Joan Hambidge

Joan Hambidge is digter, kritikus en romanskrywer en verbonde aan die UK se Skool vir Tale. Sy doseer Afrikaans en Kreatiewe Skryfwerk. Sy is vakgroephoof van Afrikaans en waarnemende hoof van Italiaans.

Vir haar bundel Visums by verstek ontvang sy die ATKV-prys en vir Bitterlemoene die Eugène Marais-prys. Die Litera-prys word toegeken aan haar gedig "Eugène Marais" uit Lykdigte.

***

Eugène N Marais (1871 - 1936)

Daar is niks wat jy liefhet wat nie van jou weggeneem sal word nie.

- Dorothy Parker

I

Hoe durf ek skryf oor jou: 'n onbekende?
Gereduseer tot "geval", morfinis, afwykende...
Boonop in 'n onbekende tyd...
Hoe kan  ons ooit in 'n gedig regstel
dit wat jou ontneem is (soos 'n ongeskryfde gedig) en aan jou toegedig word: 'n lewe in 'n verkeerde tyd, ruimte, dimensie - jou tyd vér vooruit?

II

Die vers broei wekelank in my.
Jy is meer as 'n 'groot verlange';
gestol in die agterruimte van 'n kleinlike tyd sien jy alreeds die onbewuste in 'n miernes; weet die enkeling is ontersaaklik vir die groter geheel.
Iets onsigbaars, onsêbaars (noodlot het geen dekorum) bly talm: hesperiese flitse van verdriet.

III

Daar word beweer die jongste van dertien 'n Vervloekte met 'n Kaïnsmerk:
Onsigbare, tastende Derdeoog.
Doodsbalju, kroonprins van die hel
besef as klein kind die wonderwerk van vooraf
weet: 'n kooltjie vuur stig 'n bosbrand aan.
(N)iemand kon die lyne in jou palm lees:
die selfmoordenaar, 'n swart forel, beur stroomop.
Wis van jongs af sy verdoemende lot:
stuur af op 'n swak gerepeteerde slot.

IV

Iewers vertel die heldersiendes kan ons vervloektes red:
bevry al die visse in die see...
Alles begin oënskynlik met 'n spel: die smokkel met sinne eers 'n heling teen insomnia; later 'n nuttelose panacee teen senu-uitputting, Die dobbelsteen bly verkeerd val; die kaarte wys 'n ómgekeerde Skoppensboer.

V

 

Dit staan geskryf teen die tempels
in moeilik-ontsyferbare hiërogliewe
teen die graf van Ramses II
dat vrede vir die vervloekte wél bestaan.
"Daar sou ek vrede weer besef
waar Tebes in die stil woestyn"...
Die gedig skryf sigself; vang die boodskappe uit die ander oord onbevange op.
Laasnag droom ek van jou - met jou panamahoed en dandy-pak in Egipte:

VI

"O Diep Rivier, O Donker Stroom,
Hoé lank het ek gewag, hoe lank gedroom
Die lem van liefde wroegend in my hart?"
Vir jare sou die koors van berou, verwyt om jou hang en elke geliefde of flirtasie weer daardie eerste verlies uitspeel:
'n droewe deuntjie op 'n outydse pianola..
En toe jou moeder sterf, in in teen die Groot Niet kon sy jou ook nie vertroos; net verder ontstig met haar doodswoorde: "Daar's niks."

VII

Ses dekades later in die wagkamer
tussen hier en die on-sienlike Daar
wonder ek: hoe kan 'n mens jou verlos?
Spiritiste meen mens bly gevange:
herhaal die skoot oor en oor
soos 'n teisterende droom
sonder logiese begin of einde
maar met die flitsende boodskap:
"O, Diep Rivier, O Donker Stroom..."

VIII

Met drif het jy jou somberheid uitgeleef:
jou pennehouer 'n skedel...
Die verlies van die verswygde liefde:
soos die pik van 'n slang.
'n Wond wat sweer word kouevuur.
Verswelg in koorsdrome ont-
glip jy tydelik: 'n kobra in deurskynende glas.
Was dit swak-geskommelde kaarte?
'n Kruis en munt?
Opsluit moes jy dobbel, die dices skud
in teen die donker dieptes van die stroom:
'n Walvis sluk jou heelhuids in.

L'envoi

IX

Van gesoignéerde, strydvaardige joernalis gedemoveer tot bedremmelde, behoeftige boemelaar.
Is daar nog trane vir poësie?
Of leef jy nog in die selfgeskepte hel
van sinsbedrog, 'n noodlotsroep?
Vanaand swem al die visse
van die Tierra del Fuego tot Groenland,
van die Kaap tot Wladiwostok
en roep:" Hy's bevry, hy's bevry!"

***

Joan Hambidge skryf ook romans - soos Kladboek wat in 2008 verskyn het - en satiriese romans soos Swart koring.

Sy resenseer gereeld vir Versindaba, LitNet, Beeld en haar blog heet: Woorde
wat weeg.

