en in Storievuur, ’n baie gewilde instelling op die feesprogram.

Kaartjies vir die ander Bakkes-vertonings verkoop flink; diegene wat nog ’n sitplek om die vuur by De Vette Mossel wil bekom, moet spring.

Vir die volledige Woordfeesprogram, klik hier; kaartjies by Computicket.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top