Vir wie skryf jy jou gedigte? A

  • 0

Vir wie skryf jy jou gedigte?

 Vir woordfeeste waar jy uitgestal
word saam met ander “gewilde digters”,
terwyl die deur oop en toe konsertina
met laatkommers of luisteraars elders op pad?
Vir ’n geliefde wat nooit die gedig
oor jou hunkering en pyn
sal lees nie en net onthou
dat die bed immer haaks was?
Vir ’n vlymbekkige kritikus
slypend aan ’n byltjie
oor ’n onbetaalde rekening
op ’n ander plek en tyd
(“And besides, the wench is dead”)?
Vir skoolkennisse van wie jy die naam,
nog minder, die bynaam kan onthou,
en familiêre groete oordra
via ’n ander verdomde kennis?
Vir jou pa wat aan die ander kant vertoef
en in drome aan jou suster verskyn
met ’n blazer en woorde van vertroosting?
Vir jou ma wat jy versoek
om eerder nie die gedigte te lees nie,
sodat sy die pyn van jou troostelose jeug gespaar bly?
Vir jou terapeut met wie jy laatnag-gesprekke
het oor al die knope in jou verdoemde psige
en jou aanmoedig om tog aan te hou?
Vir jou vriend wie se kind
selfmoord pleeg sonder ’n vertreknota?
Vir jou mede-digters wat altyd dink
jou voorlaaste bundel was jou beste?
Vir buitelandse digters lesend
aan vertalings en dink jy word reg getransporteer
van een taal na ’n ander, immer in transit?
Vir jou susterskind
wat ’n opstel moet skryf oor jou digkuns
waaraan jy laatnag help klaartimmer?

 L’envoi

 Vergeef die wrang aanslag, liewe leser,
(en ’n gedig wat oop-en-toe konsertina)
keer terug na Auden en weet:
’n gedig laat niks gebeur nie!

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top