Carina Stander, Martina Klopper, Fourie Botha, Aniel Botha, Karen Kuhn en
Hennie Nortjé het solobundels onder mentorskap geskryf.

Sy begelei tans vier MA's in Kreatiewe Skryfwerk en twee PhD's.

Sy behaal 'n tweede PhD aan die UK in 2000 oor gender. Sy skryf 'n studie
oor die werk van Johann de Lange wat op haar blog te vinde is.

Sy skryf tans aan 'n roman (Die buikspreker) en 'n digbundel (Matriks).

Lys van onlangse boeke:

Meditasies. Human & Rousseau, Kaapstad. 2014.

Lot se vrou. Human & Rousseau, Kaapstad. 2012.

Visums by verstek. Human & Rousseau, Kaapstad. 2011.

Vuurwiel. Human & Rousseau, Kaapstad. 2009.

Kladboek. Protea, Pretoria. 2008.

Palindroom / Koesnaatjies vir die proe. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2008.

Dad. Genugtig uitgewers, Kaapstad. 2006.

En skielik is dit aand. Protea Boekhuis, Pretoria. 2005.

Die Buigsaamheid van verdriet, Protea Boekhuis, Pretoria. 2004.

Ruggespraak. Protea Boekhuis, Pretoria. 2002.

Sewe Sonjas en wat hulle gedoen het. Contentlot, Kaapstad. 2001.

Lykdigte. Tafelberg, Kaapstad. 2000.

Die swart sluier. Tafelberg, Kaapstad. 1998.

Die Judaskus. Kagiso/Perskor, Johannesburg. 1998.

Swart koring. Human & Rousseau,  Kaapstad. 1996.

Postmodernisme. J.P. van der Walt, Pretoria. 1995.

Interne verhuising. Perskor, Johannesburg. 1995.

Foto: Jan Marais

 

Hekwagters en oop hekke

Joan Hambidge 2014-07-02  

Arctic summer deur Damon Galgut

Joan Hambidge 2014-04-23 Wat dink Joan Hambidge van die ysige somer uit Damon Galgut se pen?

Crito se gewaande Objektiewe Oordeel

Joan Hambidge 2014-04-11

LitNet Akademies-resensie-essay: Stil punt van die aarde deur Johann de Lange

Joan Hambidge 2014-02-27 "Soms kom daar ’n bundel oor jou lessenaar wat ’n unieke plek inneem en die leser se chakras dwingend deurmekaar krap."

Hoe om masochisme te systap

Joan Hambidge 2014-02-18 Joan Hambidge reageer op Hans Pienaar se artikel in BY.

Kuberliefde

Joan Hambidge 2013-12-10

"Soggens e-posduiwe
van hoop en liefde;
smiddae boodskappe
belofte maak uitstel
en ten slotte:
fladderende vlerke
noordwaarts
op trek
na ‘n ander
kuberruim"
 

Vir Crito

Joan Hambidge 2013-12-02 Crito meen ek het die afgelope tyd minder boeke geresenseer.

Die agste teken kom nie heeltemal die mas op nie

Joan Hambidge 2013-09-06 "Die vrye vers behoort net deur ‘n geoefende digter geskryf te word. Dit is immers, soos Robert Frost opgemerk het, soos om tennis te speel sonder ‘n net."

Stil lewe

Joan Hambidge 2013-08-27

"Ons liefde se vervaldatum
het aangebreek. In my badkamer
staan grimering en klein allerlei."
 

The Verwoerd who toyi-toyied

Joan Hambidge 2013-07-09 "Op die buiteblad word hierdie outobiografie aangeprys deur biskop Tutu en Roger Moore. Inderdaad die voormalige James Bond."

Chokers en Survivors: Kaaps en in your face

Joan Hambidge Academic research 2013-07-03

Die bundel gee die manlike perspektief op die digter se vrou, Ronelda S Kamfer, se Noudat slapende honde. Digters wat onder een dak saamwoon, tree dikwels in gesprek met mekaar.

Vir wie skryf jy jou gedigte? A

Joan Hambidge 2013-06-26 Die eerste weergawe van Joan Hambidge se gedig "Vir wie skryf jy jou gedigte?"

Vuilspel: 'n Misdaadroman oor haat

Joan Hambidge 2013-06-26 "Die roman sluit aan by die ryk tradisie van vrouespeur- en misdaadskrywers soos PD James, Minette Walters, Kathy Reichs en andere, maar die aanbod is meer populisties. Die gender-kommentaar is belangrik vir alle navorsers op hierdie gebied. Die taalgebruik is outentiek.
"

Gebed om die gebeentes

Joan Hambidge 2013-06-18

"O digterlike vaders wat woon in bloemlesings,
gepasticheer, geparodieer, gepersiflage u naam [...]"
 

Vir wie skryf jy jou gedigte? B

Joan Hambidge 2013-05-31 "Vir woordfeeste, waar jy uitgestal word saam met ander “gewilde digters”,
Top